|
 |
|
10
beroemde
kunswerke
van die wêreld
(Nie noodwendig die 10 vernaamstes nie!)
REGS:
Die Mona Lisa (geskilder omstreeks 1503–1507) in die bekende
kunsmuseum die Louvre, in Parys,
Frankryk... Baie mense beskou hierdie werk van die vrou met die
raaiselagtige glimlag as die beroemdste kunswerk op aarde. Lees
ondertoe meer oor Leonardo da Vinci se uitsonderlike skepping.
Krediet: Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens
ouderdom (“Public Domain Old”)
As jy
gevra sou word om die tien “belangrikste” kunsskeppinge op aarde
“van ’n kolossale ramp te red”, watter tien sal dit wees? ’n
Onbegonne taak, sê jy? Ja, waarlik, daar is eenvoudig te veel
nagelate onvervangbaarhede uit die mens se lang verlede om slegs ’n
tiental daarvan uit te sonder. Tog is elk van die werke op hierdie
webblad om sy eie bepaalde redes een van die groot sterre in die
omvangryke gewelf wat deur ons artistieke begaafdhede gevorm is—die
mens se ingeskape vermoë om gewrogte te skep wat geen ander aardse
lewensvorm ons kan nadoen nie. Deur die werke een vir een te bekyk,
kry ’n mens dan ook ’n boeiende inleidende blik op die kunsgeskiedenis... |
|
Die farao Chafre—paar duisend jaar v.C.
LINKS:
Die farao Chafre (of Chephren), ’n oud-Egiptiese standbeeld.
Die Brits-Ierse skilder Francis Bacon se gevolgtrekking dat die
Egiptenare van ouds die grootste kunstenaars van almal was, word
gesteun deur hierdie antieke kunswerk in die Egiptiese Museum in
Kaïro. Chafre se beeld “het ’n gekonsentreerde krag en
teenwoordigheid wat oor 5000 jaar ongeëwenaard is,” soos Martin
Gayford van Telegraph.co.uk dit stel. Die standbeeld is van swart
dioriet met wit are. Dioriet is ’n harde, granietagtige gesteente.
Foto: ©
Jon
Bodsworth,
wat
erkenning verlang, maar vrye gebruik van die foto vergun. Besoek
gerus sy webwerf The
Egypt Archive |
|
Kop met Kroon—Ife-koninkryk,
Nigerië, etlike eeue gelede
LINKS:
Kop met Kroon, gietwerk in brons van ’n Ife-koning, omstreeks
twaalfde eeu n.C., in die Britse Museum in Londen. Wie ook al
beweer dat ons eie vasteland nog maar altyd “donker Afrika” was, sal
gou ontnugter word indien hy of sy ’n studie maak van Ife, ’n
antieke Yoruba-stad in Suidwes-Nigerië. Die Ife-koninkryk van weleer
het sy artistieke hoogtepunt tussen 1200 en 1400 n.C. bereik, en die
kunswerke in brons en terracotta wat deur hierdie beskawing geskep
is, verteenwoordig een van die vroegste en mees betekenisvolle
manifestasies van realisme in die kuns. Daar word gemeen dat die
kopbeelde wat behoue gebly het, geïdealiseerde voorstellings van die
ou konings van destyds is, en van hulle word gesê dat daar min ander
werke is wat so ’n kragtige gevoel van waardigheid weerspieël. Wat
die werke des te merkwaardiger maak, is dat hulle in ’n tyd voor die
Europese Renaissance geskep is.
Foto:
Ukabia,
wat
dit op
hierdie bladsy by die Wikipedia-projek op die wêreldwye web
uitgeplaas en gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution-ShareAlike 3.0-lisensie |
|
Die Aap,
een van die reuse-woestyntekeninge van die Nazca—meer as 2000 jaar
gelede
REGS:
Die Nazca-aap. Reusagtige tekeninge soos dié op die dorre
woestyngrond in die suide van Peru—tekeninge wat vandag slegs met
behulp van vliegtuie uit die lug gesien kan word—het navorsers
steeds aan die gis sedert hul herontdekking in die 1920’s. Die
skeppers daarvan was bes moontlik die
Nazca,
’n besonderse volk van meer as tweeduisend jaar gelede, wat
tydgenote van die ou Romeine was. Die antieke werke is geskep deur
die donker klippe op die landskap te verwyder om die ligter grond
daaronder bloot te lê... maar hulle is veels te groot om in hul
geheel gesien te kon gewees het deur diegene wat hulle gemaak het.
Benewens die aaptekening en sekere meetkunde patrone, is daar ook tekeninge
van ’n voël, ’n walvis, ’n spinnekop, ’n akkedis en nog meer. Wat
kon hul doel dan gewees het? Mense wat glo dat wesens uit die
buitenste ruimte die aarde dalk in die verlede besoek het, het al
allerhande verbeeldingryke moontlikhede hieroor vir hulself opgetower!
Krediet: Digitaal verkleurde weergawe van ’n swart-wit foto deur
Maria Reiche.
Verklaar tot openbare besit (“released to the public domain”) |
|
Die Lam van God—die
altaarstuk van Gent deur Jan van Eyck en sy broer Hubert, voltooi
1432

BO: Die Lam van God (altaarstuk van Gent) soos dit in sy
geopende posisie lyk. Die werk bestaan uit altesame 24
gekompartementeerde tonele, wat twee aansigte het, geopen en
gesluit, wat verander word deur die geskarnierde buitevleuels te
beweeg. Hierdie indrukwekkende poliptiek word deur Martin Gayford
van Telegraph.co.uk bestempel as “een van die mees fassinerende
prestasies in die geskiedenis van kuns”. ’n Poliptiek is ’n skildery
op panele, wat uit meer as drie dele bestaan. Hubert van Eyck het
die werk begin, maar sy jonger broer Jan het oorgeneem toe Hubert in
1426 sterf. Dit is in 1432 voltooi. Die altaarstuk is geskilder vir
die kapel van die opdraggewer Joos Vijdt en sy vrou, Elisabeth
Borluut, en is in die Sint Baafskatedraal in Gent, België.
LINKS:
Die Maagd Maria, op die linkerkantse bo-paneel van die altaarstuk.
Die Van Eycks het in die poliptiek ’n werk van teksture en
oppervlakke opgetower wat aan die sinsbedrieglike grens. Trouens,
dinge soos die glinstering van juwele en die vere van ’n
engelvleuel lyk ses eeue later steeds byna bonatuurlik, soos een
kunskenner dit stel.
Krediet: Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens
ouderdom (“Public Domain Old”)
|
|
Die Groot Brander by Kanagawa—deur
Hokoesai, houtsnee-afdruk, gepubliseer 1832

BO: Die Groot Brander by Kanagawa, afdruk van ’n
houtsneewerk deur die Japanse kunstenaar Hokoesai, wat in 1832
gepubliseer is. Die werk is onmiskenbaar Oosters en beklemtoon
dat die kunste in verskillende wêrelddele uiteenlopend ontwikkel
het. Tog het Die Groot Brander soveel mense in die Weste
sowel as die Ooste bekoor dat dit nie verniet een van die mees
gereproduseerde kunswerke ter wêreld is nie. Dit is die eerste
werk in Hokoesai se reeks van 36 aansigte van die bekende berg
Foedji, die hoogste berg in Japan. Foedji kan inderdaad ook hier
op die agtergrond gesien word—regs onder die waai van die reuse-brander.
Krediet: Openbare besit vanweë die verval van kopiereg
weens ouderdom (“Public Domain Old”)
|
|
Les Demoiselles d'Avignon—Pablo
Picasso in 1907
REGS:
Les Demoiselles d'Avignon (Die Jong Vroue van Avignon).
In Julie 2007 het tydskrif Newsweek hierdie skildery van Pablo
Picasso die “invloedrykste kunswerk van die afgelope honderd jaar”
genoem. ’n Eeu het toe werklik verloop sedert die Spaanse kunstenaar
Picasso (1881–1973) dit in 1907 geskilder het—en daarmee radikaal
van die tradisionele Europese skilderkuns weggebreek het. Baie
kunskenners stem saam dat die werk ’n belangrike rol gespeel het in
die vroeë ontwikkeling van sowel die kubisme as moderne kuns.
Picasso self was sonder veel vrees vir teenspraak die bekendste
kunstenaar van die twintigste eeu.
Krediet: Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens
ouderdom
(“Public Domain Old”) |
|
Swart Vierkant—deur
Kazimir Malewitsj, 1915
REGS:
Swart Vierkant, olieskildery op doek deur die Russiese
skilder Kazimir Sewerinowitsj Malewitsj, 1915. Onderwerp: ’n
doodgewone swart vierkant op ’n wit vlak, wat abstraksie voer tot sy
uiterste meetkundige vereenvoudiging. Malewitsj was die vader van
die sogenaamde suprematisme, wat binne ’n volkome abstrakte kuns die
supremasie (oppermagtigheid) van meetkundige vorms soos die
vierkant, sirkel en reghoek voorgestaan het. ’n Wit kubus met ’n
swart vierkant is op sy graf geplaas nadat hy in 1935 oorlede is.
Dog ’n mens kan jou die reaksie voorstel toe sy Swart Vierkant
die eerste keer uitgestal is: mense wat geskok, in ongeloof, selfs
met ’n groot gelag kon gereageer het oor die swart blok van
“niksseggendheid” op die doek voor hulle. Vandag is dit steeds nie
anders by mense wat nie met “kunsoë”—wat dit ook al sou
beteken—daarna kyk nie. Maar dit sit ’n mens kliphard aan die dink
as jy verneem dat die vierde weergawe van die Swart Vierkant,
wat Malewitsj in die 1920’s geskilder het, in April 2003 op ’n
veiling vir die ekwivalent van ’n miljoen Amerikaanse dollar verkoop
is! En waarom sou die tydskrif Newsweek die Swart Vierkant in
2007 onder die vyf invloedrykste kunswerke van die afgelope eeu
ingedeel het?
Krediet: Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens
ouderdom
(“Public Domain Old”) |
|
Mona Lisa—omstreeks 1503–1507 geskilder deur Leonardo da Vinci
REGS:
As “beroemd” en “belangrik” dieselfde beteken, is die Mona Lisa bes
moontlik die wêreld se heel belangrikste kunswerk! Mense verdring
mekaar behoorlik om hierdie skepping van die geniale Italiaanse
Renaissance-man
Leonardo da Vinci in die Paryse
kunsmuseum die Louvre te sien... en baie is nogal teleurgesteld
omdat die skildery veel kleiner is as wat hulle hulle voorgestel
het. Die beroemdheid het enigsins te make met enigmatiese glimlag
van die geskilderde vrou—en ’n ou trefferlied oor haar wat dekades
gelede gekomponeer is. Maar wie was dié Mona Lisa eintlik? Na wat by
die Louvre vertel word, het navorsers vasgestel dat sy ene Lisa
Gherar-dini was, die vrou van ’n onbekende Florentynse handelaar,
Francesco del Giocond. Die Parysenaars noem dan ook die portret La
Joconde, die Franse weergawe van Lisa se getroude van. Mona Lisa
beteken doodeenvoudig mevrou Lisa.
Krediet: Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens
ouderdom
(“Public Domain Old”) |
|
Die Joodse Bruidjie: Isak en Rebekka—deur
Rembrandt van Rijn, omstreeks 1667

BO: Die Joodse Bruidjie: Isak en Rebekka, omstreeks 1667
geskilder deur die Nederlandse meester
Rembrandt Harmenszoon van Rijn.
Rembrandt se Nagwag in die Rijksmuseum in Amsterdam is
wel heel waarskynlik sy beroemdste werk, maar sou daar ’n
roerender uitbeelding kan wees van die liefde tussen ’n man en
vrou as in sy Die Joodse Bruidjie? Die skildery, ’n laat
werk van die kunstenaar, vermoedelik van ’n getroude paar uit
die Ou Testament, is ook in die Rijksmuseum. Die ander beroemde
Nederlandse kunstenaar Vincent van Gogh het van Die Joodse
Bruidjie gesê dat hy twee weke lank daarna sou kon kyk
terwyl hy slegs ’n korsie droë brood het om te eet.
Krediet: Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens
ouderdom (“Public Domain Old”)
|
|
Sonneblomme, 1888—deur Vincent van Gogh
REGS:
Sonneblomme, soos in 1888 geskilder deur Nederland se
Vincent Willem van Gogh, wat die
opperste toonbeeld van die wroegende kunstenaar was. Van Gogh was
die skepper van verskeie sonneblomstudies, en dié en sy ander werke
het die hele kunstoneel van die twintigste eeu en tot in ons tyd
beïnvloed. Maar terwyl sy beroemde kunswerke nou vir miljoene
opgeveil word, was hy in sy eie tyd bra onbemind en feitlik
onbekend. Trouens, Van Gogh het in sy hele lewe slegs een skildery
verkoop.
Krediet: Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens
ouderdom (“Public Domain Old”) |
|
Klik
hier om terug te keer na die inhoudsblad |