|
VEROUDERDE ARTIKEL MAAR BEHOU WEENS NUTTIGE INLIGTING Is
Xena die "tiende planeet"? Hokaai,
besluit eers oor die |
|
Artikel geplaas op 1 Augustus 2005 / Aangepas op 3 Oktober 2005 |
|
DIE
ontdekking van wat as ’n
"planeet
groter as Pluto" en die "tiende planeet" in ons
sonnestelsel bestempel word, is onlangs deur sterrekundiges bekend gemaak.
Maar die aanspraak is byna onmiddellik daarna weer deur ander kenners
platgeslaan. Die
nuut ontdekte wêreldjie se grootte word nie bevraagteken nie. Wat tans
in die gedrang is, is die hele definisie van wat nou eintlik ’n
planeet is. Amerikaanse
sterrekundiges het die nuwe "planeet" reeds in 2003 ontdek.
Maar hulle het eers op die bevestiging van hul bevinding gewag voordat
hulle hul vonds wêreldkundig kon maak. Die
hemelliggaam staan voorlopig bekend as Xena. Hierdie ruimtelike
voorwerp van gesteentes en ys is sowat 3.000
km in deursnee, teenoor ons kleinste planeet, Pluto, se deursnee van
naastenby 2.270 kilometer.
Xena
is geweldig ver van die aarde en nog verder van die son af: op die
huidige punt in sy wentelbaan omtrent 97 keer die afstand tussen die
aarde en die son en meer as twee keer Pluto se gemiddelde afstand van
die son. Hy
is deur Michael Brown van Caltech, Chad Trujillo van die
Gemini-observatorium in Hawaii en David Rabinowitz van die
Yale-universiteit ontdek. Toe die aankondiging daaroor aan die einde van
Julie 2005 gedoen is, was dit kort op die hakke van ’n ander
aankondiging oor die ontdekking van ’n hemelliggaampie ietwat kleiner
as Pluto wat as 2003.EL61 bekend staan. Dit
volg ook op die bekendmaking in 2004 van die ontdekking van die mini-wêreldjie
Sedna, wat destyds ook met groot fanfare as die "tiende
planeet" bestempel is. Maar Sedna (slegs omtrent 1.770
km breed)
is so klein dat dié aanspraak gou die nek ingeslaan is. Trouens,
Pluto se eie status as volwaardige planeet is hoeka onder verdenking.
Toe hy in 1930 ontdek is, is nie besef dat hy ook ’n maan het nie en
is die hele planeet-maan-kompleks aangesien vir ’n enkele, heel
aansienlike planeet. Eers
veel later is agtergekom
dat Pluto slegs ’n dwergwêreldjie met ’n maan is—dat hy in der
waarheid so klein is dat hy hoogtens die naam mini-planeet waardig is. Sterrekundiges
dink deesdae ernstig daaraan om Pluto se tjank as "kamstige
planeet" af te trap—want met hoogs verbeterde
waarnemingsinstrumente is dit heel moontlik dat nog ’n tros Pluto's in
die sonnestelsel se buitewyke ontdek kan word. Selfs
Xena met sy deursnee van sowat 3.000
km is kleiner as die aarde se maan, wat
3.476 km
in deursnee is. Die
tiende planeet dus? Ons sal maar moet wag en kyk wat die Internasionale
Sterrekundige Unie
besluit, die waghond oor en koördineerder van sterrekundige
aangeleenthede op aarde. Maar ook Pluto kan bes moontlik uiteindelik
’n verlaging in rang te wagte wees (tot ’n mini-planeet of so iets),
sodat daar dan amptelik net agt planete in ons sonnestelsel sal wees en
nie nege nie. Die
res—Pluto en Xena en 2003 EL61 en Sedna en diesulkes—kan dan
miskien net as dwergplaneetjies van die sogenaamde Kuiper-gordel beskryf
word. Die Kuiper-gordel is ’n streek van bevrore voorwerpe anderkant
die planeet Neptunus. |