|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
ARMOEDE:
Hoe om
dit in Suid-Afrika
Inleiding ARMOEDE
kan die beste bestry word deur die volgende middele:
1) Onderwys HOE
meer skole daar gebou kan word, hoe meer mense sal daar uiteindelik wees
wat ’n behoorlike skoolopleiding kry. Uiteindelik sal daar dan ook baie
meer mense wees wat hul plekke as geletterdes sal kan vol staan in ’n
Suid-Afrika wat sulke mense broodnodig het. Mense wat nie kan lees of
skryf nie, het ’n groot agterstand in die lewe. Hul verarm en, as hulle
ooit wel werk kan kry, is dit van die laags betalende werke in die
gemeenskap. Deur
dus baie meer skole op te rig en baie meer geleenthede te skep vir die
opleiding van goeie onderwysers, word armoede nie net regstreeks bekamp
nie, maar ook meer entrepreneurs gekweek soos dié oor wie ons in die
volgende afdeling vertel.
2)
Die skepping van werksgeleenthede MENSE
wat geleenthede skep vir ander mense om te werk, word entrepreneurs
genoem. Hulle is die mense wat projekte bedink en dit ten uitvoer bring. Gestel
daar is ’n dorpie met baie arm mense wat glad nie werk het nie. Maar op
die dorpie is daar ’n slim man wat diep nadink oor ’n groot lap grond
van die munisipaliteit wat aan die rand van ’n dorp lê. Die grond word
glad nie bewerk nie, hoewel daar genoeg water is omdat daar ’n
riviertjie aan die onderkant verbyloop. Die entrepreneur vra die
munisipaliteit om die grond aan hom te verhuur. Dan huur hy baie van die
werklose mense om die grond in ’n yslike groentetuin te omskep. Met
verloop van tyd het die arm dorpie verander in ’n welvarende gemeenskap
wat nie net geld het nie, maar ook genoeg kos om te eet. Maar
daar hou dit nie op nie. Die slim entrepreneur kom agter dat, as hy ’n
fabriek kan begin om die groente in blikkies te bewaar, hy in staat sal
wees om geblikte groente aan al die dorpe in die omtrek en selfs ’n paar
stede te verskaf. Hy stig die fabriek en neem nog baie meer mense in
diens. Meer mense het meer geld en die eens arm dorpie word selfs nog
ryker. Die
entrepeneur kan selfs uitbrei en allerhande ander fabrieke begin stig --
soos ’n sementfabriek omdat daar so baie kalkklip in die omgewing is en
’n meubelfabriek om al die mooi geelhoutbome in die distrik te benut.
Nou word mense selfs van buite ingebring om op die dorpie te kom werk --
en daarmee saam kom allerhande besighede soos winkels en apteke.
Bouaannemers kom van heinde en ver en lê hele nuwe woonbuurte uit.
Ontspanningsgeriewe soos bioskope en sportterreine
word aangebring en die hele voorkoms van die eenmaal armsalige
dorpie word onherkenbaar omgetower. Op
die ou end verander dit in stadjie en naderhand in ’n stad ... en dit
het alles begin by een persoon wat op ’n dag ’n goeie plan gekry het. Goed,
dis miskien ’n ietwat buitensporige voorbeeld, maar dis juis sulke
projekte -- en baie daarvan op allerhande terreine -- wat nodig is om
Suid-Afrika se miljoene verarmdes te help ophef uit die put van die
ellende waarvoor ons ons oë nie durf sluit nie...
3)
Die skepping van goeie en ordelike woonomstandighede MENSE
wat in krotte woon, tussen die vullis wat gedurig om hulle ophoop, moet
noodwendig ’n ander uitkyk op die lewe hê as ons wat elke oggend ons oë
in ons mooi, betreklik skoon woonbuurte oopmaak. Hul
gesindheid oor netheid is anders -- wat ook verklaar waarom die papiere en
plastieksakke so dikwels daar aan die draadheinings fladder. Maar namate
hulle ál
dieper
in hul armoede versink en die stryd om net te oorlewe hul hele bestaan
oorheers, word netheid die laaste ding waaroor hulle hulle sal bekommer. Die
groot probleem is dat dit bose kringloop word: krotbewoners gee nie om nie
en niemand wil mense in diens neem wat nie omgee nie; en mense wat nie
werk het, moet in krotte bly woon, want hulle kan niks meer bekostig nie. Die
Suid-Afrikaanse regering het reeds lofwaardige werk gedoen deur duisende
huise aan sulke huisloses te verskaf. Baie meer sulke projekte is egter
nodig, wat miljoene Suid-Afrikaners het ’n nypende woningnood. Die
oplossing is dus duidelik: Die uiters behoeftige deel van ons bevolking
het ook respektable huise nodig. Want respektabelheid kweek respek en
respek kweek werksgeleenthede en werksgeleenthede dra die belofte van
voorspoed. Maar die meeste van
ons besef sekerlik nie genoeg hoe belangrik dit is om mense op hierdie
manier op te hef nie.
4)
Die kweking van selfrespek en ’n trots op dit wat jy doen om ’n lewe
te maak IN
aansluiting by die vorige afdeling kan die kweking van ’n besef van
eiewaarde en ’n trots om te werk ook oneindig meehelp om ’n
bedelkultuur in Suid-Afrika teen te werk. Projekte
om mense se selfrespek op te hef is van die uiterste belang, veral as dit
kom by mense wat vantevore erg benadeel is. Sulke
projekte kan geskied by wyse van volwasse onderwys (waar byvoorbeeld
ongeletterde grootmense geleer word om te lees en te skryf) en deur mense
se verskillende talente raak te sien en hulle te help om daarmee te
woeker. ’n
Kaapse straatsanger is al van die strate afgehaal om ’n beroepsanger te
word toe iemand besef het dat hy ’n besondere tenoorstem het. Uiteindelik
is dit elkeen van ons wat so bevoorreg is se taak en plig om armoede te
help bekamp -- al is dit bloot deur die armes onder ons met begrip en
liefde te oorlaai. |
|
Skep ek te véél kos in my bord, vererg my ma haar bloedig. Dan vat sy my ook dadelik kort en sê: “Dis té oorvloedig!”
Van oorvloed het sy my geleer en ook wat skaarste is. Om lekker kos te moet ontbeer, is wat die naarste is...
“Waardeer,” sê Ma, “die volopheid en moenie gulsig wees nie. Jy’s mos ’n mens—my liewe tyd!— en nie ’n baar ou bees nie!”
Nou weet ek as mens oorvloed het en veel om aan te kou ook, dat jy nie net op jouself moet let maar die armes moet onthou ook...
|