|
’n Laslappie van Mieliestronk |
AFRIKA-RENAISSANCE DIE Afrika-renaissance is ’n visie. Dit is vir die ontwaking van Afrika in sy geheel uit die donkerte van armoede en die onderontwikkeldheid van baie eeue—sodat die vasteland as ’n florerende bond van state op langelaas sy plek sal kan inneem in die galery van die wêreld se voorspoedige ekonomiese en maatskaplike magsblokke. Dit
is ook die groot droom van Suid-Afrika se pres. Thabo Mbeki. Op verskeie
besoeke aan die buiteland het hy reeds sy siening vir Afrika aan die wêreld
verkondig. Pres. Mbeki was ook ’n voorvegter in die stigting van NEPAD
(New Partnership for Africa's Development), ’n ambisieuse
Afrika-inisiatief waartoe op 23 Oktober 2001 ooreengekom is in Abuja,
Nigerië. Kenners
onderskei sekere sleutelaspekte vir ’n Afrika-renaissance. Dit sal
byvoorbeeld nodig wees om te verseker: •
dat Afrika ’n toonbeeld word van stabiele en verantwoordelike
demokrasieë waarin vryhede gewaarborg, onbillike ongelykhede uitgewis en
die gesag van die howe ondubbelsinnig erken word; •
dat wetenskaplike navorsing, onderwys en mediese dienste met alles
tot ons beskikking bevorder word; •
dat ’n gesonde leefwyse en sporte aangemoedig
word; •
dat die klimaat geskep word waarin entreneurskappe kan gedy; •
dat vrye ondernemings ondersteun word om tot hul hoogste potensiaal
te vorder; •
dat die kunste bevorder word; •
dat die vryheid van die pers gewaarborg word; •
dat besef sal word dat Afrika nie in isolasie kan bestaan nie en
daar ook uitgereik moet word na die res van die wêreld; •
dat die waarde van toerisme besef word; •
dat daar in die groot diversiteit van Afrika oral respek sal wees
vir mekaar se godsdienste, geestesgoedere, kulture en kulturele erfenisse; •
dat almal sal saamstaan om die omgewing en ook ons natuurkundige
erfenisse te bewaar. |