|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
ARA-PAPEGAAI:
Foto: Jerry Bauer / Corcovado National Park / U.S. National Park Service
DIE
ara, sê die woordeboek, is “ ’n kleurryke en spoggerige
Suid-Amerikaanse papegaai”—en blokraaisel-entoesiaste sal kan getuig
hoe dikwels hulle met dié woord te doen het. Daar’s immers min
drieletter-kombinasies in Afrikaans met ’n “a” sowel voor as agter!
Maar hoe lyk die aras, daardie flambojante siervoëls, rêrig? En hoe
veilig is hul hougebied in die tropiese woude van die Amasone? As
’n mens ’n ara van naderby bekyk, besef jy dat sy fleurigheid nie
verniet so besing word nie. Die tragiese is dat hul idilliese wêreld, en
dus hul getalle, ál kleiner word. Die Amasone-woud word onrusbarend
vinnig deur die mens ontbos—in ’n tempo van ’n gebied so groot soos
omtrent twee rugbyvelde per minuut, het iemand al op ’n keer bereken! Daar
is verskillende ara-spesies en al die groot papegaaie is beskermde voëls.
Maar, behalwe dat hul natuurlike hougebied vinnig aan die krimp is, is
daar boonop die probleem van onwettige handel. Meer as 600 000 papegaaie
van alle soorte is volgens een bron ’n tyd gelede jaarliks wêreldwyd
verkoop. Dié
voëls het een besonderse eienaardigheid—hulle vreet klei om hul mae te
pantser teen die gifstowwe in die tropiese vrugte wat hulle verorber. Maar
wanneer hulle vlieg, is dit ’n formasie van kleur in die lug. |