Die groot ape: sjimpansees, orangoetangs en gorillas

Orangoetang Ag, mens...

Moenie die foto’s op hierdie bladsy glo nie—die wetenskaplikes sê daar’s onoorbrugbare verskille tussen mense en ape!
Die foto’s op hierdie bladsy toon hoe van die groot ape nogal  “menslik” kan lyk—en die bobbel-tekste bo-op sekere van die foto’s is pittige ekstratjies wat die kamtige “humaniteit” van die ape verder beklemtoon. Maar al dra ’n aap ’n goue ring, sal hy so nimmer as nooit ’n mens kan word nie. Daarvoor is die verskille tussen ons en hulle te groot, soos in die bygaande artikel vertel word...

DIS die jaar 1964. ’n Man, op sy laaste weens nierversaking, lê sterwend op ’n hospitaalbed in Virginië, Amerika. Sy liggaam is uitgepof van die oortollige vog, sy asemhaling swaar.

Om sake te vererger kon ’n menslike nier nie gevind word om in hom oor te plant nie. Terwyl die man se toestand vinnig agteruitgaan, kry die waagmoedige dokters ’n plan. Hulle besluit om hulle tot die naasbeste te wend: sjimpansee-niere. Omdat, redeneer hulle, sijimpansees meer soos mense is as enige ander diere, het die niere ’n redelike kans om te werk.

’n Paar jaar later sou molekulêre bioloë inderdaad ’n ontdekking doen wat die chirurge nog baie meer in hul waagstuk sou kon laat glo het: dat die 98,5 persent van ’n sjimpansee se genetiese materiaal identies aan dié van die mens is.

Die sjimpansee is biologies dus "nader" aan die mens as wat die sjimpansee aan die gorilla is.

Die operasie gaan gevolglik voort en aanvanklik lyk dit of dit geslaag het. Die pasiënt se nuwe niere filtreer die vog uit sy bloed en sy swelling begin afneem. Maar kort voor lank raak dit duidelik dat iets ernstigs verkeerd is. Die sjimpansee-niere is besig om urine veels te vinnig af te skei en die pasiënt urineer ’n massiewe 54 liter op een dag.

Die dokters kan nie vinnig genoeg vloeistowwe in hom inpomp nie, en voor hul oë verdor die pasiënt en sterf hy drie dae later weens hartversaking.

Miskien was hierdie pasiënt in elk geval te siek om deur enige nieroorplanting gehelp te kon gewees het. Of dalk is die niere van sjimpansees en mense op die ou end glad nie so eenders nie. Een ding is egter seker. Ondanks hul genetiese ooreenkomste moet dit vir selfs die mees ongeërgde waarnemer duidelik wees dat sjimpansees en mense dramaties van mekaar verskil.

Goed, ons het albei groot breine, kan op twee bene loop, gebruik gereedskap en bestee jare daaraan om ons hulpelose babatjies te versorg. Maar die ape is fisiek baie sterker: ’n volwasse sjimpanseewyfie kan ’n volwasse man met haar een hand oplig. Sjimpansees het ook korter duime en is baie hariger.

Sjimpanseewyfies het net borste wanneer hulle voed en die mannetjies het bene in hul voorplantingsorgane. Sjimpansees het 24 pare chromosome, mense het 23. En natuurlik is mense veel slimmer.

Daar is duidelik iets in daardie 1,5 persent se andersheid in ons samestellings wat ons baie, baie verskillend maak. Iets wat die mens in staat stel om te kan lees en teoretiseer en in die buitenste ruimte rond te wandel, terwyl sjimpansees in die oerwoud rondploeter, bome klim en rysmiere eet wat hulle met takkies probeer vang.

Die eendersheid van totaal verskillende lewende wesens strek eintlik veel verder. Trouens, onlangs het navorsers mense laat regop sit toe hulle verklaar het dat selfs die menslike genoom en dié van nederige vrugtevlieg baie ooreenkomste toon.

Tot ’n skunnige neef van die mosterd-  en koolplante, ’n onkruid wat regoor die aarde langs spoorlyne en in tuine en velde groei, het sowat honderd gene wat baie met menslike siekte-gene ooreenstem. Dit sluit siektes soos oorerflike doofheid, blindheid en kankers in.

Wat beteken dit alles? Volgens een ontleding sal daar in die toekoms waarskynlik heeltemal anders gekyk word na die lewensvorms van die aarde, hul onafskeidbaarheid en intrinsieke eenheid en hoe hulle by mekaar aansluit op ons planeet. En hul ingebore andersheid. Dit wat ’n tarantula van ’n tier onderskei en ’n oester van ’n olifant.

En ’n aap van ’n mens, allerhande teorieë ten spyt. Feit bly, ape kan nooit as "komieklike  mense" deurgaan nie—net so min as wat jou ou wolhaarhond in ’n wysgeer kan verander deur hom elke dag saam met jou skool toe te neem!

 

•  Sjimpansees

AAPGEDAGTES is nie mensgedagtes nie. Vergelyk maar net die basiese gille en gromme van hardebaard-sjimpansees met Sjimpanseedie ingewikkelde sintaktiese strukture in die taal van menslike kleuters. Trouens, geleerdes kan hulle nie indink dat selfs ’n sjimpansee wat deur mense soos ’n mens grootgemaak is, ooit ’n eenvoudige abstrakte begrip soos dié sal kan verstaan nie:  "Sy reken dat die toffie op die tafel was, maar dit is nie".

Sjimpansees is wel intens bewus van omstandighede wat voorspel hoe andere gaan reageer, maar goeie '’na-apers'' van mense is hierdie ape beslis nie!  

Die sjimpansees, wat inheems in Midde-Afrika is, sal hulle ook aan allerhande dinge vergryp. Benewens boombas vreet die spesie ook nog sowat 200 soorte blare en vrugte, asook termiete, miere, heuning, voëleiers, voëltjies en soogdiertjies. Hulle is dus toegerus om sowel in die bome as op die grond te lewe. Hul voete is duidelik beter gevorm om op plat aarde te loop as byvoorbeeld dié van die orangoetangs—die sole is breër en die tone korter. Hulle bring nietemin die meeste van hul tyd in of naby bome deur en vermy direkte sonlig. Die volwassenes rig elke nag vir hulle ’n slaapplek in ’n boom in.  

Al het hy ’n gesig wat net ’n ma kan liefhê, vergoed die sjimpansee se jolige geaardheid vir hierdie tekortkoming. Tog is hy nie rêrig ’n partytjiedier nie. Hy en sy maats vorm los georganiseerde troppe van twee tot tagtig enkelinge op taamlik groot weigebiede. En buiten die verhouding tussen ma's en hul kleintjies, is onderlinge verbintenisse bra kortstondig. Die wyfie sal met verskillende mannetjies paar. Kleiner groepe kan van die trop afstig, en ’n wyfie sal haar soms by ’n ander trop aansluit—iets wat die mannetjies egter nooit sal doen nie. Sjimpansees werk tog wel saam as hulle jag en deel hul kos ewe bereidwillig met hul tropgenote.

 

 

In memoriam: Charlie die Stoker

HOEWEL sjimpansees nie sommer die swakhede van mense sal na-aap nie, was daar ’n harige platjie in die Bloemfonteinse dieretuin wat wêreldbekend was juis oor sy een menslike hebbelikheid. Hy kon naamlik partymaal rook soos ’n skoorsteen.

Maar in Oktober 2010 het Charlie die Stoker stoom verloor en uiteindelik sy laaste asem uitgeblaas.

Hy was 52 jaar oud, hoogbejaard vir ’n sjimpansee, want geleerdes vertel dat sjimpansees selfs in gevangenskap selde ouer as veertig word. En hoewel rook jaarliks ’n menigte mense aan kanker laat sterf, lyk dit nie of die gewraakte teer van die tabakblaar Charlie se dood veroorsaak het nie. Hy het blykbaar weens ouderdom beswyk.

Animasie van ’n rokende sjimpanseeREGS:  ’n Simpansee soos wyle Charlie—ook besig om ’n dampie te slaan!

Geanimeerde aanpassing van ’n oorspronklike foto van U.S. Centers for Disease Control and Prevention

Daar is verskillende weergawes van die storie oor hoe en waar Charlie leer rook het—onder meer dat hy die gewoonte aangeleer het toe hy vroeër in ’n Amerikaanse sirkus was. Volgens ’n ander weergawe het hy begin deurdat besoekers aan die dieretuin vir hom sigarette gegee het. Toe die nuus van sy rokery bekend raak, het stryders vir diereregte egter so ’n bohaai opgeskop dat die dieretuin gedwing was om hom sy dampies te ontsê.

Hy was glo nie meer ’n roker toe hy dood is nie.
 

 

•  Orangoetangs

DIE orangoetangs van Borneo en Sumatra is vegetariërs wat van blare en vrugte lewe. Hulle herinner ’n mens so sterk aan Pratende oerangoetang mense dat die einste Maleisiese naam orangoetang met "man van die bos" vertaal kan word. Maar met hul weelderige rooibruin hare hou hulle in die bome waar hulle met uiters lang arms van sowat twee meter van tak tot tak swaai. Iemand het al gesê enige mens sou bossies moes raak om dit heeldag te kan regkry!

Die volwasse mannetjie staan omtrent 1,4 meter in sy harige "sokkies" en weeg sowat 70 kg. Hy is twee keer so groot soos die wyfie en het ’n lugsak wat van sy keel afhang. Dié word  gebruik word om ’n reeks kreungeluide te maak wat ’n mens tot ’n kilometer ver kan hoor. Die mannetjie en wyfie spog altwee met daardie rooibruin hare wat ruig op die arms en dye groei.  

Tipies soogdier is ’n orangoetang-wyfie baie danig oor haar enkele kleintjie wat in die wêreld kom nadat sy sowat agt tot nege maande lank dragtig was. Twee tot drie jaar hierna sal sy hom, as hy nog lewe, steeds nougeset versorg, totdat sy weer paar. Die volwasse orangoetang-mannetjies is gewoonlik alleenlopers. Baie troppe bestaan slegs uit wyfies en kleintjies.  

 

•  Gorillas

APE soos die gorilla se gesigsuitdrukkings kan so dramaties van dié van mense verskil dat jy jou maklik met hulle kanRooioog-gorilla misgis. Dis byvoorbeeld belangrik dat iemand wat met hulle werk, sal weet dat geen aap (of enige dier) in staat is om te lag of selfs te glimlag nie. Wat na ’n lag kan lyk, is tien teen ’n een ’n gryns van misnoeë—en dalk ’n dreigement dat hy jou gaan byt as jy nog verder met hom lol.  

Gebyt word of nie, die mens het nietemin ’n groot belangstelling in die aapfamilie, wat dan ook in ons idiome weerspieël word. As jy onkundig omtrent iets is, kan jy so min daarvan weet soos ’n aap van godsdiens. Of as jy baie onhandig is, te kere gaan soos ’n aap in ’n porseleinkas. Om nie te praat van so beteuterd wees soos ’n apie op ’n stokkie nie!

Dis spreekwoorde wat egter ook almal daarop dui dat ons mense nie veel van ’n aap se vermoëns dink nie. Maar die feit bly staan dat daar in die breë aapfamilie (wat die Engelse onderskeidend "apes'' en "monkeys'' noem) darem heelparty slimmer wesens is as enige op aarde, buiten dan natuurlik die mens.

En heel bo-aan hulle almal is die sogenaamde groot ape—die gorilla, sjimpansee en orang-oetang—met die gorilla waarskynlikste die skerpste van die drie.  

’n Mens moet toegee dat die verstandelike vermoë van die gorilla nog nie ten volle nagevors is nie. Maar al is hy nie so nuuskierig en op en wakker soos sy neef die sjimpansee nie, het hy blykbaar meer volharding en ’n beter slag om ’n probleem op te los.

Hy neig ook meer daarna om ’n werkie uit belangstelling te doen as om ’n beloning daarvoor te wil ontvang. Boonop kan hy beter tussen verskillende meetkundige vorms onderskei.

Ná ’n sekere mate van welslae met sjimpansees het navorsers hulle in die middel van die 1970’s daarop toegespits om deur middel van gebaretaal met gorillas te probeer kommunikeer. Een gorilla het meer as honderd woorde baasgeraak.  

Die gorilla (soos die sjimpansee ook ’n boorling van Midde-Afrika)  is nie net vermoedelik die slimste van die sogenaamde mensape nie, maar ook die sterkste. Hy is massief van lyf.  ’n Mannetjie kan tot 1,6 lank word en ’n ongehoorde 180 kg weeg. Die wyfie is sowat 30 cm korter en weeg die helfte minder. Dog al lyk die gorilla na so ’n verskrikking, is hy eintlik maar skugter en selfs lieftallig. Alle gorillas slaan wel met hul vuiste op die bors—en by die mannetjies kan dit ’n magsvertoon wees om indringers te intimideer— maar as jy voor ’n aanstormende een bly staan, so word vertel, sal hy jou selde seermaak. Moet net nie voet in die wind slaan nie—dan kan hy jou dalk agternasit en doodmaak.

Die wyfies is omtrent nege maande lank dragtig en kry gewoonlik een kleintjie, maar ook af en toe ’n tweeling. Die soogtyd is sowat ’n jaar. Op elf- of twaalfjarige ouderdom raak die jonges volwasse en die maksimum-lewensduur is sowat vyftig jaar. Die kleintjies ry bedags op hul ma’s se rûe rond terwyl dié saam met die res van die trop vetplante, bessies en blare soek om te eet. Elke nag maak die trop ’n tydelike kamp, en die wyfies en jonges sal soms op platforms in die bome slaap wat van takkies en blare saamgeflans is, terwyl die ouer mannetjies op die gras daaronder rus.

Gorillas hou gewoonlik in troppe van so vyf tot vyftien. ’n Tipiese trop bestaan uit ’n leier, een of twee subdominante mannetjies, verskeie volwasse wyfies en die jongspan. Die meeste jong mannetjies word uit die trop verdryf wanneer hulle volwasse raak. Hulle kan mannetjiestroppe vorm of hulself losweg by ander troppe voeg. ’n Leier wat deur ’n uitdager oorwin word, lei daarna ’n eenloper-lewe.

 

Stuitige stertjie

EN as ape werklik soos mense was, hoe sou hulle gelyk het? Ons program vir die maak van rekenaars-grafika het met iets Orangoetang met sigaret en lipstiffievorendag gekom wat koddiger is as enigiets wat vir die rolprent Planet of the Apes bedink kon gewees het. Leerders wat miskien hierdie blad vir een van hul take gebruik, moet dit tog net nie kopieer en afdruk en dit by die taak insluit nie—netnou dink jou onnie jyt die aap aan die stert beet as jy dink hy sal vir jou ekstra punte gee vir jou stuitigheid!