|
DIS die jaar 1964. ’n Man, op sy
laaste weens nierversaking, lê sterwend op ’n hospitaalbed in Virginië,
Amerika. Sy liggaam is uitgepof van die oortollige vog, sy asemhaling
swaar.
Om sake te vererger kon ’n
menslike nier nie gevind word om in hom oor te plant nie. Terwyl die man
se toestand vinnig agteruitgaan, kry die waagmoedige dokters ’n plan.
Hulle besluit om hulle tot die naasbeste te wend: sjimpansee-niere.
Omdat, redeneer hulle, sijimpansees meer soos mense is as enige ander
diere, het die niere ’n redelike kans om te werk.
’n Paar jaar later sou molekulêre
bioloë inderdaad ’n ontdekking doen wat die chirurge nog baie meer in
hul waagstuk sou kon laat glo het: dat die 98,5 persent van ’n
sjimpansee se genetiese materiaal identies aan dié van die mens is.
Die sjimpansee is biologies dus
"nader"
aan die mens as wat die sjimpansee aan die gorilla is.
Die operasie gaan gevolglik voort
en aanvanklik lyk dit of dit geslaag het. Die pasiënt se nuwe niere
filtreer die vog uit sy bloed en sy swelling begin afneem. Maar kort
voor lank raak dit duidelik dat iets ernstigs verkeerd is. Die
sjimpansee-niere is besig om urine veels te vinnig af te skei en die
pasiënt urineer ’n massiewe 54 liter op een dag.
Die dokters kan nie vinnig genoeg
vloeistowwe in hom inpomp nie, en voor hul oë verdor die pasiënt en
sterf hy drie dae later weens hartversaking.
Miskien was hierdie pasiënt in
elk geval te siek om deur enige nieroorplanting gehelp te kon gewees het.
Of dalk is die niere van sjimpansees en mense op die ou end glad nie so
eenders nie. Een ding is egter seker. Ondanks hul genetiese ooreenkomste
moet dit vir selfs die mees ongeërgde waarnemer duidelik wees dat
sjimpansees en mense dramaties van mekaar verskil.
Goed, ons het albei groot breine,
kan op twee bene loop, gebruik gereedskap en bestee jare daaraan om ons
hulpelose babatjies te versorg. Maar die ape is fisiek baie sterker:
’n volwasse sjimpanseewyfie kan ’n volwasse man met haar een hand
oplig. Sjimpansees het ook korter duime en is baie hariger.
Sjimpanseewyfies het net borste
wanneer hulle voed en die mannetjies het bene in hul voorplantingsorgane.
Sjimpansees het 24 pare chromosome, mense het 23. En natuurlik is mense
veel slimmer.
Daar is duidelik iets in daardie
1,5 persent se andersheid in ons samestellings wat ons baie, baie
verskillend maak. Iets wat die mens in staat stel om te kan lees en
teoretiseer en in die buitenste ruimte rond te wandel, terwyl
sjimpansees in die oerwoud rondploeter, bome klim en rysmiere eet wat
hulle met takkies probeer vang.
Die eendersheid van totaal
verskillende lewende wesens strek eintlik veel verder. Trouens, onlangs
het navorsers mense laat regop sit toe hulle verklaar het dat selfs die
menslike genoom en dié van nederige vrugtevlieg baie ooreenkomste toon.
Tot ’n skunnige neef van die
mosterd- en koolplante,
’n onkruid wat regoor die aarde langs spoorlyne en in tuine en velde
groei, het sowat honderd gene wat baie met menslike siekte-gene
ooreenstem. Dit sluit siektes soos oorerflike doofheid, blindheid en
kankers in.
Wat beteken dit alles? Volgens een
ontleding sal daar in die toekoms waarskynlik heeltemal anders gekyk
word na die lewensvorms van die aarde, hul onafskeidbaarheid en
intrinsieke eenheid en hoe hulle by mekaar aansluit op ons planeet. En
hul ingebore andersheid. Dit wat ’n tarantula van ’n tier onderskei
en ’n oester van ’n olifant.
En ’n aap van ’n mens, allerhande teorieë ten spyt. Feit bly, ape
kan nooit as "komieklike mense"
deurgaan nie—net so min as wat jou ou wolhaarhond in ’n wysgeer kan
verander deur hom elke dag saam met jou skool toe te neem!
|
• Sjimpansees
AAPGEDAGTES is nie mensgedagtes nie. Vergelyk maar net die basiese
gille en gromme van hardebaard-sjimpansees met
die ingewikkelde
sintaktiese strukture in die taal van menslike kleuters. Trouens,
geleerdes kan hulle nie indink dat selfs ’n sjimpansee wat deur mense
soos ’n mens grootgemaak is, ooit ’n eenvoudige abstrakte begrip
soos dié sal kan verstaan nie: "Sy reken dat die toffie op die tafel was, maar
dit is nie".
Sjimpansees is wel intens bewus van omstandighede wat
voorspel hoe andere gaan reageer, maar goeie '’na-apers'' van mense is
hierdie ape beslis nie!
Die sjimpansees,
wat inheems in Midde-Afrika is, sal
hulle ook aan allerhande dinge vergryp. Benewens boombas vreet die spesie ook nog sowat 200 soorte blare en vrugte,
asook termiete, miere, heuning, voëleiers, voëltjies en soogdiertjies.
Hulle is dus toegerus om sowel in die bome as op die grond te lewe. Hul
voete is duidelik beter gevorm om op plat aarde te loop as byvoorbeeld dié van die
orangoetangs—die sole is breër en die tone korter. Hulle bring
nietemin die meeste van hul tyd in of naby bome deur en vermy direkte
sonlig. Die volwassenes rig elke nag vir hulle ’n slaapplek in ’n
boom in.
Al het hy ’n gesig wat net ’n ma kan liefhê, vergoed
die sjimpansee se jolige geaardheid vir hierdie tekortkoming. Tog is
hy nie rêrig
’n partytjiedier nie. Hy en sy maats vorm los georganiseerde troppe
van twee tot tagtig enkelinge op taamlik groot weigebiede. En buiten die
verhouding tussen ma's en hul kleintjies, is onderlinge verbintenisse
bra kortstondig. Die wyfie sal met verskillende mannetjies paar. Kleiner
groepe kan van die trop afstig, en ’n wyfie sal haar soms by ’n
ander trop aansluit—iets wat die mannetjies egter nooit sal doen nie.
Sjimpansees werk tog wel saam as hulle jag en deel hul kos ewe
bereidwillig met hul tropgenote.
|
In memoriam: Charlie die Stoker
HOEWEL
sjimpansees nie sommer die swakhede van mense sal na-aap
nie, was daar ’n harige platjie in die Bloemfonteinse
dieretuin wat wêreldbekend was juis oor sy een menslike
hebbelikheid. Hy kon naamlik partymaal rook soos ’n
skoorsteen.
Maar in Oktober 2010 het Charlie die
Stoker stoom verloor en uiteindelik sy laaste asem uitgeblaas.
Hy was 52 jaar oud, hoogbejaard vir ’n
sjimpansee, want geleerdes vertel dat sjimpansees selfs
in gevangenskap selde ouer as veertig word. En hoewel
rook jaarliks ’n menigte mense aan kanker laat sterf,
lyk dit nie of die gewraakte teer van die
tabakblaar Charlie se dood veroorsaak het nie. Hy het
blykbaar weens ouderdom beswyk.
REGS:
’n Simpansee soos wyle Charlie—ook besig om ’n dampie te slaan!
Geanimeerde aanpassing van ’n oorspronklike foto van
U.S. Centers for Disease Control and Prevention
Daar is verskillende weergawes van die
storie oor hoe en waar Charlie leer rook het—onder meer
dat hy die gewoonte aangeleer het toe hy vroeër in ’n
Amerikaanse sirkus was. Volgens ’n ander weergawe het hy
begin deurdat besoekers aan die dieretuin vir hom
sigarette gegee het. Toe die nuus van sy rokery bekend
raak, het stryders vir diereregte egter so ’n bohaai
opgeskop dat die dieretuin gedwing was om hom sy dampies
te ontsê.
Hy was glo nie meer ’n roker toe hy dood
is nie.
|
|
|
•
Orangoetangs
DIE orangoetangs van Borneo en Sumatra is
vegetariërs wat van blare en vrugte lewe. Hulle herinner ’n mens so
sterk aan mense dat die einste Maleisiese naam
orangoetang met "man
van die bos" vertaal kan word. Maar met hul weelderige rooibruin hare
hou hulle in die bome waar hulle met uiters lang arms van sowat twee
meter van tak tot tak swaai. Iemand het al gesê enige mens sou bossies
moes raak om dit heeldag te kan regkry!
Die volwasse mannetjie staan omtrent
1,4 meter in sy harige "sokkies" en weeg sowat 70 kg. Hy is twee keer
so groot soos die wyfie en het ’n lugsak wat van sy keel afhang. Dié
word gebruik word om ’n reeks kreungeluide te maak wat ’n mens
tot ’n kilometer ver kan hoor. Die mannetjie en wyfie spog altwee met
daardie rooibruin hare wat ruig op die arms en dye groei.
Tipies
soogdier is ’n orangoetang-wyfie baie danig oor haar enkele
kleintjie wat in die wêreld kom nadat sy sowat agt tot nege
maande lank dragtig was. Twee tot drie jaar hierna sal sy hom, as hy
nog lewe, steeds nougeset versorg, totdat sy weer paar. Die volwasse
orangoetang-mannetjies is gewoonlik alleenlopers. Baie troppe bestaan
slegs uit wyfies en kleintjies.
|
|
•
Gorillas
APE soos
die gorilla se gesigsuitdrukkings kan so dramaties van dié
van mense verskil dat jy jou maklik met hulle kan misgis. Dis
byvoorbeeld belangrik dat iemand wat met hulle werk, sal weet dat geen
aap (of enige dier) in staat is om te lag of selfs te glimlag nie. Wat
na ’n lag kan lyk, is tien teen ’n een ’n gryns van misnoeë—en
dalk ’n dreigement dat hy jou gaan byt as jy nog verder met hom lol.
Gebyt
word of nie, die mens het nietemin ’n groot belangstelling in die
aapfamilie, wat dan ook in ons idiome weerspieël word. As jy onkundig omtrent iets is, kan jy so min
daarvan weet soos ’n aap van godsdiens. Of as jy baie onhandig is, te
kere gaan soos ’n aap in ’n porseleinkas. Om nie te praat van so
beteuterd wees soos ’n apie op ’n stokkie nie!
Dis
spreekwoorde wat
egter ook almal daarop dui dat ons mense nie
veel van ’n aap se vermoëns dink nie. Maar die feit bly staan dat
daar in die breë aapfamilie (wat die Engelse onderskeidend "apes'' en
"monkeys'' noem) darem heelparty slimmer wesens is as enige op aarde, buiten
dan natuurlik
die mens.
En heel bo-aan hulle almal is die sogenaamde groot
ape—die gorilla, sjimpansee en orang-oetang—met die gorilla
waarskynlikste die skerpste van die drie.
’n Mens moet toegee dat die verstandelike vermoë
van die gorilla nog nie ten volle nagevors is nie. Maar al is hy nie so
nuuskierig en op en wakker soos sy neef die sjimpansee nie, het hy
blykbaar meer volharding en ’n beter slag om ’n probleem op te los.
Hy neig ook meer daarna om ’n werkie uit
belangstelling te doen as om ’n beloning daarvoor te wil ontvang.
Boonop kan hy beter tussen verskillende meetkundige vorms onderskei.
Ná ’n sekere mate van welslae met sjimpansees
het navorsers hulle in die middel van die 1970’s daarop toegespits om
deur middel van gebaretaal met gorillas te probeer kommunikeer. Een
gorilla het meer as honderd woorde baasgeraak.
Die
gorilla (soos die sjimpansee ook ’n boorling van Midde-Afrika) is nie net vermoedelik die
slimste van die sogenaamde mensape nie, maar ook die sterkste.
Hy is massief van lyf. ’n Mannetjie kan tot 1,6 lank word en ’n ongehoorde 180
kg weeg. Die wyfie is sowat 30 cm korter en weeg die helfte minder. Dog al lyk die gorilla na so ’n verskrikking, is hy eintlik maar skugter
en selfs lieftallig. Alle gorillas slaan wel met hul vuiste op die bors—en
by die mannetjies kan dit ’n magsvertoon wees om indringers te
intimideer— maar as jy
voor ’n aanstormende een bly staan, so word vertel, sal hy jou selde
seermaak. Moet net nie voet in die wind slaan nie—dan kan hy jou dalk
agternasit en doodmaak.
Die
wyfies is omtrent nege maande lank dragtig en kry gewoonlik een
kleintjie, maar ook af en toe ’n tweeling. Die soogtyd is sowat ’n jaar. Op elf- of
twaalfjarige ouderdom raak die jonges volwasse en die
maksimum-lewensduur is sowat vyftig jaar. Die kleintjies ry bedags op hul
ma’s se rûe rond terwyl dié saam met die
res van die trop vetplante, bessies en blare soek om te eet.
Elke nag maak die trop ’n tydelike kamp, en die wyfies en
jonges sal soms op platforms in die bome slaap wat van takkies
en blare saamgeflans is, terwyl die ouer mannetjies op die gras
daaronder rus.
Gorillas
hou gewoonlik in troppe van so vyf tot vyftien. ’n Tipiese
trop bestaan uit ’n leier, een of twee subdominante
mannetjies, verskeie volwasse wyfies en die jongspan. Die meeste
jong mannetjies word uit die trop verdryf wanneer hulle volwasse
raak. Hulle kan mannetjiestroppe vorm of hulself losweg by ander
troppe voeg. ’n Leier wat deur ’n uitdager oorwin word, lei
daarna ’n eenloper-lewe.
|
|
Stuitige
stertjie
EN
as ape werklik soos mense was, hoe sou hulle gelyk het? Ons program vir
die maak van rekenaars-grafika het met iets vorendag
gekom wat koddiger is as enigiets wat vir die rolprent Planet of the
Apes bedink kon gewees het. Leerders wat miskien hierdie blad vir een
van hul take gebruik, moet dit tog net nie kopieer en afdruk en dit by
die taak insluit nie—netnou dink jou onnie jy’t die aap aan die stert
beet as jy dink hy sal vir jou ekstra punte gee vir jou stuitigheid!
|
|