|
Die
geskiedenis, legendes en aard van die vlesige groentesoort wat so ’n
ryk deel van ons lewe is
Die
knewel van Geweet
die Amerikaanse nasie lyk vandag soos hy lyk, onder meer weens ’n
verwoestende aartappelsiekte wat die aangesig van die aarde verander
het? Onsin, sê jy? Wat wou, die helfte is jou nog lank nie vertel
nie...
SKEPPER!—U wat die lewe aan alle dinge Só,
sê geskiedkundiges, het die ou Inka-volk van Suid-Amerika destyds in
hul gebede die nederige ou aartappel as ’t ware
tot ’n goddelike knol verhef. Die Inkas se uitgebreide ryk het oor die
Andesgebergte gestrek voordat die Spanjaarde vanoor die see gekom en met
hul verowering daarvan begin het. Die
spreekwoordelike "wortels" van die aartappel lê inderdaad
daar in die Nuwe Wêreld. Net ’n klompie eeue gelede nog was dit nêrens
elders bekend nie, maar in die antieke bouvalle van Peru en Chili het
argeoloë al oorblyfsels van dié groentesoort gevind wat van vyf eeue
voor die geboorte van Christus dateer.
Maar die vlesige
bolle uit die goeie aarde van daardie tyd het nie gelyk soos die
witbruin boepensgroente wat ons ken nie. Die ouwêreldse Inka-aartappels
het donker, perserige skille en ’n geel vleis gehad. Die Inkas het dit
"papas" genoem, soos hul nasate dit vandag nog doen. Aartappel-geskiedenis
KYFIES,
kapokaartappels en sulke lekker dinge is so deel van ons eie
lewens dat ’n mens kwalik kan glo dat die Westerse wêreld die
aartappel maar eers in die sestiende eeu leer ken het. Onder die eerste
Europeërs wat daarmee kennis gemaak het, was die Spaanse veroweraar en
geskiedskrywer Pedro de Cieza de Leon (1518-1560), wat in 1540 daaroor
geskryf het in sy Kronieke van Peru. In die omgewing van Quito,
het hy vertel, "het die inwoners benewens mielies ’n ander plant
wat hulle in ’n groot mate help onderhou". Die Spaanse ontdekkingsreisiger Gonzalo Jiminez
de Quesada (1499-1579) het die aartappel na Spanje geneem om die goud te
vergoed wat hy nie op sy omswerwinge kon vind nie. Die Spanjaarde het
gereken die aartappels is ’n soort truffel (knolswam) en het dit toe
"tartuffo" begin noem. Kort voor lank was aartappels ’n
standaardkos op Spaanse skepe. Hulle het agtergekom dat matrose wat
aartappels eet, nie die gevreesde skeurbuik kry nie, al het hulle toe
nog geen snars van vitamiene en voedselaanvullings geweet nie. Die aartappel het sy veroweringstog in Europa
voortgesit en Brittanje en Italië omtreeks 1585 bereik, België en
Duitsland teen 1587, Oostenryk omstreeks 1588 en Frankryk teen nagenoeg
1600. Toe Jan van Riebeeck se Nederlanders in 1652 aan die Kaap aankom
om honger matrose onderweg na en van Indië te voed, was die aartappel
reeds ’n bekende gewas vir die Europeërs. Nie dat die nuwe groente van meet af oral
verwelkom is nie. Inteendeel, waar die aartappel ook al ingevoer is, is
dit as grillerig, giftig en selfs as iets boosaardigs gereken. In
Frankryk en elders is dit nie net as die oorsaak van melaatsheid beskou
nie, maar ook van sifilis, bedwelming, kliersiekte, vroeë sterfte,
steriliteit en woekerende liefdesdrifte. Boonop sou dit die groeikrag
van die grond vernietig het waar dit ook al groei. Daar was soveel teenkanting teen die aartappel
dat ’n bevel daarteen op die dorp Besancon in Frankryk uitgevaardig
is: "In die lig van die feit dat die aartappel so ’n
verpestelikheid is en dat die gebruik daarvan melaatsheid kan
veroorsaak, word die kweek daarvan hiermee verbied en loop oortreders
die risiko van ’n boete." Die Britse ontdekkingsreisiger en
geskiedkundige sir Walter Raleigh (1552-1618), wat bekend was vir sy
ekspedisies na die Amerikas, het die aartappel na Ierland gebring en dit
op sy Ierse landgoed geplant. Volgens die oorlewering het hy ’n aartappelplant aan die Engelse koningin Elizabeth I
(1533-1603) geskenk. Die plaaslike deftiges is, volgens die
vertelling, na ’n koninklike banket genooi waar die aartappel ’n
deel van elke gang van die maaltyd gevorm het. Ongelukkig het die kokke
geen benul van aartappels gehad nie en die vet, bonkige knolle
weggegooi. Al wat na die koninklike tafel gebring is, was ’n dis van
gekookte aartappelstingels en -blare—wat giftig is en die
niksvermoedende eters erg siek gemaak het. Aartappels is toe uit die
koninklike hof geban. Maar jy kan nie ’n goeie ding soos die
aartappel onder hou nie (al kom hy van onder af!) en algaande het die
kweek daarvan toegeneem. Daar word selfs vertel dat Marie Antoinette
(1755-1793), vrou van die Franse koning Lodewyk XVI, dikwels
aartappelblommetjies in haar hare gedra het. Die gebruik is glo deur die
vroue van haar tyd nagevolg.
Die Amerikaanse nasie is opgebou uit mense van
verskillende lande. Maar dit is interessant dat
miljoene Amerikaners vandag die nasate is van Iere wat juis na die
Verenigde State gevlug het om aan ’n hongerdood te ontsnap wat deur
’n verwoestende aartappelsiekte veroorsaak is. Die "Groot Hongersnood" in Ierland (van 1845 tot 1851) het gevolg op ’n voorheen onbekende plaag, Phytophthora infestans, wat die land uit Noord-Amerika binnegekom en die Iere se aartappels getref het. Siniese mense sal dalk sê dat die Iere eintlik hul eie ondergang bewerk het deur te afhanklik van hul aartappels te word. Cecil Woodham-Smith vertel byvoorbeeld in sy
boek The Great Hunger: Ireland 1845-1849: "Die kook van
enige kos buiten die aartappel het ’n verlore kuns geword. Vroue het
omtrent niks anders as aartappels gekook nie. Die oond het iets
onbekends geraak ná die ingebruikneming van die aartappel voor die
Groot Hongersnood." Volgens ’n ander bron was die aartappel wel
die belangrikste kos van sowat 4 miljoen mense in Ierland uit ’n
totale bevolking van sowat 8, 5 miljoen. Navorsers reken dat minstens
’n miljoen mense in dié tyd van honger dood is, terwyl nog sowat 1,5
miljoen tussen 1845 en 1855 die land verlaat het. Die heel armstes het
na Brittanje uitgewyk en dié wat ietwat beter daaraan toe was, na
Kanada en, bowenal, die Verenigde State. Die bou van die aartappel en hoe dit gekweek word
AAR
wat is die aartappel dan nou eintlik? Die plant wat, soos ons gesien
het, oorspronklik uit Suid-Amerika kom, behoort tot dieselfde familie (Solanaceae)
as die tamatie, die brinjal, die bitterappel en ander bekende
plante. In baie wêrelddele is dit steeds ’n belangrike soort kos van
die arm mense. Aartappels is ook in Suid-Afrika ’n baie belangrike
kossoort.
Aartappels
wat vars uit die grond kom, bevat 78 persent water, 18 persent stysel,
2,2 persent proteïen, 1 persent as (nie-organiese bestanddele) en 0,1
persent vet. Sowat 75 persent van die droë gewig is koolhidraat. Die
aartappel is ’n belangrike bron van styfsel vir die vervaardiging van
kleefstowwe en alkohol. Dit bevat ook die vitamiene A, B en C en ’n
bietjie yster, fosfor, kalsium en eiwit. Daar is honderde variëteite. Net
soos alle ander plante het die aartappelstoel wortels en ’n stam of
stingel wat bokant die grond groei. Maar ook onder die grond is daar
stingels of uitlopers, en aan die punte van hierdie uitlopers of
ondergrondse stingels vorm daar swelsels of knolle wat ons aartappels
noem. Drie
tot ses knolle vorm aan die ondergrondse stingel, hoewel daar by party
variëteite selfs tien tot twintig kan wees. Die aartappel wat ons eet,
is dus eintlik nie die plant se vrug nie, maar ’n deel van die plant
se stingel.
Die
ware vrug van die aartappel
lyk soos ’n klein ronde tamatie, omtrent so groot soos ’n kersie, wat
tot 300 saadjies kan bevat. (Onthou egter dat hierdie vruggie, net soos
die stingels en blare, ’n beduidende hoeveelheid solanien bevat, wat
’n giftige alkaloïed is.) ’n
Mens kan wel die saadjies saai en hulle sal ontkiem, maar hierdie manier
van voortplanting word slegs gebruik wanneer mense nuwe soorte
aartappels deur middel van kunsmatige kruisbestuiwing wil kweek.
Andersins is dit is nie lonend nie. Die
aartappeltjies wat van saadjies verkry word, is slegs so groot soos
albasters. As ’n mens hierdie "albasters" plant, kry jy wel
effens groter aartappels, en indien dié aartappels weer geplant word,
word eers aartappels van die normale grootte verkry.
Foto: Keith Weller / USDA / ARS Daarom
word aartappels veel eerder voortgeplant deur moere te plant. ’n
Moer is bloot ’n aartappel waaraan uitloopsels begin vorm het.
Om onuitgeloopte aartappels só aan die spruit te kry, word hulle op ’n
warm plek in die lig geplaas. Baiemaal word die moere in kleiner moere,
elk met sy eie paar uitloopseltjies, opgesny voordat hulle geplant
word,. Die aartappel aard die beste in ’n
koel, vogtige klimaat, maar is tog aanpasbaar by verskillende soorte
klimate. In sanderige leemgrond wat effens suur is, is die aartappel in
sy element. Proewe deur Suid-Afrikaanse
geleerdes het getoon dat aartappels nie net fosfaat en stikstof
nodig het nie, maar dat kalium ook belangrik is. Aartappels
kan op verskillende maniere geplant word, maar boere wat baie groot met
hierdie soort groente boer, gebruik ’n spesiale masjien, die sogenaamde
aartappelplanter, daarvoor. Dit is
belangrik om die grond waar aartappels groei skoon van onkruid te hou,
omdat onkruid die aartappels van water en voedingstowwe kan beroof.
Sodra die aartappelstoele mooi sterk is, word hulle "opgeërd".
Dit beteken dat grond daar rondom gegooi word sodat aartappels wat
gevorm word, nie aan die lig blootgestel en groen word nie. Wanneer die aartappels se skille
mooi vas is, kan hulle uitgehaal word. Teen dié tyd is die lowwe van
die plant gewoonlik al geel of dood. Aartappels wat te vroeg uitgehaal
word, se skille is nog nie behoorlik geset nie. Hulle word maklik
gekneus en die aartappels vrot dus gou.
Foto: Scott Bauer / USDA / ARS Wil
jy graag aartappels plant, maar jy het nie grond daarvoor nie? Dalk kan
jy vir jou ’n goeie voorraadjie in ’n houer kweek. Die houer moet
goed gedreineerd en minstens 30 cm diep en breed wees. Vul die helfte
van die houer op met vrugbare tuingrond en veeldoelige kompos van ’n
goeie gehalte. Druk twee moere bo in die kompos in en bedek met meer
kompos of grond tot by sowat 3 cm van die bokant van die houer. Sorg dan
dat jou kweekbak goed nat bly. En
lekker smul aan jou oes! ’n Grappige aartappel-storie
IE
volgende aartappel-staaltjie uit die Anglo-Boereoorlog is nie waar nie,
maar tog amusant. ’n
Bejaarde pa het tydens die oorlog iewers alleen op ’n Karoodorpie
gewoon, maar hy het niemand gehad wat sy tuin vir hom kon omspit sodat
hy ’n voorraad aartappelmoere kon plant wat hy present gekry het nie.
Sy seun kon hom nie help nie, want hy was ’n Kaapse rebel en is deur
die Engelse gevang en opgesluit. Toe
skryf die ou man vir sy seun in die gevangenis en vertel hom van sy
verknorsing. Die
seun het teruggeskryf: "Pa, om hemelsnaam nee, moenie die tuin laat
omspit nie, dis waar ek die gewere begrawe het!" Nog
voor ligdag die volgende oggend is daar ’n dosyn Kakies (Engelse
soldate) op die werf wat drie uur lank oral in die tuin dolwe op soek na
die versteekte gewere. Maar hulle kry niks nie. Skoon
dronkgeslaan skryf die ou man toe weer aan sy gevange seun en vra hom
wat hom nou te doen staan. Waarop
die seun hierdie antwoord stuur: "NOU kan Pa maar die aartappels
plant!" Aartappel—die groen gevaar!
ARTAPPELS—goed soos hulle is—het ook ’n donker sy. Bly weg van enigiets
groens aan ’n aartappel... die blare, die stingels, enige
groenverkleurde skille! Die knolle moet in donker, droë plekke geberg
word. Lig sal veroorsaak dat solanien op die skil van ’n aartappel
vorm. Hoewel hulle nie sommer ernstige skade sal aanrig nie, kan
aartappels met groen skille dalk bitter smaak en tot tydelike ongemak
met die spysvertering lei.
As jy ’n groen skil aan ’n aartappel vind, dop dit eenvoudig af. Behou soveel van die res van die skil as wat moontlik is, want dis hier waar die meeste van die vitamiene lê. Aartappels is een van die voedsaamste stapelvoedsels wat die mens nog ontdek het. Met melk daarby kan dit ’n kragtige en gesonde bron van energie, vitamiene en minerale wees—in sowel tye van oorvloed as in tye van ontbering. |
|||||