Die geskiedenis, legendes en aard van die vlesige groentesoort wat so ’n ryk deel van ons lewe is

'n Aartappel -- koningskos vir ryk en arm  Aartappel 

Die knewel van
’n knol

Geweet die Amerikaanse nasie lyk vandag soos hy lyk, onder meer weens ’n verwoestende aartappelsiekte wat die aangesig van die aarde verander het? Onsin, sê jy? Wat wou, die helfte is jou nog lank nie vertel nie...


      

"O,

SKEPPER!—U wat die lewe aan alle dinge
gee en mense gemaak het sodat hulle kan
lewe en vermeerder—vermeerder ook die
vrugte van die aarde, die aartappels en ander
kos wat U gemaak het, sodat die mense nie
van honger en ellende sal krepeer nie."

Só, sê geskiedkundiges, het die ou Inka-volk van Suid-Amerika destyds in hul gebede die nederige ou aartappel as ’t ware tot ’n goddelike knol verhef. Die Inkas se uitgebreide ryk het oor die Andesgebergte gestrek voordat die Spanjaarde vanoor die see gekom en met hul verowering daarvan begin het.

Die spreekwoordelike "wortels" van die aartappel lê inderdaad daar in die Nuwe Wêreld. Net ’n klompie eeue gelede nog was dit nêrens elders bekend nie, maar in die antieke bouvalle van Peru en Chili het argeoloë al oorblyfsels van dié groentesoort gevind wat van vyf eeue voor die geboorte van Christus dateer.

Aartappels te koopAnders as vir ons vandag, was die aartappel vir die Inkas veel meer as net nóg ’n styselgereg op die spyskaart. Hulle het selfs aartappels saam met hul dooies begrawe en dit gedroog en op lang reise as padkos saamgeneem. Onderweg het hulle dit dan net so droog of saam met bredie geëet. Aartappels is ook in versteekte houers geberg om vir maer jare of oorloë voorsiening te maak.

Maar die vlesige bolle uit die goeie aarde van daardie tyd het nie gelyk soos die witbruin boepensgroente wat ons ken nie. Die ouwêreldse Inka-aartappels het donker, perserige skille en ’n geel vleis gehad. Die Inkas het dit "papas" genoem, soos hul nasate dit vandag nog doen.

 Aartappel-geskiedenis

S

KYFIES,  kapokaartappels en sulke lekker dinge is so deel van ons eie lewens dat ’n mens kwalik kan glo dat die Westerse wêreld die aartappel maar eers in die sestiende eeu leer ken het.

Onder die eerste Europeërs wat daarmee kennis gemaak het, was die Spaanse veroweraar en geskiedskrywer Pedro de Cieza de Leon (1518-1560), wat in 1540 daaroor geskryf het in sy Kronieke van Peru. In die omgewing van Quito, het hy vertel, "het die inwoners benewens mielies ’n ander plant wat hulle in ’n groot mate help onderhou".

Die Spaanse ontdekkingsreisiger Gonzalo Jiminez de Quesada (1499-1579) het die aartappel na Spanje geneem om die goud te vergoed wat hy nie op sy omswerwinge kon vind nie. Die Spanjaarde het gereken die aartappels is ’n soort truffel (knolswam) en het dit toe "tartuffo" begin noem. Kort voor lank was aartappels ’n standaardkos op Spaanse skepe. Hulle het agtergekom dat matrose wat aartappels eet, nie die gevreesde skeurbuik kry nie, al het hulle toe nog geen snars van vitamiene en voedselaanvullings geweet nie.

Die aartappel het sy veroweringstog in Europa voortgesit en Brittanje en Italië omtreeks 1585 bereik, België en Duitsland teen 1587, Oostenryk omstreeks 1588 en Frankryk teen nagenoeg 1600. Toe Jan van Riebeeck se Nederlanders in 1652 aan die Kaap aankom om honger matrose onderweg na en van Indië te voed, was die aartappel reeds ’n bekende gewas vir die Europeërs.

Nie dat die nuwe groente van meet af oral verwelkom is nie. Inteendeel, waar die aartappel ook al ingevoer is, is dit as grillerig, giftig en selfs as iets boosaardigs gereken. In Frankryk en elders is dit nie net as die oorsaak van melaatsheid beskou nie, maar ook van sifilis, bedwelming, kliersiekte, vroeë sterfte, steriliteit en woekerende liefdesdrifte. Boonop sou dit die groeikrag van die grond vernietig het waar dit ook al groei.

Daar was soveel teenkanting teen die aartappel dat ’n bevel daarteen op die dorp Besancon in Frankryk uitgevaardig is: "In die lig van die feit dat die aartappel so ’n verpestelikheid is en dat die gebruik daarvan melaatsheid kan veroorsaak, word die kweek daarvan hiermee verbied en loop oortreders die risiko van ’n boete."

Die Britse ontdekkingsreisiger en geskiedkundige sir Walter Raleigh (1552-1618), wat bekend was vir sy ekspedisies na die Amerikas, het die aartappel na Ierland gebring en dit op sy Ierse landgoed geplant. Volgens die oorlewering het hy ’n aartappelplant aan die Engelse koningin Elizabeth I (1533-1603) geskenk.

Die plaaslike deftiges is, volgens die vertelling, na ’n koninklike banket genooi waar die aartappel ’n deel van elke gang van die maaltyd gevorm het. Ongelukkig het die kokke geen benul van aartappels gehad nie en die vet, bonkige knolle weggegooi. Al wat na die koninklike tafel gebring is, was ’n dis van gekookte aartappelstingels en -blare—wat giftig is en die niksvermoedende eters erg siek gemaak het. Aartappels is toe uit die koninklike hof geban.

Maar jy kan nie ’n goeie ding soos die aartappel onder hou nie (al kom hy van onder af!) en algaande het die kweek daarvan toegeneem. Daar word selfs vertel dat Marie Antoinette (1755-1793), vrou van die Franse koning Lodewyk XVI, dikwels aartappelblommetjies in haar hare gedra het. Die gebruik is glo deur die vroue van haar tyd nagevolg.

Een van 'n beeldegroep oor die Groot Hongersnood in IerlandREGS: Die gesig van honger—een beeld in ’n beeldegroep in Ierland wat die Groot Hongersnood in herinnering roep wat deur ’n aartappelsiekte veroorsaak is.

Foto: J. Taljaard

Die Amerikaanse nasie is opgebou uit mense van verskillende lande. Maar dit is interessant dat miljoene Amerikaners vandag die nasate is van Iere wat juis na die Verenigde State gevlug het om aan ’n hongerdood te ontsnap wat deur ’n verwoestende aartappelsiekte veroorsaak is.

Die "Groot Hongersnood" in Ierland (van 1845 tot 1851) het gevolg op ’n voorheen onbekende plaag, Phytophthora infestans, wat die land uit Noord-Amerika binnegekom en die Iere se aartappels getref het. Siniese mense sal dalk sê dat die Iere eintlik hul eie ondergang bewerk het deur te afhanklik van hul aartappels te word.

Cecil Woodham-Smith vertel byvoorbeeld in sy boek The Great Hunger: Ireland 1845-1849: "Die kook van enige kos buiten die aartappel het ’n verlore kuns geword. Vroue het omtrent niks anders as aartappels gekook nie. Die oond het iets onbekends geraak ná die ingebruikneming van die aartappel voor die Groot Hongersnood."

Volgens ’n ander bron was die aartappel wel die belangrikste kos van sowat 4 miljoen mense in Ierland uit ’n totale bevolking van sowat 8, 5 miljoen. Navorsers reken dat minstens ’n miljoen mense in dié tyd van honger dood is, terwyl nog sowat 1,5 miljoen tussen 1845 en 1855 die land verlaat het. Die heel armstes het na Brittanje uitgewyk en dié wat ietwat beter daaraan toe was, na Kanada en, bowenal, die Verenigde State.

 Die bou van die aartappel en hoe dit gekweek word

M

AAR wat is die aartappel dan nou eintlik? Die plant wat, soos ons gesien het, oorspronklik uit Suid-Amerika kom, behoort tot dieselfde familie (Solanaceae) as die tamatie, die brinjal, die bitterappel en ander bekende plante. In baie wêrelddele is dit steeds ’n belangrike soort kos van die arm mense. Aartappels is ook in Suid-Afrika ’n baie belangrike kossoort.

Verskillende soorte aartappelsREGS: Net party van die baie soorte aartappels wat vandag gekweek word.

Aartappels wat vars uit die grond kom, bevat 78 persent water, 18 persent stysel, 2,2 persent proteïen, 1 persent as (nie-organiese bestanddele) en 0,1 persent vet. Sowat 75 persent van die droë gewig is koolhidraat. Die aartappel is ’n belangrike bron van styfsel vir die vervaardiging van kleefstowwe en alkohol. Dit bevat ook die vitamiene A, B en C en ’n bietjie yster, fosfor, kalsium en eiwit. Daar is honderde variëteite.

Net soos alle ander plante het die aartappelstoel wortels en ’n stam of stingel wat bokant die grond groei. Maar ook onder die grond is daar stingels of uit­lopers, en aan die punte van hierdie uitlopers of ondergrondse stingels vorm daar swelsels of knolle wat ons aartappels noem.

Drie tot ses knolle vorm aan die ondergrondse stingel, hoewel daar by party variëteite selfs tien tot twintig kan wees. Die aartappel wat ons eet, is dus eintlik nie die plant se vrug nie, maar ’n deel van die plant se stingel.

Aartappels vars uit die grond -- en nog vas aan die aartappelstoel daar bo’n Jong aartappelstoeltjieLINKS: ’n Jong aartappelstoeltjie. Die ondergrondse aartappelknolle het hier nog nie eintlik kans gehad om te ontwikkel nie.

Foto: Scott Bauer / USDA / ARS


REGS: Bekwame aartappels soos hulle aan ’n volgroeide stoel lyk wanneer hulle uit die grond gehaal word.

Die ware vrug van die aartappel lyk soos ’n klein ronde tamatie, omtrent so groot soos ’n kersie, wat tot 300 saadjies kan bevat. (Onthou egter dat hierdie vruggie, net soos die stingels en blare, ’n beduidende hoeveelheid solanien bevat, wat ’n giftige alkaloïed is.)

’n Mens kan wel die saadjies saai en hulle sal ontkiem, maar hierdie manier van voortplanting word slegs gebruik wanneer mense nuwe soorte aartappels deur middel van kunsmatige kruisbestuiwing wil kweek. Andersins is dit is nie lonend nie.

Die aartappeltjies wat van saadjies verkry word, is slegs so groot soos albasters. As ’n mens hierdie "albasters" plant, kry jy wel effens groter aartappels, en indien dié aartappels weer geplant word, word eers aartappels van die normale grootte verkry.

AartappelblommeLINKS: Aartappelblomme.

Foto: Keith Weller / USDA / ARS

Daarom word aartappels veel eerder voortgeplant deur moere te plant. ’n  Moer is bloot ’n aartappel waaraan uitloopsels begin vorm het. Om onuitgeloopte aartappels só aan die spruit te kry, word hulle op ’n warm plek in die lig geplaas. Baiemaal word die moere in kleiner moere, elk met sy eie paar uitloopseltjies, opgesny voordat hulle geplant word,.

Die aartappel aard die beste in ’n koel, vogtige klimaat, maar is tog aanpasbaar by verskillende soorte klimate. In sanderige leemgrond wat effens suur is, is die aartappel in sy element. Proewe deur Suid-Afrikaanse  geleerdes het getoon dat aartappels nie net fosfaat en stikstof nodig het nie, maar dat kalium ook belangrik is.

Aartappels kan op verskillende maniere geplant word, maar boere wat baie groot met hierdie soort groente boer, gebruik ’n spesiale masjien, die sogenaamde aartappelplanter, daarvoor.

Dit is belangrik om die grond waar aartappels groei skoon van onkruid te hou, omdat onkruid die aartappels van water en voedingstowwe kan beroof. Sodra die aartappelstoele mooi sterk is, word hulle "opgeërd". Dit beteken dat grond daar rondom gegooi word sodat aartappels wat gevorm word, nie aan die lig blootgestel en groen word nie.

Wanneer die aartappels se skille mooi vas is, kan hulle uitgehaal word. Teen dié tyd is die lowwe van die plant gewoonlik al geel of dood. Aartappels wat te vroeg uitgehaal word, se skille is nog nie behoorlik geset nie. Hulle word maklik gekneus en die aartappels vrot dus gou.

AartappelgebruikeREGS: Aartappelgebruike.

Foto: Scott Bauer / USDA / ARS

Wil jy graag aartappels plant, maar jy het nie grond daarvoor nie? Dalk kan jy vir jou ’n goeie voorraadjie in ’n houer kweek. Die houer moet goed gedreineerd en minstens 30 cm diep en breed wees. Vul die helfte van die houer op met vrugbare tuingrond en veeldoelige kompos van ’n goeie gehalte. Druk twee moere bo in die kompos in en bedek met meer kompos of grond tot by sowat 3 cm van die bokant van die houer. Sorg dan dat jou kweekbak goed nat bly.

En lekker smul aan jou oes!

 ’n Grappige aartappel-storie 

D

IE volgende aartappel-staaltjie uit die Anglo-Boereoorlog is nie waar nie, maar tog amusant.

’n Bejaarde pa het tydens die oorlog iewers alleen op ’n Karoodorpie gewoon, maar hy het niemand gehad wat sy tuin vir hom kon omspit sodat hy ’n voorraad aartappelmoere kon plant wat hy present gekry het nie. Sy seun kon hom nie help nie, want hy was ’n Kaapse rebel en is deur die Engelse gevang en opgesluit.

Toe skryf die ou man vir sy seun in die gevangenis en vertel hom van sy verknorsing.

Die seun het teruggeskryf: "Pa, om hemelsnaam nee, moenie die tuin laat omspit nie, dis waar ek die gewere begrawe het!"

Nog voor ligdag die volgende oggend is daar ’n dosyn Kakies (Engelse soldate) op die werf wat drie uur lank oral in die tuin dolwe op soek na die versteekte gewere. Maar hulle kry niks nie.

Skoon dronkgeslaan skryf die ou man toe weer aan sy gevange seun en vra hom wat hom nou te doen staan.

Waarop die seun hierdie antwoord stuur: "NOU kan Pa maar die aartappels plant!"

 Aartappel—die groen gevaar!

A

ARTAPPELS—goed soos hulle is—het ook ’n donker sy. Bly weg van enigiets groens aan ’n aartappel... die blare, die stingels, enige groenverkleurde skille! Die knolle moet in donker, droë plekke geberg word. Lig sal veroorsaak dat solanien op die skil van ’n aartappel vorm. Hoewel hulle nie sommer ernstige skade sal aanrig nie, kan aartappels met groen skille dalk bitter smaak en tot tydelike ongemak met die spysvertering lei.

As jy ’n groen skil aan ’n aartappel vind, dop dit eenvoudig af. Behou soveel van die res van die skil as wat moontlik is, want dis hier waar die meeste van die vitamiene lê. Aartappels is een van die voedsaamste stapelvoedsels wat die mens nog ontdek het. Met melk daarby kan dit ’n kragtige en gesonde bron van energie, vitamiene en minerale wees—in sowel tye van oorvloed as in tye van ontbering.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad