Die
kaalkop waarheid oor die beswadderde aasvoël
Aaaas- seblief!
Asseblief, moenie die stomme aasvoël so belaster nie! Hy doen maar
net sy werk deur verrottende karkasse in die natuur te verwyder. En
watter baie belangrike werk is dit nie...
FOTO REGS BO: Die
Amerikaanse kalkoenaasvoël of “turkey vulture” (Cathartes aura)
se veerlose kaalkop maak hom erg lelik. Tog is daardie bles higiënies vir ’n voël wat
gedurig sy kop in die liggame van dooie diere moet inwikkel om
woes en kompeterend vir sy eie pondjie vleis te stry. Dink net
hoe vuil en bebloed sou vere in die proses geraak het.
Foto:
Don James / U.S. National Park Service (detail)

BO: ’n Witrugaasvoël (Gyps
africanus) wys hoe lyk sy kop en nek wat met donse bedek
is. Ook vir hom sou ’n kop en nek vol sierlike vere nie deug
nie, want hy worstel eweneens binne-in karkasse rond om te
kan vreet. Die witrug is ’n tipiese aasvoël van die savanne
van Wes- en Oos-Afrika.
Foto:
Mark Robinson
van Williton, Verenigde
Koninkryk,
wat dit
op
hierdie bladsy by flickr op
die wêreldwye web geplaas het en dit gelisensieer het
ingevolge die
Creative Commons
Attribution 2.0-lisensie
(Rande van oorspronklike foto deur ons weggesny en verrond)

BO: Dié
witkopaasvoël
(Trigonoceps
occipitalis) met sy koddige kuif en kraag is nog
’n aasvreter van Afrika.
Foto:
Luc Viatour
van Brussel, België,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia
Commons op die wêreldwye web geplaas en onder meer
gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 2.5-lisensie,
wat vrye deling en die maak van afgeleide werke vergun mits
die nodige erkenning gegee word en dit slegs versprei word
ingevolge ’n lisensie soortgelyk aan hierdie een
(Rande van die indrukwekkende
oorspronklike foto deur ons
weggesny slegs ter wille van ’n groter beeld van die voël
self binne die beperkinge van hierdie webblad)
TOMME ou aasvoël. Hy word
oral beswadder. Hy’t selfs die stink reputasie dat hy ’n kinderdief
sou wees...
In sekere dele van Afrika en Asië sou hy glo op mensekinders afduik,
hulle met sy kloue beetkry en dan harteloos met hulle wegvlieg om
hulle te gaan opvreet. En in Suid-Europa maak hy kwansuis mense dood
deur klippe of skilpaaie op hul koppe te gooi.
Alles natuurlik ’n liederlike klomp onsin. ’n Mens vang nie ’n ou
voël met kaf nie, lui die spreekwoord, maar hier’s nou ’n groot hoop
kaf wat oor ’n ou voël vertel word!
Regoor die wêreld word die aasvoël boonop geskiet net omdat hy so ’n
gerieflike teiken kan wees. Op baie plekke vrek hy van vergiftigde
vleis wat vir egte roofvoëls bedoel was. En in sekere lande is sy
habitat so vernietig deur menslike bedrywighede dat hy in sy
natuurlike omgewing uitgesterf het.
’n Mens moet toegee, hierdie dierasie is skreeulelik! ’n Regte
paaiboelie van ’n voël met daardie oë wat so grotesk agter die
kragtige krom snawel uitstaan.
Goed, hy vreet wel onwelriekende, verrottende karkasse—ook
menselyke. Hy krap in vullis- en mishope rond op soek na wriemelende
maaiers. Hy bevuil soms sy eie pote om af te koel. En in party
gebiede verslind hy menslike ontlasting.
Maar moenie die aasvoël op sy stinkende baadjie takseer nie! Hy doen
maar net sy werk deur die omgewing skoon te maak. En dis juis sy
lelike voorkoms wat hom volmaak daarvoor toerus.
Aasvoëls is, soos die naam aandui, aasdiere. Dit beteken hulle lewe
meestal van verrottende dooie diere of kreng. Ander aasdiere is
onder meer hiënas, miskruiers en sekere soorte maaiers.
Aasvoëls word regoor die wêreld gevind, behalwe in Australië en
Antarktika. Hulle hou meestal in oop savanne-streke en op berge,
waar daar talle groot diere is waarvan die karkasse maklik uit die
lug raakgesien kan word.
REGS:
So lelik as wat die kalkoenaasvoël (Cathartes aura) van Amerika
weens sy veerlose kop en nek op die grond is, so mooi is hy in vlug.
Foto: A. Wilson /
U.S. Geological Survey
Daar is in der waarheid
twee soorte aasvoëls—dié van die Nuwe Wêreld en dié van die Ou
Wêreld. Die aasvoëls van Afrika, Europa en Asië
behoort tot die familie Accipitridae en die orde Falconiformes. Die
Amerikaanse aasvoëls (die familie Cathartidae en die orde
Ciconiiformes) lyk soos die groot roofvoëls, maar is waarskynlik
nader verwant aan ooievaars.
Daar is sowat vyftien Ou-Wêreldse spesies en sewe in die Nuwe
Wêreld. Hoewel daar baie fisiologiese verskille tussen die twee
soorte is, word hulle albei vanweë hul aasgewoontes aasvoëls genoem. Maar
die ooreenkomste berus meer op oppervlakkige voorkoms en
lewenswyse as op verwantskap. Hulle is dus nie rêrig voëls van
eenderse vere nie!
REGS:
’n Kransaasvoël (Gyps coprotheres). Die kransaasvoël,
wat in Engels die Cape Griffon of Cape Vulture genoem word, is
inheems in Suidelike Afrika en word hoofsaaklik in Suid-Afrika,
Lesotho en Botswana aangetref. Hierdie voëls slaap op kranse en maak
ook hul neste daar.
Foto:
Dale Schultz,
wat dit by Wikipedia-projek op die wêreldwye web tot openbare besit
verklaar het (“released to the public domain”)
DIE
aasvoël se hele liggaam is ontwerp vir sy lewe as aasdier. Hy het
groot vlerke waarmee hy deur middel van stygende lugkolomme hoog in
die lug in kan opstyg terwyl hy die minste krag daarvoor gebruik.
Hy kan baie goed sien—maklik ’n wagtende maaltyd op afstande van
tot 2 km. Trouens, die kondor kan so hoog sweef dat jy hom glad nie
meer kan sien nie.
Die aasvoël het ’n krom, skerp snawel om dierevelle te kan oopskeur
en stukke vleis af te skeur. Hy het ’n skurwe tong waarmee hy vleis
van bene afskraap.
Die skouspelagtigste, by sekeres, is egter die kaal kop en nek, wat
hulle diep in bloederige karkasse kan insteek sonder dat daar vere
is wat deur die bloed besoedel kan raak.
Hoewel die voël baie bakterieë inkry weens sy dieet van ontbindende
vleis, bevat sy spysverteringsappe ’n kiemdoder.
Mense het lank gewonder hoe dit moontlik is dat een aasvoël op ’n
karkas afkom en ander, soms van tot 60 km ver, aangevlieg kom om aan
die fees te kom deelneem. Darem seker tog nie telepatiese vermoëns
nie?
Wat werklik gebeur, is dat die aasvoëls mekaar baie fyn dophou
wanneer hulle rondvlieg om kos te soek. Sou een skielik afduik, weet
die ander daar is waarskynlik kos daar onder. Dit duur nie lank
voordat ’n hele swerm, nogal van verskillende spesies, om die
feestafel versamel het nie.
Tot ses verskillende soorte aasvoëls is al rondom een karkas
opgemerk. Daar is egter ’n besliste hiërargie wanneer dit by vreet
kom, en die verskillende spesies moet as ’t ware in die tou staan en
hul beurt afwag.
Op die Afrika-savanne is die eerste vreters gewoonlik die sogenaamde
swart aasvoëls. Hulle is groot diere wat spesialiseer in die
oopskeur en deurvreet van harde dierevelle en gedermte.
Wanneer hulle dik gevreet is, beweeg die witrugaasvoëls in, wat
gretig op die oë en bek van die dooie dier toesak en dan vleis
uitpluk deur die gate wat in die vel geskeur is.
Die witkopaasvoëls is gewoonlik die volgende in die ry—hulle
verslind hompe vleis en kraakbeen en flentertjies vel. Die
monnikaasvoëls wag langs die feestafel en is die laaste wat
feesvier. Hulle moet dikwels daarmee vir lief neem om proeseltjies
kos van die ander soorte af weg te gryp.

BO:
Witrugaasvoëls (Gyps africanus) wag hoog in die takke—maar doodnugter—vir die
volgende fees om te begin. Die foto is in Tanzanië geneem.
Foto:
Lauren Humphries
/ NBII / USGS
Vrye gebruik vir
nie-winsgewende en opvoedkundige doeleindes vergun
(Rande van oorspronklike foto deur ons weggesny en verrond)

BO:
Monnikaasvoëls (Necrosyrtes monachus)... hulle staan agter in die ry by die feestafels op
die Afrika-savanne en kan eers vreet nadat al die ander soorte
aasvoëls die beste dele van die dooie diere verorber het.
Hulle kom wyd verspreid voor in Afrika suid van die Sahara
en bou hul stokkiesneste in bome, dikwels palmbome.
Foto:
Gabriel Buissart,
wat dit op
hierdie bladsy
by Wikimedia Commons op die wêreldwye
web geplaas en onder meer gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 2.5-lisensie,
wat vrye deling en die maak van afgeleide werke vergun mits
die nodige erkenning gegee word en dit slegs versprei word
ingevolge ’n lisensie soortgelyk aan hierdie een
AASVOËLS vang selde prooi, want hul voete en
kloue is te swak om doeltreffende wapens te wees. Af en toe sal
hulle egter klein wildsbokkies en swak, siek diere aanval. Party
aasvoëls vul hul dieet aan deur op akkedisse en insekte jag te maak.
Die Egiptiese aasvoël, wat in lande aan die Middellandse See
ooswaarts tot in Asië voorkom, is bekend vir sy tegniek om ’n swaar
klip met sy snawel op te tel en dit op ’n volstruiseier te laat val
sodat die dop moet breek. Daar is al selfs gesien hoe hy ’n
prooidier soos ’n wikkelende akkedis vashou en dit teen ’n rots
afransel voordat hy dit opvreet.
LINKS:
Die Egiptiese aasvoël (Neophron
percnopterus).
Krediet:
’n Historiese illustrasie waarvan die kopiereg weens ouderdom verval
het (“PD Old”)
Kondors en lammergiers, aasvoëls wat in bergagtige gebiede hou, is
daarvoor bekend dat hulle op soogdiere soos bokke en guanaco’s
afduik en hulle van rotslyste afstamp. Hulle het glo selfs al
bergklimmers só probeer aanval—en dis waarskynlik die oorsprong
van die onredelike beskuldiging dat hulle kinderdiewe is.
Maar benewens die bogenoemde klompie ongewone items op hul
spyskaart, vreet aasvoëls allereers aas. Hulle verrig daarmee ’n
allernoodsaaklike diens deurdat verrottende karkasse verwyder word
wat andersins die wêreld vol sou gelê het—met katastrofale
gevolge.
|