|
JY'T pas ’n stewige
paar miljoen rand van ’n ryk oom geërf en besluit om ’n groot nuwe
koeldrankfabriek te begin. Die resep vir die heerlike
wildebessie-brousel wat jy gaan maak, is eweneens ’n erfstuk.
Die eerste bereider daarvan was naamlik een
van jou vindingryke vroulike voorsate, jou kleurryke oorle’ ouma
Dorie, wie se hemelse nektar destyds die dorstiges op ’n streep met
hul blikbekers na haar gesellige kombuis laat aantou het.
Om ’n naam vir die koeldrank te kry was dus nie vir jou moeilik
nie—gedagtig aan die ou garde se gekke geesdrif daaroor destyds.
Maar om jou Sip-Crazy—soos jy dit gaan noem—aan die wêreld bekend te
stel, is ’n totaal ander turksvy. Waar begin jy as leek in elk geval
om jou produk te adverteer?
REGS:
Sip-Crazy—nes jou ouma Dorie dit gemaak het! En dan is daar nog die
outydse bottel op die koop toe. Maar hoe gemaak om kopers
geïnteresseerd te kry in hierdie brousel? En is die vreeslik kru en
outydse voorkoms regtig so ’n goeie idee in ’n mark vir koeldranke
wat eintlik op byderwetse jong mense ingestel is? Jy besef jy moet
dringend kennersraad inwin. Maar waar kry jy dit?
Ons weet wel almal hoe ’n eenvoudige
geklassifiseerde snuffeltjie vir byvoorbeeld ’n gebruikte fiets, ’n
trommel vol klere of ’n paar opregte worshondjies gebore word. Maar
waar en hoe kry al daardie kragtige en kleurryke groot advertensies
gestalte waarmee ons daagliks in die pers, op die televisie en van
elders af gebombardeer word?
Die antwoord lê by ’n uitgebreide reklamebedryf, wat werk aan
derduisende mense bied en so ’n ingrypende rol in ons ekonomieë en
die samelewing speel dat ons ons nouliks die daaglikse lewe
daarsonder kan voorstel. Dit is dus ook diesulkes aan wie jy jou
probleem gaan oorlaat om die verbruikers sowel as die winkels oor
jou Sip-Crazy se wonderlike hoedanighede in te lig.
Hulle werk vir ’n sogenaamde reklame-agentskap, wat uit kenners op
die gebied van advertensies en bemarking bestaan. Die uitdaging aan
die agentskap is om—met die bepaalde bedrag geld wat jy tot hul
beskikking stel—’n kreatiewe veldtog van advertensies en promosies
te loods.
Jy en jou maatskappy skakel vir eers met die kliëntediensafdeling
van die agentskap, stel die probleem aan hulle en verstrek al die
inligting wat julle omtrent Sip-Crazy het. Jou maatskappy word dan
die agentskap se kliënt en ’n rekening word vir Sip-Crazy oopgemaak.
REGS:
Jy het dalk ’n eie, half simpel idee—soos dié—oor hoe advertensies
oor jou Sip-Crazy kan lyk. Jy wys dit al op die eerste dag vir die
agentskap en hulle glimlag beleef oor jou beskeie poginkie. Maar
hoewel hulle miskien-miskien enkele elemente van jou idee kan behou, sal hul
uiteindelike advertensies baie meer professioneel daar uitsien.
Hulle het immers spanne opgeleide kunstenaars en skrywers in diens, bedrewe
kenners van die reklamebedryf wat weet wat kan werk en wat nie. En
dis ’n baie groot vraag of jou oorle’ ouma Dorie hoegenaamd enige
rol in hul veldtog sal speel!
Van hier af verkry die sogenaamde rekeningbestuurder beheer en
toesig oor die proses wat nou in die agentskap sy beloop gaan kry.
Die agentskap se eerste stap is natuurlik om soveel inligting
moontlik deur navorsing te bekom. Dit beteken die stelselmatige
insameling, verwerking en ontleding van gegewens wat moet help om
die geleenthede in die mark te ontdek en risiko's in die
besluitneming so laag moontlik te hou.
Navorsing kan deur middel van vraelyste, onderhoude, fokusgroepe,
opleeswerk en op baie ander maniere gedoen word. Die agentskap moet
probeer uitvind wie moontlik hierdie koeldrank sal koop (selfs al
glo jy self almal sal gek daarna wees) sodat vasgestel kan word tot
wie die advertensies gerig moet word. Hierdie groep mense word die
teikenmark genoem.
Daar moet voorts bepaal word hoe groot die teikenmark is, en wat hul
lede se ouderdom, geslag, inkomste, opinies en voorkeure sowel as
hul lewenstyl en algemene gedrag is. Kom ons sê hulle besluit in
hierdie geval dat die stedelike tieners in taamlik vermoënde huise
die beste mark is om te probeer oortuig. Ten tweede moet hierdie
tieners se persepsies oor koeldrank bepaal word.
Watter voordeel sou dit vir die teikenmark inhou om Sip-Crazy te
koop? Wat wil vandag se tieners hê en waarom? Wat het Sip-Crazy wat
hulle sal oortuig om dit te koop eerder as enige ander soort
koeldrank? Ten laaste sal die navorsing aantoon hoe en waar die
teikenmark advertensies sien en hoe hulle daarop reageer.
’n Ontleding van die sterk punte, swak punte, geleenthede en
bedreigings rondom die produk word dan gemaak. Dit sal byvoorbeeld
bepaal waar dit die beste gaan wees om te adverteer en wanneer, wat
die aanslag van die advertensies sal wees, waarteen gewaak moet word
sover dit ander koeldranke op die mark aangaan, en talle ander
aspekte.
Nou word die kommunikasiedoelwitte aangestip. Dit beteken dat hulle
besluit watter boodskap die advertensies moet uitdra. Tieners moet
allereers bewus gemaak word van Sip-Crazy. Dan moet hulle oortuig
word om die produk te beproef. Uiteindelik moet die advertensies
hulle oortuig dat dit meer koel is om met ’n blikkie Sip-Crazy
gesien te word as met elke ander soort koeldrank deur dit te
vereenselwig met ’n sekere soort lewenstyl, mode, musieksoort en
dies meer.
Sip-Crazy word nou teenoor ander koeldranke geposisioneer sodat daar
’n duidelike onderskeid tussen hulle sal wees. Waar Sprite, sê, as ’n
dorslesser en Fanta as die plesier-koeldrank geplaas is, sou
Sip-Crazy byvoorbeeld as ''die smaaklike koeldrank vir hip tieners
met styl'' geposisioneer kan word.
Vergeet dus is hierdie stadium finaal van
jou liewe ouma Dorie (salige nagedagtenis) en haar aandeel in die
hele storie. Daar kan mos niks “outyds” omtrent ’n hipermoderne
lafenis soos Sip-Crazy wees nie!
Die media-afdeling besluit watter media gebruik gaan word. Daar word
gekyk na televisiestasies en -programme, radioprogramme, tydskrifte,
T-hemde, plakkers, promosiegeleenthede en nog wat. Weer eens word
hierdie besluit na gelang van die navorsingsresultate geneem—en
natuurlik met inagneming van hoeveel geld jy aanvanklik as die
kliënt bewillig het.
Al die take hierbo is deur die bemarkingspersoneel behartig. Hulle
berei nou ’n dokument voor met riglyne oor watter soort advertensies
geskep moet word, watter soort aanslag dit moet hê en watter
boodskappe dit moet oordra. Dié inligting word vervolgens aan die
kreatiewe span, die kunstenaars en die skrywers, gegee.
NOU is die tyd dat die skeppende talente
ingespan word. Advertensies moet opgestel word wat die aandrag sal
trek, belangstelling sal wek, ’n begeerte sal ontlok en uiteindelik
daartoe sal lei dat die mense in die teikenmark die produk sal koop.
Die kopieskrywer en die kunsdirekteur werk as ’n span saam om dit so
oorspronklik en doeltreffend moontlik te doen.
Hulle bestudeer die inligting, kyk na ander advertensies, gesels met
mense en put inspirasie uit soveel bronne as moontlik. Elke idee
word bespreek en getoets, totdat hulle op ’n konsep afkom waarmee
hulle tevrede is. Vir die gedrukte media moet ’n slim opskrif en
illustrasie bedink word wat die leser onmiddellik sal stimuleer om
verder te lees. Die nodige inligting moet ook so ekonomies en
interessant moontlik aangebied word.
|
’n Ford in jou
toekoms... |
|

BO:
Talle slim opskrifte (of slagspreuke) is al deur die
jare deur reklame-agentskappe geskryf, bewoordings wat byna sinoniem geraak
het met die produkte wat daardeur bekend gestel is. In
1943 het die groot Amerikaanse reklame-agentskap J.
Walter Thompson, nou JWT, byvoorbeeld hierdie slagspreuk
vir die Ford-motormaatskappy bedink: "There's a Ford in
Your Future"—gepaard met die illustrasie van ’n hand wat
’n kristalbal vashou.
In en ná
die Tweede Wêreldoorlog was nuwe Fords omtrent
onverkrygbaar, maar die reklame-agentskap het die tekort
en die groot aanvraag eenvoudig as ’n gulde geleentheid
beskou. Hulle het toe die mense se hunkerings na ’n Ford
nog verder met ’n definitiewe belofte aangewakker. En
hoe het dit nie vir dié motormaatskappy gewerk toe hulle
in volle produksie kon kom nie! |
Foto's, kunswerke of illustrasies word dan
op die rekenaar met die regte lettertipes, kleure en uitleg
saamgevoeg. Radio-advertensies word geskryf, die televisieteks word
beplan, die skote geskets en idees vir promosie-items word
geformuleer. Daar moet ook besluit word oor watter stemme en
byklanke vir die radio-advertensies gebruik gaan word, watter
akteurs in die televisie-advertensies moet optree, hoe hulle moet
lyk, watter musiek gebruik gaan word en dies meer.
Intussen werk die grafiese ontwerper aan die verpakking (die
koedrankblikkies in hierdie geval), die ontwerp van T-hemde en ander
promosiemateriaal. Dit word ook gedoen met die konsep, die produk se
beeld en die teikenmark in gedagte.
DIE resultate van die hele onderneming word
vervolgens aan jou, die kliënt, voorgelê. Dit sluit die
navorsingsproses, die posisionering, ’n beskrywing van die
teikenmark, die doelwitte en die kreatiewe werk in. Die media en die
kostes word ook uiteengesit en gemotiveer. Hierdie stap is dikwels
’n spannende ervaring vir die hele span, aangesien die kliënt dit
kan afkeur of aanvaar.
As dit afgekeur word, begin die proses van voor af. As dit
goedgekeur word, neem die produksiespan oor. In hegte samewerking
met die kreatiewe span sorg hulle dat die advertensies gedruk word,
die radio- en televisie-advertensies hul beslag kry en die
promosie-items vervaardig word. Dán eers sien of hoor die wêreld jou
wildebessie-brousel se advertensies—en begin die reklamespan opnuut
met ’n ander veldtog.
•
JOU TAAK: Ontwerp vir
ons ’n mooi advertensie vir Sip-Crazy wat ons hier kan plaas! As ons
jou ontwerp gebruik, stuur ons vir jou Mieliestronk op CD-ROM én Ons
Wonderlike Ruimte op CD-ROM met ons komplimente.
Stuur digitale of
ingeskandeerde ontwerpe aan:
dugeotBYmieliestronk.com (vervang BY deur die “at”-teken). |