HOOFSTUK
1
Historiese rekonstruksie: die verskillende middele wat deur historici
gebruik word om die veelbewoë geskiedenis van ons vasteland na te speur
I
N die grootste deel van Afrika
het die mense van lank gelede geen skrif geken nie. Hulle was gevolglik
glad nie in staat om die gebeurtenisse op te teken wat in hul tyd
plaasgevind het nie. As geskiedkundiges dus vandag wil weet wat in die
verlede in daardie gebiede gebeur het, moet hulle hulle op heeltemal
ander dinge as die geskrewe woord verlaat.
Gelukkig is daar verskillende bykomende
hulpmiddels vir geleerdes wat die geskiedenis wil naspeur as dit nie in
boeke of op perkamentrolle of kliptafels verewig is nie. In hierdie
hoofstuk word van ’n paar sulke nuttige dissiplines vertel.
Natuurlik is daar tog enkele streke op ons
vasteland wat baie lank gelede reeds ’n skriftradisie gehad het. Ons
kyk heel eerste na diesulkes.
a)
Opgetekende verslae
EEN
van die vroegste vorms van skrif is rondom 3000 v.C. deur die ou
Egiptenare ontwikkel. Dit was die sogenaamde hiërogliewe [REGS].
Antieke verslae wat in hierdie
fassinerende beeldskrif geskryf is, gee ons ’n besonder duidelike
beeld van die Egiptiese samelewing oor byna drieduisend jaar. (Klik
hier vir ’n uitgebreide artikel oor ou Egipte.)
Ook die beskawing van die Koesjiete in die
Nylvallei—met die stad Meroë as die brandpunt—het minstens vyf eeue
voor die geboorte van Christus ’n eie soort skrif gehad. En in Ethiopië
het die taal van die antieke koninkryk Aksoem in die vierde eeu n.C.
desgelyks in ’n geskrewe vorm bestaan.
Ander literêre tradisies is van buite af na
Afrika gebring—Grieks, Latyn en Arabies na Afrika-lande aan die
Middellandse See. En nadat die Europeërs in die vyftiende eeu in Afrika
begin belang stel het, het talle geskrewe verslae oor die vasteland in
onder meer Portugees, Nederlands, Engels en Frans die lig gesien.
Trouens, Arabiese en Europese optekeninge het historici in staat gestel
om die verlede van sekere dele van Afrika reeds van die agtste eeu af te
rekonstrueer.
Maar oor baie dele van Afrika is daar geen
enkele jota of tittel geskryf tot met die groot Europese kolonisasie in
die negentiende eeu nie. In sulke streke is die gebeure van die verlede
slegs mondeling van geslag tot geslag oorgedra...
b) Mondelinge oorlewering
MONDELINGE
oorlewering is ongelukkig dikwels nie betroubaar nie. Een probleem is
dat verhale oor historiese gebeurtenisse met die gedurige oorvertellery
verwring raak of dat dinge wat oor ’n lang tyd plaasgevind het maklik
weergee word asof hulle saam gebeur het.
Mondelinge oorlewering moet dus baiemaal
as’t ware gedekodeer en binne die breër kulturele konteks beoordeel
word. Só kan dit wel baie
nuttig wees, vanweë die greintjies waarhede wat tog in die wol kan
skuil.
Wat
kan die geskiedkundige navorser in elk geval verwag om te hoor wanneer
hy mense van bepaalde gemeenskappe na dié se verlede en herkoms uitvra?
Daar is baiemaal interessante ooreenkomste in die vertellings van
verskillende gemeenskappe, omdat mense dikwels neig om die geskiedenis
in die drie tydperke in te deel:
-
Die
eerste is die tydperk waarin die wêreld, volgens hulle, geskape is
en ’n besondere gemeenskap tot stand gekom het.
-
Hierop
volg ’n middelperiode toe die gemeenskap met ander gemeenskappe in
aanraking was en moes trek of konflikte of hongersnood die hoof moes
bied.
-
Die
mees onlangse tydperk strek twee of drie geslagte terug—net voor
die tyd van die oudste oorlewende lede van die gemeenskap.
Maar waar mondelinge oorlewing te kort
skiet, kan dinge soos opgrawings baie leemtes in historiese
rekonstruksie help vul. Hieronder vertel ons hoe dit gedoen word.
c)
Argeologie
DIE
argeologie het hom ’n
waardevolle hulpmiddel bewys om die geskiedenis van Afrika voor 1700 te
herskep. Opgrawings kan geleerdes op wonderlike maniere help om ’n
vroeë gemeenskap se ekonomiese, tegnologiese en artistieke ontwikkeling
te verstaan.
Met radiokoolstofdatering kan die ouderdom
van artefakte van tot 60.000 jaar
gelede betreklik noukeurig bepaal word. Danksy argeologies studies weet
ons vandag wanneer bepaalde Afrika-mense op sekere geplekke gewoon het,
of hulle yster- of klipgereedskap gebruik het en of hulle geboer of net
veldkos versamel en gejag het.
Vanselfsprekend kan alle raaisels egter nie
met behulp van opgrawings opgeklaar word nie en is dit ook nie altyd
moontlik om skakels tussen vroeëre en latere beskawings daarmee te vind
nie. Maar gelukkig het die Afrika-historikus ook nog ander hulpmiddels
tot sy beskikking.
LINKS BO:
’n Baie ou klipwerktuig wat in Ethiopië by ’n plek van
argeologiese opgrawings tussen die reste van menslike beendere
gevind is. Met sulke klippe kon miskien byle met houtstele gemaak
gewees het, soos die een REGS BO. Die hout sou deur die eeue vergaan het,
maar die klip nie.
Foto
van Ethiopiese kliPwerktuig:
John Fleagle, Stony Brook-universiteit / Vergunning: US
National Science Foundation
Digitale skandering van klipbyltjie met houtsteel: MSKARG
d) Ander hulpmiddels
TAALSTUDIES
is nog ’n dissipline wat al baie kon help om die verlede van Afrika te
ontrafel. Taalgeleerdes ontleed die woordeskat, grammatikale vorms en
klankveranderings van ’n gegewe taal om te verstaan hoe dit ontwikkel
het.
Hulle vergelyk ook die taal met die verwante
en selfs onverwante tale van die betrokke streek, kyk hoe hulle
ooreenkom en verskil en hoe hulle mekaar in die verlede beïnvloed het.
Uit só 'n studie kan nie net die trekpartrone van volkere aflei word
nie, maar ook baie ander dinge. Sekere woorde of uitdrukkings kan
byvoorbeeld die oorblysels van lank verlore kulturele gebruike openbaar.
Geskiedkundiges
maak voorts van die volkekunde gebruik. Die volkekunde is uiters nuttig
om die waardes, instellings en idees van ’n gemeenskap te begryp en
gevolglik om mondelinge oorleweringe te ontleed.
Selfs die plantkunde en genetika kan waardevolle gereedskap in
historiese rekonstruksie wees.
|