HOOFSTUK
2
Die
voorgeskiedenis van ons kontinent en die uiteindelike swart verskuiwing
na die suide
DUISENDE
jare gelede was die Sahara-woestyn ’n gebied van grasvelde en mere.
Die mense wat daar gewoon het, het onder meer kameelperde, renosters en
seekoeie gejag. Toe, omstreeks 6000 vC, het die mense van die Sahara
diere begin tem en aanhou pleks van hulle te jag.
Teen
4000 vC, weens ’n verandering in die klimaat, het die grasvelde reeds
tot ’n woestyn verdor. Die Sahara-woestyn het Afrika in twee verdeel
en die lewe noord van die Sahara het baie anders ontwikkel as dié in
die suide daarvan.
Maar
wat het op die vasteland gebeur lank, lank voordat daardie eindelose dooie duine
van die Sahara nog die Afrika-landskap ontsier het? Kom saam op ’n boeiende reis na die tyd toe Afrika sommer
nog baie, baie jonger was…
a)
Afrika in die Steentyd
VAN
al die lande op aarde het Afrika tot dusver nog die oudste argeologiese
vondste oor die bestaan van die mens opgelewer. Gevolglik praat baie
geleerdes vandag van Afrika as die “wieg van die mensdom”. Hulle
reken die vroegste mense het van hierdie einste vasteland af na die res
van die wêreld versprei. Baie wetenskaplikes dink ook dit hoef nie
noodwendig in stryd te wees met wat die Bybel ons oor die skepping leer
nie.
Volgens
ontleders van oorblyfsels wat by argeologiese opgrawings gevind is, sou
verskillende groepe mense op ons kontinent ontwikkel het—elk met hul
eie tegnologiese en kulturele eiendomlikhede. Hierdie argeologiese
getuienisse is baie, baie ouer as enigiets wat in skrif of uit
mondelinge oorlewering oor die verlede bekend is. Die verskillende
gemeenskappe van die gryse verlede sou ook kennelik die etniese
identiteite van moderne mensegroepe help vorm het.
Dit was sowat 2,5 miljoen jaar
gelede—volgens die wetenskaplikes—dat mense interessante
gedagspatrone begin openbaar en klipgereedskap begin maak en gebruik het.
Dit was die begin van die sogenaamde Steentyd.
Baie duisende jare lank het die besondere klipgereedskap nie veel verander nie, tot ongeveer 150 000 tot 100 000
jaar gelede, toe allerlei nuwe soorte gereedskap deur die vernuftiges in
die gemeenskappe bedink is. Mense het ook dinge anders begin doen as
vantevore. Daar was opmerklike kulturele vernuwings.
Die mense van die Steentyd het van dinge
soos wilde voëls gelewe wat hulle gejag het. Hulle het ook siel en
liggaam aanmekaar gehou deur veldkosse te versamel.
Maar teen die latere Steentyd was daar oral
in Afrika groot gemeenskappe wat blykbaar heel “modern” was in terme
van ingewikkelde handelinge, vindingrykheid en selfs verfynde gevoelens
vir skoonheid en simboliek.
Tussen 20 000 en 10 000 jaar gelede het
verskillende latere Steentydse gemeenskappe in Afrika spesifieke plante en
diere benut wat in hul onderskeie streke voorgekom het. Net sekere
diersoorte is gejag en slegs bepaalde soorte veldkosse is versamel.
Tussen nagenoeg 6000 en 5000 v.C. het van
Afrika se bewoners landbouers en veeboere begin word. Dit het beteken
dat die kweek van wilde plante wat vir menslike verbouing geskik was en
die aanhou van makgemaakte diere ’n deel van hul lewenswyse geword
het. Party van hierdie plante en diere is uit die Midde-Ooste ingevoer; ander
is plaaslik gevind en benut.
Inheemse plante sluit in
Afrika-broodwortels, Afrika-rys, boermanna, sorghum en oliepalms. Koring
en gars het uit Wes-Asië gekom. (Eers baie later, in die afgelope
aantal eeue, het piesangs en kokosneute vanuit Suid-Asië en mielies uit
die Nuwe Wêreld ’n kennelike deel van baie Afrikane se dieet geword.)
Makgemaakte diere wat uit Asië na Afrika
gebring is, sluit skape, bokke en beeste in, en natuurlik daardie geroemde “skip van
die woestyn”, die
kameel. Die esel is weer in Afrika self, in Egipte, getem
en tot onlangs is geglo dat ook die huiskat
eerste in Egipte sy rusplek by die mens gevind het. Nuwe
navorsing dui egter daarop dat dit ook elders kon gewees het.
b) Die Ystertyd in Afrika
DIE
tegniek van ysterbewerking het vermoedelik in die eerste duisend jaar
voor die geboorte van Christus sy pad uit die gebied van die Middelandse
See suidwaarts in Afrika gevind. Die mense van Afrika het spoedig hul eie tegnieke
ontwikkel. Ystersmeedery het geleidelik vanuit Noord-Afrika tot net suid van die Sahara versprei.
In die eerste eeu na Christus was
ysterbewerking al iets algemeens in Wes-Afrika, met ystersmederye in
groot georganiseerde hoofmanskappe of koninkryke. Dit het gepaard gegaan
met ingewikkelde arbeidsverdelings, die spesialisasie van ambagte, goed
ontwikkelde artistieke tradisies, handel oor ver afstande heen en
veroweringstogte.
Ystersmeedery het na Midde- en Suider-Afrika
versprei tydens die verhuising van swart volkere wat sogenaamde Bantu-tale
gepraat het (nie te verwar met die gewraakte woord Bantoe, wat nie meer
gebruik word nie).
Daar
word geglo dat die oerwortels van die Bantu-taalgebruikers heel
waarskynlik in die Kameroen lê. Van 1000 vC af het hulle in klein
boerdery-gemeenskappies oor die grootste deel van Midde-, Oos- en
Suidelike Afrika versprei en die suidooskus van Suid-Afrika miskien in
die derde of vierde eeu nC of selfs nog vroeër bereik.
Hulle het in aanraking gekom met jagter-versamelaars-gemeenskappe soos die San
[FOTO HIERBY], wat duisende jare lank die
alleenheersers van al die vlaktes, berge en klowe in daardie gebiede
was.
In
die verlede is hierdie verhuising as die groot Bantu-migrasie bestempel,
hoewel antropoloë, argeoloê en historici onlangs die term
“migrasie” hier begin bevraagteken het.
Migrasie
dui immers op ’n massiewe, voortdurende volksverhuising of “Groot
Trek”, terwyl die jongste getuienis toon dat die Bantu-verskuiwing eerder kol-kol en
sporadies plaasgevind het. Klein groepies mense was telkens
betrokke—mense wat hul nedersettings verdeel en onderverdeel en na
nuwe gebiede versit het waar plaaslike bevolkings van
jagter-versamelaars geabsorbeer is.
Die
presiese rede vir hierdie verhuisings is onseker, maar baie antropoloë
glo dit is deur ’n bevolkingstoename veroorsaak. Dié kon gebeur het
weens die ontwikkeling van nuwe boerderytegnieke of die kweek van nuwe
gewasse, wat doeltreffender voedselproduksie beteken het.
En
dan kon nuwe ystergereedskap en -wapens natuurlik ook die
Bantu-sprekende boere in staat gestel het om grond te bewerk en
boerenedersettings te skep in gebiede waar die die
jagter-versamelaars vroeër nie eens van so iets sou gedroom het nie..
Uiteindelik was daar tog ’n beduidende
swart verskuiwing na die lewensruime van byvoorbeeld die San. Die
ystersmedende swartmense met hul beter ysterwapens en streng geordende
sosiale strukture was nie net die volstrekte meesters van die San met
hul Steentydse wapens nie, maar het ook baie van hul onderwerp en in hul
samelewings opgeneem.
Mettertyd het die jagter-versamelaars wat
nie geassimileer is nie se getalle dramaties afgeneem en teen die tyd
toe die Europeërs hul opwagting in Afrika gemaak het, was die
jagter-versamelaars meestal beperk tot die dorre dele soos die Kalahari.
Intussen
het groot en florende swart nedersettings ook vanweê die swart intog
ontstaan. Een daarvan was Magungubwe
in die Limpopo-bekken, waarvan op ’n ander bladsy breedvoerig vertel
word.
En
dan was daar natuurlik in Zimbabwe die belangrike handelsentrum wat
vandag bekend
staan as Groot Zimbabwe [FOTO VAN
BOUVALLE HIERBY] en waaroor meer
gelees kan word in ’n kassie by ons artikel oor Zimbabwe
self.
|