Mieliestronk: Geskiedenis van Afrika

 HOOFSTUK 2 
Die voorgeskiedenis van ons kontinent en die uiteindelike swart verskuiwing na die suide

DUISENDE jare gelede was die Sahara-woestyn ’n gebied van grasvelde en mere. Die mense wat daar gewoon het, het onder meer kameelperde, renosters en seekoeie gejag. Toe, omstreeks 6000 vC, het die mense van die Sahara diere begin tem en aanhou pleks van hulle te jag.

Teen 4000 vC, weens ’n verandering in die klimaat, het die grasvelde reeds tot ’n woestyn verdor. Die Sahara-woestyn het Afrika in twee verdeel en die lewe noord van die Sahara het baie anders ontwikkel as dié in die suide daarvan.

Maar wat het op die vasteland gebeur lank, lank voordat daardie eindelose dooie duine van die Sahara nog die Afrika-landskap ontsier het? Kom saam op ’n boeiende reis na die tyd toe Afrika sommer nog baie, baie jonger was…

a) Afrika in die Steentyd

VAN al die lande op aarde het Afrika tot dusver nog die oudste argeologiese vondste oor die bestaan van die mens opgelewer. Gevolglik praat baie geleerdes vandag van Afrika as die “wieg van die mensdom”. Hulle reken die vroegste mense het van hierdie einste vasteland af na die res van die wêreld versprei. Baie wetenskaplikes dink ook dit hoef nie noodwendig in stryd te wees met wat die Bybel ons oor die skepping leer nie.

Volgens ontleders van oorblyfsels wat by argeologiese opgrawings gevind is, sou verskillende groepe mense op ons kontinent ontwikkel het—elk met hul eie tegnologiese en kulturele eiendomlikhede. Hierdie argeologiese getuienisse is baie, baie ouer as enigiets wat in skrif of uit mondelinge oorlewering oor die verlede bekend is. Die verskillende gemeenskappe van die gryse verlede sou ook kennelik die etniese identiteite van moderne mensegroepe help vorm het.

Dit was sowat 2,5 miljoen jaar gelede—volgens die wetenskaplikes—dat mense interessante gedagspatrone begin openbaar en klipgereedskap begin maak en gebruik het. Dit was die begin van die sogenaamde Steentyd.

Baie duisende jare lank het die besondere klipgereedskap nie veel verander nie, tot ongeveer 150 000 tot 100 000 jaar gelede, toe allerlei nuwe soorte gereedskap deur die vernuftiges in die gemeenskappe bedink is. Mense het ook dinge anders begin doen as vantevore. Daar was opmerklike kulturele vernuwings.

Die mense van die Steentyd het van dinge soos wilde voëls gelewe wat hulle gejag het. Hulle het ook siel en liggaam aanmekaar gehou deur veldkosse te versamel.

Maar teen die latere Steentyd was daar oral in Afrika groot gemeenskappe wat blykbaar heel “modern” was in terme van ingewikkelde handelinge, vindingrykheid en selfs verfynde gevoelens vir skoonheid en simboliek.

Tussen 20 000 en 10 000 jaar gelede het verskillende latere Steentydse gemeenskappe in Afrika spesifieke plante en diere benut wat in hul onderskeie streke voorgekom het. Net sekere diersoorte is gejag en slegs bepaalde soorte veldkosse is versamel.

Tussen nagenoeg 6000 en 5000 v.C. het van Afrika se bewoners landbouers en veeboere begin word. Dit het beteken dat die kweek van wilde plante wat vir menslike verbouing geskik was en die aanhou van makgemaakte diere ’n deel van hul lewenswyse geword het. Party van hierdie plante en diere is uit die Midde-Ooste ingevoer; ander is plaaslik gevind en benut.

Inheemse plante sluit in Afrika-broodwortels, Afrika-rys, boermanna, sorghum en oliepalms. Koring en gars het uit Wes-Asië gekom. (Eers baie later, in die afgelope aantal eeue, het piesangs en kokosneute vanuit Suid-Asië en mielies uit die Nuwe Wêreld ’n kennelike deel van baie Afrikane se dieet geword.)

Makgemaakte diere wat uit Asië na Afrika gebring is, sluit skape, bokke en beeste in, en natuurlik daardie geroemde “skip van die woestyn”, die kameel. Die esel is weer in Afrika self, in Egipte, getem en tot onlangs is geglo dat ook die huiskat eerste in Egipte sy rusplek by die mens gevind het. Nuwe navorsing dui egter daarop dat dit ook elders kon gewees het.

b) Die Ystertyd in Afrika

DIE tegniek van ysterbewerking het vermoedelik in die eerste duisend jaar voor die geboorte van Christus sy pad uit die gebied van die Middelandse See suidwaarts in Afrika gevind. Die mense van Afrika het spoedig hul eie tegnieke ontwikkel. Ystersmeedery het geleidelik vanuit Noord-Afrika tot net suid van die Sahara versprei.

In die eerste eeu na Christus was ysterbewerking al iets algemeens in Wes-Afrika, met ystersmederye in groot georganiseerde hoofmanskappe of koninkryke. Dit het gepaard gegaan met ingewikkelde arbeidsverdelings, die spesialisasie van ambagte, goed ontwikkelde artistieke tradisies, handel oor ver afstande heen en veroweringstogte.

Ystersmeedery het na Midde- en Suider-Afrika versprei tydens die verhuising van swart volkere wat sogenaamde Bantu-tale gepraat het (nie te verwar met die gewraakte woord Bantoe, wat nie meer gebruik word nie).

Daar word geglo dat die oerwortels van die Bantu-taalgebruikers heel waarskynlik in die Kameroen lê. Van 1000 vC af het hulle in klein boerdery-gemeenskappies oor die grootste deel van Midde-, Oos- en Suidelike Afrika versprei en die suidooskus van Suid-Afrika miskien in die derde of vierde eeu nC of selfs nog vroeër bereik. Hulle het in aanraking gekom met jagter-versamelaars-gemeenskappe soos die San [FOTO HIERBY], wat duisende jare lank die alleenheersers van al die vlaktes, berge en klowe in daardie gebiede was.

In die verlede is hierdie verhuising as die groot Bantu-migrasie bestempel, hoewel antropoloë, argeoloê en historici onlangs die term “migrasie” hier begin bevraagteken het. 

Migrasie dui immers op ’n massiewe, voortdurende volksverhuising of “Groot Trek”, terwyl die jongste getuienis toon dat die Bantu-verskuiwing eerder kol-kol en sporadies plaasgevind het. Klein groepies mense was telkens betrokke—mense wat hul nedersettings verdeel en onderverdeel en na nuwe gebiede versit het waar plaaslike bevolkings van jagter-versamelaars geabsorbeer is.

Die presiese rede vir hierdie verhuisings is onseker, maar baie antropoloë glo dit is deur ’n bevolkingstoename veroorsaak. Dié kon gebeur het weens die ontwikkeling van nuwe boerderytegnieke of die kweek van nuwe gewasse, wat doeltreffender voedselproduksie beteken het.

En dan kon nuwe ystergereedskap en -wapens natuurlik ook die Bantu-sprekende boere in staat gestel het om grond te bewerk en boerenedersettings te skep in gebiede waar die die jagter-versamelaars vroeër nie eens van so iets sou gedroom het nie..

Uiteindelik was daar tog ’n beduidende swart verskuiwing na die lewensruime van byvoorbeeld die San. Die ystersmedende swartmense met hul beter ysterwapens en streng geordende sosiale strukture was nie net die volstrekte meesters van die San met hul Steentydse wapens nie, maar het ook baie van hul onderwerp en in hul samelewings opgeneem.

Mettertyd het die jagter-versamelaars wat nie geassimileer is nie se getalle dramaties afgeneem en teen die tyd toe die Europeërs hul opwagting in Afrika gemaak het, was die jagter-versamelaars meestal beperk tot die dorre dele soos die Kalahari.

Intussen het groot en florende swart nedersettings ook vanweê die swart intog ontstaan. Een daarvan was Magungubwe in die Limpopo-bekken, waarvan op ’n ander bladsy breedvoerig vertel word.

En dan was daar natuurlik in Zimbabwe die belangrike handelsentrum wat vandag bekend staan as Groot Zimbabwe [FOTO VAN BOUVALLE HIERBY] en waaroor meer gelees kan word in ’n kassie by ons artikel oor Zimbabwe self.

JY is nou by HOOFSTUK 2
Klik hieronder op die hoofstuk waarheen jy vervolgens wil beweeg:

HOOFSTUK 1: Historiese rekonstruksie: die verskillende middele wat deur historici gebruik word om die veelbewoë geskiedenis van ons vasteland na te speur

HOOFSTUK 3: Afrika-beskawings van weleer

HOOFSTUK 4: Die Arabiese inval in Noord-Afrika en gevolglike ontwikkelings voor die Europese kolonisasie van die vasteland

HOOFSTUK 5: Slawerny, die koloniale tydperk—en uiteindelik die era van onafhanklikheid

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van hierdie CD-ROM