|
Mieliestronk:
Geskiedenis van Afrika |
||
HOOFSTUK
3
|
||
Klik
hier vir ’n omvattende artikel oor die fassinerende ou wêreld aan
die oewers van die Nyl |
||
HONDERDE
jare lank is die koninkryk van Koesj in die Nylvallei deur die Egiptenare
geregeer. Omstreeks 1000 vC het die Koesjiete weggebreek om vry te wees.
Hulle het later self Egipte verower. Toe is 'n nuwe hoofstad by Meroë
gebou, waar daar beter landbougrond was. Die mense van Meroë het yster gedelf, waarmee hulle wapens en gereedskap gemaak het. Hulle het ryk geword deur met Indië en die lande om die Middellandse See handel te dryf. Die konings en koninginne van Meroë is onder piramides met steil kante begrawe. |
||
I N 1928 het argeoloë artefakte opgegrawe van ’n verbasende kultuur wat van omstreeks 500 v.C tot 200 n.C. in Wes-Afrika gefloreer het. Die oudheidkundiges het na hierdie antieke kultuur as die Nok verwys, die naam van ’n moderne Nigeriese dorpie waar hulle hul ontdekking gedoen het.
|
||
DIE
Feniciërs was ’n ou volk met ’n bloeiende beskawing wat ’n aantal
eeue voor die geboorte van Christus aan die oostekant van die Middellandse
See in die teenswoordige Libanon verrys het. Hul tuisland was egter bra
dor en onherbergsaam, met die gevolg dat die Feniciërs hulle tot die see
gewend en die grootste reisigers en handelaars van hul tyd geword het. Die
Feniciërs het die alfabet ontwikkel en hul gevorderde soort skrif na
etlike ander kulture oorgedra. Hulle het ook ’n handelspos in
Noord-Afrika gevestig wat hulle Carthago genoem het (naby die
teenswoordige Tunis in Tunisië). Toe die tuisland
van die Feneciërs deur die Assiriërs en Perse verower is, het Carthago
’n onafhanklike staat geword. Carthago het gegroei en een van die
magtigste stede van die Oudheid geword, maar die stad is verwoes ná drie
bloedige oorloë teen die Italiaanse stadstaat Rome. In 146 v.C. het die Romeine deur Carthago se stadsmure gebreek en van huis tot huis gegaan om die Carthagers te vermoor. Die paar oorlewendes is as slawe verkoop, die stad en hawe verwoes, en die Romeine het sout oor die landbougrond gestrooi om seker te maak dat dit bar en onvrugbaar sou bly. |
||
DIE koninkryk van Aksoem het teen nagenoeg 100 nC aan die kus by die Rooi See ontstaan. Aksoem het ryk geword deur met Arabië, Indië en dele van die Romeinse Ryk handel te dryf. Kooplui van ander lande het by die hawe Adoelis aangedoen. Omstreeks 340 nC het sendelinge die Christelike godsdiens na Aksoem gebring. Koning Ezana van Aksoem het die eerste Christelike koning in Afrika geword. |
||
![]() BO: Mapunggubwe... goudland in die Limpopo-vallei. Foto: SASOL |
||
|
||
|
||
|
||
Afrika-godsdienste
|
||
|
R |
EEDS
teen 3000 v.C., volgens geskiedkundige getuienisse, vind die godsdienssin
van die ou Egiptenare uiting in die aanbidding van gode en godinne. Hulle
het Isis, Osiris, Ra en die Amen vereer—die eerste tekens van
godsdiensbeoefening in Afrika. Verder suid het die mense van Koesj
blykbaar ook hierdie gode aangehang.
Teenoor
die Egiptenare met hul veelgodedom lyk dit of die Bantusprekende volkere
van Wes-Afrika weer meer monoteïsties was. Bantu is bloot ’n
taalgroepering en moet nie met die gewraakte woord Bantoe verwar word nie.
Monoteïsties beteken dat hulle aan net een god geglo het. Hierdie god sou
soms ’n god van die lug of ’n songod gewees het, ander kere weer nie.
Teen omstreeks 1300 v.C. vind ons die eerste belangstelling in monoteïsme
in Egipte onder die farao Akenaten (of Akhenaton).
Veelgodedom
(politeïsme) het nietemin weer ná Akenaten se dood getriomfeer en
staande gebly regdeur die verowerings van Noord-Afrika deur die Feniciërs
en Grieke, en daarna deur die Romeine, wat elk hul eie gode na
Noord-Afrika gebring het.
Omstreeks
300 n.C. is daar weer ’n groot verandering in die geloofsoortuigings in
Afrika toe baie mense in Noord- en Oos-Afrika geleidelik die Romeinse
keiser se leiding volg deur hulle tot die monoteïstiese Christendom te
bekeer. Die groot Christelike teoloog Augustinus was van Noord-Afrika.
Teen
die 500’s n.C. het die Christendom reeds in die grootste deel van
Noord-Afrika geseëvier, asook in die koninkryk van Aksoem suid van Egipte
(die moderne Soedan, Eritrea
en Ethiopië). Die Christene van Noord-Afrika was verdeel tussen die
Donatiste en die Katolieke, en toe die Vandaal-Ariërs.
In
dieselfde tydperk was die Bantusprekendes geleidelik besig om oor
Suidelike Afrika te versprei en natuurlik hul geloof met hul saam te
bring. In die Bantugeloof is politeïsme steeds onderbeklemtoon, maar in
die plek daarvan was daar ’n vaste geloof in geeste en hul magte oor
lewende mense. Party van hierdie geeste sou ’n mens se eie oorlede ouers
of grootouers wees. ’n Ander kon die gees van ’n gestorwe koning of
held wees, wat dan ook ’n lank tyd onthou is, bra soos die Katolieke
heiliges.
In
die 600’s n.C. het ’n ander monoteïstiese geloof, die Islam, na
Afrika gekom—eers na Egipte, waarna dit vinnig oor Noord-Afrika versprei
het. ’n Eeu later was
feitlik al die mense in Noord-Afrika aanhangers van die Islam (Moslems).
Die
Islam het ook vinnig oor die Sahara-woestyn versprei, met die gevolg dat
baie mense van die Soedan, die grasvelde suid van die Sahara, ook Moslems
geword het. Ook suidwaarts na die groot reënwoude was daar baie mense wat
minstens sekere Moslem-gelowe nagevolg het. En Arabiese en Indiese
handelaars het op hul beurt daarvoor gesorg dat die hele ooskus van Afrika
’n Moslem-wêreld geword het, tot sover suid as Mosambiek.
Suid
van die reënwoude, in Midde- en Wes-Afrika, het die godsdiens van die
Bantusprekendes egter oorheersend gebly. In die Kalahari-woestyn het die
San hul eie geloof behou, wat baie dieselfde as die Bantugeloof was met
die klem op die voorvadergeeste.
Eers
met die koms van die Europeërs—die sendelinge en die
kolonialiseerders—het die Christendom na die suide van die vasteland
gekom. Miljoene Afrikane is gekersten, terwyl die Christelike geloof ook
baiemaal met die inheemse gelowe vermeng geraak het. Noord-Afrika is egter
tot vandag toe nog oorheersend Islamities.
JY
is nou by HOOFSTUK 3
Klik hieronder
op die hoofstuk waarheen jy vervolgens wil beweeg:
HOOFSTUK 1: Historiese rekonstruksie: die verskillende middele wat deur historici gebruik word om die veelbewoë geskiedenis van ons vasteland na te speur
HOOFSTUK
2: Die voorgeskiedenis van ons kontinent en die
uiteindelike swart verskuiwing na die suide
HOOFSTUK
4: Die Arabiese inval in Noord-Afrika en
gevolglike ontwikkelings voor die Europese kolonisasie van die vasteland
HOOFSTUK 5: Slawerny, die koloniale tydperk—en uiteindelik die era van onafhanklikheid
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van die Mieliestronk-webwerf