Mieliestronk: Geskiedenis van Afrika

HOOFSTUK 3
Afrika-beskawings van weleer

AFRIKA het in die verlede verskillende beskawings gehuisves wat gebloei en getaan, groot dinge tot stand gebring en verdwyn het. Hieronder  is ’n aantal wat van besondere historiese belang is.

En omdat beskawings onlosmaaklik verbind is aan hoe mense glo, word die geskiedenis van verskillende godsdienste en geloofsoortuigings in Afrika ook in hierdie hoofstuk behandel. Lees daaroor reg onderaan hierdie bladsy.

  • Die Egiptiese beskawing

Klik hier vir ’n omvattende artikel oor die fassinerende ou wêreld aan die oewers van die Nyl waar ’n besonderse kultuur oor byna drieduisend jaar gefloreer het.

  • Die koninkryk van Koesj

HONDERDE jare lank is die koninkryk van Koesj in die Nylvallei deur die Egiptenare geregeer. Omstreeks 1000 vC het die Koesjiete weggebreek om vry te wees. Hulle het later self Egipte verower. Toe is 'n nuwe hoofstad by Meroë gebou, waar daar beter landbougrond was.

Die mense van Meroë het yster gedelf, waarmee hulle wapens en gereedskap gemaak het. Hulle het ryk geword deur met Indië en die lande om die Middellandse See handel te dryf. Die konings en koninginne van Meroë is onder piramides met steil kante begrawe.

  • Die Nok

 I N 1928 het argeoloë artefakte opgegrawe van ’n verbasende kultuur wat van omstreeks 500 v.C tot 200 n.C. in Wes-Afrika gefloreer het. Die oudheidkundiges het na hierdie antieke kultuur as die Nok verwys, die naam van ’n moderne Nigeriese dorpie waar hulle hul ontdekking gedoen het.

Die Nok-artefakte sluit beelde van diere en mense in wat van terracotta, of gebrande klei, gemaak is, soos die een LINKS. Die komplekse Nok-beelde is waarskynlik op houtsneewerke gegrond, maar enige houtartefakte sou lank gelede reeds in die vogtige klimaat van Wes-Afrika vergaan het. Dit het argeoloë laat reken dat die Nok-beskawing baie ouer kon gewees het as selfs die oudste artefakte wat daar gevind is.

  • Carthago

DIE Feniciërs was ’n ou volk met ’n bloeiende beskawing wat ’n aantal eeue voor die geboorte van Christus aan die oostekant van die Middellandse See in die teenswoordige Libanon verrys het. Hul tuisland was egter bra dor en onherbergsaam, met die gevolg dat die Feniciërs hulle tot die see gewend en die grootste reisigers en handelaars van hul tyd geword het.

Die Feniciërs het die alfabet ontwikkel en hul gevorderde soort skrif na etlike ander kulture oorgedra. Hulle het ook ’n handelspos in Noord-Afrika gevestig wat hulle Carthago genoem het (naby die teenswoordige Tunis in Tunisië).

Toe die tuisland van die Feneciërs deur die Assiriërs en Perse verower is, het Carthago ’n onafhanklike staat geword. Carthago het gegroei en een van die magtigste stede van die Oudheid geword, maar die stad is verwoes ná drie bloedige oorloë teen die Italiaanse stadstaat Rome.

In 146 v.C. het die Romeine deur Carthago se stadsmure gebreek en van huis tot huis gegaan om die Carthagers te vermoor. Die paar oorlewendes is as slawe verkoop, die stad en hawe verwoes, en die Romeine het sout oor die landbougrond gestrooi om seker te maak dat dit bar en onvrugbaar sou bly.

  • Aksoem

DIE koninkryk van Aksoem het teen nagenoeg 100 nC aan die kus by die Rooi See ontstaan. Aksoem het ryk geword deur met Arabië, Indië en dele van die Romeinse Ryk handel te dryf. Kooplui van ander lande het by die hawe Adoelis aangedoen.

Omstreeks 340 nC het sendelinge die Christelike godsdiens na Aksoem gebring. Koning Ezana van Aksoem het die eerste Christelike koning in Afrika geword.


  
BO: Mapunggubwe... goudland in die Limpopo-vallei.                  
Foto: SASOL

Afrika-godsdienste
sedert die antieke tyd

R

EEDS teen 3000 v.C., volgens geskiedkundige getuienisse, vind die godsdienssin van die ou Egiptenare uiting in die aanbidding van gode en godinne. Hulle het Isis, Osiris, Ra en die Amen vereer—die eerste tekens van godsdiensbeoefening in Afrika. Verder suid het die mense van Koesj blykbaar ook hierdie gode aangehang.

Teenoor die Egiptenare met hul veelgodedom lyk dit of die Bantusprekende volkere van Wes-Afrika weer meer monoteïsties was. Bantu is bloot ’n taalgroepering en moet nie met die gewraakte woord Bantoe verwar word nie. Monoteïsties beteken dat hulle aan net een god geglo het. Hierdie god sou soms ’n god van die lug of ’n songod gewees het, ander kere weer nie. Teen omstreeks 1300 v.C. vind ons die eerste belangstelling in monoteïsme in Egipte onder die farao Akenaten (of Akhenaton).

Veelgodedom (politeïsme) het nietemin weer ná Akenaten se dood getriomfeer en staande gebly regdeur die verowerings van Noord-Afrika deur die Feniciërs en Grieke, en daarna deur die Romeine, wat elk hul eie gode na Noord-Afrika gebring het.

Omstreeks 300 n.C. is daar weer ’n groot verandering in die geloofsoortuigings in Afrika toe baie mense in Noord- en Oos-Afrika geleidelik die Romeinse keiser se leiding volg deur hulle tot die monoteïstiese Christendom te bekeer. Die groot Christelike teoloog Augustinus was van Noord-Afrika.

Teen die 500’s n.C. het die Christendom reeds in die grootste deel van Noord-Afrika geseëvier, asook in die koninkryk van Aksoem suid van Egipte (die moderne Soedan, Eritrea en Ethiopië). Die Christene van Noord-Afrika was verdeel tussen die Donatiste en die Katolieke, en toe die Vandaal-Ariërs.

In dieselfde tydperk was die Bantusprekendes geleidelik besig om oor Suidelike Afrika te versprei en natuurlik hul geloof met hul saam te bring. In die Bantugeloof is politeïsme steeds onderbeklemtoon, maar in die plek daarvan was daar ’n vaste geloof in geeste en hul magte oor lewende mense. Party van hierdie geeste sou ’n mens se eie oorlede ouers of grootouers wees. ’n Ander kon die gees van ’n gestorwe koning of held wees, wat dan ook ’n lank tyd onthou is, bra soos die Katolieke heiliges.

In die 600’s n.C. het ’n ander monoteïstiese geloof, die Islam, na Afrika gekom—eers na Egipte, waarna dit vinnig oor Noord-Afrika versprei het. ’n  Eeu later was feitlik al die mense in Noord-Afrika aanhangers van die Islam (Moslems).

Die Islam het ook vinnig oor die Sahara-woestyn versprei, met die gevolg dat baie mense van die Soedan, die grasvelde suid van die Sahara, ook Moslems geword het. Ook suidwaarts na die groot reënwoude was daar baie mense wat minstens sekere Moslem-gelowe nagevolg het. En Arabiese en Indiese handelaars het op hul beurt daarvoor gesorg dat die hele ooskus van Afrika ’n Moslem-wêreld geword het, tot sover suid as Mosambiek.

Suid van die reënwoude, in Midde- en Wes-Afrika, het die godsdiens van die Bantusprekendes egter oorheersend gebly. In die Kalahari-woestyn het die San hul eie geloof behou, wat baie dieselfde as die Bantugeloof was met die klem op die voorvadergeeste.

Eers met die koms van die Europeërs—die sendelinge en die kolonialiseerders—het die Christendom na die suide van die vasteland gekom. Miljoene Afrikane is gekersten, terwyl die Christelike geloof ook baiemaal met die inheemse gelowe vermeng geraak het. Noord-Afrika is egter tot vandag toe nog oorheersend Islamities.


JY is nou by HOOFSTUK 3
Klik hieronder op die hoofstuk waarheen jy vervolgens wil beweeg:

HOOFSTUK 1: Historiese rekonstruksie: die verskillende middele wat deur historici gebruik word om die veelbewoë geskiedenis van ons vasteland na te speur

HOOFSTUK 2: Die voorgeskiedenis van ons kontinent en die uiteindelike swart verskuiwing na die suide

HOOFSTUK 4: Die Arabiese inval in Noord-Afrika en gevolglike ontwikkelings voor die Europese kolonisasie van die vasteland

HOOFSTUK 5: Slawerny, die koloniale tydperk—en uiteindelik die era van onafhanklikheid

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad van die Mieliestronk-webwerf