HOOFSTUK
5
Slawerny,
die koloniale tydperk—en uiteindelik die era van onafhanklikheid
DIE
eerste volgehoue Europese belangstelling in Afrika het vanweë die ywer
van Hendrik die Seevaarder, prins van Portugal, ontwikkel. Talle
ekspedisies is ná 1434 deur die Portugese onderneem en met elkeen het
die Europese kennis van die kus van Afrika suidwaarts toegeneem.
Uiteindelik, in 1497-1498, het Vasco da Gama om die Kaap gevaar en Indië
bereik.
Die Westerse belangstelling in die
“Donker Vasteland”, soos Afrika genoem is, het egter mettertyd
verskillende pikdonker kolle in die geskiedenis en karakter van die
menslike spesie uitgewys. Een daarvan is slawerny, ’n tweede is ’n
sieklike sug na selfverryking. Altwee hierdie ondeugde het tot die
skreiende veronregting van miljoene mense van Afrika gelei.
Vir eers was daar die vier eeue van
slawehandel toe hordes Afrikane sonder klaarblyklike gewetenswroeging
van die slawehandelaars op die vasteland gevang en elders as slawe
verkoop is. Omdat Europeërs geen besondere weerstand teen Afrika se
baie soorte siektes gehad het nie, is Afrikane as middelmanne in die
slawehandel gebruik. Die meeste slawe is dan ook deur ander Afrikane
gevang en aan die kus aan slawehandelaars vir verskillende
gebruiksgoedere geruil.
Die
weerlose gevangenes is vervolgens op slaweskepe soos die een
REGS
weggevoer na vreemde lande waar hulle nooit weer hul eie mense in die
ondermaanse lewe sou sien nie.
Illustrasie: Library of Congress, VSA
Die meeste mense wat veral vanuit
Wes-Afrika, van Senegal tot Angola, as slawe weggeneem is, is na die
Amerikas gebring, maar sekere van hulle het ook op ander plekke, selfs
aan die Kaap, geëindig. Slawerny
is duisende jare lank regoor die węreld beoefen, maar nooit tevore is
soveel mense teen hul sin tussen vastelande heen verskuif nie.
Dit
is moeilik om die presiese getal te bepaal, maar daar was op die ou end
nagenoeg vyftien miljoen Afrikane wat gewelddadig in slawerny ingedwing
is. Grootskeepse
slawehandel in Afrika is in die negentiende eeu beëindig, maar die
nalatenskap van lyding is vandag steeds met ons.
Oor slawerny
aan die Kaap word meer in ’n afsonderlike artikel vertel. Die
belangstellende leser kan daaroor lees deur hier
te klik.
MAAR
waar het die praktyk van die handel met slawe uit Afrika dan begin? Dit
was die Portugese wat van omstreeks 1510 af begin het om verslaafde
Afrikane na die vroeë Spaanse kolonies in die tropiese Amerika te
bring. Teen die sewentiende eeu het die vinnig toenemende Europese vraag
na suiker—’n gewas wat baie arbeid verg—die verskeping van slawe
na die Nederlandse, Franse en Engelse kolonies van die Wes-Indiese
eilande met rasse skrede laat toeneem.
In die agttiende eeu alleen is
minstens ses miljoen slawe weggevoer, en die Britte was voorbokke in
hierdie praktyk wat vandag as niks minder as barbaars beskou word nie.
Tog kan tot die Britte se krediet gesę word dat hulle in die 1800’s
onder die eerstes was wat slawerny afgeskaf het.
Daar moet ook nie vergeet word dat
slawerny wyd en syd in Afrika self beoefen is lank voordat die Europeërs
met hul menserooftogte begin het nie.
NATUURLIK
het die geleidelike beëindiging van die slawehandel nie die einde van die
Europese belangstelling in Afrika beteken nie. Inteendeel, kolonisasie
was die volgende episode van Europese betrokkenheid. Die Portugese was
van die einde van die vyftiende eeu weer aan die voorpunt met
kleinskaalse pogings, terwyl die Nederlanders die Kaap van 1652 af beset
het.
Maar wat historici die “koloniale
koors” noem, het die Europeërs in die 1890’s beetgepak toe daar
’n groot geskarrel onder
verskillende Wes-Europese lande was om elkeen ’n hap van die groot
Afrika-koek te bekom. Brittanje, Frankryk, Portugal, België (eintlik
koning Leopold II in sy persoonlike hoedanigheid), Duitsland, Italië
en Spanje het hul kleims afgebaken en Afrika
onder hulself verdeel, sonder dat die mense wat daar gewoon het enige sę
in die oornames gehad het.
Boonop
het die koloniseerders ’n beperkte kennis gehad van die gebiede wat
hulle vir hulself toegeëien het. Voor die Eerste Węreldoorlog was die
vasteland dus feitlik ’n lappieskombers van Europese besettings, soos DIE
ILLUSTRASIE HIERONDER toon:
Die
frenetiese stormloop het slegs twee dekades geduur en tot iets meer as sewe
dekades van kolonialisasie gelei.
Dat die Europese kolonisasie van Afrika
nie oral net veronregting gebring het nie maar ook voordele, kan nie
weggeredeneer word nie. Vanweë die Europese bemoeienis het miljoene
Afrikane immers geletterd geraak en ook Christene geword.
Waarteen baie Afrikane dit egter vandag
het, is dat die koloniseerders in baie gevalle die kosbare grondstowwe
van Afrika-lande vir hul eie gewin kom wegneem en die Afrikane met die
spreekwoordelike krummels gelaat het.
DIE
tydperk tussen die twee węreldoorloë was ’n tyd van intense
staatkundige en intellektuele verandering vir die volkere van Afrika.
Vir die Europeërs was dit ’n tyd van konsolidasie, waartydens hulle
doeltreffender koloniale besture probeer vestig het.
Die
stedelike bevolkings in Afrika het begin vra vir groter seggenskap in
bestuursake. Om hul saak te stel is nuwe bewegings en verenigings
gestig. Die politieke momentum wat opgebou is, is weliswaar deur die
Tweede Węreldoorlog onderbreek. Baie Afrikane het hulle egter nie
onbetuig gelaat nie en in die oorlog selfs vir die vryheid van Europa
help veg. Maar toe die oorlog eindig, het baie mense gevoel dat die
volkere van Afrika nou ook op hul eie vryheid geregtig is.
Toe
Indië in 1947 sy onafhanklikheid kry, het die beweging tot selfregering
onkeerbaar geword. Die eerste Afrika-kolonie wat onafhanklik geword het,
was die Goudkus wat in 1957 die staat Ghana geword het. Op die foto LINKS
open Kwame Nkrumah, die toenmalige
Ghanese premier, seëvierend sy land se nasionale parlement.
Foto: Britse inligtingsdiens
I
N ’n tydperk van iets oor
die sewentig jaar, het Brittanje, Frankryk en ander Europese lande die
reuse-masjien van koloniale heerskappy opgebou en weer afgetakel.
Imperialisme was ’n vlugtige episode in die baie lang geskiedenis van
Afrika, maar dit het ’n onuitwisbare merk op die vasteland gelaat,
sowel ekonomies as maatskaplik.
Ná 1948 was daar natuurlik ook die
heftige stryd teen apartheid in Suid-Afrika, waaroor nie in besonderhede
hier vertel sal word nie, omdat in die volgende artikels breedvoerig
daaroor geskryf word:
Die ANC
* Nelson
Mandela *
Sharpeville
* Einde
van apartheid
* Die leser kan ook hier
klik vir Suid-Afrika se eie geskiedenis in presies duisend
woorde.
Vir
baie Afrika-state het die verkryging van ekonomiese onafhanklikheid baie
moeiliker geblyk te wees as om polities onafhanklik te word. In party
gebiede het droogtes die gesaaides verwoes en hongersnood gevolg;
elders is ekonomiese bedrywighede deur oorloë tot stagnasie gedwing.
Politieke
onstabiliteit op die vasteland (meer as vyftig staatsgrepe) was sowel
die gevolg as die oorsaak van ekonomiese probleme. Die lewensduurte het
die hoogte ingeskiet en vinnig groeiende stedelike bevolkings is erg
getref.
Pogings om ’n sterk vervaardigingsbedryf op die been te bring, het
baiemaal misluk. Afrika-state se geldeenhede kon onmoontlik kers vashou
by die sterk Westerse geldeenhede.
Die
negatiewe strominge het Westerse ekonomiese instellings, soos die Węreldbank,
laat ingryp. In die afgelope dekades het die eskalering van die
verwoestende HIV-vigs-pandemie ook die gevaarligte veral in Midde- en
Suidelike Afrika bloedrooi laat flits en presies wat die uiteinde gaan
wees, weet geen mens nie.
Al
sulke probleme het veroorsaak dat heelparty mense al uit Afrika (en nie
net uit Suid-Afrika nie) na ander węrelddele geëmigreer het om ’n
beter lewe daar te probeer vind.
En
tog: met ons eie pres. Thabo Mbeki aan die voorpunt van ’n beweging na
’n veel begeerde Afrika-renaissance, kan dit wees dat die wiel vir die
węreld se mees onontwikkelde vasteland op
die foto REGS uit die ruimte gesien
stadig maar seker besig is om in sy guns te draai.
Met
NEPAD as ’n lofwaardige visie vir volgehoue groei en ontwikkeling word
reikhalsend uitgesien na die dag dat die Afrika-state uiteindelik ten
volle sal deel in ’n voorspoed wat so lank slegs die węreld se rykste
lande beskore was.
Die
kinders van Afrika kan nie wag nie.
[
SLOT ]
Ruimtefoto
van aarde met Afrika soos gesien vanuit Apollo 17: NASA
Lees
ook: Die Afrika-unie—trotse vesting van
saamhorigheid
|