|
Y
pen is in my hand,"
lees jy, "my
water was in my land."
Jy dink jy lees Afrikaans, maar dié kort, ietwat onsinnige rympie kan
net sowel deur ’n volbloed Engelsman geskryf gewees het... iemand wat
sy hele lewe lank nog nooit ’n enkele Afrikaanse woord gehoor het nie.
Dis
omtrent ’n koddige verskynsel dat daardie sinnetjies presies eenders
geskryf word -- en dieselfde beteken -- in Engels sowel as Afrikaans!
Goed, die uitsprake
van die woorde verskil in die twee tale, maar selfs dié is nog naby
genoeg aan mekaar om ’n mens te laat besef dat daar op die een of
ander manier ’n historiese verwantskap tussen Afrikaans en Engels moet
bestaan.
Inderdaad.
Altwee behoort tot die sogenaamde Wes-Germaanse taalstam en het in die
reël ’n herkenbaar ooreenstemmende sinsbou, al bevat albei tale ook
baie woorde en uitdrukkings wat hulle uit nie-Germaanse tale oorgeneem
het. (Engels is byvoorbeeld verryk met ’n menigte woorde uit Latyn;
Afrikaans het sommige van sy bekendse woorde, soos eina, by
inheemse tale soos dié van die Khoikhoi gaan leen.)
Só
is die wêreld vandag vol tale waarvan sekere groepe duidelik aan mekaar
verwant is, maar wat weer soveel van ander taalfamilies verskil dat daar
klaarblyklik geen verband tussen hulle kan wees nie. Enige sweempie van
’n verbintenis wat wel in lank vergange eeue kon bestaan het, is so
deur die millenniums uitgewis dat die groepe hul gedagtes grammatikaal
en andersins totaal verskillend verwoord. Die San (Boesman) praat immers
glad nie soos die Inuit (Eskimo) nie.
Tale
is gedurig aan die verander. Vandag se kinders praat nie meer presies
soos hul ouers nie en húl kinders sal stellig in die toekoms ook weer
hul eiesoortige spraak hê. Taalverandering kan wel baie stadig gebeur,
soos wanneer daar remmende invloede soos skole en universiteite is, maar
ook baie vinnig, waar gemeenskappe besonder afgesonderd woon en
ongeletterd is.
Boonop
kan elk van verskillende streke in ’n taalgebied sy besondere
eiendomlikhede hê wat verskillende linguistiese stempels op
gemeenskappe afdruk, sodat een taal binne ’n paar geslagte in
verskillende dogtertale kan versplinter. Ná nog ’n klompie honderd
jaar verstaan die mense van die verskillende dogtertale mekaar miskien
nie eens meer nie.
Taalkundiges
reken trouens tale is so veranderlik dat as jy vandag, sê, ’n groep
Afrikaanssprekendes na ’n verafgeleë sterrestelsel in die ruimte sou
stuur, hul nasate oor tienduisend jaar ’n taal sal praat wat net so
van Afrikaans sal verskil as Chinees of Arabies!
DIE
studierigting wat hom met die verwantskappe tussen tale besig hou --
ooreenkomste in byvoorbeeld die woordeskat en woord- en sinsbou -- word
die histories-vergelykende
taalwetenskap genoem. Hierdie vakgebied se liguiste stel hulle ten doel
om die wêreld se tale deur middel van hul genetiese affiliasies te
klassifiseer en om die geskiedkundige ontwikkeling van tale na te spoor.
Studies is tot dusver nog meestal op die gebied van die sogenaamde
Indo-Europese tale gedoen.
Afrikaans
is self ’n loot -- en ’n baie jong een -- in die groot Indo-Europese
taalfamilie. Ons is ’n spruit in die Germaanse vertakking van
Indo-Europees.
Geleerdes reken dat
Indo-Europees as oertaal (taalkundiges praat van ’n
"prototaal") naby die Oossee of in Sentraal-Europa ontstaan
het. Toe die Indo-Europese volkere sowel na Asië as na ander dele van
Europa versprei het, het die taal in twee dele vertak. Elke deel het
later nog baie kere onderverdeel.
Benewens
Indo-Europees was daar verskeie ander prototale in die taalgeskiedenis
van die wêreld, wat almal hul eie taalfamilies gegenereer het,
byvoorbeeld Maleis-Polinesies,
Japanees-Koreaans, Semities-Gamities, Khoisan, Bantu, Chinees-Tibetaans
en ander. (Die
Baskiese taal is egter uitsonderlik deurdat dit blykbaar aan geen
bekende tale verwant is nie.)
Die
Indo-Europese taalfamilie is die grootste en mees wydverspreide
taalfamilie met sowat 150
tale wat vandag deur ongeveer drie miljard (drieduisend miljoen) mense
gepraat word. Ons weet nie
rêrig hoe die oorspronklike Indo-Europees kon geklink het nie, want ons het natuurlik geen geskrewe getuienis daarvan
nie.
Nietemin
het pogings om die sogenaamde Proto-Indo-Europese taal te rekonstrueer
al tot interessante oefeninge gelei. Deur Indo-Europese dogtertale met
mekaar te vergelyk, word allerhande ooreenstemmings gevind wat sekere
taalgeleerdes meen hulle taamlik akkuraat tot die oerbron kan herlei. ’n
"Proto-Indo-Europeër"
kon dus straks iets soos die volgende te vertel gehad het:
To réecs éhest. So nputlos
éhest. So réecs súhnum éwelt. Só tóso cceutérm prcscet: “Súhnus
moi jnhyotaam!” (Daar was
eenmaal 'n koning. Hy was kinderloos. Die koning wou 'n seun hê. Hy het
sy priester gevra: "Mag 'n seun vir my gebore word!")
Maar
hoe Indo-Europees ook al geklink het, die tale wat daaruit vertak het, is:

Tot sover die Indo-Europese taalfamilie. Een van Indo-Europees se
dogtertale was Germaans, wat toe self die "taalboom"
opgelewer het wat op die illustrasie heel bo-aan hierdie bladsy
uitgebeeld word. Hoe het Germaans op sy beurt geklink? Die
oudste behoue geblewe inskripsie, wat moontlik uit die eerste eeu nC dateer, is op ’n
helm gevind en lees:
ek
hwlegast holtingar horna tawido ("Ek,
Hwelegast, Holtz se seun, het die horing vervaardig.")
Ons
is nou soveel nader aan vir ons herkenbare woorde, soos
"horna" (horing). Uiters opvallend is ook daardie "ek" in die begin van die sin. Die jeugdige
Afrikaans gebruik dus steeds die oervorm van die persoonlike
voornaamwoord waarmee iemand homself aandui. (Dit is meer as wat
byvoorbeeld die Nederlanders, Duitsers en Engelse van hul
"ik", "ich" en "I" kan sê!)
Hoe
ook al, dit is fassinerend om die duidelike ooreenkomste in eenvoudige
woorde in Germaanse tale te bekyk. Byvoorbeeld:
| Afrikaans |
Engels |
Deens |
Duits |
Yslands |
Sweeds |
Goties
(uitgesterf) |
| Appel |
Apple |
Æble |
Apfel |
Epli |
Äpple |
Aplus |
| Boek |
Book |
Bog |
Buch |
Bók |
Bok |
Bóka |
| Dag |
Day |
Dag |
Tag |
Dag |
Dag |
Dags |
| Genoeg |
Enough |
Nok |
Genug |
Nóg |
Nog |
Ga-nóhs |
| Hand |
Hand |
Hånd |
Hand |
Hönd |
Hand |
Handus |
| Huis |
House |
Hus |
Haus |
Hús |
Hus |
Hús |
| Nag |
Night |
Nat |
Nacht |
Nótt |
Natt |
Nahts |
| Nee |
No |
Nej |
Nein |
Neita |
Nej |
Né |
| Een |
One |
En |
Ein |
Eitt |
En |
Áins |
| Twee |
Two |
To |
Zwei |
Tveir |
Två |
Twái |
Bron:
Wikipedia
{Engelse weergawe)
WAAR
ons nou weet dat Afrikaans van Wes-Germaans afstam, is dit interessant
om verder die spoor van ons taal te volg van Oud-Nederlands (voor die
jaar 1150) tot by sy huidige vorm. (Afrikaans en moderne Nederlands
spruit altwee uit sewentiende-eeuse Nederlands.)
Van
die oudste taalfase van Nederlands is bloedmin geskrifte oorgelewer,
maar tog genoeg sodat dit moontlik is om Oud-Nederlands van die volgende
taalfase, Middelnederlands, te onderskei. Van die Middelnederlandse
periode (omstreeks 1150 tot 1500) is, danksy uitstekend behoue geblewe
geskrifte, meer bekend -- en, omdat dit al baie soos ons taal van vandag
geklink het, kan ’n Afrikaanssprekende heelwat daarvan met ’n
bietjie inspanning begryp.
Hier
is byvoorbeeld ’n paar reëls in Middelnederlands uit die mooi verhaal
Karel ende Elegast:
Daer
die coninc lach ende sliep
Een
heilich inghel an hem riep...
Hi
seide: "Staat op, edel man,
Doet
haestelike u cleder an...."
Kan
die leser dit ontsyfer? Miskien lyk die spelling nog ’n bietjie
vreemd, maar as ’n mens dit hardop lees, klink dit nogal plek-plek
soos Afrikaans. (Dit blyk dat die koning gelê en slaap het toe ’n
heilige engel hom aanroep en sê: "Staat op, edel man, trek haastig
u klere aan...")
Op die periode van Middelnederlands
volg twee eeue vol van belangrike geskiedkundige ontwikkelinge vir die
Nederlandse taal. Pogings tot taalsuiwering speel ’n belangrike rol in
die eerste stappe om ’n standaardtaal te midde van die baie
Nederlandse dialekte te vestig. Benewens die Bybelvertaling van 1637 --
die sogenaamde Statevertaling waarmee ons Suid-Afrikaanse voorouers so
vertroud was -- verskyn ook die eerste grammatika van Nederlands, die Twe-spraack vande Nederduitsche
letterkunst, asook woordeboeke wat ’n groot rol speel om vaste
norme daar te stel.
Dit is Nederlandse dialekte uit
hierdie tyd wat op Suid-Afrikaanse bodem oorgeplant is. Dit is uit hulle
dat die kern van die Afrikaanse taal ontwikkel het.
Daar is verskeie teorieë oor hoe
Afrikaans werklik ontstaan het in die dolle maalkolk van Nederlandse,
Duitse, Franse, Maleis-Portugese, Khoikhoi- en ander sprekers aan die
Kaap, maar die grondslag vir die nuwe taal is duidelik reeds
vroeg-vroeg, sommer in die eerste jare van die volksplanting al, gelê.
Die voertaal was spoedig nie meer suiwer Nederlands nie.
In die middel van die 1700’s was die
proses van defleksie (verdwyning van Nederlandse buigingsuitgange) al so
ver gevorder dat ’n eie variant van Nederlands reeds hier tot stand
gekom het, die sogenaamde "Kaap-Nederlands". Van die tweede
helfte van die 1700's af was ’n eie taalsisteem gevestig.
En wanneer ’n mens die volgende
aanhaling in die hekeldig
Kaatje Kekkelbek lees, wat in die 1830’s geskryf is, kom ’n
mens agter dat die Afrikaans van meer as anderhalf eeu gelede,
uitgesonderd die klompie Nederlandismes in die teks, reeds so
onmiskenbaar Afrikaans is soos enige geskrif van vandag in dié taal.
Kaatje
Kekkelbek vertel onder meer:
"Ons het
die dag so lekker sit en karnaatjes eet, dat de vet solangs de bek
afloop -- maar hier kom de Boer by ons uit met zyn overgehaalde haan en
sleep ons heele spul na de tronk."
Afrikaans
is dus die jongste baba in die Germaanse genealogie. Hy is nog hups en
vlytig aan die gang, maar dit hang van ons, sy gebruikers, af of hy
lewenskragtig gaan bly of ondergeploeg gaan word in ’n grootliks
veranderende wêreld.
En
ons kan nie genoeg daaraan herinner word dat Afrikaans ons trotse
erfenis is nie... die produk van eeue der eeue se meet en slyp om
volmaak in ons monde en harte te pas soos geen ander taal op aarde nie.
|