Die tradisionele (en baie dienlike) rondawelHuise vir Afrika
Die rondawel-konsep wat in Afrika bedink is om huise te bou, behels ’n uiters vernuftige benutting van boumateriaal uit die omgewing. Ongelukkig is die kuns plek-plek besig om verlore te raak omdat baie van die landelike mense se kinders na die stede verhuis het. Gelukkig is daar steeds baie mense op die platteland wat vir hulle tradisionele huise bou...
|
||||||||
|
TRADISIONELE Afrika-huise kom op interessante maniere tot stand—met verskillende boumateriale, soos dit in verskillende gebiede beskikbaar is. Klei, klip, riete, biesies, gras, takke... wat daar ook al in die omgewing te vinde is, word aangewend om die dienlike strukture tot stand te bring. As
voorbeeld gaan ons kyk hoe ’n huis van klei en gras in ons eie
wêrelddeel opgerig word—op die platteland waar huise baiemaal deur
mans sowel as vroue gebou word en wel in die wintermaande wanneer die
ploeëry en oestyd verby is. Só
’n huis is dikwels deel van ’n soort dorp (ook ’n stat genoem) met
heelparty huise daarin. Naby die huis word ook kleiner konstruksies vir
kosmaak, die brou van bier en vir diere gebou.
Samestelling: MSKARG. Die skerpsinnige leser sal moontlik opmerk dat dit ’n samegestelde foto is, waarop ’n minder volledige foto van ’n kleihuis digitaal “gerestoureer” is en toe op ’n grasveldfoto gesuperimponeer is. Selfs die wolke is nie eg nie!
Nadat
die gebied uitgemerk is waar die huis sal staan, bou die vroue eers ’n
ronde muur van kleistene. Twee soorte stene kan gebruik word. Nat stene
word met die hand gevorm, in hul plekke geplaas en met pleister bedek.
Gedroogde stene word in houtvorms gemaak, in die son gedroog en met klei
in posisie geplaas voordat dit ook met pleister bedek word. Die
muur word sowel binne as buite gepleister met twee of drie lae. Dakbalke
word in posisie vasgebind met draad of tou van boombas. Dis
die mans van die stat se taak om die hout te versamel en die dak te bou.
Die eerste balke word aan die stutpale buitekant die muur van die huis
geheg en by ’n sentrale punt aan mekaar vasgemaak. Dunner pale of
balke word nou bygevoeg. Partymaal word bykomende steun verleen met ’n
sentrale vertikale paal in die middel van die huis. Gras
of riete word versamel en in bondels gebind vir die dak. Die bondels
word in lae bo-op die dakbalke
uitgesprei en met draad of tou van boombas in posisie geheg.
Houtpennetjies aan die onderkant van die balke keer dat die bondels
dekstrooi afgly. Binne-in
die huis word die vloer opgebou nadat die dak voltooi is. ’n
Pleisterlaag word aangewend en met ’n stuk leiklip gelykgemaak.
Beesmis word hierna met water gemeng en ’n laag van dié mengsel op
die vloer aangebring. Patrone word daarin geteken. In party huise word
die vloer met gepoleerde sementpleister bedek. Vroue pleister partymaal die mure van huise met verskillend gekleurde soorte klei vir ’n tweekleur-effek—donkerder onder en ligter bo. Reën laat die muuroppervlak geleidelik verweer en die huise moet een of twee keer per jaar oorgepleister word.
|
||||||||