|
Klanke vir Afrika “Afrika-musiek,”
vertel ’n kenner, “het die musiekwêreld verryk met ’n
kompleksiteit van ritmes wat musiek lewendig maak en ons in staat stel
om die pols van die lewe te voel...” Foto van boogspeler: U.S. Library of Congress; deur Mieliestronk.com gesuperponeer op ’n Afrika-toneel verskaf deur NASA en daarna digitaal verkleur |
|
IT die Afrika-bos kom die dreunsang van ’n veewagter. Dit vermeng met die dowwe geroffel van die tromme in die kraal teen die berghang, met die skril gewhiet-whiet van ’n kwêla-fluit wat ’n trekarbeider uit die stad saamgebring het. In die hoë akasiabome
voltooi die getierelier van duisende voëltjies die loflied van
vreedsame naasbestaan. Met leef en laat lewe, sing en laat sing, só
maak hulle die eiesoortige musiek van ons vasteland. Die melodieë en harmonieë
van Afrika is weliswaar so gevarieerd soos die bewoners van ons
kontinent. Met ander woorde verskillende volkere van die vasteland sing
verskillend, komponeer verskillend en gebruik elk hul eie soort
musiekinstrumente. Op ’n musiektoer van land
tot land vind ons dus allerhande tromme, ghonge en ratels, maar dis tog
ook opmerklik dat hulle almal die oorheersende ritme van Afrika-musiek
komplementeer. Daarbenewens is daar verskeie melodieuse
snaarinstrumente, waaronder musiekboë en verskillende soorte
harp-agtige instrumente soos die kora, asook trilplaatjie-instrumente
soos die mbira en blaasinstrumente soos trompette en fluite. ’n Mens moet toegee dat al
die Afrika-musiek vandag nie meer naastenby sonder buitelandse invloede
is nie. Net soos Westerse musiek baie by Afrika kom leen het (dink maar
hoe die swart mense in Amerika die ontstaan van jazz en ander
musiekgenres geïnspireer het) so het Afrikane ook sedert die koloniale
tye baie Westerse musiekinstrumente en -style in hul tradisionele
musiekbeoefening geïnkorporeer. Uitheemse ghitare, trompette en
saksofone word vandag gebruik terwyl dit vroeër dae heeltemal onbekend
was. Maar inheems en uitheems soos
Afrika se musiekinstrumente deesdae is, so is daar tog ’n aantal
tradisioneles wat verdien om van naderby bekyk te word. Dit is
instrumente wat wyd gebruik word—of vroeër gebruik is—en wat elk op
sy eie manier iets van die unieke gees van ons wêrelddeel weerspieël. Ons kyk ondertoe eers na die
musiekboog en dan na sekere ander tradisionele Afrika-musiekinstrumente.
Dis nie naastenby al die soorte wat daar is nie, maar tog
verteenwoordigend van die snaar-, trilplaat-, slag- en blaasinstrumente
van ons vasteland. Die musiekboog is interessant omdat dit bes moontlik ontwikkel het uit
die jagtersboog, waardeur die wêrelde van die siel en liggaam
(sielevoedsel uit musiek; kos deur te jag) as’t ware bymekaar
uitgebring word. Die godsdienssin van baie
Afrikane is immers gegrond op wat hulle as die noue verband tussen die
aardse en die buite-aardse beskou—hul
vaste geloof in geeste en dié se magte oor lewende mense. Party van
hierdie geeste kan, volgens hulle, ’n mens se eie oorlede ouers of
grootouers wees. ’n Ander sou die gees van ’n gestorwe koning of
held kon wees. En deur musiek, sang en danse sou daar dan ’n
verbinding tussen die natuurlike en bonatuurlike bewerkstellig kon word. Maar natuurlik oorheers
musiek in meer as die godsdiens van die mense van Afrika. Dit kan ook
gebruik word in die feesviering ná ’n oes, of bloot om die ritme te
verskaf vir, sê, ’n span werkers wat ’n sloot met pikke uit die
grond kap. ’n Kaptein kan daarmee vereer word of verdrukte mense kan
hul griewe daarmee verkondig. Of dit kan eenvoudig aangewend word om te
vermaak. Soos ’n kenner van etniese
musiek dit stel: “In Afrika
is musiek nie so afgesonderd van die gemeenskap as in die Weste nie.”
’n Ander sê weer: “Afrika-musiek het die musiekwêreld verryk met
’n kompleksiteit van ritmes wat musiek lewendig maak en ons in staat
stel om die pols van die lewe te voel." Ja, werklik: vir die danse
van Afrika
vul musiekinstrumente ons vasteland se sonore menslike stemme aan... met
’n welluidendheid wat die kontinent van noord tot suid laat dreun van
die musikale klanke!
BO: Die musiekboog kom tien
teen een van die jagtersboog, met die verskil dat die boogsnaar
gebruik word om klanke voort te bring en nie om pyle af te skiet nie.
Dit speel ’n belangrike rol, of het dit gespeel, in die tradisionele
musiek van die San, Xhosas en Zoeloes, maar dit is—of was—nie net
tot hulle beperk nie. Hierdie baie ou foto (tussen 1909 en 1913 geneem) is van ’n
boogspeler in Nigerië, vermoedelik iemand van die Ibo-volk. Musiekboë verskil van
gebruiker tot gebruiker. Geen verduideliking is deur ons bron van die
boog op die foto verskaf nie, maar die volgende kan bes moontlik uit die
foto afgelei word: Die gebruiker het ’n stok in sy linkerhand waarmee
hy die spanning afwissel van die snaar wat hy met sy regterhand
tokkel—om sodoende verskillende toonhoogtes te bereik. Voorts word
resonansie (die versterking van die geluid met ’n klankkas) deur die
gebruiker se eie mondholte verskaf, soos met ’n trompie. Resonansie sou egter veel eerder verkry kon word met die een of ander soort kalbas of iets dergeliks, soos in die sogenaamde berimbau (foto ONDER) van Brasilië in Suid-Amerika.
Die berimbau is feitlik seker verwant aan die musiekboë van Afrika en daar is min twyfel dat dit deur swart slawe na die Amerikas gebring is. In die ooreenstemmende “ramkietjie met net een snaar”, waaroor daar veral destyds in ’n ou Afrikaanse liedjie gesing is, was daar weer ’n plank met ’n paraffienblik wat as die klankkas gedien het. Musiekboog-foto: U.S. Library of Congress Berimbau-foto: Detail van ’n foto deur Horst Nogajski, wat die oorspronklike in die Duitse werrgawe van die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web uitgeplaas het en kopiëring, verspreiding en modifikasie daarvan vergun ingevolge die GNU Free Documentation License, weergawe 1.2 of enige latere weergawe soos gepubliseer deur die Free Software Foundation.
REGS: Die mbira is ’n
Afrika-instrument wat partymaal deur Westerlinge die “duimklavier”
genoem word. Met ’n geskiedenis van minstens vierhonderd of vyfhonderd
jaar is dit egter ’n goeie entjie ouer as die eerste Westerse klavier
wat, sover bekend, in 1709 gebou is. Dit bestaan uit ’n houtbord
waarop enigiets van drie tot meer as vyftig metaalplaatjies van
wisselende lengtes aangebring is, plaatjies wat getokkel word om deur
hul vibrasie verskillende klanke voort te bring. ’n Halwe kalbas kan as klankkas dien om die klank te versterk.
Die naam “duimklavier” dui daarop dat dit met die duime gespeel
word, hoewel een of twee wysvingers ook dikwels gebruik word. Die foto is van twee soorte mbiras, een met ’n klankkas, en van hosho-rammelaars, links onder (kyk afsonderlike foto van hosho’s). Die mbira word veral met die
Shonas van Zimbabwe vereenselwig, hoewel ander swart volkere in
Suidelike en Suidoos-Afrika dit eweneens maak en bespeel. Net soos die
musiekboog kan dit ’n godsdienstige gebruik hê, soos in die
sogenaamde bira-seremonie waarin dit as ’n skakel tussen die wêrelde
van die lewendes en die geeste dien. Andersins kan dit ook saam met
gemeenskapsang en Foto: "Kkhemet", wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het
LINKS: Die kora van Gambië, Guinee, Mali en Senegal is ’n snaarinstrument wat gemaak word van die helfte van ’n groot kalbas wat met beesvel oorgetrek is, met ’n keepbrug soos by ’n ghitaar. By die tradisionele kora is daar 21 snare, waarvan elf met die linkerhand en tien met die regterhand bespeel word. Moderne koras kan bykomende bassnare hê, en waar die snare voorheen van dun riempies van wildsvel gemaak is, word harpsnare en selfs vislyn deesdae gebruik. Die kuns om die kora te bespeel, word van geslag tot geslag oorgedra en ’n tradisionele kora-speler is ’n hoog geëerde lid van die gemeenskap. Dié foto is van 'n bobaas-koramaker, Alieu Suso, in Gambië.
REGS: Die hosho van Zimbabwe
is ’n soort rammelaar of ratel—’n maranka met sekere ander sade
wat binne-in geplaas word. Dit word deur die Shonas geskud op ’n
ratelende geluid te maak, veral saam met mbira-musiek. Die
maranka is ’n kalbasagtige soort pampoen. ’n Kleiner weergawe van
die hosha word van ’n soort wilde lemoen gemaak. Foto: Alex Weeks, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web uitgeplaas het en kopiëring, verspreiding en modifikasie daarvan vergun ingevolge die GNU Free Documentation License, weergawe 1.2 of enige latere weergawe soos gepubliseer deur die Free Software Foundation
REGS: ’n
Djembe (uitgespreek djêm-by) is ’n handtrom wat bo met vel
oorgetrek is en met die kaal hande gespeel word. Dit het in Wes-Afrika
ontstaan, en ’n speler moet maande of selfs jare oefen om die
membraan só te trommel dat die gewenste kenmerkende klanke van die
djembe tot hul reg kom. Dit word gebruik om dansers te begelei. Foto
deur wiki/User:%E3%81%A3 Akonting (’n voorganger van die banjo)
Die banjo (REGS BO) is ’n snaarinstrument wat by die destydse Afrika-slawe in Amerika ontstaan het, gegrond op instrumente wat hulle in Afrika geken het. Een van die voorgangers van die banjo is die sogenaamde akonting (LINKS BO) , ’n instrument van die Jola-volk van Senegal, Gambië en Guinea-Bissau in Wes-Afrika. Die akonting toon duidelike ooreenkomste met die vyfsnarige banjo. Illustrasie
van
akonting:
Ulf
Jagfors, wat
dit op hierdie
bladsy
in
die Wikipedia-ensiklopedie
op die wêreldwye web uitgeplaas het ingevolge die Creative Commons
Attribution 2.5 License Foto van banjospeler (ca. 1911): U.S. Library of Congress (digitaal verkleur en effens gewysig) Kwêla-fluit Die kwêla-fluit is soos alle fluite ’n blaasinstrument en is ’n betreklik onlangse toevoeging tot die tradisionele musiekinstrumente in ons wêrelddeel. Met sy vrolike jazzerige ondertone het dit in Suidelike Afrika as straatmusiek-instrument roem verwerf en Suid-Afrikaanse musiek in die 1950’s in die internasionale kollig geplaas.
Die
fluit op die foto
LINKS
is soortgelyk aan die kwêla-fluit, maar is in 1921 in
Amerika gepatenteer en bevat vyf vingergate pleks van die ses in die
normale kwêla-fluit. Verskillende toonhoogtes word bereik deur van die
gate met die vingers toe te druk terwyl deur die mondstuk geblaas word. Kwêla-fluite
kan van plastiek of metaal wees. Die
kwêla-fluit se plaaslike gewildheid kan moontlik daaraan toegeskryf
word dat verskillende soorte fluite lank reeds tradisionele instrumente
onder die volkere in die noordelike dele van ons land was. Kunstenaars
soos Lemmy Mabaso was beroemd vir hul vernuftige hantering van die kwêla-fluit,
en Spokes Mashiyane was onder die voorstes met sy kwêla-deuntjies. Die
woord kwêla is die Zoeloe-woord vir “staan op” en kan dus ’n
uitnodiging wees om te dans. Foto (1921): U.S. Library of Congress |
|