Die artikel onderaan hierdie webblad is op versoek aan Mieliestronk.com verskaf deur die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl. Klik hier (as jy internet-koppeling het) vir die Taalmuseum se eie webwerf met baie ander nuttige inligting—en moet beslis ook nie nalaat om dié museum sowel as die imposante Afrikaanse Taalmonument te besoek as jy in die Wes-Kaap woon of ooit in hierdie pragtige deel van ons land reis nie.

 
Oorsprong van Afrikaans

Hoe dit as spreektaal ontwikkel het en daarna deur begeesterde baanbrekers tot skryf- en leestaal verhef is
 

 
Taalmuseum Afrikaanse Taalmonument


 Taal en Monument. LINKS BO is die Afrikaanse Taalmuseum—die huis in die Paarl van Gideon Malherbe wat in 1860 in die Georgiaanse styl gebou is en waar die veldtog in 1875 sy beslag het om Afrikaans uiteindelik as volwaardige letterkundige, wetenskaplike en teologiese taal erken te kry.

REGS BO is die Afrikaanse Taalmonument op Paarlberg wat op 10 Oktober 1975 amptelik onthul is. Dit gee erkenning aan die kleurryke wortels van Afrikaans en die mense wat die taal praat.
 

Foto van Afrikaanse Taalmuseum: Afrikaanse Taalmuseum

Afrikaanse Taalmonument met vergunning van public.fotki.com/SAgenealogie
 

        

Fragment van die eerste bladsy van die eerste uitgawe van die koerant Die Afrikaanse Patriot

 
BO: Fragment van die eerste bladsy van die eerste uitgawe van die koerant Die Afrikaanse Patriot, wat op 15 Januarie 1876 verskyn het. ’n Mens herken die taal dadelik as Afrikaans, hoewel die destydse spelling van sekere woorde kennelik vir ons vreemd lyk.

   

  
Woord vooraf deur Mieliestronk.com

 

J

Y kry Afrikaans in duisende boeke. Ons hoor gereeld van Afrikaanse dramas wat groot erkenning geniet, weet van verskillende Afrikaanse gedigte van węreldklas en verneem telkens met belangstelling van ’n soveelste Afrikaanse roman wat in ’n ander taal vertaal is. Afrikaans laat hom dus wyd en syd geld. Dit staan immers nie terug vir enige ander taal as dit by seggenskrag kom nie.

 

En tog: skaars ’n eeu of wat gelede was daar sekere Afrikaanssprekendes self wat “die Taal” nog bloot as ’n agterlike dialek van Nederlands beskou het. Dis net ’n patois, het hulle gereken, ’n armsalige kombuistaaltjie. Hoe sou só ’n boerse flenter van ’n tongval met ’n uiters verskraalde grammatika en ’n tingerige woordeskat nou ooit gebore in staat wees om enige behoorlike uitdrukking aan edel gedagtes te gee?

 

Dat Afrikaans as skryftaal erken en as kultuurtaal gevestig sou word, het dan ook nie so maklik geskied nie. Dit het doelgerigte en begeesterde mense gekos om dit te laat gebeur—nie die minste nie ’n handjievol manne wat in die Bolandse dorp die Paarl die bal aan die rol gesit het.

 

Mieliestronk.com het die Afrikaanse Taalmuseum in die Paarl om inligting gevra oor die wordingsgeskiedenis van ons taal, omdat dit so belangrik is dat Afrikaanstalige leerders steeds presies sal weet hoe die Afrikaanse spreek- en skryftaal tot stand gekom het.

 

Die onderstaande artikel is van die Taalmuseum ontvang. Dit kan in samehang gelees met hul ander artikel oor die wortels van Afrikaans, asook Mieliestronk se eie artikel oor waar Afrikaans in die Germaanse taalfamilie inpas en hoe dit daaruit ontwikkel het.
  


A

FRIKAANS het uit ’n wye verskeidenheid van bronne ontwikkel en sy wortels lę oor drie kontinente versprei, naamlik Europa, Asië en Afrika. In 1652 het die VOC, die befaamde skeepsmaatskappy van Nederland, ’n verversingspos aan die Kaap gestig vir sy skepe op hul reis na en van die Ooste.

Die mense aan die Kaap was van verskillende Europese lande afkomstig, byvoorbeeld matrose en die amptenary uit Nederland, vakmanne en huursoldate uit die Duitssprekende gebiede, Nederland en die Skandinawiese lande en die Hugenote uit Frankryk.

Aangesien die taalbeleid van die VOC baie streng was en hulle gretig was om die Hollandse karakter van die Kaap te behou, is die mense almal verplig om Hollands aan te leer. Dit het ook gegeld vir die Khoi-groepe in die omgewing en die slawe wat uit Afrika en die Ooste ingevoer is.

Die resultaat van hierdie beleid was ’n aanleerderstaal waarvan Hollands die teikentaal was. Party navorsers verwys hierna as ’n Kreoolse taal. Reisigers het reeds in 1671 aangeteken dat die Hollands wat aan die Kaap gepraat word nie meer soos die taal van Europa klink nie. Die skryftaal was egter nog dieselfde.

Teen die middel van die 18de eeu, was Afrikaans as ’n nuwe taal met ’n eie identiteit reeds aan die Kaap gevestig. Dit is Kaaps-Hollands genoem, maar het in party streke ook ander name gehad. Só het die taal van die Genadendal-sendingstasie by die Britse owerheid bekend gestaan as Genadendal Dutch. In die 19de eeu het Afrikaans in kontak gekom met Engels en die tale van die verskillende swart groepe in die binneland. Hierdie tale het ook ’n invloed op die ontwikkeling van Afrikaans gehad.
   

Die vroegste Afrikaans

Arabiese skrif

BO: Arabiese skrif. Die teks word van regs na links gelees.
 

Hoe Afrikaans in Arabiese skrif geskryf is

“OEWHANS wiet die riegtie wieg,” lees ’n mens. Dit lyk nie na Afrikaans nie. Totdat jy die woorde hardop vir jouself uitspreek en besef daar staan “ons weet die regte weg”.

Nog ’n getranskribeerde voorbeeld van hoe die Afrikaans van die Moslem-gemeenskap van destyds in Arabiese skrif voorgestel is, is: "Al die dank an parais es rieg fer Allah alien" (Al die dank en prys is reg vir Allah alleen).

En kyk 'n bietjie na ’n sinsnede soos “waas gawies fantefoewhar”—dis  mos “was vantevore gewees” in hedendaagse Afrikaans.

Transkriberings en verklarings uit "Abu Bakr se 'Uiteensetting van die Godsdiens'" deur A. van Selms, 1979, North-Holland Publishing Company, Amsterdam/Oxford/New York

EEN van die eerste variante van Afrikaans was die sogenaamde Kaapse Afrikaans wat deur veral die oudslawe in die Kaap gepraat is. Aangesien die meeste van hierdie mense die Islamitiese geloof aangehang het, is die taal sterk deur Arabies en die Moslem-kultuur gekleur. Hierdie mense was verantwoordelik vir die eerste geskrewe Afrikaans toe hulle die Arabiese alfabet begin gebruik het om in Afrikaans te skryf.
 

Die eerste Afrikaanse skool in Suid-Afrika is ook deur die Moslem-gemeenskap tot stand gebring. Die skool of madrasah was in Dorpstraat 37 in die Bo-Kaap en die Moslem-kinders het hul godsdiensonderrig hier in Kaapse Afrikaans ontvang. Die madrasah is gestig deur Tuan Guru, ’n prins van Tidore in die Ternate-eilande (Indonesië) wat deur die VOC as banneling na Robbeneiland gestuur is. Teen 1807 het 375 slawekinders hul onderrig in die Koran en Arabies hier voltooi.

Een van hul leermetodes was om gedeeltes uit die heilige skrifte in hul koplesboeke in Afrikaans in Arabiese letters oor te skryf.

Soos met gewone Arabiese skrif word die teks van regs na links gelees. Verskeie Islamitiese heilige geskrifte is aan die Kaap in Arabiese Afrikaans oorgesit en die eerste Afrikaanse vertaling van die Koran is ook in hierdie skooltjie aangepak deur Achmat van Bengale.

Achmat Davids, ’n kenner op die gebied van Arabiese Afrikaanse geskrifte, is van mening dat Afrikaans reeds sedert omstreeks 1815 in die madrasah in Dorpstraat gebruik is. Die eerste gepubliseerde Arabiese Afrikaanse manuskrip het in 1845 verskyn en was die werk van Abu Bakir. Tot omstreeks 1957 het daar meer as sestig publikasies in Arabiese Afrikaans verskyn.

Die ‘Genootskap van Regte Afrikaners’ en
hul stryd vir Afrikaans

  

NÁ die tweede Britse oorname in 1806 het Engels geleidelik die amptelike voertaal aan die Kaap geword en ’n streng verengelsingsbeleid is ingestel om Nederlands en Afrikaans te probeer verdring.

 

’n Paarlse predikant, ds. Van der Lingen, het in 1858 ’n private skool met Nederlands as voertaal gestig om Afrikaanssprekende kinders te onderrig. Die skool was De Gimnasium en een van die onderwysers was Arnoldus Pannevis, ’n Nederlander, wat in 1866 in die Paarl aangekom het.

 

Arnoldus PannevisREGS: Die Nederlandse onderwyser Arnoldus Pannevis. Hy word deur baie as die Vader van die Afrikaanse taal beskou. Dit was by hom dat die gedagte ontstaan het om Afrikaans as skryf- en leestaal aanvaar te kry.

 

Pannevis was ook ’n taalkundige en het besef dat die sogenaamde Kaaps-Hollands wat die mense gepraat het, nie meer genoeg ooreenkomste met Hollands toon om dit as een van sy dialekte te kan beskou nie. Hy was die eerste persoon wat die taal Afrikaans genoem het.

Pannevis was ’n diep godsdienstige persoon en was baie gretig dat die Bybel in Afrikaans vertaal moes word. Hy het aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap geskryf om dit onder hul aandag te bring en voorgestel dat ’n jong predikant, S.J. du Toit, die Bybelvertaling sou onderneem. Die Bybelgenootskap het aan Du Toit die opdrag gegee om ondersoek in te stel of daar werklik só ’n groot behoefte aan ’n Afrikaanse Bybel bestaan.

Ds. Du Toit het ’n groep vriende en familie vir ’n vergadering byeengebring om só ’n vertaling te bespreek. Hierdie vergadering is op 14 Augustus 1875 in die huis van Gideon Malherbe, ’n neef van S.J. duToit, gehou.

Tydens die vergadering is daar vasgestel dat daar wel ’n groot behoefte vir ’n Afrikaanse Bybel bestaan, maar dat Afrikaans nog nie baie geskryf is nie en dus nie die nodige erkenning as ’n skryftaal geniet het nie. Hulle sou dit eers as ’n skryftaal uit eie reg erken moes kry en op alle vlakke help bevorder. Daar is toe besluit om ’n vereniging te stig wat hom hiervoor kon beywer. Dit was die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA).

Die rede vir hierdie naam van die Genootskap was dat die manne gevoel het dat daar in daardie stadium drie verskillende soorte Afrikaners in Suid-Afrika was naamlik:
  

 

Die samestelling van
die Afrikaner

DIT is interessant dat selfs mense met “Franse” vanne soos Du Toit en Malherbe (van Hugenote-oorsprong) ten tyde van die stigting van die GRA net sou verwys na die “Hollandse verlede” van sekere Afrikaners en nie na byvoorbeeld die Franse ook nie. Hulle het nietemin later die Gedenkschool der Hugenoten tot stand gebring om hier­aan erkenning te gee.

 

Maar die groot Duitse deel van die Afrika­ner se samestelling, met ander woorde die aandeel van stamvaders uit die Duitse Laaglande wat hulle by die VOC aange­sluit het, is implisiet nie erken nie en dalk nie eens destyds reg besef nie.

 

’n Navorser soos dr. J.A. Heese het egter dekades later bereken dat die Duitse gene verreweg oorheersend is, hoewel daar ’n min of meer gelyke verdeling van Neder­landse en Duitse bloed in die Afrikaner is. Dit is omdat die eerste Nederlandse immi­grante baie kinders (dogters) gehad het wat later getrou het met die oorwig van Duitsers wat hier vir die VOC kom werk het.

 

Die Franse bydrae is minder, maar steeds beduidend. Heese het die samestelling van die Afrikaner op grond van bloed as volg bereken: Nederlands 34,8%, Duits 33,7%, Frans 13,2%, Brits 5,2%. Daar was ook voor­sate uit Afrika en Asië.

— Mieliestronk.com

  

·         Afrikaners met Hollandse harte wat nog vasklou aan hul Hollandse verlede en die moederland in Europa wat hulle reeds 225 jaar gelede verlaat het.

·         Afrikaners met Engelse harte wat die taal en kultuur van die Engelse regering aanvaar het as hul eie.

·         Regte Afrikaners met Afrikaanse harte wat die taal en kultuur van die nuwe land aangehang het.

Hierdie laaste groep was die mense wat hulle wou verenig in die Genootskap van Regte Afrikaners. Die doel van die Genootskap was nie net om die Afrikaanse taal te bevorder nie, maar ook om die Afrikaanse kultuur in sy geheel te ondersteun.

Die rede hiervoor was dat die Britse ryk in die negentiende eeu węreldwyd kolonies gehad het en hul eie kultuur, wat hulle as superieur beskou het, op hierdie kolonies se mense wou afdwing. Die Britse kultuur het ’n baie groot invloed op al hierdie kolonies gehad en veral ook in Suid-Afrika waar die nuwe jong Afrikaanse kultuur nog nie so goed gevestig was nie. Dit was die doel van die GRA om hierdie Britse kultuurinvloed op die jong Afrikaanse kultuur teen te werk.
   

Agt manne wat GRA op 14 Augustus 1875 gestig het

•  C.P. Hoogenhout
As Nederlandse immigrant het hy ’n groot stoot aan die beweging vir die aanvaarding
van Afrikaans gegee.

 

•  Ds. S.J. du Toit
Nadat hy ’n groep vriende en familie vir die vergadering byeengebring het, het hy daarna ook ’n leidende rol in die beweging gespeel.
 

•  D.F. du Toit (Oom Lokomotief)
Hy was veertien jaar lank redakteur van Die Patriot.

•  D.F. du Toit
Sy bynaam was “Dokter”.

•  Gideon Malherbe
Die stigtingsvergadering is in sy huis in die Paarl gehou. Die huis is vandag die Afrikaanse Taalmuseum
.
 

•  Ds. August Ahrbeck
Hy was nog ’n dominee-stigter van die GRA.


Dit was die doel van die GRA om die Britse invloed op die jong Afrikaanse kultuur teen te werk...


•  S.G. du Toit
 

•  Petrus Malherbe

  
Die Genootskap van Regte Afrikaners is op 14 Augustus 1875 in hierdie vertrek gestigREGS: Die Genootskap van Regte Afrikaners is op 14 Augustus 1875 in hierdie vertrek gestig.

Foto: Afrikaanse Taalmuseum

 

Twee van die maniere waarop die GRA hul taak onderneem het, was deur die publikasie van ’n Afrikaanse koerant Die Afrikaanse Patriot en deur die stigting van ’n Afrikaanse skool, die Gedenkschool der Hugenoten.

Die eerste uitgawe van Die Afrikaanse Patriot het op 15 Januarie 1876 verskyn. Aanvanklik was dit ’n maandblad in ’n klein formaat, maar sy gewildheid het vinnig toegeneem en teen die 1890's was dit ’n weekblad in volgrootte koerantformaat. D.F. du Toit (ook bekend as Oom Lokomotief) was een van die eerste redakteurs van die koerant. Die Patriot was egter nie die eerste Afrikaanse koerant in Suid-Afrika nie.

De Bode, die koerant wat sedert 1859 deur die Morawiese Sendingdorp Genadendal uitgegee is, het reeds tekste en briewe in Afrikaans bevat.

 
Gedenkschool der Hugenoten—en die uiteindelike erkenning van Afrikaans

DIE Gedenkschool der Hugenoten is in 1882 op die plaas Kleinbosch in Daljosafat tot stand gebring. D.F. du Toit was die eerste onderwyser. Soos reeds gesien is, was hierdie skool nie die eerste skool waar daar van Afrikaans gebruik gemaak is nie; dit het egter wel ’n belangrike rol gespeel by pogings om Afrikaans as ’n amptelike skooltaal erken te kry.


Gedenkschool der Hugenoten
REGS: Die Gedenkschool der Hugenoten.
 

Afrikaans het in 1914 as amptelike skooltaal erkenning gekry. In 1925 het dit saam met Engels een van twee amptelike landstale geword. Die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling het in 1933 verskyn.

Ná 1994 het Afrikaans een van elf amptelike landstale geword. Tans is Afrikaans met meer as ses miljoen moedertaalsprekers die derde grootste taalgroep in Suid-Afrika naas Zulu en Xhosa. Daar is ook groot Afrikaanssprekende gemeenskappe elders in die węreld bv. Londen, Australië en Nieu-Seeland.

Die taal is voortdurend aan die ontwikkel en verander en het reeds ook op ander tale ’n invloed begin uitoefen, soos gesien kan word aan die volgende lys van Afrikaanse leenwoorde in ander tale:

Leenwoord       Taal                Afrikaans

ihempe                Xhosa              hemp

ifestile                 Xhosa               venster

ibhulukwe           Xhosa               broek

ifestela                Zulu                   venster

isitulo                  Zulu                   stoel

ibhuku                 Zulu                   boek

ipapa                  Zulu                   (stywe) pap

imfolomane        Zulu                   voorman

vayela                 Zulu                   waai (tot siens)

ummese             Zulu                   mes

isikele                 Zulu                   skęr

ibhulukwe           Zulu                   broek

layisha                Zulu                   laai (ww)

isikhebhe           Zulu                   skip

umata                 Zulu                   mat

mpompa            Zulu                   pomp

Afrikaanse woorde wat dikwels in Engels gehoor word

Lekker               Sommer

Nogal                 Mos

Veld                   Trek

Dorp                   Braai

Stoep                 Biltong

Wors                  Voetstoots

Ja                       Klap

Gooi                   Skop

Bronne

Davids, A                            1991       The Afrikaans of the Cape Muslims from 1815 to 1915 (Ongepubliseerde MA-tesis, Universiteit van Natal).

Meiring, AGS                     1974        Die Afrikaanse Taalbeweging, Nasou Beperk: Kaapstad.

Van Rensburg, C (red)     1997        Afrikaans in Afrika, JL van Schaik: Pretoria.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad