|
Albino-diere
Hulle
is die wit skimme in die lower... en net té sigbaar vir hul roofvyande.
Om ’n albino-dier te wees beteken dus baiemaal ’n baie kort lewe—tensy
jy in ’n dieretuin of wildtuin as ’n kuriositeit beskerm word. Soos
oorlede Sneeuvlokkie van die dieretuin in Barcelona, Spanje...
|
|
Foto: World News Network / Public Domain Image
SNEEUVLOKKIE
was ’n groot aardigheid—en wêreldberoemd. Maar dié gevierde wit
gorilla van die dieretuin in Barcelona, Spanje, is in November 2003
tragies dood ná 36 sensasionale jare in die dieretuin. Die
albino-gorilla Sneeuvlokkie is in die jare sestig in ’n woud in
Ekwatoriaal-Guinee gevind en het in sy jare in gevangenskap die pa van
21 baba-gorillas geword (waarvan geeneen ’n albino was nie). In
sy laaste sowat twee jaar het Sneeuvlokkie egter só aan velkanker gely
dat die dieretuinamptenare hom uiteindelik uit sy ellende verlos het—tot groot hartseer van baie diereliefhebbers regoor die wêreld. Die
gorilla, ’n groot ster van Barcelona se dieretuin, het die kanker
aanvanklik in sy regterarmholte gekry. Sneeuvlokkie
se lewe sou bepaald baie anders verloop het as hy nie destyds uit die
bos gehaal is nie. Wat meer sê, hy sou waarskynlik vroeg in sy lewe
omgekom het, want in die vrye natuur kan albino-diere om verskeie redes
gewoonlik nie lank aan die lewe bly nie. Albinisme is een van die natuur se dikwels nare grille. Dit tref mens, dier en plant, en meermale met rampspoedige gevolge. Albino's
kan geen pigment in hul organe produseer nie. Pigment is ’n kleurstof in
die weefsels van lewende organismes. By menslike albino's beteken dit ’n
uitsonderlike bleek vel en wit hare. Egte albino-diere het ook spierwit
pelse, vere of skubbe, asook rooi of pienk oë… soos Sneeuvlokkie.
Vir
mense—geen maklike lot nie
•
WAT die mens betref,
kom die afwyking by een uit elke 20 000 blankes voor en by een uit elke
4000 swartmense. Die groot las vir sulke mense is baiemaal swak oë en
dan natuurlik ontsettende velprobleme. Son
is hul grootste vyand en as hulle nie gereeld spesiale velmiddels
gebruik nie, is kanker (soos by Sneeuvlokkie) dikwels ook hul voorland
so teen hul 35ste jaar. Intellektueel skort daar egter niks met hierdie
mense nie. Trouens, dit is dikwels amper asof hulle harder werk om uit
te blink en só hul gebrek te vergoed. Ook onder byvoorbeeld dokters en
advokate is daar albino's, vertel ’n navorser, wat bewys dat hierdie
afwyking ’n mens hoegenaamd nie hoef te beperk nie. Maar
op sekere plekke op aarde, word vertel, word albino's baiemaal voor die
geboorte geaborteer nadat die afwyking met ’n amniosentese gediagnoseer
is. Die spot wat hierdie mense moet verduur, skep vir hulle dikwels meer
probleme as die las met die oë en vel. Dit is egter noodsaaklik dat ons
hulle altyd met deernis sal aanvaar. Die
spesifieke pigment wat hier afwesig is, word melanien genoem. By
nie-lyers is ’n songebruinde vel die gevolg van ’n stimulasie in die
produksie van melanien. Dit is interessant dat rooi hare veroorsaak word
deur ’n spesiale rooi pigment, wat met melanien meeding. Mense wie se
hare erg rooi is, produseer baie min melanien. Dit is waarom hulle ook
so maklik brand wanneer hulle in die son kom.
Albino-diere—die verwerptes
•
ALBINO-DIERE word
gewoonlik deur ander diere van hul soort verwerp. Omdat hulle so
opvallend is, kan hulle immers die aandag op die trop vestig. Hulle is
gevolglik dikwels alleenlopers wat maar self die mas moet probeer opkom—en aangesien hulle nie die trop se beskerming geniet nie, lewe hulle
baiemaal ook nie lank nie. Pigmente
sorg boonop vir ’n beskutting teen die son se strale en die albino's is
dus gevoelig vir lig. Baie merkbaar is ook die rooi of pienk oë. Die oë
lyk so omdat die bloed in die vate van die iris (die gekleurde deel van
die oog) sigbaar is, terwyl die pigment in die iris van ander diere
normaalweg die bloedvate wegsteek. Voorts
speel kleur ’n beduidende rol in die seksuele aantrekkingskrag tussen
mannetjies en wyfies in die diereryk. In paartyd gebruik baie diere,
gewoonlik die mannetjies, hul helder kleure om wyfies die hof te maak.
Albino's kry egter moeilik maats. Die
teenoorgestelde van albinisme is melanisme. Net soos die spierwit vorms
wat sporadies voorkom, is daar ook die pikswartes. Die haarbedekking van
die luiperd is gewoonlik grondkleurig met talle rosetvormig gerangskikte
swart kolle, maar in sommige dele van die wêreld met ’n hoë reënval
word ’n pikswart soort aangetref, die sogenaamde swart panter. Die swart
panter is dus maar eintlik net ’n melanistiese luiperd.
Foto: U.S. Fish & Wildlife Service
Albinisme
by plante—die spierwit dood
Foto: ARS-GRIN.GOV •
EGTE albino-plante het
geen chlorofil (groen pigment of bladgroen) nie en het dus wit blare.
Tensy die plant voedingstowwe van elders af kan kry—soos
vleisvretende plante maak—vrek hy.
Egte
en gedeeltelike albino's
•
TERWYL pigment geheel en al by egte
albino's ontbreek, kry ons ook plante en diere wat wel pigment in sekere
van hul organe kan produseer. Hulle word gedeeltelike albino's genoem. Die
meeste wit hoenders, ganse, eende en perde is gedeeltelike albino's,
omdat hulle nie pigment in hul pote, oë of snawels het nie.
Gedeeltelike albino-plante het dikwels geen pigment in hul blomme nie,
hoewel hul blare chlorofil bevat. Albinisme
word veroorsaak deur ’n mutasie (die woord wat gebruik word om ’n
spontane verandering in die gene aan te dui). Van die vroegste tye af
het mutasies onder alle spesies voorgekom en is dit van geslag tot
geslag oorgedra. Partykeer
kan sulke spontane veranderings vir die diere voordelig wees, deurdat
nuwe eienskappe geskep word wat hul kanse verbeter om te oorleef. Ander
veranderings kan weer rampspoedig wees. Volgens
betreklik onlangse genetiese navorsing was die ysbere van die Verre
Noorde oorspronklik bruin. ’n Mutasie het hulle van kleur laat verander.
Die nuwe albino's het met hul ysige, wit hougebied versmelt. Hulle het
gefloreer en vinnig aangeteel en die bruin bere geleidelik vervang.
|