|
LEXANDER GRAHAM BELL ... praat van ’n
gepaste naam. Drie geslagte van die Bell-familie het hul lewe
daaraan gewy om die klank te bestudeer wat deur ’n klok
veroorsaak word. Toe, in 1875, kom Alexander Graham vorendag met
een van die grootste uitvindsels van alle tye—sy spesifieke
soort telefoon.
Die groot
telefoon-twis:
wie’t nou eintlik vir wie ingeloop?
WIE
het die telefoon uitgevind? Alexander
Graham Bell, sal baie mense bes moontlik
sê, want só is mos geslagte lank aan die
wêreld vertel. Dan sal hulle seker ook
baie verbaas wees om te verneem dat
hulle verkeerd is. Die waarheid is dat
geen enkele persoon rêrig die “uitvinder
van die telefoon” genoem kan word nie.
“Telefone” in die breë sin van die
woord is immers eeue reeds bekend, waar
klanktrillings deur middel van gespanne
lyne tussen gesprekvoerders oorgedra is.
Sulke prakseersels was die voorlopers
van die blikkies wat vandag nog deur
kinders met byvoorbeeld sterk
garingdraad verbind word sodat hulle
daarmee nogal skaflik oor kort afstande
kan kommunikeer.
Boonop
was die koms van die moderne telefoon met soveel onmin
en bitterheid omgewe dat geskiedskrywers vandag nog
sukkel om te probeer verstaan wat presies in daardie tyd
gebeur het.
Wie
het vir wie ingeloop—of nie ingeloop nie—en was Bell
dalk nie die held in die verhaal nie, maar die skurk?
Allerlei beskuldigings het deur die dekades in die lug
bly hang.
Dit
het wel enigsins bedaar toe die Amerikaanse Kongres hom
uiteindelik in Junie 2002 gedwonge gevoel het om
erkenning aan ’n Italiaan te gee vir sy bydrae tot die
ontwikkeling van die telefoon.

Antonio Meucci, ’n Italiaanse immigrant in die VSA, het
naamlik in 1849 reeds ’n “pratende telegraaf” of
telefoon begin ontwerp. Hy het ’n vreemde soort
stem-kommunikasiestelsel in sy huis gehad wat die kelder
met die bogrondse gedeelte verbind het. In 1871 het hy
’n kennisgewing van voorneme ingedien om ’n patent vir
’n pratende telegraaf te registreer (dit moes binne drie
maande gedoen word).
Meucci
was egter so arm dat hy nie eens die $10 kon
bymekaarskraap om sy kennisgewing van voorneme te
hernieu nie, wat nog te sê die $250 wat die registrasie
van die patent hom sou gekos het (destyds ’n aansienlike
bedrag).
Om
dinge selfs interessanter te maak het ene Elisha Gray,
’n professor aan Oberlin College in die Amerikaanse
staat Ohio, met ’n kennisgewing van voorneme vir ’n
telefoon-patent vorendag gekom op dieselfde dag toe Bell
vir sy patent van die telefoon aansoek gedoen het. Bell
het eerste by die patentekantoor opgedaag. Die datum was
14 Februarie 1876.

Bell
se
patentaansoek was die vyfde op daardie dag, terwyl
Gray die 39ste aansoeker was. Gevolglik het die
patentekantoor die patent vir ’n telefoon aan Bell
toegestaan.
Op
grond hiervan moet ons erkenning aan Bell gee as die
eerste mens wat die telefoon gepatenteer het, maar ’n
mens kan ook nie nalaat om die bydraes van Meucci en
Gray in die ontwikkeling daarvan te noem nie.
|
En merkwaardig genoeg was dit die oor van
’n dooie mens wat tot dié uitvindsel gelei het.
Die Skots-gebore Bell (1847-1922), wat ’n tyd lank in Kanada gewoon
en uiteindelik ’n Amerikaanse burger geword het, was in Boston in
die VSA aan die werk aan ’n instrument wat dowes moes leer praat. Hy
was toe ’n professor in stem-fisiologie aan die Boston-universiteit
en het snags eksperimente gedoen.
Bell het in die loop van sy proefnemings selfs die oor van ’n
kadawer gebruik om klanke op te vang en dit in geskrewe patrone om
te skep. Só kon dowes dan sekere patrone probeer naboots en
letterlik sien wat hulle besig was om te sê.
Dit het hom op die gedagte gebring dat ’n membraan soortgelyk aan
die oortrom ook gebruik kan word om deur middel van elektrisiteit
klank oor ’n afstand oor te dra. ’n Stemvurktoestel is deur die
Duitse fisikus Hermann von Helmholtz uitgevind. Dit was nadat hy
Helmholtz se boek gelees het dat Bell daaraan gedink het dat hy
elektrisiteit kon gebruik om klanke oor te sein.
Sy groot deurbraak was op 2 Junie 1875—alles heeltemal per ongeluk.
Bell en sy briljante tegnikus, Thomas Watson (1854-1934), was in
aparte vertrekke aan die werk aan die sogenaamde “harmoniese
telegraaf”, en per kragdraad met mekaar verbind, toe Bell hoor hoe
Watson aan een van die staalveertjies pluk wat klanke moes
voortbring. Bell het uitgelate geskreeu. Die klanke is elektries
oorgesein.
Ná daardie eerste stap was die Bell-telefoon so goed as gebore. Die
29-jarige Bell se eerste telefoonpatent is in 1876 geregistreer.
Drie dae ná die registrasie het sy instrument vir die eerste keer
verstaanbare spraak oorgedra. Bell het ’n hoeveelheid suur gemors en
Watson in die kamer langsaan ontbied: “Mr. Watson, come here, I want
you.” Watson het na Bell gestorm en uitgeroep: “Mr. Bell, I heard
every word you said—distinctly!”
Bell se telefoon is dieselfde jaar op die eeufeesskou in
Philadelphia ten toon gestel.
Hoewel Bell nie ’n aktiewe rol in die telefoonbedryf gespeel het
nie, het sy en Watson se werk die weg gebaan vir Amerika se eerste
kommersiële telefoondiens in 1877.

Bell, omstreeks 1910
ALEXANDER GRAHAM BELL is op 3 Maart 1847 in Edinburg in Skotland
gebore, Sy ouers het sy beroepskeuse tot ’n groot hoogte beïnvloed.
Sy pa, Alexander Melville Bell, het klank en musiek bestudeer en
doofstommes leer praat. Hy was die uitvinder van die sogenaamde
Visible Speech, ’n stelsel van simbole wat spraakklanke voorgestel
het. Alexander se ma, Eliza Grace Symonds, was ’n uitmuntende musikus. Sy oupa
Alexander Bell was ’n skoenmaker wat ’n akteur geword en later
met ’n skool vir elokusie begin het.
Die jong Alexander Graham is tuis onderrig, nie verbasend nie
vernaamlik in klank en musiek. Ná ’n jaar aan die Universiteit van
Edinburg is hy Londen toe om onder sy oupa te studeer. In 1865 het
hy sy pa se assistent geword.
Bell se twee broers is aan tering dood, en toe sy eie gesondheid
begin agteruitgaan, het die gesin in Kanada gaan woon en hulle in
Brantford gevestig.
In 1871 het Bell na Nieu-Engeland in Amerika verhuis om doofstommes
te leer met sy pa se Visible Speech-metode. In 1871 het hy met ’n
skool vir dowes in Boston begin, en die volgende
jaar het hy professor in stem-fisiologie aan die Boston-universteit
geword. Dit was ’n jaar of twee, drie hierna dat hy die telefoon
uitgevind het.
Die Bell Telephone Company, wat in 1977 in die lewe geroep is, het
twee belangrike manne in sy bestuur gehad wat Bell se werk
gefinansier het. Hulle was Gardiner Hubbard, ’n regsgeleerde met ’n
dowe dogter, en Thomas Sanders, ’n handelaar wie se dowe seun deur
Bell geleer is om te praat.
In Julie 1877 het Bell met Mabel Hubbard, die dogter van
Gardiner Hubbard, getrou. Sy het haar gehoor permanent verloor toe sy as
kleuter skarlakenkoors opgedoen het.
Bell
was haar onderwyser en hy het haar later met haar getrou toe sy
negentien jaar oud was. Voor die huwelik het hy haar stem
beskryf as “natuurlik soet ... (met ’n) pragtige kwaliteit...”
Vanweë haar doofheid kon sy nooit haar beroemde man se
uitvindsel gebruik nie. Bell en sy bruid is
nietemin per skip
na Europa om Engeland en Frankryk van sy telefoon te vertel.
Ná die uitvinding van die telefoon het Bell steeds met dowes bly
werk en verskeie ander merkwaardige dinge geprakseer, soos hoe om
ysberge met eggo’s op te spoor en vars water van waterdamp te maak
vir mense wat hulpeloos ter see in bootjies ronddryf.
Hy is op 2 Augustus 1922 op sy somerlandgoed op Cape Breton-eiland
in Kanada oorlede. Toe hy daar op ’n bergkruin begrawe is, is elke
Bell System-telefoon in Noord-Amerika as ’n huldeblyk stilgemaak.

BO: Fragment van ’n brief wat
Bell aan Mabel Hubbard geskryf het ’n maand voordat hulle in
1775 verloof geraak het.
Krediet: U.S. Library of Congress / PD Old

BO: Thomas Watson,
Bell se assistent, nagenoeg in 1883 afgeneem.
Dit was
aan hom dat Bell sy beroemde eerste woorde oor die
telefoon gerig het: “Mr. Watson, come here, I
want you.”

BO:
Bell praat in sy telefoon in 1876, die jaar toe hy dit
gepatenteer het. Die Bell-telefoon het uit drie dele
bestaan, naamlik ’n spreekbuis, ’n ontvanger en ’n draad
wat die eersgenoemde twee verbind het. Die spreekbuis en
ontvanger was in der waarheid dieselfde—elkeen het ’n
dun vibrerende metaalkomponent (diafragma) gehad, asook
’n hoefmagneet met ’n draadspoel. Wanneer klankgolwe die
diafragma getref het, het dit gevibreer en die vibrasies
is omgeskakel in ’n elektriese stroom wat deur die draad
gelei is. Aan die ontvangkant is die elektriese stroom
weer omgeskakel in vibrasies wat deur die diafragma van
die ontvanger terug omvorm is tot klank.
|