|
|
|
|
|
|
|
Eeue der eeue lank ingekerker in klontjies verharde boomgom, lę ’n horde voorwęreldse goggatjies en ander dinge wat in die tyd gevries is. Maar dis nie alle stukke amber wat sulke wonderlike klein fossiele bevat nie. En hierdie fantastiese harpuis van verskeie uitgestorwe naaldbome word in die vervaardiging van kosbare juwele gebruik...
BO: Hangertjies gemaak van amber, waarin sekere klein getuienisse van ’n oerwęreld vasgevang is.
Foto: Adrian Pingstone, wat dit in die Wikikipedia-ensiklopedie op die węreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released to the public domain”)
|
|
|
P
die skurwe stamme van die Hymenaea-bome glinster die gom
soos baie trane. Die bome staan stom en huil oor die talle wonde
wat verskillende oerdiere hulle toegedien het—ook vraatsige,
voorwęreldlike insekte wat in die hout ingeboor het.
Dit
ritsel en gons in die prehistoriese woud. Eintlik is dit
onvermydelik dat ’n menigte van die heel klein diertjies
hulpeloos verstrik sal raak in al die belle gom, soos
onverskillige regimente van plunderaars wat hulle in dodelike
dryfsand begewe het.
Die
dodelys van die verswelgdes lees soos ’n Wie’s Wie van
goggabies: van oertydse kewers en kakkerlakke tot
pseudo-skerpioene en sandvlooie, van primitiewe miere en
muskietagtiges tot antieke bye en vlieë.
Foto: U.S. Geological Survey
Maar
daar is ook ’n duisternis ander voorwerpe soos blare, takkies en
bloeisels, selfs dierehare en vere, gemeng met borrels lug.
Alles begrawe in die klewerige hars wat spoedig tot gelerige
klonte verhard. Saam is hulle bevries in die kapsules, om ’n
halwe ewigheid daar te bly.
Want
die tyd snel verby. Die bome vergaan, maar die gom bly staan in
die turfgrond wat deur die sande van millenniums bedek word.
Die
stukke harpuis fossileer tot barnsteen, ook amber genoem. In
baie van dié pragtige gesteentes, wat ons vandag gretig ontgin,
sit die mummetjies van vergange eeue nog so ongelooflik
gepreserveer dat dit lyk of hulle net gister in hul gloeiende
praalgraffies ingekerker is.
Een uit elke sowat honderd stukke amber wat in die Dominikaanse Republiek in die Wes-Indiese Eilande ontgin word, bevat die een of ander oorblyfsel uit die verlede, teenoor die een uit vyfhonderd van die amberstukke in die Oosseelande van Europa. Dié twee streke is van die bekendstes waar hierdie gesogte fossielhars gevind word.
AMBER,
die gefossileerde gom van verskeie, tans uitgestorwe naaldbome,
is deurskynend en kan ook deursigtig wees. Die kleur van amber
is gewoonlik goudgeel of geelbruin, hoewel groen, rooi en swart
variëteite ook al gevind is. Dit kom voor as klontjies, klein onreëlmatige hompe, korrels of druppelvormige steentjies in geologiese afsettings wat in vlak water gevorm het. Dit is ietwat bros en stel ’n aangename geur vry wanneer dit gevryf word. As dit aan die brand gesteek word, brand dit met ’n helder vlam.
Amber word
tans hoofsaaklik in die vervaardiging van juwele gebruik, hoewel
dit in die verlede ook geneeskundige gebruike gehad het.
Plastieknabootsings daarvan is vandag algemeen.
Die
wonder van fossiele in amber is egter dat dit glad nie soos
versteende fossiele is nie. Wanneer organiese materiaal
versteen, word die selle in die reël mettertyd almal deur
minerale vervang, sodat die fatsoen van die organisme behoue
bly, maar nie sy oorsponklike inhoud nie. Maar insekte in amber
word blykbaar in hul oorspronklike staat behou. Nie verniet dat
die ou Egiptenare boomgom gebruik het om hul lyke te balsem nie.
In die
bekende rolprent Jurassic Park van die vorige dekade word die
bloed van dinosourusse gevind in bloedsuiende oerinsekte wat in
amber bewaar was. Uit die dinosourus-DNS word dan nuwe
dinosourusse gekloon—’n ingewikkelde proses wat gegrond is op
die konsep dat daar in elke sel van ’n lewende organisme al die
boustene vir ’n volledige nuwe organisme bestaan.
Natuurlik is die idee van Jurassic Park darem ietwat vergesog,
sę baie wetenskaplikes, as ’n mens in aanmerking neem dat DNS
hoegenaamd nie deur al sulke lange eeue ongeskonde bewaar kon
gebly het nie. Nogtans bly paleontoloë ewig gefassineer deur
amber—elke stuk ’n nuwe wonder, soos ’n keurige klein
kosmossie van kristal.
Deur
baie eeue van die mens se bestaan op aarde is amber as ’n groot
skat beskou. In die ryke van Rome en Griekeland was die
gesteente letterlik sy gewig in goud werd. Romeinse edelmanne
het meer vir ’n brokkie daarvan betaal as vir ’n fikse slaaf.
Die
Grieke het gesę dat amber die bevrore trane van die songod se
dogters is. Hulle het amber elektron genoem wat
“bestanddeel van die son” beteken. Seshonderd jaar voor die
geboorte van Christus het hulle agtergekom dat ’n stuk amber,
nadat dit teen kleremateriaal gevryf is, lint na hom toe aantrek
soos wat ’n magneetsteen ystervylsels op hom vergader.
Vandag
weet ons dit is bloot statiese elektrisiteit. Ons woord
elektrisiteit kry ons juis van daardie elektron van
die Grieke—ook die woord elektron self, waarmee
ons vandag ’n negatief gelaaide atoomdeeltjie aandui.
Amber
kan selfs, indien nodig, geplooi en gelas word, want dit word
sag in warm olie. Dit word gekerf tot pypstele, juwele en
ornamente, en van stukke wat minder mooi is, word vernis gemaak.
Maar
die kosbaarste stukke amber bly dié waarin die insekte uit die
oertyd gebalsem is... die goue vensters op ’n verlore węreld wat
ons nooit anders só sou kon aanskou het nie.
REGS: ’n Lugborrel
wat in amber gepreserveer is, kan wetenskaplikes miskien
help bepaal hoe die atmosfeer daar uitgesien het toe die
dinosourusse die aarde bewandel het. Foto: U.S. Geological Survey |
|
|
Foto: U.S. National Park Service |
|
|
’N GEFOSSILEERDE insek in ’n ronde stukkie amber (foto’tjie REGS), wat deur ’n geleerde vir twintig Britse pond op die internet se veilingwerf eBay gekoop is, behoort tot ’n uitgestorwe plantluis-spesie wat insektekenners nog nie voorheen ontdek het nie. Volgens hulle is die insek veertig tot vyftig mijoen jaar gelede in sy amber-doodkis ingekerker. Dr. Richard Harrington, vise-president van die Verenigde Koninkryk se Royal Entomological Society (insektekundige vereniging), het die stukkie amber so groot soos ’n pilletjie van iemand in Litaue gekoop. Binne-in is ’n piepklein insekkie van sowat drie, vier millimeter. Dr. Harrington kon die insek glad nie uitken nie en het dit aan ’n kenner van plantluisfossiele in Denemarke gestuur. Prof. Ole Heie het bevestig dat dit ’n spesie is wat nog nie vantevore beskryf is nie. Prof. Heie het die nuut ontdekte spesie Mindarus harringtoni genoem, na dr. Harrington. Hy het vertel dat hy dit graag Mindarus ebayi sou wou genoem het, maar dat sulke ligsinnige name deesdae nie so gunstig ontvang word nie!
Bron:
BBC News |
|