Logo van die ANC  Twintigste-eeuse en eietydse geskiedenis 

African National Congress

—tagtig jaar in die "struggle"

Oud-pres. Nelson Mandela as jong man gesuperimponeer op 'n foto van sy ou sel op Robbeneiland. Só 'n foto kon vanselfsprekend nie destyds in die gevangenis geneem word nie.

LET WEL: Hierdie artikel is geen verheerliking van ’n politieke party nie, maar bloot ’n geskiedkundige verslag oor die African National Congress (ANC) en sy rol in die totstandkoming van die nuwe Suid-Afrikaanse bedeling. Dit is tans in skole belangrik dat ook hierdie geskiedenis geken sal word om ander perspektiewe te belig wat, volgens die teenswoordige owerheid, voorheen verswyg sou gewees het. Die artikel word dus om suiwer opvoedkundige redes geplaas en niks anders behoort daarin gelees te word nie.—Die Webmeester.

Waar, wanneer en waarom die ANC gestig is

MET die totstandkoming in 1910 van die Unie van Suid-Afrika as ’n dominium van die Britse Ryk—deur die unifikasie van die Kaapkolonie, Natal, die Oranjerivierkolonie (Vrystaat) en Transvaal—is die politieke beheer van die land stewig in die hande van die blanke minderheid verskans.

Kaapland en Natal het die reg om te stem gegrond op die besit van eiendom (slegs ’n beperkte hoeveelheid swartmense sou kon kwalifiseer), terwyl die Vrystaat en Transvaal geen stemreg hoegenaamd aan enige swartmense toegestaan het nie.

Ná uniewording in die land van 4 miljoen swartmense, 500.000 Kleurlinge, 150.000 Indiërs, en 1.275.000 blankes, is rassediskriminasie amptelik in verskeie wette vasgelê. ’n Groot deel van die blanke minderheid het vas geglo dat hulle maatskaplik en kultureel op ’n hoër vlak as die "naturelle" beweeg het, selfs dat swartmense volgens ’n Ou Testamentiese opvatting vir altyd gedoem was om "houthakers en waterdraers" te wees. Die Wet op die Nederduitse Gereformeerde Kerk van 1911 het swartmense ook verbied om volle lidmate van die kerk te word.

Boonop het die Naturelle-arbeidsreëlingswet (No. 15) van 1911 dit vir swartmense, maar nie vir blankes nie, ’n strafbare oortreding gemaak om ’n werkskontrak te verbreek. Die Wet op Myne en Werke (No. 12) van 1911 het weer ’n ou praktyk gewettig waarvolgens blankes die geskoolde poste in die myne vir hulself kon toeëien terwyl die swartmense prakties tot halfgeskoolde en ongeskoolde werke beperk is.

Die belangrikste was die Wet op Naturelle-grond (No. 27) van 1913 waarkragtens Suid-Afrika verdeel is in gebiede waarin óf swartmense óf blankes grond kon besit. Die swartmense, wat twee derdes van die bevolking uitgemaak het, is egter tot 7,5 persent van die grond beperk, terwyl 92,5 persent toegesê is aan die blankes met een vyfde van die populasie. Die wet het ook bepaal dat swartmense slegs buite hul eie grondgebiede kon woon indien hulle vir blankes gewerk het. Die algemene praktyk om swartmense as bywoners op plase in die Vrystaat en Transvaal te laat werk, is ook onwettig verklaar.

Baie swartmense het hulle hoogs veronreg gevoel deur hierdie wet. Dit was die debatvoering oor die voorlopige wetsontwerp in 1911 wat in 1912 gelei het tot die stigting van ’n vreedsame organisasie wat mettertyd sy stempel met geweld op Suid-Afrika sou afdruk—totdat dit aan die einde van die eeu die beheer van die land triomfantlik sou oorneem.

Daardie organisasie was die South African Native National Congress—wat in 1923 tot  African National Congress (ANC) hernoem is.

Etlike honderde lede van Suid-Afrika se opgevoede swart elite het op 8 Januarie 1912 in Bloemfontein vergader en die nasionale organisasie gestig om teen rassediskriminasie beswaar te maak en te vra vir gelyke behandeling voor die reg.

  • Die stigtingsvoorsitter (president) was John Langalibalele Dube, ’n predikant en onderwyser wat in Amerika studeer het.
  • Pixley Ka Isaka Seme, ’n regsgeleerde met grade van die Columbia-universiteit in Amerika en Oxford in Brittanje en belangrike organiseerder van die vergadering, is tot tesourier benoem.
  • Solomon Plaatje, ’n hoftolk, skrywer en koerantredakteur, wat reeds in Kimberley en Johannesburg gewerk het, het die sekretaris-generaal van die organisasie geword.

Die organisasie was gematig in sy samestelling, aard en optrede. Die stigters was manne wat gevoel het dat die Britse bewind baie voordele vir Suid-Afrika gebring het, veral die Christendom, opvoeding en die oppergesag van die reg. Maar hulle het ook gereken dat hul loopbane as onderwysers, regsgeleerdes en hoftolke belemmer is deur die rassediskriminasie wat so eie aan Suid-Afrika was.

Hulle het nie gevra dat die Britse bewind beëindig word nie, maar dat die konsep van gelykheid vir almal, ongeag kleur, eerbiedig word. Die tradisionele leiers in swart gemeenskappe is gerespekteer en hoofmanne en konings is regtens tot bestuurslede in die organisasie benoem. Boonop het hulle geglo dat hulle hul doelwitte ten beste deur gesprekvoering met die Britte kon bereik. Soos John Dube dit gestel het, het die organisasie ’n beleid gevolg van "hoopvolle vertroue op die sin vir algemene geregtigheid en vryheidsliewendheid wat so ingebore in die Britse aard is".

Soos dit egter geblyk het, was hierdie vertroue ongegrond. Toe die organisasie in 1914 ’n afvaardiging na Londen stuur om teen die Wet op Naturelle-grond beswaar te maak, het die Britse minister van kolonies hulle meegedeel dat hy niks kon doen nie. Lede van nog ’n afvaardiging na Londen in 1919 is simpatiek deur die destydse eerste minister, Lloyd George, ontvang, maar moes ook hoor dat hul probleme in Suid-Afrika deur die Suid-Afrikaanse regering opgelos moes word.

Geen mens kon toe nog voorsien het hoe lank die ANC se stryd teen die Suid-Afrikaanse regering sou duur en presies hoe die aanvanklik gematigde houding van die organisasie met die verloop van die dekades in die twintigste eeu tot ’n bitter en gewelddadige verset sou ontwikkel nie…

Rol van die ANC in die vernietiging van apartheid

DIE nie-gewelddadige burgerregte-organisasie wat gestig is om die belange van die swart mense te bevorder, het sy beleid van lydelike verset sowat dertig jaar lank gepropageer. Deur onderhandelinge, versoekskrifte en vreedsame protes moes binne die grondwet geprobeer word om veranderinge teweeg te bring.  In 1940 het Alfred B. Xuma egter die ANC-voorsitter geword en jonger, meer uitgesproke lede begin werf. Onder die nuwelinge was Nelson Mandela, Oliver Tambo en Walter Sisulu, wat in 1944 die ANC-Jeugliga help stig en spoedig die organisasie se toonaangewende lede geword het.

Nadat die Nasionale Party in 1948 die bewind oorgeneem en sy beleid van die afsonderlike ontwikkeling van die verskillende rassegroepe (apartheid) streng begin toepas het, het die ledetal van die ANC in die jare vyftig sterk toegeneem. Die organisasie het die apartheidsbeleid met mag en krag beveg en polities al hoe meer met die regering oorhoop gelê.

Die sogenaamde Freedom Charter, wat in 1955 deur die ANC uitgereik is, sou die organisasie se standpunt baie duidelik stel dat Suid-Afrika aan al sy inwoners behoort, hetsy swart of blank. Daar was egter lede van die ANC wat geglo het dat die land slegs aan die swart Afrikane behoort en toe in 1959 ’n opposisiebeweging, die Pan-African Congress (PAC), gestig het.

In ’n poging om die ANC as die voorste versetbewing te ontsetel, het die PAC massa-betogings georganiseer, wat in Maart 1960 op die Sharpeville-slagting van swart betogers uitgeloop het. ’n Verdere gevolg was dat die regering ’n noodtoestand aangekondig en alle swart politieke organisasies, ook die ANC en die PAC, verbied het.

Die stryd teen apartheid is egter voortgesit, al moes dit nou in die geheim geskied. In 1961 het die ANC ’n militêre vleuel in die lewe geroep wat Umkhonto we Sizwe (Zoeloe vir "Spies van die Nasie") genoem is. Umkhonto we Sizwe het ’n sabotasieveldtog teen die regering geloods wat tot ’n aantal onstuimige jare gelei het.

Tog het die regering die onrus met alle geweld onderdruk. Mandela en Sisulu is tot lewenslange tronkstraf gevonnis, terwyl Tambo die land verlaat het om ’n buitelandse vleuel van die ANC te stig. Die volgende drie dekades het die ANC as ’n ondergrondse organisasie geopereer, met sy hoofleiers óf in die tronk óf as uitgewekenes buite Suid-Afrika.

In 1976 het die polisie losgebrand op leerlinge wat teen die gedwonge gebruik van Afrikaans in skole in Soweto, buitekant Johannesburg, betoog het en die slagting het hernieude verset teen apartheid regoor die land laat opvlam. Dit het ook ál meer mense na die ANC gelok. Regdeur die jare tagtig het regstreekse verset-aksies soos stakings en boikotte, asook botsings tussen jeugdiges en die polisie in baie van die swart woonbuurte, daartoe gelei dat ’n noodtoestand in talle streke van die land afgekondig is.

Uiteindelik was die Suid-Afrikaanse regering in ’n hoek. ’n Volskaalse revolusie vroeër of later het onafwendbaar gelyk en, al sou die sterk veiligheidsmagte nog geruime tyd ’n mate van stabiliteit kon verseker, was die land ekonomies op sy knieë weens die onttrekking van buitelandse beleggings en sanksies. Boonop was Suid-Afrika te lank reeds—en dis geen oordrywing nie—die muishond van die wêreld. Apartheid is, in ’n mindere of meerdere mate, verfoei en verguis deur al wat ’n nasie is.

Een ding wat die klimaat vir onderhandeling geweldig bevorder het, was die beëindiging van die Koue Oorlog tussen die Amerikaanse magsblok en dié van die Kommunistiese Sowjet-Unie rondom 1990. Die groot vrees van blanke Suid-Afrikaners dat hul land straks ’n soort Kommunistiese satelliet-staat van die Sowjet-Unie kon word (’n wettige vrees weens die Russe se eens ruimskootse logistieke steun aan die bevrydigingsbewegings in Afrika) het vervaag en verdwyn.

Eindelik het pres. F.W. de Klerk in 1990 in die parlement aangekondig dat die regering sy verbod op die ANC en ander swart organisasies ophef. Mandela is in dieselfde jaar uit die tronk vrygelaat as die erkende leier van die ANC. Hierna sou die ANC vinnig die sprong moes maak van ’n ondergrondse bevrydingsbeweging na ’n politieke party wat die kieserkorps agter hom wou verenig.  In Februarie 1993 het die ANC en die regering ingestem om ’n oorgangsregering te vorm wat vyf jaar lank sou regeer ná die land se eerste verkiesing vir alle rasse wat vir April 1994 beplan is.

Van 27 to 30 April het miljoene Suid-Afrikaners hul kruisies in hierdie historiese eerste demokratiese verkiesing gaan trek en op 2 Mei het De Klerk die presidentskap aan Mandela oorhandig nadat die ANC die verkiesing met ’n groot en oortuigende meerderheid gewen het.  Apartheid was vernietig, ten minste uit die land se wetboeke. En die ANC kon hom daarin verheug dat hy ná sy pynlik uitgerekte "struggle" uiteindelik met die lourierkrans kon wegloop.

Mandela het in Desember 1997 as leier van die ANC uitgetree en is deur Thabo Mbeki opgevolg. Mbeki het ook Mandela as die president van Suid-Afrika vervang nadat die ANC 66 persent van die stemme in die algemene verkiesing van Junie 1999 ingepalm het.

In die volgende verkiesing, op 14 April 2004, is die ANC se steun selfs vergroot. Met 69,7 persent van die stemme teenoor die 12,4 persent van die grootste opposisieparty, die Demokratiese Alliansie, regeer hy die land met ’n geweldige meerderheid wat hom die mag sou kon gee om te maak en te breek. Nogtans is daar, in die gees van ubuntu, ’n lofwaardige bereidwilligheid om met minderheidspartye saam te werk vir die welvaart van die land.

Twee leiers wat ’n belangrike rol in die vryheidstryd gespeel het

IN die ANC was daar verskeie figure wat op die voorgrond getree het in die vryheidstryd, maar daar is waarskynlik veral twee name wat uitgesonder sal word in die geskiedenisboeke van die latere geslagte.

Pixley ka Isaka Seme, "vader van die ANC"REGS: Pixley ka Isaka Seme, "vader van die ANC".

Die een is die konserwatiewe pasifis Pixley ka Isaka Seme, die "vader van die ANC" en die man wat geglo het dat berge met vreedsame weerstand versit kon word. Die ander is die eertydse vuurvreter Nelson Mandela, wat 27 jaar van sy lewe in die tronk deurgebring het vir ’n saak waarin hy eerlik en onwrikbaar geglo het, waarna hy as die eerste swart president van ’n volwaardig veelrassige Suid-Afrikaanse demokrasie getriomfeer het. Hieronder word kortliks na hierdie twee persoonlikhede gekyk.

  • Pixley ka Isaka Seme

DIT was grootliks danksy sy idees en inspirasie dat die ANC op ’n bewolkte maar kalm dag in 1912 in die Vrystaatse hoofstad gestig is. Maar presies wie was hierdie man met die vreemde naam Pixley ka Isaka Seme? ’n Lang tyd was hy byna totaal onbekend, dog hy word vandag deur baie mense as een van Suid-Afrika se belangrikste geskiedkundige figure beskou word.

Hy was enersyds ’n flambojante middelklas-intellektueel en regsgeleerde, wat in die buiteland opgelei is en ’n regspraktyk in Johannesburg gehad het. Hy was getroud met Harriet, ’n dogter van koning Dinuzulu van Zoeloeland, en daar is gesê dat hy self ’n nefie van Umqawe, een van die magtigste hoofmanne van Zoeloeland, was. Die laasgenoemde bewering word egter in sekere kringe betwyfel wat aanvoer dat hy eintlik uit ’n nederige Tonga-familie gestam het. Altwee sy ouers was Christene en is dood toe hy nog ’n jong seun was (Die ka Isaka in sy naam vertel dat hy die seun van Isak was).

Seme was andersyds ook ’n passiewe, behoudende idealis. Daarby was hy ook ’n belydende Christen wat kon skryf oor "die groot triomf van die Christendom,  wat mense oral leer dat hulle in hierdie wêreld ’n gemeenskaplike plig teenoor God en teenoor mekaar het". Hy het boonop gevoel dat "die grootste suksesse sal kom wanneer die mensdom geleer het om met alle volkere en alle lewe saam te werk".

Hy is wel nie aanvanklik tot voorsitter van die ANC gekies nie, maar het as tesourier in die hoofbestuur gedien. Sy kans om voorsitter te word het darem in die jare dertig gekom toe hy boonop ’n vasbeslote poging aangewend het om die invloed van die Kommuniste in die ANC te kelder. Dit is egter ironies dat die man wat die ANC-skip in 1912 van stapel laat loop het, dit byna ook laat sink het toe hy die voorsitter was. ’n Kombinasie van gebrek aan belangstelling en korrupsie het destyds byna die organisasie verwoes.

Pixley ka Isaka Seme is in 1951 in Johannesburg oorlede.

  • Nelson Mandela

NELSON ROLIHLAHLA MANDELA is in die winter van 1918 in die nederigste omstandighede in een van die hutte van die statjie Mvezo langs die Mbasherivier naby Umtata in Transkei gebore. Hy sou mooi herinneringe oorhou van die Metodiste-sendingstasie Qunu, waarheen hy saam met sy ma verhuis het nadat sy pa oorlede is toe nege jaar oud was. Dat hierdie Temboe-seun later in sy veelbewoë lewe eers ’n martelaar sou word in die apartheidsera van Suid-Afrika om daarna sy land aan die einde van die twintigste eeu seëvierend ’n nuwe tydvak binne te lei, sou geen sterfling toe nog kon voorsien het nie.

Mandela se epiese reis van ’n veroordeelde vryheidsvegter tot triomferende staatshoof van ’n nie-rassige Suid-Afrika—regdeur sy 27 jaar in die tronk as ’n politieke gevangene—sou maak dat hy deur geskiedskrywers gehuldig word as een van grootste internasionaal-erkende ringkoppe van die twintigste eeu.

Van 1934 tot 1938 ontvang hy opleiding aan die Metodistekolleges Clarkebury en Healdtown en in 1939 en 1940 studeer hy aan die Universiteit van Fort Hare, ’n sentrum van die swart intellektuele elite. In 1941 verhuis hy na Johannesburg, werk ’n tyd lank in die goudmyne en maak kennis met Walter Sisulu, deur wie se bemiddeling hy deur die liberale blanke regspraktisyn Lazar Sidelsky as ’n leerling-prokureur aangestel word. In 1943 tot 1949 studeer hy in die regte aan die destyds hoofsaaklik blanke Universiteit van die Witwatersrand.  

En van 1943 af word sy lewe dramaties deur sy poltieke oortuiginge oorheers. Sowat twee dekades later word hy in 1964 deur die polisie gevang ná meer as ’n jaar op vrye voet, waartydens hy onder die naam The Black Pimpernel bekend geword het. In Junie daardie jaar word hy in die sogenaamde Rivonia-verhoor aan sabotasie en verraad skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Daar was agt beskuldigdes in die saak—ses swartes en twee blankes. Mandela is in sy eerste tronkjare op Robbeneiland aangehou, waar hy klippe moes kap in ’n kalkmyn.

Ná sy vrylating in 1990 het hy van 1991 tot 1997 as ANC-voorsitter gedien en in 1994 die eerste president van die nuwe demokratiese Suid-Afrika geword. Hy het in 1999 afgetree.

Hy het drie keer getrou, eers met Evelyn Mase, daarna met Winnie Madikizela, en hy is vandag getroud met Graca Machel, weduwee van die voormalige Mosambiekse president Samora Machel.

In sy skemerjare bly Nelson Mandela steeds een van die wêreld se mees geëerde staatsmanne. Sedert sy aftrede het hy Suid-Afrika se voorste nie-amptelike ambassadeur geword, met verbete veldtogte teen MIV/vigs en om ons land se poging te laat slaag om in 2010 die toernooi om die Wêreldsokkerbeker aan te bied.

Die rol van die ANC in die hedendaagse politiek

DIE ANC is vandag so magtig dat hy die landsbestuur op sentrale, provinsiale en plaaslike vlak oorheers—volgens onafhanklike ontleders met wisselende mate van sukses.

Veral op plaaslike vlak, in sekere ANC-beheerde munisipaliteite, floreer korrupsie en laat dienslewering veel te wense oor. Dit het al tot onstuimige betogings deur ontevrede inwoners gelei. Ontleders wyt die swak prestasies en korrupte bestuur aan verskillende faktore. In ontredderde gemeenskappe, te lank deurdronge van armoede en ’n bitter stryd om oorlewing—sê die waarnemers—sou apatie en die sug na selfverryking maklik inherent aan die lewenspatroon kon word.

In die Oos-Kaap is korrupsie op provinsiale vlak ook reeds oopgevlek. In al die provinsies swaai  die ANC nou die septer, nadat die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal voorheen onder die bewind van ander partye was. In die provinsies gaan dit in die reël darem nie te sleg op bestuursvlak nie. Trouens, in byvoorbeeld die Wes-Kaap word daar klaarblyklik nie op die louere gerus nie.

In die sentrale regering word enersyds uitstekende werk gedoen, soos deur minister Trevor Manuel met die land se finansies, sê die ontleders, maar aan die ander kant is daar lank nie genoeg dringendheid in die stryd teen die dodelike vigspandemie en om misdaad hok te slaan nie. En uitsprake deur ’n minister van gesondheid dat knoffel teen vigs ingespan moet word, kan die land net lagwekkend maak in die oë van die ontwikkelde wêreld.

Tog word die ANC-regering wyd en syd geloof vir sy inisiatiewe om vrede en stabilteit in Afrika te help verseker en sy volgehoue stryd om die vasteland in sy geheel op te hef sodat sy brandarm miljoene uiteindelik ook hul spreekwoordelike plekkie in die son kan kry.

Intussen kan niemand ontken dat die ANC-regering ’n uiters onbenydenswaardige taak het om sy plaaslike swart massas uit hul ellende te verlos en dit boonop op só ’n wyse te probeer doen dat die voorheen bevoordeelde blankes nie dermate veronreg word dat hulle almal sak en pak die land uit vlug nie. Te veel het reeds gedoen.

• Opdatering September 2008: Die haastige ontslag deur die ANC van mnr. Thabo Mbeki as president van Suid-Afrika—hy is deur mnr. Kgalema Motlanthe vervang—was die kulminasie van ’n kennelike verdeeldheid wat in die afgelope jare binne die ANC begin posvat het. Meer daaroor word in die artikel oor Mbeki vertel, maar met die skrywe hiervan was die situasie nog hoogs vloeibaar.
 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad