|
Waar,
wanneer en waarom die ANC gestig is
MET
die totstandkoming in 1910 van die Unie van Suid-Afrika as ’n dominium
van die Britse Ryk—deur die unifikasie van die Kaapkolonie, Natal, die
Oranjerivierkolonie (Vrystaat) en Transvaal—is die politieke beheer van
die land stewig in die hande van die blanke minderheid verskans. Kaapland en
Natal het die reg om te stem gegrond op die besit van eiendom (slegs ’n
beperkte hoeveelheid swartmense sou kon kwalifiseer), terwyl die Vrystaat
en Transvaal geen stemreg hoegenaamd aan enige swartmense toegestaan het
nie. Ná
uniewording in die land van 4 miljoen swartmense, 500.000
Kleurlinge, 150.000 Indiërs, en 1.275.000
blankes, is rassediskriminasie amptelik in verskeie wette vasgelê. ’n
Groot deel van die blanke minderheid het vas geglo dat hulle maatskaplik
en kultureel op ’n hoër vlak as die "naturelle" beweeg het,
selfs dat swartmense volgens ’n Ou Testamentiese opvatting vir altyd
gedoem was om "houthakers en waterdraers" te wees. Die Wet op
die Nederduitse Gereformeerde Kerk van 1911 het swartmense ook verbied om
volle lidmate van die kerk te word. Boonop het
die Naturelle-arbeidsreëlingswet (No. 15) van 1911 dit vir swartmense,
maar nie vir blankes nie, ’n strafbare oortreding gemaak om ’n
werkskontrak te verbreek. Die Wet op Myne en Werke (No. 12) van 1911 het
weer ’n ou praktyk gewettig waarvolgens blankes die geskoolde poste in
die myne vir hulself kon toeëien terwyl die swartmense prakties tot
halfgeskoolde en ongeskoolde werke beperk is. Die
belangrikste was die Wet op Naturelle-grond (No. 27) van 1913 waarkragtens
Suid-Afrika verdeel is in gebiede waarin óf swartmense óf blankes grond
kon besit. Die swartmense, wat twee derdes van die bevolking uitgemaak
het, is egter tot 7,5 persent van die grond beperk, terwyl 92,5 persent
toegesê is aan die blankes met een vyfde van die populasie. Die wet het
ook bepaal dat swartmense slegs buite hul eie grondgebiede kon woon indien
hulle vir blankes gewerk het. Die algemene praktyk om swartmense as
bywoners op plase in die Vrystaat en Transvaal te laat werk, is ook
onwettig verklaar. Baie
swartmense het hulle hoogs veronreg gevoel deur hierdie wet. Dit was die
debatvoering oor die voorlopige wetsontwerp in 1911 wat in 1912 gelei het
tot die stigting van ’n vreedsame organisasie wat mettertyd sy stempel
met geweld op Suid-Afrika sou afdruk—totdat dit aan die einde van die
eeu die beheer van die land triomfantlik sou oorneem. Daardie
organisasie was die South African Native National Congress—wat in 1923
tot African National Congress
(ANC) hernoem is. Etlike
honderde lede van Suid-Afrika se opgevoede swart elite het op 8 Januarie
1912 in Bloemfontein vergader en die nasionale organisasie gestig om teen
rassediskriminasie beswaar te maak en te vra vir gelyke behandeling voor
die reg.
Die
organisasie was gematig in sy samestelling, aard en optrede. Die stigters
was manne wat gevoel het dat die Britse bewind baie voordele vir
Suid-Afrika gebring het, veral die Christendom, opvoeding en die
oppergesag van die reg. Maar hulle het ook gereken dat hul loopbane as
onderwysers, regsgeleerdes en hoftolke belemmer is deur die
rassediskriminasie wat so eie aan Suid-Afrika was. Hulle het
nie gevra dat die Britse bewind beëindig word nie, maar dat die konsep
van gelykheid vir almal, ongeag kleur, eerbiedig word. Die tradisionele
leiers in swart gemeenskappe is gerespekteer en hoofmanne en konings is
regtens tot bestuurslede in die organisasie benoem. Boonop het hulle geglo
dat hulle hul doelwitte ten beste deur gesprekvoering met die Britte kon
bereik. Soos John Dube dit gestel het, het die organisasie ’n beleid
gevolg van "hoopvolle vertroue op die sin vir algemene geregtigheid
en vryheidsliewendheid wat so ingebore in die Britse aard is". Soos dit
egter geblyk het, was hierdie vertroue ongegrond. Toe die organisasie in
1914 ’n afvaardiging na Londen stuur om teen die Wet op Naturelle-grond
beswaar te maak, het die Britse minister van kolonies hulle meegedeel dat
hy niks kon doen nie. Lede van nog ’n afvaardiging na Londen in 1919 is
simpatiek deur die destydse eerste minister, Lloyd George, ontvang, maar
moes ook hoor dat hul probleme in Suid-Afrika deur die Suid-Afrikaanse
regering opgelos moes word. Geen mens
kon toe nog voorsien het hoe lank die ANC se stryd teen die
Suid-Afrikaanse regering sou duur en presies hoe die aanvanklik gematigde
houding van die organisasie met die verloop van die dekades in die
twintigste eeu tot ’n bitter en gewelddadige verset sou ontwikkel nie… Rol
van die ANC in die vernietiging van apartheid DIE
nie-gewelddadige burgerregte-organisasie wat gestig is om die belange van
die swart mense te bevorder, het sy beleid van lydelike verset sowat
dertig jaar lank gepropageer. Deur onderhandelinge, versoekskrifte en
vreedsame protes moes binne die grondwet geprobeer word om veranderinge
teweeg te bring. In 1940 het
Alfred B. Xuma egter die ANC-voorsitter geword en jonger, meer uitgesproke
lede begin werf. Onder die nuwelinge was Nelson Mandela, Oliver Tambo en
Walter Sisulu, wat in 1944 die ANC-Jeugliga help stig en spoedig die
organisasie se toonaangewende lede geword het. Nadat
die Nasionale Party in 1948 die bewind oorgeneem en sy beleid van die
afsonderlike ontwikkeling van die verskillende rassegroepe (apartheid)
streng begin toepas het, het die ledetal van die ANC in die jare vyftig
sterk toegeneem. Die organisasie het die apartheidsbeleid met mag en krag
beveg en polities al hoe meer met die regering oorhoop gelê. Die
sogenaamde Freedom Charter, wat in 1955 deur die ANC uitgereik is, sou die
organisasie se standpunt baie duidelik stel dat Suid-Afrika aan al sy
inwoners behoort, hetsy swart of blank. Daar was egter lede van die ANC
wat geglo het dat die land slegs aan die swart Afrikane behoort en toe in
1959 ’n opposisiebeweging, die Pan-African Congress (PAC), gestig het. In
’n poging om die ANC as die voorste versetbewing te ontsetel, het die
PAC massa-betogings georganiseer, wat in Maart 1960 op die
Sharpeville-slagting van swart betogers uitgeloop het. ’n Verdere gevolg
was dat die regering ’n noodtoestand aangekondig en alle swart politieke
organisasies, ook die ANC en die PAC, verbied het. Die
stryd teen apartheid is egter voortgesit, al moes dit nou in die geheim
geskied. In 1961 het die ANC ’n militêre vleuel in die lewe geroep wat
Umkhonto we Sizwe (Zoeloe vir "Spies van die Nasie") genoem is.
Umkhonto we Sizwe het ’n sabotasieveldtog teen die regering geloods wat
tot ’n aantal onstuimige jare gelei het. Tog
het die regering die onrus met alle geweld onderdruk. Mandela en Sisulu is
tot lewenslange tronkstraf gevonnis, terwyl Tambo die land verlaat het om
’n buitelandse vleuel van die ANC te stig. Die volgende drie dekades het
die ANC as ’n ondergrondse organisasie geopereer, met sy hoofleiers óf
in die tronk óf as uitgewekenes buite Suid-Afrika. In
1976 het die polisie losgebrand op leerlinge wat teen die gedwonge gebruik
van Afrikaans in skole in Soweto, buitekant Johannesburg, betoog het en
die slagting het hernieude verset teen apartheid regoor die land laat
opvlam. Dit het ook ál meer mense na die ANC gelok. Regdeur die jare
tagtig het regstreekse verset-aksies soos stakings en boikotte, asook
botsings tussen jeugdiges en die polisie in baie van die swart woonbuurte,
daartoe gelei dat ’n noodtoestand in talle streke van die land
afgekondig is. Uiteindelik
was die Suid-Afrikaanse regering in ’n hoek. ’n Volskaalse revolusie
vroeër of later het onafwendbaar gelyk en, al sou die sterk
veiligheidsmagte nog geruime tyd ’n mate van stabiliteit kon verseker,
was die land ekonomies op sy knieë weens die onttrekking van buitelandse
beleggings en sanksies. Boonop was Suid-Afrika te lank reeds—en dis geen
oordrywing nie—die muishond van die wêreld. Apartheid is, in ’n
mindere of meerdere mate, verfoei en verguis deur al wat ’n nasie is. Een
ding wat die klimaat vir onderhandeling geweldig bevorder het, was die beëindiging
van die Koue Oorlog tussen die Amerikaanse magsblok en dié van die
Kommunistiese Sowjet-Unie rondom 1990. Die groot vrees van blanke
Suid-Afrikaners dat hul land straks ’n soort Kommunistiese
satelliet-staat van die Sowjet-Unie kon word (’n wettige vrees weens die
Russe se eens ruimskootse logistieke steun aan die bevrydigingsbewegings
in Afrika) het vervaag en verdwyn. Eindelik
het pres. F.W. de Klerk in 1990 in die parlement aangekondig dat die
regering sy verbod op die ANC en ander swart organisasies ophef. Mandela
is in dieselfde jaar uit die tronk vrygelaat as die erkende leier van die
ANC. Hierna sou die ANC vinnig die sprong moes maak van ’n ondergrondse
bevrydingsbeweging na ’n politieke party wat die kieserkorps agter hom
wou verenig. In Februarie
1993 het die ANC en die regering ingestem om ’n oorgangsregering te vorm
wat vyf jaar lank sou regeer ná die land se eerste verkiesing vir alle
rasse wat vir April 1994 beplan is. Van
27 to 30 April het miljoene Suid-Afrikaners hul kruisies in hierdie
historiese eerste demokratiese verkiesing gaan trek en op 2 Mei het De
Klerk die presidentskap aan Mandela oorhandig nadat die ANC die verkiesing
met ’n groot en oortuigende meerderheid gewen het.
Apartheid was vernietig, ten minste uit die land se wetboeke. En
die ANC kon hom daarin verheug dat hy ná sy pynlik uitgerekte
"struggle" uiteindelik met die lourierkrans kon wegloop. Mandela
het in Desember 1997 as leier van die ANC uitgetree en is deur Thabo Mbeki
opgevolg. Mbeki het ook Mandela as die president van Suid-Afrika vervang
nadat die ANC 66 persent van die stemme in die algemene verkiesing van
Junie 1999 ingepalm het. In die
volgende verkiesing, op 14 April 2004, is die ANC se steun selfs vergroot.
Met 69,7 persent van die stemme teenoor die 12,4 persent van die grootste
opposisieparty, die Demokratiese Alliansie, regeer hy die land met ’n
geweldige meerderheid wat hom die mag sou kon gee om te maak en te breek.
Nogtans is daar, in die gees van ubuntu, ’n lofwaardige bereidwilligheid
om met minderheidspartye saam te werk vir die welvaart van die land. Twee
leiers wat ’n belangrike rol in die vryheidstryd gespeel het IN
die ANC was daar verskeie figure wat op die voorgrond getree het in die
vryheidstryd, maar daar is waarskynlik veral twee name wat uitgesonder sal
word in die geskiedenisboeke van die latere geslagte.
Die
een is die konserwatiewe pasifis Pixley ka Isaka Seme, die "vader van
die ANC" en die man wat geglo het dat berge met vreedsame weerstand
versit kon word. Die ander is die eertydse vuurvreter Nelson Mandela, wat 27
jaar van sy lewe in die tronk deurgebring het vir ’n saak waarin hy eerlik
en onwrikbaar geglo het, waarna hy as die eerste swart president van ’n
volwaardig veelrassige Suid-Afrikaanse demokrasie getriomfeer het. Hieronder
word kortliks na hierdie twee persoonlikhede gekyk.
DIT
was grootliks danksy sy idees en inspirasie dat die ANC op ’n bewolkte
maar kalm dag in 1912 in die Vrystaatse hoofstad gestig is. Maar presies wie
was hierdie man met die vreemde naam Pixley ka Isaka Seme? ’n Lang tyd was
hy byna totaal onbekend, dog hy word vandag deur baie mense as een van
Suid-Afrika se belangrikste geskiedkundige figure beskou word. Hy
was enersyds ’n flambojante middelklas-intellektueel en regsgeleerde, wat
in die buiteland opgelei is en ’n regspraktyk in Johannesburg gehad het.
Hy was getroud met Harriet,
’n dogter van koning Dinuzulu van Zoeloeland, en daar is gesê dat hy self
’n nefie van Umqawe, een van die magtigste hoofmanne van Zoeloeland, was.
Die laasgenoemde bewering word egter in sekere kringe betwyfel wat aanvoer
dat hy eintlik uit ’n nederige Tonga-familie gestam het. Altwee sy ouers
was Christene en is dood toe hy nog ’n jong seun was (Die ka Isaka in sy
naam vertel dat hy die seun van Isak was). Seme
was andersyds ook ’n passiewe, behoudende idealis. Daarby was hy ook ’n
belydende Christen wat kon skryf oor "die groot triomf van die
Christendom, wat mense oral
leer dat hulle in hierdie wêreld ’n gemeenskaplike plig teenoor God en
teenoor mekaar het". Hy het boonop gevoel dat "die grootste
suksesse sal kom wanneer die mensdom geleer het om met alle volkere en alle
lewe saam te werk". Hy
is wel nie aanvanklik tot voorsitter van die ANC gekies nie, maar het as
tesourier in die hoofbestuur gedien. Sy kans om voorsitter te word het darem
in die jare dertig gekom toe hy boonop ’n vasbeslote poging aangewend het
om die invloed van die Kommuniste in die ANC te kelder. Dit is egter ironies
dat die man wat die ANC-skip in 1912 van stapel laat loop het, dit byna ook
laat sink het toe hy die voorsitter was. ’n Kombinasie van gebrek aan
belangstelling en korrupsie het destyds byna die organisasie verwoes. Pixley
ka Isaka Seme is in
1951 in Johannesburg oorlede.
NELSON
ROLIHLAHLA MANDELA is in die winter van 1918 in die nederigste omstandighede
in een van die hutte van die statjie Mvezo langs die Mbasherivier naby
Umtata in Transkei gebore. Hy sou mooi herinneringe oorhou van die Metodiste-sendingstasie
Qunu, waarheen hy saam met sy ma verhuis het nadat sy pa oorlede is toe nege
jaar oud was.
Dat hierdie Temboe-seun later in sy veelbewoë lewe eers ’n martelaar sou
word in die apartheidsera van Suid-Afrika om daarna sy land aan die einde
van die twintigste eeu seëvierend ’n nuwe tydvak binne te lei, sou geen
sterfling toe nog kon voorsien het nie. Mandela
se epiese reis van ’n veroordeelde vryheidsvegter tot triomferende
staatshoof van ’n nie-rassige Suid-Afrika—regdeur sy 27 jaar in die
tronk as ’n politieke gevangene—sou maak dat hy deur geskiedskrywers
gehuldig word as een van grootste internasionaal-erkende ringkoppe van die
twintigste eeu. Van
1934 tot 1938 ontvang hy opleiding aan die Metodistekolleges Clarkebury en
Healdtown en in 1939 en 1940 studeer hy aan die Universiteit van Fort Hare,
’n sentrum van die swart intellektuele elite. In 1941 verhuis hy na
Johannesburg, werk ’n tyd lank in die goudmyne en maak kennis met Walter
Sisulu, deur wie se bemiddeling hy deur die liberale blanke regspraktisyn
Lazar Sidelsky as ’n leerling-prokureur aangestel word. In 1943 tot 1949
studeer hy in die regte aan die destyds hoofsaaklik blanke Universiteit van
die Witwatersrand. En
van 1943 af word sy lewe dramaties deur sy poltieke oortuiginge oorheers.
Sowat twee dekades later word hy in 1964 deur die
polisie gevang ná meer as ’n jaar op vrye voet, waartydens hy onder die
naam The Black Pimpernel bekend geword het. In Junie daardie jaar word hy in
die sogenaamde Rivonia-verhoor aan sabotasie en verraad skuldig bevind en
tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Daar was agt beskuldigdes in die
saak—ses swartes en twee blankes. Mandela is in sy eerste tronkjare op
Robbeneiland aangehou, waar hy klippe moes kap in ’n kalkmyn. Ná
sy vrylating in 1990 het hy van 1991 tot 1997 as ANC-voorsitter gedien en in
1994 die eerste president van die nuwe demokratiese Suid-Afrika geword. Hy
het in 1999 afgetree. Hy
het drie keer getrou, eers met Evelyn Mase, daarna met Winnie Madikizela, en
hy is vandag getroud met Graca Machel, weduwee van die voormalige
Mosambiekse president Samora Machel. In
sy skemerjare bly Nelson Mandela steeds een van die wêreld se mees geëerde
staatsmanne. Sedert sy aftrede het hy Suid-Afrika se voorste nie-amptelike
ambassadeur geword, met verbete veldtogte teen MIV/vigs en om ons land se
poging te laat slaag om in 2010 die toernooi om die Wêreldsokkerbeker aan
te bied. Die
rol van die ANC in die hedendaagse politiek DIE
ANC is vandag so magtig dat hy die landsbestuur op sentrale, provinsiale en
plaaslike vlak oorheers—volgens onafhanklike ontleders met wisselende mate
van sukses. Veral
op plaaslike vlak, in sekere ANC-beheerde munisipaliteite, floreer korrupsie
en laat dienslewering veel te wense oor. Dit het al tot onstuimige betogings
deur ontevrede inwoners gelei. Ontleders wyt die swak prestasies en korrupte
bestuur aan verskillende faktore. In ontredderde gemeenskappe, te lank
deurdronge van armoede en ’n bitter stryd om oorlewing—sê die
waarnemers—sou apatie en die sug na selfverryking maklik inherent aan die
lewenspatroon kon word. In
die Oos-Kaap is korrupsie op provinsiale vlak ook reeds oopgevlek. In al die
provinsies swaai die ANC nou
die septer, nadat die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal voorheen onder die bewind
van ander partye was. In die provinsies gaan dit in die reël darem nie te
sleg op bestuursvlak nie. Trouens, in byvoorbeeld die Wes-Kaap word daar
klaarblyklik nie op die louere gerus nie. In
die sentrale regering word enersyds uitstekende werk gedoen, soos deur
minister Trevor Manuel met die land se finansies, sê die ontleders, maar
aan die ander kant is daar lank nie genoeg dringendheid in die stryd teen
die dodelike vigspandemie en om misdaad hok te slaan nie. En uitsprake deur
’n minister van gesondheid dat knoffel teen vigs ingespan moet word, kan
die land net lagwekkend maak in die oë van die ontwikkelde wêreld. Tog
word die ANC-regering wyd en syd geloof vir sy inisiatiewe om vrede en
stabilteit in Afrika te help verseker en sy volgehoue stryd om die vasteland
in sy geheel op te hef sodat sy brandarm miljoene uiteindelik ook hul
spreekwoordelike plekkie in die son kan kry. Intussen
kan niemand ontken dat die ANC-regering ’n uiters onbenydenswaardige taak
het om sy plaaslike swart massas uit hul ellende te verlos en dit boonop op
só ’n wyse te probeer doen dat die voorheen bevoordeelde blankes nie
dermate veronreg word dat hulle almal sak en pak die land uit vlug nie. Te
veel het reeds gedoen. |