Anoreksie
en bulimieDie hartseer van die jongmens-waansin
Eetverstorings word gekenmerk word deur ’n skokkende selfuithongering… of ’n vreeslike ooretery wat dan gevolg word deur ’n fanatieke “skoonmakery” van die liggaam. Maar die lyers kan gehelp word. En hoe gouer dit gedoen word hoe beter... |
|
UZAAN*)
het soos ’n geraamte gelyk—en dis geen oordrywing of gekorswel nie.
Om die waarheid te sê, geen regdenkende mens sou wou skerts oor wat met
haar voorheen mooi liggaam aan die gebeur was nie. Maar telkens wanneer
sy voor die spieël gestaan het, het haar verwronge waarneming haar
wysgemaak dat sy steeds heeltemal te vet
is. Dan het sy haarself gedwing om selfs nog minder te eet.
Piepklein porsies soos vir die spreekwoordelike voëltjie. Die
jong Suzaan sou heel moontlik vandag—voor haar twintigste
verjaardag—in haar graf gewees het, as haar liefdevolle ouers nie die
professionele hulp gekry het wat haar op die pad van herstel geplaas het
nie. En noudat sy deur die meul is, weet sy presies hoe om ander te help
wat in dieselfde strik vasgevang raak. Sy gebruik haar kennis ten goede. Genadiglik
het sy ook haar vorige skoonheid herwin en staan sy selfs haar plekkie
vol as ’n jeugdige berader. En met ’n wysheid ver bo haar jare kan
sy uit veelbewoë ervaring praat: “Eetverstoring is ’n wanfunksie
van die liggaam sowel as die gees, maar daar is ongelukkig nog soveel
onkunde hieroor dat baie meer inligtingsprojekte nodig is.” |
|
|
Eetverstorings en wat dit beteken |
|
|
Om
te dieet dat jy soos ’n Barbie-poppie lyk—wat ongelukkig ook dikwels
beteken dat jy skraler sal wees as wat vir jou nodig is om gesond te
wees—word oral in vandag se samelewing as die groot ideaal voorgehou.
Met kleremodes, verkoopveldtogte vir spesiale voedselsoorte en wat nog
alles word die onberade boodskap ingehamer dat dit mooi is om rietskraal
te wees. Wee diegene wat nog molllig is, want hulle is nie in tel nie. Dat
só ’n milieu die teelaarde vir eetverstorings is, verbaas die
sielkundiges nie. Of dit die kernoorsaak daarvan is, bly egter ’n ope
vraag. Hoe ook al, eetverstorings behels ernstige wanbalanse in die
eetgedrag, soos ’n ongesonde selfuithongering of
’n massiewe ooretery, gepaard met angsgevoelens of ’n uiterse
besorgdheid oor ’n mens se liggaamsvorm of -gewig. Navorsers
probeer reeds geruime tyd vasstel hoe en hoekom aanvanklike vrywillige
gedrag, soos om minder of meer kos as gewoonlik te eet, in die een of
ander stadium by sekere mense hand-uit ruk en in ’n eetverstoring
ontaard. Studies het getoon dat selfs die basiese biologiese aspekte van
aptytbeheer en langdurige uithongering of ooretery geweldig ingewikkeld
is. Tog word ernstig gehoop dat al die navorsing mettertyd tot
doeltreffende kure vir eetverstorings sal lei. Die
twee hoofsoorte eetverstorings staan bekend as anorexia nervosa (of
anoreksie) en bulimia nervosa (of bulimie). Sulke verstorings ontwikkel
dikwels tydens die adolessensie of vroeë grootmensjare, maar volgens
sommige verslae kan dit reeds in die kindertyd of later in die volwasse
leeftyd kop uitsteek. Eetverstorings
gaan baiemaal gepaard met ander sielkundige verstorings soos depressie
en angstoestande. Boonop kan die pasiënte ook liggaamlike probleme soos
ernstige hartsiekte of nierversaking ontwikkel, wat tot die dood kan
lei. Dit is dus uiters noodsaaklik dat eetverstorings as egte en
behandelbare siektes erken sal word. |
|
|
Anorexia nervosa (anoreksie) |
|
|
Krediet: 4woman.gov / U.S. Department of Health and Human Services Die
verloop en gevolg van anorexia nervosa kan van persoon tot persoon
verskil. Party herstel ten volle ná ’n enkele episode; sommige ervaar
’n wisselende patroon van gewigstoename en insinking; nog ander beleef
’n chroniese verval oor baie jare. Sielkundiges
reken anoreksie is eintlik nie ’n siekte op sigself nie, maar ’n
simptoom van ’n diepgesetelde emosionele probleem wat baie met
gesinsverhoudinge te doen het. Dit kan gebruik word as ’n instrument
om besorgde ouers mee te manipuleer. Hoewel dit nie volledig begryp word
nie, word anorexia nervosa selfs beskou as ’n onbewustelike
verwerping van die naderende volwassenheid, asof die meisie ontuis voel
in die liggaam van ’n vrou. Dit kan egter nie geld vir byvoorbeeld
anoreksie wat in reeds in die kindertyd voor adolessensie voorkom nie. Só is daar enkele jare gelede in
Hongkong vasgestel dat die kinders daar se beheptheid met hul gewig aan
die toeneem is. Volgens 'n peiling wou 44 persent van laerskoolleerlinge
tussen nege en elf maerder wees. Kinders so jonk as tien jaar is toe al
met anorexia nervosa en ander soortgelyke toestande gediagnoseer.
“Modelle se plankdun lyfies word dikwels as aantreklik voorgehou,”
het ’n professor gesê. “Selfs in tekenprogramme op televisie word
die goeie karakters maer geteken terwyl die skelms vet is.” Dit lyk
dus of die moderne boodskap dat maer mooi is wel ’n beduidende rol in
die toestand kan speel. In
Amerika is al geskat dat 0,56 persent van anoreksie-lyers jaarliks
sterf, maar ’n ander bron stel die sterftesyfer vir sulke lyers oor
’n onbepaalde tyd op ’n skrikwekkende 18 persent. Die algemeenste
doodsoorsake is komplikasies van die verstoring, soos hartverlamming of
elektroliet-wanbalans, of selfmoord. Die
volgende simptome soos beskryf in die boek Dokter in die Huis**) deur
dr. Jan van Elfen, volledig hersien deur dr. Don du Toit, is ook baie
insiggewend: “Die
eerste teken van die siekte is gewoonlik dat die meisie ál minder eet.
'n Anoreksielyer sal moedswillige uithongering dikwels afwissel met
vraatsugtige eetstorms. Daarop volg braking wat self aangebring word.
Hierdie etery geskied gewoonlik in die geheim en die kos het gewoonlik
min voedingswaarde. “
’n Gedurige braakselreuk of bewuswording van die lyer se braakgewoonte
is soms die eerste simptoom wat ’n vermoede van anorexia nervosa by
gesinslede of ’n kamermaat wek. Om ander te bedrieg sal so iemand soms
voorgee om te eet, maar die kos versteek of weggooi. Nadat sowat 12 kg
massa verloor is van die vlak wat as die standaardmassa beskou word, hou
menstruasie op en word die liggaam met donshare bedek. “Aanvanklik
is die meeste anoreksielyers baie energiek en verbrand liggaamsenergie
met draf en ander fisieke aktiwiteite. ’n Lyer sal miskien smaaklike
maaltye vir ander berei om voor te gee alles is normaal, maar self nie
haar mond aan die kos sit nie. “Die
uitgehongerde word geleidelik ’n tam, willose geraamte met ’n bleek,
papierdun vel. Hardlywigheid (konstipasie) is meestal 'n newe-effek van
die uithongering. Daarom wend die meeste lyers hulle tot lakseermiddels
in die geloof dat dit verslanking sal aanhelp. Op die duur, indien dit
nie uit die staanspoor reeds aanwesig is nie, volg depressie.” **) Uitgegee
2001 deur Tafelberg-Uitgewers Beperk, Kaapstad, ISBN 0 624 039 633. |
|
|
Bulimia nervosa (of bulimie) |
|
|
Omdat
die episodes van ooretery deur die gebruik van purgasies en ander
“vergoedende” handelinge gevolg word, is die gewig van bulimie-lyers
gewoonlik min of meer normaal vir hul ouderdom en liggaamslengte. Maar
soos anoreksie-lyers kan hulle ook doodbang wees om gewig aan te sit en
voel hulle uiters ontevrede oor hul liggame. Bulimie-lyers doen dikwels
hul dinge in die geheim, voel gewalg en skaam as hulle hulle so ooreet,
maar is tog verlig wanneer hulle weer die liggaam “reinig” van al
die kos wat hulle verslind het. Daar
is sielkundiges wat reken dat ’n derde groot eetverstoring by bulimie
en anoreksie gevoeg behoort te word. Dis ’n toestand wat oënskynlik
op blote vraatsug dui, maar dis blykbaar heelwat ingewikkelder as dit.
Net soos bulimie word dit deur bepaalde tydperke van groot ooretery
gekenmerk, met die verskil dat die lyers nie hul liggame agterna met
alle middels tot hul beskikking probeer skoonspoel nie. Gevolglik is
baie van die lyers oorgewig, maar hul gevoelens van selfveragting en
skaamte skep ’n bose kringloop van herhaalde ooretery. |
|
|
Behandeling van eetverstorings |
|
|
Omdat
die verstorings so kompleks van aard is, en die simptome van lyers
boonop onderling kan verskil, is ’n omvattende behandelingsplan vir
elke geval nodig. Dit sluit in mediese sorg en monitering, psigososiale
ingrypings, voedingsberading en, waar nodig, die toediening van
medisyne. Wanneer die diagnose gemaak word, moet die huisdokter,
psigiater of kliniese sielkundige besluit of die lyer in onmiddellike
gevaar verkeer en dus in die hospitaal opgeneem moet word of nie. Mense
met eetverstorings besef of erken gewoonlik nie dat hulle ’n ernstige
probleem het nie. Gevolglik kan hulle hulle kwaai verset teen enige
pogings om hulle te laat behandel of botweg weier om vol te hou met die behandeling
wat hulle wel ontvang. Gesinslede en ander vertrouelinge kan dus ’n
groot rol speel om te help verseker dat hulle die nodige sorg kry en
gerehabiliteer raak. Ook hier is liefde die wagwoord. *) Naam
versin. |
|
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |