|
|
|
Teks gegrond op inligting deur GILLIAN BUNCE JY
het moontlik al baie foto's gesien wat die sublieme skoonheid van
Antarktika beklemtoon. Maar ondanks al sy skouspelagtigheid is hierdie
bevrore vasteland ook een van die mees verlate plekke op aarde. Want
Antartika is nie werklik ’n plek vir mense nie. Nêrens
op aarde is die weer so verskriklik nie. Dis selfs erger as by die
Noordpool, wat ietwat warmer is omdat die ysdek daar so naby aan die
seevlak is. Die laagste temperature op aarde word by Antarktika
aangeteken. In die middel van die somer, in Januarie, styg die kwik nie
eens tot naby die vriespunt nie. Die
winde is ook ontsettend. Stormwinde van sowat 320 km/h is niks ongewoons
nie. En dis verrassend droog—droër as selfs in die Sahara-woestyn. Die
uitwerking van hierdie klimaatstoestande op die brose menslike liggaam
is ontstellend, om die minste te sê. Stormwinde wat vanuit die
binnelandse plato waai, droogbevries ’n mens se vleis. Ysnaalde vorm in
jou winkbroue en ooghare. In die koudste streke vries die wasem wat ’n
mens uitblaas sommerso in die lug. Haal jy te vinnig asem, vorm ys in
jou longe en raak jy aan die hoes. As
jy met jou kaal hande aan metaal raak, kleef dit daaraan vas; sou jy
probeer losruk, skeur jy jou vel af. As jy jou son- of skermbril
vergeet, maak die sonlig wat van die sneeu af weerkaats jou blind. Genoeg rede om daar weg te bly? Wie sê! ’n Paar duisend wetenskaplikes en helpers van meer as ’n dosyn lande en ’n aantal duisend toeriste stroom elke jaar soontoe. Waarom?
Ryk
toeriste besoek Antarktika vanweë sy skouspelagtige natuurskoon. Dit is
die land van enorme pikkewyn-broeiplekke, sombere geskiedkundige
besienswaardighede, die middernagson en die spookagtige aurora
australis (suiderlig). Uit die wetenskaplikes se oogpunt is Antarktika soos ’n reuse laboratorium waar die aarde en die skade wat ons hom berokken, bestudeer kan word. Vasgevang in die ys is antieke lugmonsters en meteoriete. Ysmonsters wat met bore verkry word, bevat inligting omtrent die sneeuval en klimaat van selfs duisende jare gelede. Die
klein deeltjie land wat nie onder ys begrawe is nie, bevat die fossiele
van plant en diere wat daar voorgekom het toe die klimaat nog subtropies
was. Dieselfde soort fossiele is in Afrika, Suid-Amerika en Indië in Asië
gevind, wat die teorie onderskryf dat dié drie vastelande eenmaal met
mekaar verbind was. Vanweë
sy afsondering en die omgewingsbeskerming wat hy nog altyd geniet het, is
Antarktika so naby aan ongerep as kan kom (hoewel spore van
fabriekschemikalieë en afvalstowwe van elders reeds diep in sy ys gevind
is). Die lug by Antarktika is die skoonste op aarde. En omdat dit so droog
is, bied dit wetenskaplikes wat die weer bestudeer ook ’n ideale venster
waardeur hulle in die lug in kan tuur. Antarktika
is soos ’n barometer waarmee die gesondheid van die planeet gemeet kan
word. Die sogenaamde gat in die osoonlaag is byvoorbeeld die eerste keer
hier ontdek, wat mense bedag gemaak het op die gevaar van chemikalieë wat
skadelik vir die osoonlaag is. En deur die bestudering van Antarktika se
unieke en brose lewensvorms word noodsaaklike inligting oor die gevare van
omgewingsvernietiging verkry. Antarktika
se waarde as laboratorium kan vandag kwalik oorskat word. Maar dinge was
nie altyd so eenvoudig nie. Nadat ontdekkers die bevrore vasteland in die
eerste helfte van die twintigste eeu ontsluit het, het verskeie lande dele
daarvan vir hulself opgeëis—met die onvermydelike internasionale
geskille wat daarop gevolg het. In
die loop van die Internasionale Geofisiese Jaar—’n program van
wetenskaplike navorsing wat van die middel van 1957 tot die einde van 1958
geduur het—het twaalf lande meer as vyftig navorsingstasies op
Antarktika en die nabygeleë eilande gebou. Suid-Afrika was ook onder
hulle.
Foto: Zee Evans, National Science Foundation / Vergunning US National Science Foundation Die
program was so geslaag dat ’n ooreenkoms, die sogenaamde Antarktiese
Verdrag, in 1959 onderteken is. Dit het in 1961 in werking getree.
Aansprake op grondgebied is ter syde gestel en die vasteland is vir ’n tydperk van dertig jaar vir vreedsame doeleindes bewaar. Die verdrag is in
1991 hernieu en talle lande het dit onderteken. Hierdie ooreenkoms is ’n uitstekende voorbeeld van internasionale welwillendheid en samewerking. Maar hoe lank dit gaan duur, is natuurlik ’n ope vraag. Antarktika het ryk neerslae steenkool, goud, koper, yster, lood, mangaan, sink en ander minerale, en oliebore het getoon dat daar moontlik olie onder die see by die kus is. Namate die wêreld se mense meer word, gaan die druk heel moontlik groter word om hierdie hulpbronne te ontgin. FEITE
OOR DIE BEVRORE VASTELAND
Foto: Henry Kaiser, US National Science Foundation / Met vergunning van US National Science Foundation • Die geografiese Suidpool is die plek waar die aarde se lengtelyne mekaar ontmoet. Die ys by die pool is byna 3 km dik. ’n Geweldig dik ysveld bedek Antarktika en die see in die bevrore inhamme. Elke sneeulaag wat val, pers die sneeu daaronder saam.
Foto: Steven Profaizer, US National Science Foundation / Met vergunning van US National Science Foundation • By
die pole wissel dag en nag nie mekaar af soos by ons nie. Gedurende die
''dag''—wat die hele somer duur—gaan die son nooit onder nie. Dit
draai net in die rondte bokant die horison. Die Suidpoolnag begin in
Maart, met ’n skemeraand van ’n maand. Die ''oggend'' is ses maande later.
In die winterhemel draai die sterre heeltyd in
die rondte, pleks van op te kom of onder te gaan soos elders op
aarde. • Die
vasteland word deur die Transantarktiese berge in twee gebiede verdeel—Wes-Antarktika, wat suid van die Amerikas lê, en Oos-Antarktika, suid van
Afrika, Asië en Australië. (Die Transantarktiese berge is in der
waarheid ’n verlenging van die Andesgebergte in Suid-Amerika.) • Die dik laag ys en sneeu waaronder die grootste deel van die vasteland lê, word die Antarktiese ysdek genoem. Gletsers kruip stadig oor die ysdek see toe. Groot plate van die ysdek dryf in sekere kusgebiede op die water. Die grootste hiervan, die Ross-ysbank, is byna die helfte so groot soos Suid-Afrika. Waar groot plate van die binnelandse ysdek by sekere kusgebiede oor die water uitstrek, word dit ysbanke genoem. Elke somer kalf groot hompe ys van die ysbanke af weg om ysberge te vorm. Die ysberge is eers plat van bo, maar na gelang hulle na warmer water wegdryf en geleidelik begin smelt, breek hulle in kleiner stukke met onreëlmatiger vorms op.
Foto van Anverseiland op ’n Julie-dag: Zee Evans, US National Science Foundation / Met vergunning van US National Science Foundation Krediet vir foto van Erebus-fumarole: National Science Foundation / US Antarctic Program; foto deur Aaron Spitzer/Raytheon Polar Services Company (1990) |
|