Leisure Books

Die einde van apartheid

— só het dit gebeur


Suid-Afrika se transformasie in die jare tagtig en negentig tot en met die eerste veelrassige verkiesing in 1994

Die ou en die huidige Suid-Afrikaanse vlag
   

A

PARTHEID. Tot in lengte van dae sal dit ’n woord bly wat vir baie mense met intense emosies belaai is. Dit is in Suid-Afrika gewettig en ons land is as gevolg daarvan deur die hele wêreld verguis. En toe het apartheid gesterf... ná ’n tyd van ontsettende storm en drang waarna ’n gees van versoening tog uiteindelik oor al die haat sou seëvier. Daarom is dit so belangrik dat ons sal weet hoe die nuwe Suid-Afrika werklik tot stand gekom het.

Dit was die grondwetlike hervormings van die jare tagtig wat tot vier fases van politieke verandering gelei het—die veranderings wat uiteindelik die hele Suid-Afrikaanse politieke bestel onherroeplik sou omkeer.

F.W. de Klerk en Nelson MandelaVir eers was daar die grondwet van 1983, waarin nuwe politieke verteenwoordiging (ofskoon in afsonderlike huise van die parlement) aan die Indiërs en die sogenaamde Kleurlinge toegestaan is. Wat egter noodwendig gebeur het, was dat dit die gebrek aan politieke deelname deur die groot swart meerderheid des te duideliker laat uitstaan het.

Reeds in die vroeë stadiums toe die beplande nuwe grondwet nog net bespreek is, was daar wydverspreide verset daarteen onder die aktiviste wat hulle vir die beëindiging van apartheid beywer het. Die toenemende geweld het die regering gedwing om ’n reeks noodtoestande af te kondig. Dit het die regering en baie blanke Suid-Afrikaners laat besef dat ingrypende politieke hervormings nodig was om ook die swartmense te betrek, trouens, dat dit ’n saak was wat al hoe dringender geword het.

Die tweede fase van die verandering was ’n reeks geheime vergaderings tussen amptenare van die regerende Nasionale Party en ANC-leiers wat toe in die gevangenis was. Hierdie vergaderings het in Julie 1984 begin, nadat die Minister van Justisie, Kobie Coetsee (wat pres. P.W. Botha verteenwoordig het), verskeie ongepubliseerde besoeke afgelê het by die ANC-leier Nelson Mandela, wat toe besig was om die 21ste jaar van sy lewenslange tronkstraf uit te dien.

Die regering het hierdie besoeke in Mei 1988 geformulariseer deur ’n komitee in die lewe te roep wat regeringskontakte met Mandela en met ander gevange of uitgeweke ANC-leiers sou hanteer. Op 5 Julie 1989 het Botha en Mandela vir die eerste keer van aangesig tot aangesig beraadslaag. Dit was in antwoord op Mandela se versoek vir samesprekings op ’n hoë vlak om ’n moontlike onderhandelde skikking met betrekking tot die ANC se gewapende stryd te bespreek.

Botha het in Augustus 1989 as president bedank, nadat hy kort tevore ’n beroerte gehad het. Hy het egter nie werklik weens sy siekte uitgetree nie, trouens, dit was vir almal duidelik dat daar in sy eie binnekring verset teen sy leierskap was. Ontleders sê dit was omdat sy kabinet gereken het dat sy pas van hervorming nie vinnig genoeg was nie en dat sy bestuurstyl te kragdadig was in ’n hoogs netelige toestand wat die uiterse diplomasie geverg het. In watter mate dit werklik so was, sal baie mense stellig vir hulself wil besluit.

Hoe ook al, in Desember 1989 het Mandela ’n "padkaart" vir toekomstige onderhandelings aan die nuwe president, F.W. de Klerk, voorgestel. Mandela het ’n plan van magsdeling aan die NP en sy politieke opponente voorgelê, in ’n gesindheid van tegemoetkoming wat broodnodig sou wees in die onstuimige politieke tyd wat sou voorlê.

Hierdie samesprekings het tot die derde, en mees transformerende, fase van die veranderende bestel gelei. Dit het met De Klerk se geskiedkundige toespraak op 2 Februarie 1990 begin. In hierdie toespraak in die parlement het hy onder meer die vrylating van agt langtermyn- politieke gevangenes, onder wie Mandela, gelas en meer as dertig anti-apartheidsorganisasies gewettig. De Klerk het ook aangekondig dat hy voornemens was om met sy politieke teenstanders oor ’n nuwe demokratiese grondwet te onderhandel. In Oktober daardie jaar het die parlement ’n simboliese stap in die rigting van hervorming gedoen deur die Wet op Afsonderlike Geriewe—’n belangrike steunpilaar van apartheid—te herroep.

Die vierde fase van die politieke transformasie het gebeur toe die NP-regering en ANC-leierskap begin besef hoe afhanklik hulle in der waarheid van mekaar is en hoe noodsaaklik ’n gesindheid van samewerking en gee-en-neem in die onderhandelings vir ’n nuwe grondwet nou eintlik is.

In hierdie fase is hul historiese vyandskap deur beraadslagings en drie ooreenkomste in ’n gees van medewerking verander. Die drie ooreenkomste was die Groote Schuur-Minuut (Mei 1990), die Pretoria-Minuut (Augustus 1990) en die D.F. Malan-Akkoord (Februarie 1991). Hierin het ANC-leiers onderneem om die gewapende stryd op te skort, terwyl die regering ingestem het om alle politieke gevangenes vry te laat. Daarbenewens het altwee kante ooreengekom om politieke hervorming deur onderhandeling na te streef.

Op 14 September 1991 het verteenwoordigers van 27 politieke partye, belanghebbende groepe en die nasionale regering sowel as die regerings van die tuislande die Nasionale Vredesakkoord (National Peace Accord) onderteken. Daarin is ooreengekom om ’n veelrassige raad in die lewe te roep—later die Uitvoerende Oorgangsraad genoem—wat as ’n uitvoerende gesag moes dien tot tyd en wyl ’n demokratiese verkiesing gehou kon word.

Byna drie maande ná die ondertekening van die geskiedkundige vredesakkoord het voorlopige beraadslagings oor die  onderhandelingsprosedure  by die Wêreldhandelsentrum buite Johannesburg begin. Dit is Kodesa—die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika—genoem.

In September 1992 het Mandela en De Klerk tot ’n verstandhouding gekom waarkragtens altwee kante hulle formeel verbind het om ’n demokraties verkose Regering van Nasionale Eenheid vir 'n oorgangstyd van vyf jaar te aanvaar. Dit het belangrike toegewings van sowel die regering as die ANC geverg, maar die reëling het die NP se eis bevredig vir wetlike wigte en teenwigte om die land se blanke minderheid te beskerm. Die ANC het ook afgesien van sy eis vir ’n volle en onmiddellike meerderheidsregering deur in te stem om vir minstens vyf jaar deel te hê aan ’n reëling van magsdeling.

Die tussentydse grondwetDie Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1993 (Wet No. 200)—is op 22 Desember 1993 bekragtig en op 27 April 1994 geïmplementeer. Daarkragtens is ’n raamwerk daargestel vir die landbestuur oor ’n tydperk van vyf jaar, terwyl bepaal is dat ’n nuwe grondwet teen 1999 in werking gestel moes word. Die finale grondwet moes strook met die beginsels wat in die tussentydse grondwet vervat is, waaronder ’n verbintenis tot ’n veelparty-demokrasie gegrond op algemene volwasse stemreg en individuele regte sonder diskriminasie. (Die Suid-Afrikaanse geskiedenis in die tyd van die oorgangsregering vorm ’n ander interessante studieonderwerp, waaroor dalk later op ’n afsonderlike webblad meer vertel kan word.)

Tot die nie-rassige verkiesing van April 1994 was die Suid-Afrikaanse verkiesings onderhewig aan die wette van apartheid. Ingevolge die grondwet van 1983 moes stemgeregtigdes hul verteenwoordigers kies in drie afsonderlike huise van die parlement wat op ras gegrond was (die rade vir blankes, Kleurlinge en Indiërs). Dit het meegebring dat daar byvoorbeeld in die parlementêre verkiesing van 1989 slegs twee miljoen plus stemme uitgebring is, terwyl daar meer as drie miljoen geregisteerde kiesers en ’n totale bevolking van byna 28 miljoen was.

Toe Suid-Afrikaners egter in 1994 na die stembus gaan, is die kieserskorps op 21,7 miljoen geraamvan wie sowat 16 miljoen nooit voorheen gestem het nie. Uiteindelik is aangekondig dat 19.726.579 stembriewe getel is, waarvan 193.081 bedorwe was.

Nelson MandelaSewe politieke partye het genoeg stemme gekry om setels in die Nasionale Vergadering te verwerf: die ANC 252 setels (62,6 persent van die stemme); die NP 82 setels (20,4 persent); die Inkatha Vryheidsparty (IVP) 43 setels (10,5 persent); die Vryheidsfront (VF) 9 setels (2,2 persent); die Demokratiese Party (DP) 7 setels (1,7 persent); die Pan Africanist Congress (PAC) 5 setels (1,2 persent); en die African Christian Democratic Party (ACDP) 2 setels (0,5 persent). Twaalf ander partye het te min stemme gekry om verteenwoordiging in die Nasionale Vergadering  te geniet.

Elk van die sewe groot partye het ook verteenwoordiging in minstens een van die nege provinsiale regerings verkry (die vier provinsies van die ou Suid-Afrika is in nege provinsies heringedeel). Die ANC het  in sewe provinsiale regerings die meeste stemme op hom verenig. Die IVP het die beheer in KwaZulu-Natal verkry en die NP in die Wes-Kaap (hierdie toedrag van sake het natuurlik intussen verander).

En met daardie geskiedkundigde verkiesing van 27 April 1994 is gewettigde apartheid in Suid-Afrika toe ook oplaas begrawe.

Hoofbron: http://countrystudies.us/south-africa (behoort in nuwe venster te verskyn indien jy aan die internet gekoppel is).