|
|
|
A |
PARTHEID.
Tot in lengte van dae sal dit ’n woord bly wat vir baie mense met
intense emosies belaai is. Dit is in Suid-Afrika gewettig en ons land is
as gevolg daarvan deur die hele wêreld verguis. En toe het apartheid
gesterf... ná ’n tyd van ontsettende storm en drang waarna ’n gees
van versoening tog uiteindelik oor al die haat sou seëvier. Daarom is
dit so belangrik dat ons sal weet hoe die nuwe Suid-Afrika werklik tot
stand gekom het.
Dit was die grondwetlike hervormings van die jare
tagtig wat tot vier fases van politieke verandering gelei het—die
veranderings wat uiteindelik die hele Suid-Afrikaanse politieke bestel
onherroeplik sou omkeer.
Vir
eers was daar die grondwet van 1983, waarin nuwe politieke
verteenwoordiging (ofskoon in afsonderlike huise van die parlement) aan
die Indiërs en die sogenaamde Kleurlinge toegestaan is. Wat egter
noodwendig gebeur het, was dat dit die gebrek aan politieke deelname
deur die groot swart meerderheid des te duideliker laat uitstaan het.
Reeds in die vroeë stadiums toe die beplande nuwe
grondwet nog net bespreek is, was daar wydverspreide verset daarteen
onder die aktiviste wat hulle vir die beëindiging van apartheid beywer
het. Die toenemende geweld het die regering gedwing om ’n reeks
noodtoestande af te kondig. Dit het die regering en baie blanke
Suid-Afrikaners laat besef dat ingrypende politieke hervormings nodig
was om ook die swartmense te betrek, trouens, dat dit ’n saak was wat
al hoe dringender geword het.
Die tweede fase van die verandering was ’n reeks
geheime vergaderings tussen amptenare van die regerende Nasionale Party
en ANC-leiers wat toe in die gevangenis was. Hierdie vergaderings het in
Julie 1984 begin, nadat die Minister van Justisie, Kobie Coetsee (wat
pres. P.W. Botha verteenwoordig het), verskeie ongepubliseerde besoeke
afgelê het by die ANC-leier Nelson Mandela, wat toe besig was om die
21ste jaar van sy lewenslange tronkstraf uit te dien.
Die regering het hierdie besoeke in Mei 1988
geformulariseer deur ’n komitee in die lewe te roep wat
regeringskontakte met Mandela en met ander gevange of uitgeweke
ANC-leiers sou hanteer. Op 5 Julie 1989 het Botha en Mandela vir die
eerste keer van aangesig tot aangesig beraadslaag. Dit was in antwoord
op Mandela se versoek vir samesprekings op ’n hoë vlak om ’n
moontlike onderhandelde skikking met betrekking tot die ANC se gewapende
stryd te bespreek.
Botha het in Augustus 1989 as president bedank, nadat
hy kort tevore ’n beroerte gehad het. Hy het egter nie werklik weens
sy siekte uitgetree nie, trouens, dit was vir almal duidelik dat daar in
sy eie binnekring verset teen sy leierskap was. Ontleders sê dit was
omdat sy kabinet gereken het dat sy pas van hervorming nie vinnig genoeg
was nie en dat sy bestuurstyl te kragdadig was in ’n
hoogs netelige toestand wat die uiterse diplomasie geverg het. In watter
mate dit werklik so was, sal baie mense stellig vir hulself wil besluit.
Hoe ook al, in Desember 1989 het Mandela ’n
"padkaart" vir toekomstige onderhandelings aan die nuwe
president, F.W. de Klerk, voorgestel. Mandela het ’n plan van
magsdeling aan die NP en sy politieke opponente voorgelê, in ’n
gesindheid van tegemoetkoming wat broodnodig sou wees in die onstuimige
politieke tyd wat sou voorlê.
Hierdie samesprekings het tot die derde, en mees
transformerende, fase van die veranderende bestel gelei. Dit het met De
Klerk se geskiedkundige toespraak op 2 Februarie 1990 begin. In hierdie
toespraak in die parlement het hy onder meer die vrylating van agt
langtermyn- politieke gevangenes, onder wie Mandela, gelas en meer as
dertig anti-apartheidsorganisasies gewettig. De Klerk het ook
aangekondig dat hy voornemens was om met sy politieke teenstanders oor
’n nuwe demokratiese grondwet te onderhandel. In Oktober daardie jaar
het die parlement ’n simboliese stap in die rigting van hervorming
gedoen deur die Wet op Afsonderlike Geriewe—’n belangrike
steunpilaar van apartheid—te herroep.
Die vierde fase van die politieke transformasie het
gebeur toe die NP-regering en ANC-leierskap begin besef hoe afhanklik
hulle in der waarheid van mekaar is en hoe noodsaaklik ’n gesindheid
van samewerking en gee-en-neem in die onderhandelings vir ’n nuwe
grondwet nou eintlik is.
In hierdie fase is hul historiese vyandskap deur beraadslagings
en drie ooreenkomste in ’n gees van medewerking verander. Die drie
ooreenkomste was die Groote Schuur-Minuut (Mei 1990), die
Pretoria-Minuut (Augustus 1990) en die D.F. Malan-Akkoord (Februarie
1991). Hierin het ANC-leiers onderneem om die gewapende stryd op te
skort, terwyl die regering ingestem het om alle politieke gevangenes vry
te laat. Daarbenewens het altwee kante ooreengekom om politieke
hervorming deur onderhandeling na te streef.
Op 14 September 1991 het verteenwoordigers van 27
politieke partye, belanghebbende groepe en die nasionale regering sowel
as die regerings van die tuislande die Nasionale Vredesakkoord (National
Peace Accord) onderteken. Daarin is ooreengekom om ’n veelrassige raad
in die lewe te roep—later die Uitvoerende Oorgangsraad genoem—wat
as ’n uitvoerende gesag moes dien tot tyd en wyl ’n demokratiese
verkiesing gehou kon word.
Byna drie maande ná die ondertekening van die
geskiedkundige vredesakkoord het voorlopige beraadslagings oor die
onderhandelingsprosedure by die Wêreldhandelsentrum buite
Johannesburg begin. Dit is Kodesa—die Konvensie vir ’n Demokratiese
Suid-Afrika—genoem.
In September 1992 het Mandela en De Klerk tot ’n
verstandhouding gekom waarkragtens altwee kante hulle formeel verbind
het om ’n demokraties verkose Regering van Nasionale Eenheid vir 'n
oorgangstyd van vyf jaar te aanvaar. Dit het belangrike toegewings van
sowel die regering as die ANC geverg, maar die reëling het die NP se
eis bevredig vir wetlike wigte en teenwigte om die land se blanke
minderheid te beskerm. Die ANC het ook afgesien van sy eis vir ’n
volle en onmiddellike meerderheidsregering deur in te stem om vir
minstens vyf jaar deel te hê aan ’n reëling van magsdeling.
Die tussentydse grondwet—Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1993 (Wet No. 200)—is op 22 Desember 1993 bekragtig en op 27 April 1994 geïmplementeer.
Daarkragtens is ’n raamwerk daargestel vir die landbestuur oor ’n
tydperk van vyf jaar, terwyl bepaal is dat ’n nuwe grondwet teen 1999
in werking gestel moes word. Die finale grondwet moes strook met die
beginsels wat in die tussentydse grondwet vervat is, waaronder ’n
verbintenis tot ’n veelparty-demokrasie gegrond op algemene volwasse
stemreg en individuele regte sonder diskriminasie. (Die Suid-Afrikaanse
geskiedenis in die tyd van die oorgangsregering vorm ’n ander
interessante studieonderwerp, waaroor dalk later op ’n afsonderlike
webblad meer vertel kan word.)
Tot die nie-rassige verkiesing van April 1994 was die
Suid-Afrikaanse verkiesings onderhewig aan die wette van apartheid.
Ingevolge die grondwet van 1983 moes stemgeregtigdes hul
verteenwoordigers kies in drie afsonderlike huise van die parlement wat
op ras gegrond was (die rade vir blankes, Kleurlinge en Indiërs). Dit
het meegebring dat daar byvoorbeeld in die parlementêre verkiesing van
1989 slegs twee miljoen plus stemme uitgebring is, terwyl daar meer as
drie miljoen geregisteerde kiesers en ’n totale bevolking van byna 28
miljoen was.
Toe Suid-Afrikaners egter in 1994 na die stembus gaan, is die kieserskorps op 21,7 miljoen geraam—van wie sowat 16 miljoen nooit voorheen gestem het nie. Uiteindelik is aangekondig dat 19.726.579 stembriewe getel is, waarvan 193.081 bedorwe was.
Sewe
politieke partye het genoeg stemme gekry om setels in die Nasionale
Vergadering te verwerf: die ANC 252 setels (62,6 persent van die
stemme); die NP 82 setels (20,4 persent); die Inkatha Vryheidsparty (IVP)
43 setels (10,5 persent); die Vryheidsfront (VF) 9 setels (2,2 persent);
die Demokratiese Party (DP) 7 setels (1,7 persent); die Pan Africanist
Congress (PAC) 5 setels (1,2 persent); en die African Christian
Democratic Party (ACDP) 2 setels (0,5 persent). Twaalf ander partye het
te min stemme gekry om verteenwoordiging in die Nasionale
Vergadering te geniet.
Elk van die sewe groot partye het ook verteenwoordiging in minstens een van die nege provinsiale regerings verkry (die vier provinsies van die ou Suid-Afrika is in nege provinsies heringedeel). Die ANC het in sewe provinsiale regerings die meeste stemme op hom verenig. Die IVP het die beheer in KwaZulu-Natal verkry en die NP in die Wes-Kaap (hierdie toedrag van sake het natuurlik intussen verander).
En
met daardie geskiedkundigde verkiesing van 27 April 1994 is gewettigde
apartheid in Suid-Afrika toe ook oplaas begrawe.
Hoofbron:
http://countrystudies.us/south-africa