|
 |
|
Die
tien gesigte van
AS |
|
Deur A.S. van As |
|
1

’n As of spil is ’n
denkbeeldige lyn waarom iets in die rondte draai. Die aarde, ’n
tollende planeet, het ook só ’n as. Dit wys altyd in dieselfde
rigting na die verre sterre, maar hel met omtrent 23,44° na die een
kant toe oor op die elliptiese baan wat dit om die son beskryf. Die
gevolg van hierdie “skewe” aarde is dat die Noordelike Halfrond en
die Suidelike Halfrond in die loop van ’n jaar beurtelings minder en
meer sonlig ontvang. Daarom kry ons die seisoene—somers met meer son
en winters met minder. |
2 
Meganiese asse is integrerende strukturele komponente van voertuie
met wiele. Sulke asse handhaaf die posisie van die wiele relatief
tot mekaar en tot die voertuig. Boonop het feitlik elke meganiese
apparaat asse—ook ons meganiese polshorlosies met hul verskillende assies wat
tandwieletjies laat ronddraai.
Sekere Afrikaanse idiome oor hierdie soort as:
•
Jy moet die as
smeer
(jy moet die vuil werk doen)
•
Sy as
het vasgebrand
(hy het in die moeilikheid beland)
Illustrasies 1 en 2:
Negatief-weergawes van werke wat deur
Pearson Scott Foresman
beskikbaar gestel is en by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
tot openbare besit verklaar is (“released into the public domain”)
|
|
3
AS is verbrande hout (soos die
spreekwoord mos ook lui)
Almal weet as is die fyn poeier wat
agterbly nadat organiese dinge soos
hout verbrand het. Wat almal egter
nie weet nie, is dat die as van hout
nie waardeloos is nie.
Kaliumhidroksied kan byvoorbeeld
daaruit verkry word om seep te kook. |
 |
|
Sekere
Afrikaanse idiome oor hierdie soort as:
•
As is verbrande
hout
(gesê aan iemand
wat skaars haalbare of selfs onmoontlike
veronderstellings
maak en dan sy sinne met “as” begin)
•
Iemand se hand
in die as slaan
(iemand oortref)
•
Iemand het uit
sy as verrys
(iemand wat
figuurlik platgeslaan en verneder was, het weer
opgestaan en hom
laat geld)
•
Iemand sit in
sak en as
(iemand ervaar die grootste droefheid en terneergeslaenheid)
Foto:
Walter Siegmund,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye weg
gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 3.0-lisensie,
waarkragtens deling en afgeleide werke op
sekere voorwaardes vergun word
|
|
|
 |
4
AS van
’n gestorwene (die foto is van ’n urn, soos dié waarin
die verbrande oorskot van dooies tradisioneel bewaar is)
Die praktyk is in
verskillende kulture gevolg om die as van ’n verbrande
lyk in ’n urn, ook genoem ’n lykbus, te plaas. ’n Urn is
’n soort kruik of vaas. Die
urn op die foto kom
van die Maja, eenmaal ’n groot Mesoamerikaanse beskawing
en tans die naam vir ’n breë verskeidenheid van Indiaanse
volkere van die suide van Mexiko en die noorde van
Sentraal-Amerika.
’n Idioom
oor hierdie soort as:
•
Sy
as rus in vrede
(mag die
oorledene tog rus hê
noudat hy nie meer hier is nie)
Foto:
U.S. State.gov / “Public Domain” |
|
|
5
AS van
’n vulkaniese uitbarsting
Die hoeveelheid as, verbrokkelde gesteentes en gesmelte
rots wat vulkane van onder die aarde
af oprisp, is geweldig. Indien daar ’n massiewe
uitbarsting is, kan dit selfs gebeur dat die son in die
omgewing van die vulkaan verduister word en die lug daarbo
pikdonker raak.
Foto:
U.S. Geological Survey |
 |
|
|
6
Die as, wat
omstreeks 280 v.C. in gebruik gekom het, was ’n muntstuk van
sowel die Romeinse Republiek as die Romeinse Ryk. Die muntstuk was
aanvanklik van brons en later van koper. Op hierdie verwerking van
’n ets van ’n as uit die tyd van die Romeinse Republiek, verskyn die twee gesigte van die mitologiese god Janus. Vir
die Romeine was Janus die god van hekke, deure, beginne en
eindes. Die maand Januarie is na hom genoem—omdat hy tegelyk
agtertoe sou kyk na die
ou jaar en vorentoe na die nuwe.
|
7
Die AS
van krieket
Die
stryd om Die As (“The Ashes”) is sedert 1882 ’n kriekettoetsreeks
waarin die nasionale spanne van Engeland en Australië kragte meet en
tans al om die twee jaar plaasvind—om die beurt in die genoemde twee
lande. Die naam “Die As” het sy oorsprong in ’n kammakastige
“doodsberig” wat in die reeds genoemde jaar 1882 in ’n destydse
Britse koerant, The Sporting Times, verskyn het. Daarin is Engeland
se destydse krieketnederlaag teen Australië op die beroemde Londense
krieketveld die Oval spottenderwys as die dood van Engelse krieket
voorgestel. The Sporting Times het ook geskryf dat “die lyk veras
sal word en die as saamgeneem sal word na Australië”. Joernaliste het daarna nie op hulle laat wag nie en die
daaropvolgende Engelse toer na Australië bestempel as die stryd om
die As te herwin. Ten tyde van daardie toer is ’n kleinerige
urn (kyk ook by nommer 4 hierbo), wat as van ’n ietwat onsekere
herkoms bevat, deur ’n groep vroue van Melbourne, Australië, aan die
besoekende Engelse krieketkaptein oorhandig. En daarmee was die naam
Die As gevestig vir daardie gereelde Engels-Australiese wedywerings
op die krieketveld.
|
8
As
is
die chemiese simbool vir die element arseen
Die chemiese
element arseen (As) is ’n berugte, giftige halfmetaal wat saam met
sy verbindings in verskillende pes-, plant- en insekdoders en
allooie gebruik word. Daar moet egter baie versigting te werk gegaan
word met arseen, indien ’n mens hoegenaamd daarmee moet werk. Die
arseenbesmetting van drinkwater kan byvoorbeeld gevaarlike afmetings
aanneem, soos in Bangladesj en van sy buurlande waar dit tot ’n
ernstige epidemie van arseenvergiftiging gelei het. In die
menslike liggaam saai arseen verwoesting in die spysverteringskanaal
en affekteer dit ook die brein, verskillende ander organe en selfs
die vel—baiemaal met ’n dodelike gevolg.
•
Die element kom
in baie allotropiese vorms voor, wat kan wissel van geel tot grys en
swart van kleur. Dit slaan
spontaan aan die brand wanneer dit in aanraking gebring word met die
geelgroen gas chloor (soos op die illustrasie). Wanneer arseen só in chloor brand, is die vlam groen met ’n mooi vonke-vertoning,
terwyl digte wit dampe van arseenchloried afgegee word.
By gewone verbranding in die lug is die vlam van arseen blou.
Illustrasie:
Histories (“Public Domain Old”) / ietwat gewysig |
|
9
Voorts is
as.
die afkorting vir die woord “aanstaande”
|
10
En
uiteindelik beteken
AS natuurlik ook “indien”!
|
|
Nagedagte: klein
as-pekkies om oor te wonder...
As tot as
As ’n Koue Bokkevelder
by die Suidpool staan,
hoe koud moet dit raak
voor hy bokveld toe gaan?
(en van as tot as in die ys vergaan)
En as as die spil
is
waarom die hele spul draai,
is dit nie die einste as
wat die ganse wêreld swaai?
— Dugeot, Mieliestronk.com
|
|
Klik
hier om terug te keer na die inhoudsblad |