|
ONSVERDUISTERINGS het die primitiewe mense
verskrik laat ineenkrimp. Waar’t die son dan so skielik heen
verdwyn?
Die vroeë bewoners van Noord-Europa is verbyster deur die auroras
aan die hemelruim. Wat se ligstrale is daar tog in die nag?
Só is die mens deur die eeue heen met vrees en nederigheid vervul
oor die onverklaarde ligskynsels en -verskynsels reg bokant hom. En
dis veral in die poolstreke met hul yswit uitgestrektheid waar sulke
wonders vandag nog vir mense aan die bonatuurlike kan grens.
Matrose en ontdekkers uit ’n tyd lank verby het reeds uit die
poolwêrelde teruggekom met vertellings van rare dinge in die lug:
bisarre ligbundels wat uit die son gestraal het; enkele of soms
veelvoudige stralekranse om die son en maan; groen en violet ligte
wat in die koue naglug geglim het.
Dit was skimagtige gloede waarom volksverhale en legendes geweef is,
soos by die Australiese inboorlinge wat die suiderlig as ’n dans van
die gode beskou het.
REGS:
’n Besoeker aan die Suidpool staan voor ’n stralekrans om die son.
Foto:
NOAA
Vandag weet ons—met die hulp van satelliete, ballonne en ander
toerusting—wat hierdie besondere verskynsels veroorsaak. Byna almal
word deur die son se strale en klein-klein ysdeeltjies in die lug
teweeggebring... ’n skouspelagtige wisselwerking tussen die aarde en
die uitspansel.
Maar ook plat op die aarde in die ysstreke is daar natuurlik ander
wonderbaarlike verskynsels, op en rondom die blanke woestyne van die
sneeu- en ysvelde self.
Soos wanneer die verdwaalde poolreisiger agterkom dat dinge nie meer
skaduwees het nie. Of as die geheimsinnige voetspore van die
“sneeuman” die Himalaja se mense laat ril.
Dog dit bly die lug bo die poolgebiede waar die boeiendste
natuurtaferele hulle afspeel. Waar kry jy iets verstommender as
byvoorbeeld sonlig om middernag... ’n son wat nie wil ondergaan nie,
maar op die horison bly dobber?

BO:
Die son op die horison oor die Noordelike Yssee.
Foto: Jeremy Harbeck
/ NASA
VANWEË die helling van die aarde se as teenoor
sy omwentelingsvlak om die son is daar in sowel die Noord- as
Suidpoolgebiede minstens een dag van 24 uur (en een só ’n lang nag)
in ’n jaar.
Die duur wissel egter geografies, en by die Noord- en Suidpool self
is ’n dag en nag teoreties elk ses maande lank. Dis egter nie die
werklike tye van lig en donkerte nie, omdat daar natuurlik ook
skemer tye is.
En hoe skouspelagtig is daardie ander fenomeen, die geroemde
poolligte, ook nie! Dis boë en strepe lig wat ná sononder in die
poolstreke in die lug verskyn—maar dit kan ook pragvorms soos dié
van gordyne en waaiers aanneem.
En die kleure: gewoonlik witterig met ’n sagte groenerige of
viloletterige tint, of dan weer vaalgeel. Waar die poolligte meer
intens is, is dit groen of rooi.
Dié in die Suidpoolstreke staan bekend as die Aurora Australis
(suiderlig) en dié van die Noordpool as die Aurora Borealis
(noorderlig.
Die poolligte word veroorsaak deur ’n wisselwerking tussen
elektriese ontladings van die son en die gasse in die aarde se
boonste luglaag. Die energie-gelaaide deeltjies word deur sterk
sogenaamde sonwinde in die rigting van die pole gedryf.
Sodra hulle die aardlug binnekom, bots hulle met suurstof- en
stikstofdeeltjies en dit veroorsaak die gloed.
Groot uitbarstings op die son kan meebring dat die poolligte ook
elders waargeneem word. Dit is selfs al in Rome en Kaapstad gesien.
LUGSPIEËLINGS of opgeefsels, waar ’n mens se
oë jou só bedrieg dat jy nie dinge op hul regte plekke sien nie, is
natuurlik nie net eie aan die poolstreke nie, maar ook aan warm
woestyne. Maar interessante ligvertonings vind in die atmosfeer bo
die poolgebiede plaas wanneer daar genoeg simmetriese
yskristalletjies is om die pad van die lig te verander.
(Lig word gebuig wanneer dit deur ’n obstruksie soos stof, fyn
waterdruppeltjies of ysdeeltjies beweeg.)
Só kan dit gebeur dat jy nie een maan in die naglug sien nie, maar
twee of selfs drie! Die verskynsel word ’n bymaan genoem. Weens die
refraksie van lig word ’n beeld van die maan aan die een of die
ander kant daarvan geprojekteer. Dit gebeur ook met die son en dan
word van ’n byson gepraat.

BO: Die
atmosferiese verskynsel wat ’n byson genoem word. Hier word
nie net een son gesien nie, maar sommer drie!
Foto: NOAA
|
 |
 |
|
REGS:
Ligkranse van die son soos dit in die poolgebiede gesien kan word—en soms ook elders, soos op die foto BO.
Illustrasie
regs: Histories ("PD Old")
Foto bo: NASA |
Wanneer die son of maan se
beeld volledig teruggekaats word, word ’n volmaakte ligkrans
daaromheen gesien.
’n Sogenaamde sonsuil—ook deur
yskristalletjies veroorsaak—is weer werklik ’n suil van lig wat uit
die son stroom.
REGS:
’n Sonsuil... ’n pilaar van lig vanuit die son.
Foto: NOAA
Veel nader aan die aarde as die lugverskynsels wat hierbo genoem is,
is die “rook” bokant die poolseë wanneer uiters koue, droë Iug
skielik oor die seewater neerdaal.
Die oop see vries eers by sowat -4 grade C (vars water vries by 0
grade) en is grade warmer as die Iug daarbo, met die gevolg dat
dit stoom.
Ook in die Arktiese en Antarktiese gebiede was ’n weerstoestand
bekend as “witsig” al die verskrikking van menige poolbewoner of
ontdekkingsreisiger.
Voorwerpe het geen skaduwees tydens witsig nie. Kontraste kan nie
meer gesien word nie. Die horison is weg en slegs donker voorwerpe
kan onderskei word. Jy weet nie of ’n voorwerp daar ver of hier naby
jou is nie.
Dis bekend dat selfs voëls tydens witsig gedisoriënteer kan raak en
dan onder in die sneeu kan vasduik.
Witsig word veroorsaak deur swaar wolke oor ’n sneeuoppervlak, wat
meebring dat die lig wat deur die wolke dring, nagenoeg gelyk is aan
die lig wat deur die sneeu weerkaats word.
SPOOKVOETSPORE in sneeu. Hierdie verskynsel
bring ons van die atmosferiese wondere in die koue streke terug op
die vaste aarde met sy ewe verbasende fenomene in die ys.
Die fabelagtige “jeti”, of afskuwelike sneeuman, is hoeka vir
geheimsinnige reuse-spore in die Himalajagebergte geblameer. Maar ook
poolreisigers en -wetenskaplikes het al met sulke spore kennis
gemaak.
LINKS:
Is daar rêrig ’n “afskuwelike sneeuman” van die Himalaja? Hier is ’n
“voetspoor” wat dit konsuis sou bewys.
Vars, los sneeu word saamgepers onder die gewig van lopende voete en
is dus harder as die omringende sneeu. Die volgende storm waai die
los sneeu weg, maar laat die verdigte sneeu—nog met die
oorspronklike voetspore—agter.
|
 |
 |
 |
Dierespore in sneeu—LINKS BO
is die spoor
van ’n poema, REGS HEEL BO dié van ’n wolf en REGS BO
die spore van ’n grysbeer. Mense wat skepties is oor
kamstige reuse-spore wat al in besneeude gebiede gevind
is, reken dis bes moontlik niks anders as die spore van diere of
selfs mense wat as gevolg van smelting groter uitgedy
het nie.
Foto
links bo: Montana FWS. Foto’s regs heel bo en regs
bO: U.S. National Park Service. Al drie foto’s
detail van oorspronklikes.
|
Sneeu wat rondgewaai word,
kan ook allerhande patrone en kontoere in die sneeu en ys uitbeitel.
“Sastrugi” is ’n soort opgehewenheid wat voorkom waar sneeu rondom
voorwerpe neergelê word. Dit loop in lyn met die rigting waarin die
heersende wind waai. Dit kan van ’n paar sentimeter tot twee meter
in hoogte wissel en poolreisigers sleg kortwiek.

BO: Sastrugi by die
Suidpool.
Foto:
Bill McAfee
/ U.S.
National Science Foundation (swartwit foto digitaal verkleur)
Ysbedekkings op die see word pakys genoem en kan tot nagenoeg 70 m
dik wees. Die wind en die strome kan dit laat opbreek in ysskotse,
wat op hul beurt weer tot die mees bisarre vorms kan saamsmelt.
Dit kan skouspelagtig wees waar verskillende ysplate deur die getye
teen mekaar gespoel word, die drukking die ys laat smelt, en die
water opwaarts gedwing word om ’n rif te vorm wanneer dit weer
vries.
’n Hele reeks ewewydige riwwe kan op hierdie manier gevorm word, wat
baie kilometers ver teen die kus af strek—byna asof ’n reuse kam
deur die ys getrek is.
Só lyk dit dan in die wonderwêrelde van die Arktiese See en
Antarktika. Yslik wonderlik, kan ’n mens wel daarvan sê...

BO: Is dit miskien
’n draak van wit seeskuim? Verkeerd! Of dalk die skimbeeld van
’n seemonster? Nee, ook nie! In die koue poolstreke van ons
planeet kan wegsmeltende ysberge en kleiner skotse van verysde
water soms die mees fantastiese vorms aanneem, soos hier gebeur
het.
Foto: U.S. Geological Survey
|