|
LLES wat blink is nie goud nie, lui die spreekwoord, en, nou ja, in
Australië is alles wat spring ook nie kangaroes nie! In hierdie
uitsonderlike wêrelddeel is daar in der waarheid vier hoofsoorte
kangaroe-agtige diere, te wete die rooi kangaroe, grys kangaroe,
wallaby en wallaroe.
Die wallaroe, wat ook die euro genoem word, is wat sy grootte betref
so halfpad tussen ’n kangaroe en ’n wallaby en is ’n soort uit eie
reg.
Maar waar kom die naam kangaroe
vir die wêreld se bekendste hoppers nou eintlik vandaan?
Volgens oorlewering het dit uit ’n misverstand ontstaan.
Toe die eerste Europese ontdekkingsreisigers dié
eienaardige diere gesien het, só lui die verhaal, sou
hulle aan die Australiese inboorlinge gevra watter soort
rare springers dit dan nou is. En die inboorlinge sou
geantwoord het: “Kangaroe”, wat eintlik beteken: “Ek
verstaan jou nie.” Die ontdekkingsreisigers sou gedink
het dis hoe die diere genoem word—en die naam het bly
steek!
Nog wêreldbekende rariteite van Australië is die
eendbekdier of voëlbekdier en die mier-egel of ekidna, wat
soogdiere is wat eiers lê. En dan is daar boonop die
teddiebeer-agtige koala, ’n buideldier wat van
bloekomblare leef. (Kyk die foto van ’n koala in die
Mieliestronk-artikel oor
Australië.)
|
 |
 |
|
’n Eendbekdier (BO) en ’n mier-egel of
ekidna—rare Australiese soogdiere wat eiers
lê. Die eendbekdier het ’n snawel wat soos
dié van ’n eend lyk, terwyl die ekidna ’n
mens aan ’n ystervark of ’n krimpvarkie laat
dink.
Foto van Ekidna:
Kopiereg © Ester Inbar
Die
kopiereghouer vergun vrye gebruik vir enige
doel op voorwaarde dat die bron behoorlik erken word |
Maar die bekende Australiese diere wat hierbo genoem is,
laat ’n mens baiemaal vergeet dat daar nog talle ander
eienaardighede in die dierewêreld op die
eiland-kontinent is. Só is daar ’n propperse doring van
’n Australiese miervreter, wat hulle die doringduiwel of
molog noem (Eng.: thorny devil; moloch). Maar ou
Moloch horridus behoort darem nie rêrig ’n duiwel
genoem te word nie. Die waarheid is dat hy ’n stadig
bewegende, onskadelike reptiel is wat slegs van miere
leef—en baie van hulle.
REGS:
Die Australiese doringduiwel lyk na ’n monster in die
klassieke sin van die woord.
Maar
ondanks sy vreeslike voorkoms en skikwekkende
naam, is hy niks anders as ’n doodsedige ou miervreter
nie.
Foto:
Louis Barbier / Nightglow / GSFC / NASA
Daar word geraam dat hy van
seshonderd tot 3000 miere in ’n enkele maaltyd kan
wegbêre. Doringduiwels word wyd verspreid in Australië
se binnelandse woestyn aangetref.
En dan is daar die emoe, Dromaius novaehollandiae,
die nasionale voël van Australië. Hy is die wêreld se
naasgrootste lewende voël (net ons eie volstruis is
groter). Die emoe is ’n vinnige hardloper en ’n kragtige
swemmer, maar hy kan nie vlieg nie. Die wyfie lê van
sewe tot twaalf eiers in ’n holte in die grond.
Die mannetjie jaag dan die wyfie van die nes af weg en
gaan sit alte besitlik alleen op die eiers. Daar bly hy totdat
sy kroos ná sowat agt weke
uitbroei. Die mannetjie sien nog sowat ses tot nege
maande lank na die kuikens om totdat hulle vir hulself
kan sorg. (Kyk die foto’s van die Australiese emoe in
Mieliestronk se artikel oor ons eie
volstruis.)
Nog ’n interessante Australiese dier wat hier vermelding verdien,
is die spinifex-springmuis, Notomys alexis (Eng.:
spinifex hopping mouse). Dié springmuis word in die droë, sanderige
Midde-Australië aangetref tussen die sogenaamde
“spinifex”, ’n soort Australiese stekelgras. Hierdie
diertjies is naglopers wat bedags in kolonies van tot tien
in gate van tot ’n meter diep skuil. Hoewel hulle as
troeteldiere aangehou kan word, is hulle baie delikaat
en moet hulle nie met die hande gehanteer word nie.

BO: ’n
Spinifex-springmuis aan die vreet.
Tersaaklike deel
(rande weggesny) van ’n foto deur Derrick
Coetzee,
wat dit
by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
tot openbare besit verklaar het (“released
into the public domain”)
Lede van Australië se groot familie van rot- of
muisagtiges (Dasyuridae) kan egter ook venynig raak as ’n mens
met hulle lol. En hoewel hulle dikwels buidelmuise
genoem word, is dit ’n foutiewe benaming, want ware
muise is hulle beslis nie. Die groep sluit ook groter
diere in soos die sogenaamde quolls, wat so groot soos
katte is, asook die Tasmaniese duiwel,
wat omtrent so groot soos ’n bonkige
foksterriër word. (Kyk die foto van ’n Tasmaniese duiwel
in die Mieliestronk-artikel oor
Tasmanië.)

BO:
Die tier-quoll (Dasyurus maculatus) is
een van Australië se grootste vleisvretende
buideldiere, indien nie die grootste nie.
Foto:
Sean McClean,
wat dit by Wikimedia Commons
op die wêreldwye web gelisensieer het ingevolge
die
GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2
of enige latere weergawe wat deur die Free
Software Foundation gepubliseer word
Baie van die buidelmuise verval
in ’n soort verstywingsfase wanneer hul kos skaars raak.
Minstens een soort, wat in droë streke hou, drink nie
water nie, maar kry al sy nodige water van die
liggaampies van sy prooi, byvoorbeeld sprinkane.
Die kowari (Dasyuroides byrnei) is nog ’n
jagtende buidelmuis, en daar word vertel dat hy sy prooi
soos ’n kat bekruip. Wanneer die kowari ’n groterige
dier bespring, speel hy met hom klaar deur hom dadelik
aan die nek te byt.
Die witvoet-dunnart (Antechinus leucopus =
Sminthopsis leucopus)
is een van ’n hele string dunnart-spesies wat sowel in
reënwoude as in die woestyn voorkom. Dunnarts is
eweneens buideldiere. Hulle kan ontsettend vinnig
aanteel—een wyfie kan tot tien kleintjies kry en dit drie,
vier keer in ’n enkele jaar!

LINKS BO:
Die witvoet-dunnart (Antechinus leucopus =
Sminthopsis leucopus). REGS BO: Die kowari (Dasyuroides byrnei), onder
meer ook bekend as die kwasstert-buidelrot.
Illustrasie links bo: histories (“PD Old”) Foto regs bo: tersaaklike deel (rande weggesny) van ’n
foto deur Kořínek
Milan, wat dit
wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
gelisensieer het ingevolge die
GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2 of
enige latere weergawe wat deur die Free Software
Foundation gepubliseer word
Voorts is daar die bilby. Met
sy yslike ore herinner dié Macrotis lagotis ’n
mens aan ’n konyn, maar dit is juis onder meer aan
ingevoerde konyne te wyte dat hy uit sy gate in die
grond verdryf is en daar vandag so min van sy soort oor
is. Omdat daar vermoedelik nog slegs ’n klompie honderd
in die vrye natuur bestaan, teenoor moontlik derduisende
’n eeu of wat gelede, word gevrees dat die bilbies kan
uitsterf.
Die bilby is die grootste van die Australiese
buideldasse en word tot 55 cm lank met ’n stert van tot
byna 30 cm. Die yslike ore dien as geluidversterkers om
roofvyande gou te hoor en waarskynlik ook as verkoelers
in die versengende woestynhitte. (Kyk die
foto van ’n bilby
in die begin van
hierdie artikel.)
En in die amfibiese wêreld? Daar sal jy ’n padda vind
wat sowaar ’n manel dra! In die binnelandse Australiese
woestyn reën dit so selde dat die inheemse diere hul
liggaamsvog op allerhande vernuftige maniere moet behou.
Een van hulle is die waterhoudende padda Cyclorana
platycephalus, wat hom niks dieper as 30 cm onder
die sonverdorde grondoppervlak ingrawe nie, maar
minstens twee jaar lank daar in ’n slaaptoestand kan
oorlewe.
Daar verander sy vel in ’n membraan wat van die
onderliggende vel losraak, en kort voor lank is die
padda heeltemal bedek deur ’n los omhulsel, buiten by
die baie klein buisies aan sy neusgate. Sodra
deurdringende reën uitsak, word die ondergrondse paddas
deur verhoogde grondvog gewek en beweeg hulle vinnig na
die oppervlak vir ’n kortstondige sessie van feesvier en
aanteel.
In die waterpoeletjies wat net vir ’n kort tydjie daar
sal wees, haas die paddavissies hulle om volwassse te
word op ’n dieet van mikroskopiese organismes, terwyl
die volwasse paddas veral aan insekte smul.

BO: Die waterhoudende
padda (Cyclorana
platycephala).
Hier is ’n padda wat sowaar ’n manel dra... om
sy liggaamsvog te bewaar in die kurkdroë en
skroeiend warm woestyn.
Foto deur
Tnarg 12345 (Grant van Sydney, Australië),
wat dit
by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
gelisensieer het ingevolge die
GNU Free Documentation License, Weergawe 1.2
of enige latere weergawe wat deur die Free
Software Foundation gepubliseer word
Van insekte gepraat: goggatjies
het oral baie vyande, maar die kruipende insekte van die
Australië het min te vrees van een wonderbaarlike klein
reptiel—nie omdat hy nie insekte vreet nie, maar omdat
daar so jammerlik min van sy soort oorgebly het. Die
rede? Slegs ’n baie klein deeltjie van Australië se eens
wye, wuiwende grasvelde bestaan nog, en dié is die
pigmee-bloutongakkedis (Tiliqua adelaidensis) se
hougebied.
REGS:
Die pigmee-bloutongakkedis (Tiliqua adelaidensis).
Hierdie bloutongetjie het eenmaal
verspreid in sekere dele en tot in die stad Adelaide in
die suide voorgekom, maar in die vroeë jare sestig is
gereken dat hy uitgesterf het. Toe, in 1992, is een
binne-in ’n bruin slang gevind wat op ’n pad naby die
dorp Burra doodgemaak was. Sedertdien is heelparty van
hulle darem opgespoor.
Verstommend genoeg woon pigmee-bloutongakkedisse in die
gate van valdeur- of wolfspinnekoppe. Hulle is bedags
bedrywig—al is hulle meestal leeglêers wat ewe
lui-lui by hul gate in die son lê en bak om insekte voor
te lê wat verbyloop.
Dingo,
die hond wat oor die see na
Australië gekom het
Foto:
WPClipart Public Domain Images (gewysig)
DIE Australiese wildehond, die dingo (Canis
lupus dingo), word dikwels as ’n uitheemse indringer
in Australië beskou, al kan hy volgens navorsers reeds sowat 6000 jaar
op hierdie reuse-eiland
wees. Hy is blykbaar ’n mak hond wat weer wild geword het en nou reeds
duisende jare lank in sy wilde toestand oorleef.
Die presiese oorsprong van die dingo is egter
onseker. Dingo’s het moontlik in Australië beland saam met die
wrakstukke van vergane vaartuie wat van Asië afkomstig was. Hulle toon
immers baie ooreenkomste met mak honde van Suidoos-Asië, asook sekere
honde van Indië. Die Australiese
inboorlinge het wel die dingo nuttig aangewend. Daar word vertel dat
sekere van die inboorlinge die honde geleer het om reptiele en die
groter soogdiere van Australië te jag.
Vandag is daar ’n sekere mate van kommer oor die
voortbestaan van die “suiwer” dingo omdat so baie van hulle reeds met
mak honde verbaster het.
• Hoe
gevaarlik is die dingo? In die jare tagtig van die twintigste eeu het
die geval opspraak gewek van ’n baba van nege weke, ene Azaria
Chamberlain, wat op ’n kampeeruitstappie by Ayers Rock (Uluru) in
Australië verdwyn het. Haar ouers het aangevoer dat dingo’s haar uit hul
tent gesteel het. Later is haar ma egter van moord aangekla, skuldig
bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Maar nog later het die
ontdekking van ’n stukkie van Azaria se klere in ’n gebied vol lêplekke
van dingo’s daartoe gelei dat die ma uit die tronk vrygelaat is.
Uiteindelik is sy vrygespreek van alle aanklagte teen haar. Betreklik
onlangse gevaarlike dingo-aanvalle in ander dele van Australië versterk
die moontlikheid dat Azaria wel deur dingo’s doodgemaak is. In 2001 is die negejarige Clinton Cage naby Waddy Point op Fraser Island,
by die suidkus van Queensland, deur twee dingo’s aangeval en gedood.
Die
blinde klein buks in die buidel
Illustrasie:
Karen’s Whimsy / Public Domain
Image (detail en gewysig)
WAT is ’n buidel en wat
is ’n buideldier? Die woord buidel beteken ’n sak. Met buideldiere word
soogdiere bedoel wat ’n sakvormige huidplooi aan die buitekant van hul
liggame het waarin hulle hul kleintjies ronddra nadat dié totaal
hulpeloos in die wêreld gekom het.
Die kleintjies drink ook ma se melk
soos ander soogdiere, maar hulle doen dit terwyl hulle warmpies binne-in
die sak sit. Ma se buidel bly ook vir hulle ’n veilige tuiste
totdat hulle uiteindelik groot genoeg is om hul eie potjie te krap.
Australië en sy nabygeleë eilande is die
koninkryk van die buideldiere, kreature wat dikwels vir ons bra vreemd
kan lyk, veral vanweë daardie saamdraery van die kleintjies teen die
pens. Dit is natuurlik omdat ons baie meer gewoond is
aan “ordinêre” Afrika-diere soos ons wildsbokke, leeu, luiperd, olifant
en baie ander. Afrika het geen inheemse buideldiere nie. Trouens, buite
Australië en omstreke is daar slegs ’n paar buideldiersoorte in Asië,
terwyl Amerika darem sy opossum het.
Eintlik word die kleintjies van die buideldiere
“te vroeg gebore”, om dit so te stel. Selfs by die grootste kangaroe,
die rooi kangaroe, verskyn die pasgeborene slegs 33 dae ná bevrugting en
is hy feitlik nog ’n fetus. Hy is blind, kaal en weerloos,
en hy kan ’n ruk lank glad nie weg van sy ma bestaan nie.
En praat
van petieterig! Die swak en beteuterde pasgebore kleintjie van die opossum, ’n
buideldier nagenoeg so groot soos ’n huiskat, is selfs kleiner as ’n heuningby.
Die kleintjie van die reuse-kangaroe van meer as een en ’n halwe meter
hoog, is op sy beurt miskien net ’n bietjie langer as die voorste lit van ’n
man se duim. Die Australiërs noem ’n buideldier-kleintjie ’n “joey”.
Sodra ’n kangaroe-kleintjie gebore is, word hy
sagkens deur sy ma in die buidel ingestoot, want hy is heeltemal te swak
om self daarin te klouter. In die buidel kry hy ’n speen beet en sy
bekkie smelt so te sê daaraan vas. Gestadig voed die melk die knapie
terwyl hy aan die speen hang, en só lewe hy byna agt maande lank knus en
gekoester in die buidel. Dan gaan die
suigende bekkie oop, asook die
ogies, en nou kan meneertjie dan en wan sy koppie by die sak uitsteek en loer wat in
die buitewêreld aan die gang is. Mettertyd verlaat hy die buidel vir
rukkies om al sukkelende agter sy ma aan te spring en so
bietjies-bietjies aan die groenigheidjies om hom te proe. Sodra enigiets
hom ontstel, klim hy egter weer vinnig in die buidel in. En uiteindelik
is hy groot genoeg om die buidel vir die laaste keer te verlaat en die
wêreld aan te durf. Uit die
buidel en tussen die bondel... daar hop ’n splinternuwe springhaasagtige
dingetjie die groot lewe op die Australiese landskap tegemoet! |