|
IS in die middel van die winter en
die weer is
snerpend koud. Jy kom tuis, skakel die ligte aan, aktiveer die
waaier-verwarmer, tap vir jou ’n bad vol stomende water en lê
geluksalig in die loute. Kort voor lank voel jy heerlik warm.
A-a-a... die vreugdes van die moderne lewe!
Maar ’n eeu of wat gelede sou mense hulle kwalik só ’n toneel kon
indink. Waar het dit dan alles begin?
Baddens
EEN van die eerste baddens wat gebruik is
(sover bekend), is ’n groot 5000 jaar oue openbare bad by
Mohenjo-daro in die Indusriviervallei in Pakistan. Dit kon vir
geestelike reiniging of ander godsdienstige plegtighede gebruik
gewees het.

BO: Mohenjo-daro, 25 km
suidwes van Larkana, Pakistan. Hier was, sover ons weet, een van die
eerste openbare baddens, ’n reghoek van twaalf by sewe meter
en versink tot ’n diepte van byna twee en ’n halwe meter.
Die bad self en sy omgewing is baie sorgvuldig met bakstene
gebou en uitgelê. Gips sowel as teer is gebruik om lekkasie
van die water uit die bad te help voorkom.
Foto deur “Ghanghro”, wat dit by
Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot openbare besit
verklaar het (“released into the public domain”)
Baie private wonings daar het ook badkamers gehad, nogal met lopende
water uit terracotta-pype. Die oorblyfsels van baddens is eweneens
in die bouvalle van etlike ander beskawings gevind, waaronder dié
van die Babiloniërs, Hebreërs, Egiptenare, Minoërs en Grieke.
Die Romeine het openbare baaiery tot ’n uiterste gevoer, met ander
ontspanningsgeriewe daaromheen soos biblioteke, winkels,
oefenkamers, plekke vir die lees van gedigte, teaters en tuine.

BO: ’n Ou Romeinse
openbare bad by Bath in Engeland.
Foto deur “Tonywieczorek”,
wat dit by Wikimedia Commons op
die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released
into the public domain”)
Ná die val van die Romeinse ryk in die 400’s n.C., het die gebruik om
te bad vinnig verdwyn en regdeur die Middeleeue ’n seldsaamheid
gebly. Mense het nie die verband tussen skoonwees en gesondheid
begryp nie en dus nie gereken dis nodig dat hulle hulself moet was
nie.
Op die koop toe het die Christelike kerk van destyds dit as verkeerd
beskou om die vlees te vertroetel. Waar openbare baddens wel in die
laat Middeleeue hul verskyning in Europa gemaak het, is hulle as
sondige plekke beskou. Dokters het ook openbare baaiery afgekeur
omdat hulle geglo het dit help siektes versprei. Hulle was
waarskynlik heeltemal reg, want die geriewe was dikwels smerig.
Slegs lede van die koningshuise het ’’gereeld’’ twee of drie keer
per jaar gebad.
In die begin van die 1800’s het feitlik geen sanitêre pypwerke in
die Westerse wêreld bestaan nie. Stadsmense het wel gebad, maar ook
maar net af en toe. Plattelanders moes hul water uit putte of pompe
kry, en om te bad is doodeenvoudig as te veel inspanning beskou.
In 1832 is Londen egter deur ’n besonder ernstige cholera-epidemie
getref. Die owerheid het besef voorsiening moes vir openbare baddens
en washuise gemaak word. En van omstreeks dié tyd af was Brittanje
’n wêreldleier in die ontwerp en vervaardiging van sanitêre pypwerke
en toebehore wat vandag so ’n integrerende deel van ons huise is.
Eers is met koue water gebad of met water wat in die kombuisvuur of
op die stoof verwarm is. Die water is dan na die bad toe aangedra.
Baie baddens was bedek of soos rusbanke gevorm, omdat ’n bad in die
reël as vulgêr beskou is. Een ontwerp, die sitbad, was so beknop dat die een wat die bad
geneem het die bene onder die ken moes optrek of hulle oor die kant
moes laat hang. Nog ’n soort bad het die vorm van ’n reuse-skoen
gehad.
Die praktyk om ’n stort ter wille van persoonlike higiëne te
gebruik, het ten minste reeds in 300 v.C. in die tyd van die ou Grieke
bestaan. In die middel van die 1800’s n.C. het die eerste stort van die
moderne tyd egter op die mark
verskyn. Dit het bestaan uit ’n klein metaalbadjie met ’n hoë
metaalraam wat ’n watertenk daarbokant gestut het. ’n Stort is aan
die watertenk gekoppel. Water is met die hand in ’n pyp van die bad
af opwaarts gepomp en herbenut.

REGS: Neerstralende
water in ’n stort.
Foto: U.S. General Services
Administration
Teen omstreeks dieselfde tyd is begin om baddens te verkoop wat hul
eie waterverwarmer gehad het. In 1868 het Benjamin Maughan die
eerste warmwatertoestelle ontwerp wat met gas gewerk het. Hoewel
hulle maklik ontplof het wanneer hulle nie reg gebruik is nie, was
hulle die eerste toestelle wat lopende water verhit het. Hulle is
later veiliger gemaak.
Die ontwikkeling van warmwatertoestelle het tot groter baddens
gelei, soos die vollengte-gietysterbad, wat in die 1880’s sy
verskyning gemaak het.
Teen die einde van die 1880’s, namate bad ál aanvaarbaarder geword
het, het die bad en wasskottel as nederige slaapkamermeubels ’n hoër
status verwerf deur ’n eie kamer te kry. Só het die idee vir ’n
afsonderlike badkamer sy beslag gekry.

BO: Die
ysterbad wat met emalje bedek is, het soveel status
verwerf dat dit sy eie kamer in die huis gekry het: die
badkamer.
Foto:
Riverside, California, USA

BO Hoe druk
die Romeine, sit-sit so... Of nie eintlik nie, want die
burgers van ou Rome sou nie plat op hierdie openbare
toiletbanke gesit het nie, maar bo-op geklim en die nodige
in ’n hurkende posisie gedoen het. Ware sitbanke in toilette
het maar eers in die middel van die negentiende eeu
algemeen in gebruik gekom in die Westerse wêreld. Die
toiletbanke op hierdie foto is deel van die vondste van
opgrawings in Ostia Antica, wat in toeka se dae die hawestad
van Rome was. Dié hoofstad van die huidige Italië lê sowat
dertig kilometer noordoos van die historiese Ostia Antica.
Detail van ’n foto deur Fubar
Obfusco,
wat dit by Wikimedia Commons op
die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released
into the public domain”)
Toilette
DIE verwydering van afvalwater uit huise was duisende jare gelede
ook al ’n hoogs ontwikkelde praktyk in verskeie antieke beskawings.
In die Middeleeue het ’n paar groot dorpe wel dreineringstelsels
gehad, maar dié het eintlik meer kwaad as goed gedoen. Die
besoedelde water het naamlik in riviere beland wat drinkwater
verskaf het.
Totdat die spoellatrine uitgevind is, het toilette bestaan uit ’n
sitplek bokant ’n emmer of ’n vuilput in die grond. Baie ouer
Suid-Afrikaners sal nog onthou hoe die sogenaamde nagvuil snags in
emmers met waens verwyder is—of hoe diep gate tot op dorpserwe
vir die “gemakshuisies’’ of “kleinhuisies” gegrawe is. Wanneer
die gat met verloop van jare te vol geraak het, is verder met grond
opgevul, die huisie verskuif en oor ’n nuwe gat staan gemaak.
Terloops, dit
was ’n hele gedoente wanneer, sê, ’n hoender ongenooid in die huisie
ingespring en per ongeluk in die “long drop” afgeval het. Dan moes
die vieslike voël maar daaronder doodgeskiet word of so iets, want
min mense het kans gesien vir die taak om af te gaan en dit te gaan
uithaal.

BO: ’n Tipiese
buitetoilet, soos dit veral in vanmelewe se dae gelyk het. Die
bankie met die “bril” kon bo-oor 'n emmer staan wat kort-kort
van agter uit die huisie verwyder en deur ’n skoon emmer vervang
is. Vol emmers is deur nagwa-ryers weggekarwei en elders
leeggemaak. So nie het die huisie sommer bo-op ’n gat in die
grond gehurk—die sogenaamde “long drop”.
Gewysigde weergawe van ’n foto
deur ©
Andrew Dunn,
wat die oorspronklike op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 2.0-lisensie
Hier te lande het die doenighede rondom die buitetoilet miskien nog
betreklik sindelik daaraan toegegaan, maar elders ter wêreld was dit
nie oral so nie. Só is afvalmateriaal plek-plek in plattelandse
gebiede as bemesting oor die grond gestrooi, terwyl emmers in stede
dikwels in die strate uitgegooi is, wat gereeld tot siektes gelei
het.
Die idee van ’n spoelgemak is teen die einde van die 1500’s
bedink. Sir John Harrington, ’n kleurryke Engelse howeling en
peetkind van Elizabeth I, het ’n ruwe toestel ontwerp wat hy in sy
tuiste naby die dorp Bath geïnstalleer het. Maar ’n uitgebreide
pypwerk was nodig en die idee het nie juis aftrek gekry nie.
Harrington se waterlatrine was sy tyd ver vooruit, en dit was eers
twee eeue later, in 1775, dat ’n verbeterde weergawe deur die
Londense horlosiemaker Alexander Cummings op die toneel verskyn het.
Nog verbeterings is in 1778 deur die Engelse skrynwerker Joseph
Bramah aangebring.
Toilette is in die eerste helfte van die 1800’s ál meer in
rykmanshuise geïnstalleer en allerhande ontwerpe het op die mark
verskyn. Maar die spoelsels het meestal in vuilputte beland, wat
dikwels uitgelek of oorgeloop en kieme laat versprei het. Nog baie jare
sou verloop voordat vuilputte deur moderne vuilriole vervang is.

BO: Die caldarium
van die Romeinse openbare baddens by Bath, England. 'n
Caldarium was ’n stomende vertrek met ondervloerse
verhitting, die warmste in die reeks badvertrekke in ’n
Romeinse badkompleks. Die vloer is hier verwyder om die leë
ruimte te toon waardeur warm lug gevloei het om die
vloerteëls te verhit. Die lug is deur ’n stookoond (ook
onder die vloer) verwarm.
Foto deur
Akajune,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web
gelisensieer het ingevolge die
Creative Commons
Attribution ShareAlike 3.0-lisensie,
waarvolgens hergebruik en wysigings op sekere voorwaardes
vergun word
Verhitting
IN die voortyd het mense in koue, donker plekke gewoon, veral in
die winter. Die eerste vorms van binnenshuise verwarming was vure
binne-in grotte of skuiltes. Die antieke Romeine het ’n merkwaardig
gevorderde stelsel van sentrale verwarming teen koue ontwerp. Hitte
van ’n oond onder die vloer is deur pype in die mure van die huis
gesirkuleer.
Die praktyk om verskeie kamers met net een vuur te verhit, het in
die vergetelheid verval ná die val van die Romeinse ryk. Trouens,
deur die Middeleeue heen was die enigste vorm van verhitting ’n
groot vuur in die middel van die kamer. Vuurherde met skoorstene
waardeur die rook kon ontsnap, was die volgende stap, gevolg deur
stowe.
Maar geen alternatief vir hout- of steenkoolvure of stowe is
uitgevind voor die 1850’s nie, toe die eerste doeltreffende gasvuur,
wat op die beginsel van die bunsenbrander gegrond is, sy verskyning
gemaak het. In gasvure is lug onder die vlam ingetrek sodat die vuur
warmer as gewoonlik gebrand het.
Elektriese verhitting het in die 1890’s beskikbaar geword. In die
vroeë modelle is ’n plat ysterplaat aan die binnekant verhit deur
drade waardeur ’n elektriese stroom gevloei het. Die gebruik van
nikkel-chroomdrade sedert 1912 het elektriese verhitting baie
verbeter.
In 1937 is tafelwaaiers met elektriese verhitters daarby in Amerika
verkoop. Die waaiers het lug deur die verhitters in die kamer
ingeblaas. Die moderne waaierverhitter wat ons vandag in baie huise
kry, is in 1958 deur dr. Bruno Eck in Duitsland ontwerp. Baie huise,
skole, kantore en fabrieke in koue lande het vandag
sentraleverwarmingstelsels. Hitte word op een plek opgewek en dan in
die verskillende kamers versprei.
Beligting
IN die tyd voor kunsmatige beligting het mense gewoonlik gaan
slaap wanneer dit donker geword het en teen dagbreek opgestaan. Maar
reeds in die Steentyd kon mense die dag ná sononder verleng deur
diervet in skulpe of uitgeholde klippe te laat brand.
Die antieke Perse en Egiptenare het erdelampe gebruik waarin olyf-
of raapolie laat brand is deur middel van ’n pit wat van plantvesels
gemaak is. Die Grieke en Romeine het soortgelyke lampe van klei of
brons gebruik, met pitte van linne of papirus.
Kerse is sowat 2000 jaar gelede vir die eerste keer gebruik. Katoen-
of vlasdrade is met skaap- of varkvet bedek. Vetkerse was stink en
rokerig en het gou en oneweredig gesmelt. Tog het die vetkers eeue
der eeue lank sy plek in baie huise vol gestaan—ook in
Suid-Afrika, waar die geroemde opsitkers aanvanklik ’n vetkers moet
gewees het.
In die Middeleeue het biesieligte in ons Europese stamlande snags ’n
flou, flikkerende skynsel verskaf. Biesieligte was gedraaide biesies
wat in vet gedoop is.
Deur die jare is geringe verbeterings aangebring, waaronder die
gebruik van byewas en paraffienwas (gedistilleer uit ru-olie) vir
kerse en die toevoeging van weerkaatsers om die lig van lampe te
versprei of te konsentreer.
Ná die ontdekking in 1859 van groot neerslae ru-olie in Pennsilvanië
in Amerika, het paraffienolielampe vir huisverligting gewild geraak.
Hulle was immers betreklik veilig, maklik om te hanteer en het ’n
bestendige lig verskaf sonder dat hulle té sleg geruik het.
Maar niks het die lewenswyse van mense so verander as die koms van
gasligte in die 1800’s nie.
LINKS:
’n Gaslamp vir buiteverligting in die geskiedkundige sentrum van
Wroclaw in Pole. Dit word elke aand manueel aangesteek en elke
oggend ook weer deur iemand geblus.
Detail van ’n foto deur “Julo”,
wat dit by Wikimedia Commons op
die wêreldwye web tot openbare besit verklaar het (“released into
the public domain”)
Die eerste gaslampe was onwelriekend en
vuil en het slegs ’n beskeie lig afgegee, maar gasverligting het
baie verbeter nadat Carl Auer, ’n student van die Duitse
wetenskaplike Robert von Bunsen, die gasmantel uitgevind het.
Die mantel, ’n soort gaas wat om die vlam geplaas is, het die vlam
witwarm laat gloei en meer lig laat maak. Dit het huise helderder
verlig en die strate snags veiliger gemaak.
REGS:
Die mantel in ’n ou gaslamp.
Gasverligting sou waarskynlik selfs verder ontwikkel het, maar teen
die laat 1800’s het ’n skoner, nog helderder soort beligting sy
verskyning gemaak: die elektriese lamp. Verskeie elektriese lampe is
in die loop van die 1800’s gemaak, maar geeneen was werklik prakties
nie, totdat die Engelse wetenskaplike Joseph Swan en die Amerikaanse
uitvinder Thomas Edison onderskeidelik in 1878 en 1879 met
doeltreffende elektriese lampe vorendag gekom het.
Elektriese verligting het in die vroeë 1900’s posgevat en in ’n
groot mate ander vorms van verligting oor die wêreld heen vervang,
hoewel olie- en gaslampe in sekere lande die vernaamste
ligverskaffers sou bly.
|