|
|
|
Siberiese
wonder
en ander beroemde mere
Die
Baikal
|
|
Foto deur PHG beskikbaar gestel op die web ingevolge die GNU Free Documentation License, waarvan die bepalings verstrek word by hierdie skakel van die vrye Wikipedia-ensiklopedie |
Teks uit Huisgenoot se Ons
Wonderlike Węreld
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com
|
‘‘E |
K worstel
steeds met die Baikal,” het Raspoetin geskryf, die Siberiese
landbewoner wat die invloedryke vriend van die tsaar en tsarina van
Rusland geword het. “Ek voel onbekwaam, nie in staat om te beskryf wat
voor my lę nie. Niemand het genoeg sintuie om hierdie wonderwerk waar
te neem nie.”
Die
wonderwerk waaroor Raspoetin so liries geraak het, is die Baikalmeer in
Suidoos-Siberië. En ander mense wat die meer al gesien het, sal beaam
dat hy nie oordryf het nie.
Die
Baikalmeer is geleë tussen hoë berge en vir die grootste deel omring
deur steil hange dig begroei met denne- en berkebome, wat soms in die
sonskyn en dan weer in die newels gebaai is. En van Januarie af totdat
die laaste ys in Mei weggesmelt het, is hy bevrore. ’n Asembenemende
gesig.
Maar dit
is die statistieke wat toon hoe uniek die Baikal werklik is. Dit is vir
eers die diepste meer op aarde—1620 m diep op sy laagste plek. Dan
bevat dit ook die meeste vars water van alle varswatermere
—23 000 kub. km, wat sowat ’n vyfde van al die vars water op aarde
is. Daar is al bereken dat dit al die riviere ter węreld ’n jaar sal
kos om Baikal te vul!

Kaart: aanpassing uit The World Factbook / CIA / PD
Maar waar kom sy water vandaan? Die meer word deur altesaam 336 riviere gevoed. Tog vloei slegs een, die Angara, daaruit. Die Baikal se oppervlakte beslaan ’n verstommende 31 500 vk. km—groter as die landoppervlakte van Lesotho—hoewel verskeie ander mere groter oppervlaktes het.
Dit
is nie besonder breed nie—79 km op sy breedste en 25 km op sy smalste—maar
sy sekelvormige vanggebied is ’n verbasende 636 km lank, byna so ver
soos die afstand tussen Kaapstad en Port Elizabeth.
REGS:
’n Navorsingskip lę vasgemeer op die Baikal.
Foto: USGS
Wetenskaplikes
sę die Baikal is ook die oudste meer op aarde en raam sy ouderdom op 25
miljoen jaar. Dit is merkwaardig dat ’n varswatermassa so lank kan
oorleef—gewoonlik word mere met slik opgevul en verander hulle is
moerasse voordat hulle heeltemal verdroog.
Maar
die Baikal se dramatiese geologiese verlede toon dat dit geleidelik groter
word pleks van verdwyn. Dit is deur bewegings in die aardkors gevorm
wat vandag steeds voortduur en die oewers in ’n tempo van 2 cm per jaar
uitmekaar dwing. Geoloë beweer selfs die Baikal gaan uiteindelik die
vasteland van Asië middeldeur kloof en dan ’n soutwatersee word.
Dit
is geen verrassing dat so ’n aktiewe meergebied ook baie diere en plante
huisves nie. Trouens, bioloë het reeds meer as 2 600 dier- en
plantspesies hier opgeteken—waarvan 1 360 spesies nęrens elders op
aarde voorkom nie.
Daar is baie soorte visse in die meer, waaronder varswatersnoek, baars, steur, vlagsalm en die ekonomies belangrike salm-agtige omoel (wat as ’n lekkerny beskou word).
LINKS:
Omoelvisse op ’n mark van Listwianka
Foto deur JAN VAN DER CRABBEN, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die web beskikbaar stel ingevolge die Creative Commons-lisensie vir vrye gebruik
Nog ’n vis, die golomjanka, woon in die
stikdonkerte 1 400 m onder die meeroppervlak en is heeltemal deursigtig.
Baie verskillende ongewerweldes, veral talryke garnaal-agtige
kreatuurtjies en sponse, verskaf kos vir die visse.
Maar
die beroemdste inwoner is die nerpa-rob, wat inheems aan die Baikal is.
Die stuk of 70 000 nerpas bak in die son op die meer se 27 eilande en
vreet die visse in die water. Baie Siberiërs maak ’n lewe deur die
nerpas te jag. Die jag word streng beheer en, tot in die onlangse dekades,
het die nerpa-bevolking konstant gebly.
Die
Baikalmeer en sy oewers was vroeër ’n ongerepte wildernis. Maar namate
die voormalige Sowjet-Unie sy ekonomie begin uitbrei het, het hy die meer
met sy enorme watervoorrraad en baie timmerhout as ’n voor die hand
liggende plek vir nywerheidsontwikkeling beskou. Meer as sestig fabrieke,
onder meer vir die vervaardiging van papier, pulp en sellulose, staan tans
aan sy oewers en stort jaarliks honderdduisende tonne chemiese afvalstowwe
in die eens onbesoedelde water.
Die
afval word wel gefiltreer om organiese stowwe daaruit te verwyder, maar
besoedelende stowwe soos sink, kwik en wolfram bly oor. Boonop word die
riool van verskeie nywerheidsdorpe in die meer ingepomp. En enorme
naaldwoude in die streek om die Baikalmeer is deur suurreën verwoes.
Industrialisasie
het ’n vernietigende uitwerking op die meer se natuurlewe gehad. Die
getalle van baie soorte visse en garnale het gekrimp, wat weer ’n
uitwerking het op die robbe en visse wat hulle vreet, asook op die
plaaslike inwoners wat van die jag op robbe en visvangste lewe. Die prys
van vooruitgang is duur!
•
Die Bowemeer (''Lake Superior'') aan die grens tussen die Verenigde
State van Amerika en Kanada is, wat sy oppervlak aanbetref, die grootste
varswatermassa op aarde. Hy lę uitgesprei oor 82 103 vk. km. As een van
die vyf Groot Mere van Noord-Amerika, het hy ’n verruklike skoonheid.
Die kuslyn is rotsagtig en bebos, en daar is genoeglike oorde waar mense
in die somer gaan uitspan. Sowat 200 riviere vloei in die Bowemeer.
•
Die Kaspiese See is in werklikheid geen see nie, maar ’n
soutwatermeer. En met sy gemiddelde lengte van 1 210 km en oppervlak van
372 000 vk. km, is hy die langste en grootste binnelandse watermassa ter węreld.
Hy lę tussen Oos-Europa en Asië, aan drie kante begrens deur die
voormalige Sowjet-Unie en aan die vierde kant deur Iran. Verskeie riviere
vloei in die meer in, maar daar is geen rivier wat uitvloei nie en al die
water ontsnap deur verdamping. Die water van die Kaspiese See is minder
sout as seewater.
•
Die Dooie See in die Midde-Ooste is, net soos die Kaspiese See,
eintlik ’n soutwatermeer. Die oewer, sowat 395 m onderkant seevlak, is
die heel laagste plek op die oppervlak van die aarde. Mineraalryke water
vloei in die meer in—meestal vanuit die Jordaanrivier, maar ook vanuit
verskeie seisoenale strome. Geen rivier vloei egter uit die Dooie See na
die see toe nie en water kan gevolglik net deur verdamping ontsnap. Die
Dooie See is nege keer souter as die see—so sout dat ’n swemmer nie
daarin kan sink nie, maar altyd bo bly dryf.
•
In ’n natuurlike holte in die Andesgebergte, 3812 m bokant
seevlak, lę die Titicacameer, die hoogste bevaarbare meer op aarde. Hy lę
aan die grens tussen Peru en Bolivia. Die oewer en eilande van die
Titicaca is eenmaal deur die Inka bewoon, van wie die bouvalle steeds
staan. Vandag se bewoners is Indiaanse stamme, wat groter longe en harte
en meer rooi bloedliggaampies as die meeste ander mense het, sodat hulle
in die dun lug kan oorleef.
•
Afrika se Tanganjikameer is die naasdiepste en naasoudste meer op
aarde. (Siberië se Baikalmeer is die diepste en oudste.) Die Tanganjika
word deur vier lande begrens—die Kongo en Zambië in die weste en
Burundi en Tanzanië in die ooste. Hy is op sy diepste
1435 m diep en geleerdes reken die meer is twee miljoen jaar oud. Die
Tanganjikameer is darem ook self ’n rekordhouer: geleë in die westelike
arm van Afrika se Groot Skeurvallei, is hy met sy lengte van 680 km van
noord tot suid die langste varswatermeer ter węreld.
•
Op die hakke van Noord-Amerika se Bowemeer is Afrika se
Victoriameer—met ’n oppervlak van 69 484 vk. km die naasgrootste
varswatermeer ter węreld en die grootste meer in Afrika. Aan die grens
tussen Uganda en Tanzanië, met ’n klein deeltjie wat in Kenia instrek,
is die Victoriameer die grootste bron van die Nyl.
•
Die Assalmeer in Djiboeti, ’n klein landjie in Oos-Afrika, is om
twee redes beroemd: hy lę 155 m onderkant seevlak, die heel laagste plek
op die vasteland van Afrika; en wanneer hy inderdaad water bevat, is hy
die soutste watermassa op aarde—tien keer souter as seewater. Verskeie
seisoenstrome vloei in die Assalmeer, maar niks vloei uit nie. Wanneer die
water in die warm klimaat verdamp, word die sout agtergelaat. Vir die
grootste gedeelte van die jaar is die Assalmeer nie ’n meer met water
nie, maar ’n bedding van sout.
Klik
hier om terug te keer na die inhoudsblad