|
Die
fantastiese mikrobes oral om ons—wat niemand nog ooit met die blote
oog gesien het nie |
|
||||
|
••• •• ••••••• ••
Daar
is “goeie” bakterieë en “slegtes”, maar baie meer
nuttiges as skadelikes. Al tel sekeres wel onder die grootste
mensemoordenaars wat daar is, is ander weer uiters noodsaaklik vir die
voortbestaan van lewe op ons planeet…
BO: Escherichia coli-bakterieë soos waargeneem met die skandeer-elektronmikroskoop. Hierdie bakterieë is algemeen in die ingewande van warmbloedige lewende wesens en is in die reël onskadelik, maar sekere stamme daarvan kan ernstige voedselvergiftiging by die mens veroorsaak. Krediet: Rocky Mountain Laboratories / NIAID / U.S. National Institutes of Health
|
|||||
LMAL
weet van bakterieë al het niemand nog ooit een met die blote oog gesien
nie. Hulle is mos piepklein, onsigbare mikro-organismes (mikrobes) wat
elk uit slegs een sel bestaan. ’n Mens kry hulle oral in die natuur,
waar hulle meestal as kolonies op die oppervlakke van voorwerpe aanteel. Bakterieë
vermenigvuldig in die reël deur ongeslagtelike seldeling. Dit wil sê een sel
verander in twee soos, sê maar, ’n waterdruppel teen ’n ruit wat in
die middel al hoe maerder word totdat dit naderhand in twee druppels
wegbiggel. Elke sel is ’n presiese weergawe van die sel waaruit dit
gekom het. Teenoor die enkele sel van ’n bakterie kry ons byvoorbeeld
die menslike liggaam met sy miljoene selle. Daar
is skaars ’n hoekie op ons lewende planeet waar jy nie bakterieë sal
vind nie. In die wolke in die lug, op die ys van Antarktika, in die
swaweldampe van ’n byna kokende warmbron, tien kilometer ondertoe op
die seebodem, 1500 meter onder die aardoppervlak in soliede rots, in
’n verrottende perske, in die wortels van plante, in die pense van
diere en selfs in jou mond—noem maar ’n plek en bakterieë is daar.
Iemand het al bereken dat daar ’n Mens kan nog ander, selfs
verstommender, berekeninge doen. Ons weet byvoorbeeld dat party bakterieë
elke twaalf tot twintig minute kan verdeel. Gestel nou jy neem een wat
elke twintig minute verdeel en hou boek van sy nageslag. Ná twintig
minute is daar twee, nog twintig minute later is daar vier, ensovoorts.
As al die aankomelinge bly lewe, weeg hulle binne slegs 45 uur net so
swaar soos die aarde! Gelukkig gebeur dit nie. Dit is
danksy die bakterieë se enorme wedywering vir kos en omdat ander
piepklein organismes, byvoorbeeld skimmel, stowwe vervaardig wat
bakterieë laat vrek. Sulke feite is lank nie die
enigste wat bakterieë so uiters fassinerend maak nie. ’n Mens kan jou
immers kwalik indink in ’n lewetjie wat so kort as vyftien minute kan
wees. Of een wat dikwels geslyt word op een kolletjie wat minder as ’n
duisendste van ’n millimeter breed is en waar konsepte soos dag en
nag, die weer en bo en onder betekenisloos is. Maar in teenstelling met
daardie kortstondige lewetjie van ’n kwartier, is daar die ander
uiterstes in die magtige ryk van die bakterieë. Só is daar mikrobes
wat blykbaar 4800 jaar lank in die steenwerk van Peruaanse piramides bly
lewe het of ander wat moontlik 11 000 jaar in die ingewande van ’n
goed behoue geblewe mastodon (prehistoriese olifant) oorleef het. Dit
kan darem in die laasgenoemde geval wees dat dit slegs die nasate van
die oorspronklikes is wat nog gelewe het omdat daar so baie weefsel was
waarop hulle kon teer. Sekere bakterieë maak nietemin
van ’n baie doeltreffende strategie gebruik om te oorleef: hulle vorm
spore, oftewel sluimerende bakteriële selle met dik, beskermende
omhulsels wat lank in hul rustende toestand kan verkeer. Hulle ontluik
eers weer wanneer toestande vir hulle gunstig raak.
Bakterieë word soms
volgens hul vorm geklassifiseer. Sommige is staafvormig (basille), party
is rond (kokke), ander is kommavormig gebuig (vibrio’s) of gedraai soos
’n kurktrekker (spirille). Maar in ’n meer
onlangse klassifikasie word hulle eerder volgens hul eienskappe as hul
vorm ingedeel. Behalwe wat hul vorm aanbetref, kan ons hulle met ’n
gewone mikroskoop egter nie juis van klein lugblasies onderskei nie. Die nut en nadele van bakterieë WAT
is dan die nut al dan nie van al hierdie primitiewe skepseltjies? Niemand
kan meer ontken dat hulle van groot belang vir die wêreld as ’n geheel
en in die besonder vir die mensdom is nie. Só is bakterieë byvoorbeeld
kardinaal in die vorming van vrugbare grond, die afbreking van
besoedelende stowwe soos olie en plastiek, die beheer van insekte, die
maak van medisyne en wat nog alles. Trouens,
die mikrobiologie is ’n reusagtige en groeiende studiegebied en, selfs as jy
nie van plan is om jou ooit in dié studierigting te begewe nie, kan dit
jou steeds interesseer om te verneem watter enorme rol bakterieë in ons
lewens speel. Nog ’n voorbeeld van die nut van
bakterieë, hoewel ietwat ekstreem, is die volgende: in Nederland, waar
duine en dyke die see van die laagliggende land moet weghou, is daar nou
al selfs planne om sekere bakterieë te gebruik om die duine te verstewig
deur hulle in sandsteen te verander. Hierdie besondere bakterieë skei
kalsiet (kalksteen) af, wat as 't ware sandkorrels aan mekaar vasmessel!
Alles het glo begin by ’n Australiese navorser, ene Vicky Whiffin, wat
bakterieë vir die restourasie van sandsteen-monumente gebruik. Teenoor
“goeie” bakterieë is daar natuurlik ook die skadelikes, die
groot verwekkers van siektes. Dié soorte versprei veral deur middel van
besmette kos, afval, vullis en seksuele kontak. Dat
bakterieë, die groot hulp van die mens,
dus ook onder die grootste mensemoordenaars tel, is ’n jammerlike
waarheid. As hulle hulle in jou weefsel
tuis maak, absorbeer hulle voedsel uit die vloeistof in hul omgewing. Die
bakterieë kan so vinnig aanteel dat die weefsels beskadig raak en die
mens daarvan doodgaan. Bakterieë kan ons ook op 'n ander manier laat
sterf: hulle kan gifstowwe (toksiene) vrystel wat dodelike siektes
veroorsaak. Bakterieë
wat siektes in soogdiere en voëls veroorsaak, groei gewoonlik die beste
by liggaamstemperature. Baie bakterieë wat koudbloedige diere soos slange
en skilpaaie siek maak, kan dit nie aan warmbloedige voëls of soogdiere
doen nie, omdat die warm liggaamstemperature die bakterieë doodmaak of
hul groei beperk. Bakterieë
kan egter ook erg taai en gehard wees—baie soorte vrek nie eens as
hulle 'n lang tyd in ys gelê het nie. Daarteenoor kan geen bakterie groot
hitte en 'n lang blootstelling daaraan oorleef nie. Snydokters kan dus hul
instrumente deeglik reinig deur dit vir vyftien tot twintig minute in
kookwater te dompel.
Maar
dit is belangrik om te besef dat daar baie, baie meer bakterieë is wat
vir ons en ander lewensvorme voordelig is as wat daar dié is wat skadelik
is. Baie
diere is byvoorbeeld heeltemal afhanklik van bakterieë om hul kos te kan
verteer. Dit geld veral plantvreters—van groot gewerwelde diere soos
beeste en skape tot klein ongewerweldes soos termiete. Danksy
die mens se natuurlike afweer- of immuunstelsel kan skadelike bakterieë
normaalweg nie ons liggame binnedring nie. Maar nuttige bakterieë floreer
wel binne-in ons almal. In jou ingewande speel die sogenaamde kommensale
bakterieë ’n belangrike rol in jou spysvertering. En
as daar nie bakterieë was wat verrottende afval kon afbreek nie, watter
kolossale vullishoop sou die aarde nie gewees het nie. Die geskiedenis van
bakteriologie en
|
|||||
|
Elektronmikrograaf:: U.S. Centers for Disease Control and Prevention • ANTRAKS is ’n akute aansteeklike siekte wat deur die spore-vormende bakterie Bacillus anthracis veroorsaak word. REGS is hoe sulke spore onder die elektronmikroskoop lyk. Die siekte kom meestal voor by wilde en mak gewerwelde diere (beeste, skape, bokke, kamele, wildsbokke en ander plantvretendes), maar ook by mense wanneer hulle blootgestel word aan besmette diere of die weefsels van sulke diere. Antraks is boonop onder die voorste siektes wat in sogenaamde bioterroristiese aanvalle of kiemoorlogvoering versprei kan word—waar kieme deur gewetenlose terreurgroepe gebruik word om verskrikking te saai. Voorts is antraks veral in sekere boerderystreke ’n wesenlike gevaar, waaronder in Afrika, Suid- en Sentraal-Amerika, Suid- en Oos-Europa, Asië, die Karibiese gebied en die Midde-Ooste. Wanneer mense besmet raak, is dit gewoonlik omdat hul met besmette diere of dié se produkte gewerk het. Om dinge nog erger te maak, kan B. anthracis-spore baie jare lank in die grond oorlewe, waarna hulle ’n verbylopende, grasvretende dier kan infekteer om miskien uiteindelik ook mense baie siek of selfs dood te maak. Die besmetting kan in drie vorms plaasvind, te wete deur die snye of wonde in vel, vanweë inaseming of in die maag en ingewande. As dit deur wonde in die vel geskied, volg jeukerige sere en bloedblase. Infektering weens inaseming is hoogs gevaarlik en dikwels dodelik omdat die longe erg ontsteek raak. Die ingewandsvorm van antraks kan veroorsaak word deur die eet van besmette vleis en word deur ’n akute inflammasie van die spysverteringskanaal gekenmerk. Infektering deur die vel kom in 95 persent van die gevalle voor en die dood is die voorland van sowat 20 persent van sulke geïnfekteerdes wat nie teenmikrobiese terapie ontvang nie. Besmetting deur inaseming is gewoonlik noodlottig en selfs met aggressiewe antibiotiese en ander behandeling kan miskien die helfte van die slagoffers deurgehaal word. Ingewandsantraks lei in 25 tot 60 persent van die gevalle tot die dood. Gelukkig is ’n entstof teen antraks geregistreer wat tot die beskikking is van mense wat in gebiede woon of op plekke werk waar hulle gevaar loop om besmet te raak. Daar is berig dat die entstof 93 persent doeltreffend is om beskerming teen antraks te verleen. |
|||||