|
Ballonvaart
Hoe die mens leer vlieg het
REGS:
Die mens se eerste vry vlug in ’n ballon—sonder enige toue wat dit
met die aarde verbind. ’n Ou voorstelling van die avonturiers
Jean-François Pilâtre de Rozier en die markies d’Arlandes se
geskiedkundige vlug bokant Parys, Frankryk, op 21 November
1783.
Krediet: U.S. Library of Congress
Dit was
een van die gedenkwaardigste oomblikke in die geskiedenis van
lugvaart: die eerste bemande warmlugballon het die grond verlaat en
vry in die breë hemelgewelf bokant Parys opgestyg. Van die begin af
het ballonne getoon dat hulle te onbetroubaar is om as ’n openbare
vervoermiddel te deug, maar spoedig het ballonsweef tot die statige
lugskip ontwikkel. Hier is die boeiende verhaal van ballonvaart...
soos dit aanvanklik was en soos dit vandag steeds beoefen word...
Hoofteks uit Ons Wonderlike Węreld
Grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com
REGS:
’n Ballon-manie het losgebars ná De Rozier en die markies d’Arlandes
se baanbrekervlug. Soos op hierdie ou illustrasie gesien kan word,
het nog ’n Franse pionier selfs klappende “vlerke” geprakseer om sy
ballon se vlug te probeer beheer. Jean-Pierre Blanchard (1753-1809)
het nie veel sukses met sulke meganismes gehad nie, maar hy hom tog
as ballonvaarder onderskei. UIteindelik het hy egter weens 'n hartaanval
in Den Haag, Nederland, uit sy ballon geval en het hy ’n aantal weke
later aan sy beserings beswyk.
Krediet: U.S. Library of
Congress
AS dit regtig besig om te gebeur? Was mense
werklik aan die sweef deur die hemele nadat hulle dit soveel
duisende jare lank tevergeefs probeer doen het? Sou ’n mens dan nie
ontplof daar in die hoogte met sy dun lug nie? Of ten minste van jou
verstand af raak nie?
Nee, tog nie! Pleks daarvan het die węreld se eerste
lugvaarders
veilig op Moeder Aarde geland en is hulle as helde
terugverwelkom—danksy twee ondernemende broers wat geglo het dat die
lug nie slegs vir die voëls is nie, maar dat die mens dit ook kan
bemeester.
In die 1780’s het hierdie twee Franse broers, die
papiervervaardigers Jacques en Joseph Montgolfier, by hul huis in
Avignon met warmlugballonne begin eksperimenteer. Hul eerste model,
’n stuk doek wat oor ’n houtraam getrek is, is gevul met warm lug
wat deur middel van brandende papier opgestyg het.

BO:
Jacques (links) en Joseph Montgolfier.
REGS:
’n Model van broers Montgolfier se ballon in die Londense
Wetenskapmuseum.
Krediet: Mike
Young
(verklaar tot openbare besit; “released into the public domain”)
Op 4 Junie 1783 het die broers Montgolfier
hul uitvindsel aan ’n verbaasde skare op ’n buurdorp gedemonstreer.
Die volgende môre is die broers Montgolfier Parys toe, waar hulle
verneem het dat ’n mededinger, ’n Franse skeikundige genaamd Jacques
Charles, ’n ballon uitgevind het wat gevul word met waterstof, ’n
gas wat ligter as lug is.
Charles het sy uitvindsel op 27 Augustus gedemonstreer. Die ballon
het 910 m hoog gestyg en ’n afstand van 24 km afgelę voordat dit
weer geland het.
Die Montgolfiers het egter onverstoord hul warmlugballon bly
verbeter en op 19 September 1783—voor koning Lodewyk XVI, koningin
Marie Antoinette en ’n groot skare—het hul ballon in die lug bokant
Versailles opgestyg.
Die ballon het die węreld se heel eerste lugpassasiers meegevoer: ’n
skaap, ’n eend en ’n haan. Al drie passasiers het ná agt minute
veilig geland—moontlik met ’n groot geblęr, gekwaak en
hoendergeluide.

BO: Die ballon
met die skaap, eend en haan styg voor ’n groot skare op by
die koninklike paleis van Versailles, Frankryk.
Krediet: U.S.
Library of Congress
Intussen het ’n geesdriftige
26-jarige Franse wetenskaplike, ene Jean-François Pilâtre de Rozier,
die broers Montgolfier genader om die eerste mens te mag word wat
met ’n ballon opstyg. Koning Lodewyk XVI het egter reeds ’n verbod
op menslike vlugte geplaas. Sy adviseurs het aangevoer dat ’n mens
kan bars of waansinnig raak as jy so hoog in die lug rondsweef. Maar
De Rozier was so vasbeslote dat die koning uiteindelik oorgehaal is
om hom toe te laat om te probeer vlieg.
Op 21 November 1783 het hordes nuuskieriges in die strate van Parys
saamgedrom en, bisar soos dit ook vandag klink, gehoop dat hulle ’n
skouspelagtige dood sou sien. De Rozier en ’n leëroffisier, die
markies d’Arlandes, het in die mandjieswerk-gondel geklim en, net
voor tweeuur die middag, is die toue losgemaak wat die
Montgolfier-ballon vasgehou het.
Die mans het stilweg opgestyg. Hulle het ’n hoogte van sowat 9 m
bereik en, tot die verbasing van die skare daar onder, nie in fyn
stukkies ontplof nie. De Rozier en d’Arlandes het 25 minute lank in
die lug gebly en nagenoeg 10 km verder veilig geland.
Die hele Parys—of so moet dit ten minste vir hulle gelyk het—het
hulle met wilde applous verwelkom toe hulle weer in die stad aankom.
En so het die era van ballonvaart begin.
REGS:
Jean-François Pilâtre de Rozier.
DIE eerste lugvaarders het dit glad nie maklik
gehad nie. Hulle is die uitspansel in met hope moed, maar met weinig
begrip van hoe om hul toerusting te beheer of van die risiko’s wat
hulle geloop het. Die ballonne is onbeheerbaar meegevoer na waarheen
die wind hulle ook al gewaai het en die lugreisigers moes dikwels
uit die see of uit bome gered word.
Die eerste ballonne is opgeblaas met warm lug wat verkry is deur
vodde en strooi te verbrand—baie gevaarlik, want brande kon gestig
word—of met waterstof, destyds die enigste bekende gas wat ligter as
lug was. Die waterstofballonne was werklik lugbomme wat te eniger
tyd kon ontplof.
De Rozier se welslae het hom selfs meer ambisieus gemaak en in Junie
1785 het hy saam met ’n vriend, Jules Romain, die Engelse Kanaal
probeer oorsteek met ’n ballon vol warm lug met waterstof daarby.
Die kombinasie van vuur en waterstof was dodelik. Die ballon het op
’n hoogte van sowat 1500 m ontplof en altwee mans is gedood. Om die
tragedie nog groter te maak was De Rozier se verloofde, ’n Engelse
meisie genaamd Susan Dyer, onder die toeskouers. Sy het van skok
dood neergeval.
Benewens gevare soos dié, moes lugvaarders ook nog baiemaal woedende
skares trotseer omdat party mense geglo het dis ’n sonde om die
aarde te verlaat. Die beswaardes wou dan met alle geweld hul
ballonne vernietig, want hulle het geglo dit kom van die duiwel af.
Maar niks kon die mens se liefde vir die lug demp nie en in die laat
1700’s en 1800’s is ál langer en hoër ballonvaarte oor Europa
onderneem. Dit het wetenskaplikes in staat gestel om baie van die
geheimenisse van die bo-atmosfeer te ontrafel. Verskeie gebruike is
ook vir ballonne in oorlogvoering gevind. Hulle is meestal as
platforms gebruik waarvandaan op vyandelike stellings gespioeneer is
of om pos te vervoer.
Maar ondanks alles kon ballonvaarte nooit ’n betroubare manier van
openbare vervoer word nie. Hulle was doodeenvoudig te afhanklik van
die grille van die wind. Geleidelik het die plan begin posvat om
ballonne met motore toe te rus sodat hulle gestuur kon word—en in
die middel-1880’s het die eerste lugskip sy verskyning gemaak.
Soos in ’n ander artikel vertel word, was die geskiedenis van die
lugskip van korte duur. Daarteenoor is ballonvaarte oor die jare
veiliger gemaak en het dit tot ’n gewilde sport ontwikkel en ook as
’n manier om die atmosfeer te verken.
In die vroeë 1930’s het ’n Switserse fisikus, Auguste Piccard, die
lugdigte sfeer ontwerp wat, geheg aan ’n waterstofballon, hom en ’n
helper eers 15.781 m hoog die
stratosfeer ingeneem het om kosmiese strale te bestudeer en, by ’n
ander geleentheid, 16.201 m hoog. Dertig jaar later het bemande
Amerikaanse ballonne meer as dubbel so hoog gevlieg.
Ballonvaarte met sowel warm lug as gas (waterstof, helium of
aardgas) leef steeds voort, hetsy as sport, toeristebedrywigheid of
vir wetenskaplike navorsing. Miskien word al ons gewone
avontuurlustiges ook nog eendag op ballonvaarte reg om die węreld
geneem—of liewer almal van ons wat dit sal kan bekostig.

BO: Die
Engelsmanne James Glaisher (links) en Henry Tracey Coxwell,
wat tussen 1862 en 1866 talle ballonvaarte onderneem het om
die temperatuur en vogtigheid van die atmosfeer te meet.
Foto: ROYAL
ASTRONOMICAL SOCIETY / SCIENCE PHOTO LIBRARY (Public
Domain Old)

BO: Groot
ballonne neem mense steeds op onvergeetlike ritte deur
die domein van die voëls.
Foto:
Todd Rastorfer
/ U.S. Army
Corps of Engineers (detail en gewysig)
|