|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
BAIN,
ANDREW GEDDES (1797-1864)
Foto: Kaapse Argief
NÁ
die Napoleontiese oorloë het talle Britte na die Kaap geëmigreer. Onder
hulle was daar sekere vooruitstrewende en hardwerkende manne wat hulle
besonderlik sou onderskei. Só iemand was Andrew Geddes Bain.
Bain
was ’n man van vele talente, wat sou uitblink as soldaat, handelaar,
ontdekker, padingenieur, geoloog, fossielversamelaar en skrywer en ’n
waardevolle rol in die ontwikkeling van Suid-Afrika gespeel het. Andrew
Geddes Bain is in Junie 1797 in Thurso, Skotland, gebore. Daar word
vermoed dat albei sy ouers oorlede is toe hy nog ’n kind was. Hy het in
1816 aan
boord van die Princess Charlotte in Suid-Afrika
aangekom. Twee
jaar later is hy met Maria Elizabeth von
Backstrom
getroud. (Daar was elf
kinders
en die sewende kind, Thomas Charles John Bain, het ook ’n beroemde
pasbouer geword.) Geheel
en al onverskrokke, fors van bou en met vonkelende blou oë, het Bain ’n
fyn Skotse humorsin en onuitputlike energie gehad. Bain
het van 1822 af dertien jaar lank in Graaff-Reinet gewoon en as saalmaker
gewerk. Ofskoon hy geen opleiding as landmeter of ingenieur gehad het nie,
het hy gehelp met die bou van die Oudebergpas en toesig gehou oor die bou
van die Van Ryneveldpas. In 1837 is hy deur die Royal Engineers as
superintendent van militêre paaie aangestel. Bain
het vervolgens begin werk aan die sogenaamde Queen's Road, noordwaarts oor
Bothasheuwel van Grahamstad tot by Fort Beaufort, en wat die Visrivierbrug
(destyds die grootste in Suid-Afrika) ingesluit het. Die moeilikste stuk
was ’n gedeelte oor die hoogtes net noord van Grahamstad. Dit is vandag ’n
paslike plek vir die Bain-gedenkteken. In
1845 is die Royal Engineers gereorganiseer en Bain se dienste met ’n
kort dankbriefie beëindig. John Montagu, wat in 1843 koloniale sekretaris
aan die Kaap geword het, het Bain onmiddellik as inspekteur van paaie vir
Wes-Kaapland aangestel. Onder
Bain se daaropvolgende prestasies was die voltooiing van die Michellspas
naby Ceres en die bou van die Bainskloofpas naby Wellington, waarmee hy
alom roem verwerf het.
Maar dit was lank nie al wat hierdie veelsydige man vermag het nie. Een van die mees noemenswaardige ander hoogtepunte in sy lewe was die opvoering van sy hekeldig Kaatje Kekkelbek, wat in die 1830’s geskryf is.
Dit is ’n kostelike monoloog deur die Khoi-vrou Kaatje, deels gesing en deels geresiteer, en ’n vermenging van Engels en die soort Afrikaans van daardie tyd. As sodanig is dit van die min geskrifte wat ons het van die vroeë Kaaps-Nederlandse “dialek”—’n onskatbaar waardevolle erfenis.
Boonop word selfs gesê dat Bain as satirikus en humoris ’n basis gelê het vir die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse letterkunde.
Kaatje Kekkelbek vertel onder meer: "Ons het die dag so lekker sit en karnaatjes eet, dat de vet solangs de bek afloop—maar hier kom de Boer by ons uit met zyn overgehaalde haan en sleep ons heele spul na de tronk."
Dis die Afrikaans van meer as anderhalf eeu gelede—maar dit is, uitgesonderd die klompie Nederlandismes, reeds so onmiskenbaar Afrikaans soos enige geskrif van vandag in dié taal!
Ná sy bedrywige lewe het Bain in 1863 ’n hartaanval gekry en is hy in 1864 in Kaapstad oorlede.
|