’n Laslappie van Mieliestronk

BEESTE:

Bulkende bielies van die Bovidae!

 

Die enorme rol van die bees in die Suid-Afrikaanse samelewing—van toeka tot vandag toe—kan kwalik oorskat word...

 

Foto: PeggyGreb / ARS / USDA

 

DIE bees behoort tot die genus Bos van die familie Bovidae. Beeste word geklassifiseer as vleisbeeste, melkbeeste of dubbeldoel-beeste, afhangende van die hoofdoel waarvoor hulle aangehou word. Benewens vleis en melk is hierdie dier ook ’n belangrike verskaffer van ander produkte soos leer. Vroeër jare het die bees boonop ’n uiters belangrike rol as trekdier gespeel.

 

En in tradisionele krale en statte was beeste die spil waarom hele ekonomieë gedraai het.

 

Die uitgestorwe oeros Bos primigenius was waarskynlik die eerste beesagtige dier wat deur die mens getem is. Op ’n ou rotstekening op ’n muur in ’n grot in die suide van Frankryk ding oerosse en ander diere om ruimte mee. Vandag se beeste is almal afstammelinge van die spesies Bos taurus of Bos indicus, of kruisings tussen dié twee.

 

Ou rotskuns: oerosLINKS: Afbeelding van ’n oeros in ’n grot in die suide van Frankryk.

 

Suid-Afrika se vleisbeesrasse word in vier kategorieë ingedeel, te wete kleinraamvleisrasse (betreklik klein, maar kompak), grootraamvleisrasse (’n growwe beenstruktuur), Zeburasse (gehard met o.m. ’n groot los vel, lang bene en hangkruis) en sintetiese rasse (eindprodukte van kruisteling).

 

Die Afrikaner en Brahmaan behoort albei tot die Zebu's. Die Simmentaler is een van die sogenaamde dubbeldoelrasse (’n vleis- sowel as ’n melkbees).

 

AfrikanerbeesLINKS: ’n Afrikanerbees.

 

Foto: Probert Encyclopedia / PD  

 

’n Vleisbees word nie na willekeur opgekerf nadat hy geslag is nie. Inteendeel, ’n bepaalde aantal snitte moet gemaak word, omdat verskillende dele van die bees heeltemal van ander dele verskil.

 

Melkkoeie word meganies of met die hand gemelk. In die uier word melk deur selle uitgeskei en versamel dit in ’n holte bokant die speen. Hier word dit geberg totdat dit met drukking of suiging verwyder word. ’n Sluitspier hou die speen onder toe.

 

Die bees is ’n sogenaamde herkouer. Die gras wat beeste insluk, word net gedeeltelik gekou, want hulle moet hulself op die weiveld volprop sonder om nog tyd met die kouwerk te verspil. Later word die kos weer opgebring en behoorlik gekou sodat dit reg kan verteer.

 

Die pens van ’n herkouer het vier kamers. Die kos gaan eers na die grootpens, hoewel ’n deel daarvan wel regstreeks na die tweede kamer, of netpens, beweeg. Die kos gaan geleidelik van die grootpens na die netpens toe, waar bakterieë dit tot pulp of herkoutjie afbreek, wat later na die bek opgebring word.

 

Nadat die herkoutjie gekou is, word dit weer ingesluk en gaan dit deur die grootpens en netpens na die blaarpens, wat soos ’n filter werk en slegs goed gekoude, taamlik vloeibare voedsel na die melkpens deurlaat, waar die eintlike spysverteringsprosesse begin.

 

In die dunderm word die vertering voltooi.

 

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad