BLOMREUSE:
Die
stink bielie-blomme van
Sumatra en Borneo
Diep
in die afgeleë oerwoude van Sumatra en Borneo groei daar twee eienaardige
soorte blomme. Hulle is nie familie van mekaar nie en tog deel hulle ’n
aantal ongewone kenmerke: hulle is die grootste blomme op aarde, hulle
blom net al om die vyf jaar en hulle stink iets allervreesliks…
HY’S
so ietsie minder as ’n meter in deursnee en hy ruik na vrot vleis. As
daar nou een blom is wat jy nie op jou balkon sal wil sien groei of in ’n
blompot in jou sitkamer sal wil hê wanneer jou vriende kom kuier nie, dan
is dit hy.
Met
sy baksteenrooi, pokkerige blomblare in die vorm van olifantore rondom ’n
middelste bak, met ’n kussing van stekels daarbinne, lyk Rafflesia
arnoldii soos iets uit die wetenskapsfiksie.

BO:
Rafflesia arnoldii, ’n reuse-blom van 80 cm breed.
Foto:
Steve Cornish
(“cornstaruk”) van
Marlow in die Verenigde Koninkryk, wat dit op hierdie
bladsy in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web beskikbaar
stel ingevolge die Creative Commons
Attribution 2.0 License.
Die artikel oor die blom verskyn hier
in Wikipedia. Belangstellendes kan ook kyk na die foto-album van "cornstaruk" by
http://www.flickr.com/photos/scornish/
Maar
hierdie reuse-blom is geen versinsel nie. Hy is boonop die grootste enkele
blom ter wêreld en hy groei slegs in die koel, bergagtige reënwoude van
Sumatra en Borneo.
Die
tamaai Rafflesia het nie stingels en blare soos die meeste ander
plante nie en kan dus nie sy eie kos deur middel van fotosintese maak nie.
Pleks daarvan leef hy as ’n parasiet binne-in die houtige rankplant Tetrastigma
en suig hy die sappe uit sy gasheer deur fyn wortelhare.
Nagenoeg
elke vyf jaar bars die wortelhare uit die rankplant en vorm ’n
kopkool-agtige botsel. Dié word geleidelik groter en ontvou ná etlike
maande tot ’n blom. Die blom het maar ’n bitter kort leeftydjie—minder
as ’n week—en verspil dus geen tyd om bestuiwers te lok nie.
Maar
pleks van ’n soet geur te versprei soos ons van blomme gewoond is, skei
hy ’n reuk af soos dié van ’n verrottende kadawer. Aasvlieë en ander
insekte vind natuurlik die reuk onweerstaanbaar en sak op die blom toe. By
die manlike blom word stuifmeel versamel wat na die ewe onwelriekende
vroulike blom oorgedra word.
NET
so walglik is die stank van Amorphophallus titanum, ’n enorme
blom wat volgens sommige na dooie vis ruik.
REGS:
Amorphophallus titanum.
Foto: United States Botanic Garden
(PD)
Soos
Rafflesia blom hierdie knewel slegs een maal elke vyf jaar en dan
ook maar net drie dae lank. Maar wat hy in tyd kortkom, vergoed hy voor in
grootte, want hy kan tot 3,5 m hoog wees met ’n deursnee van 1,2 m.
Anders
as Rafflesia, wat ’n enkele blom is, is Amorphophallus ’n
infloresensie (groep blomme). Aasinsekte kruip in die bloeirooi bladskede
van die plant in met die verwagting om ’n maaltyd van vrot vleis te
geniet, maar ploeter dan tussen die honderde blommetjies van die bloeiwyse
rond terwyl hulle hulle kruisbestuif.
Rafflesia
arnoldii en Amorphophallus titanum is skaars in die
natuur. En omdat die woude van Borneo en Sumatra deur houtkappers en boere
vernietig word, raak hulle ál skaarser. Hul enigste redding is dat die
regerings in daardie wêrelddeel dit lonend sal ag om die reuse-blomme as ’n
toeriste-attraksie te bemark en daardeur ten minste ’n deel van die reënwoud
te bewaar.
|