|
Natuurbewaring Bedreig deur uitsterwing... ook die seekoei en ysbeer is op die sorgwekkende lang lys van meer as 16.000 kwynende aardse lewensvorme FOTO BO: ’n Seekoei plons in die water in—gelukkig vir hom nie in die
Demokratiese Republiek van die Kongo, waar hordes van sy soort in die afgelope tyd afgemaai is nie. Hierdie logge
dier is tuis in een van Uganda se nasionale parke, wat huisvesting aan baie bedreigde diere
bied danksy geldhulp van die Amerikaanse USAID-program. |
|||||||||||
IE lank gelede nie is daar amptelik aangekondig: die seekoei loop gevaar om uit te sterf. ’n Jaar of drie gelede (in 2006) was ons geskok toe die naam van ons waterliewende Hippopotamus amphibius vir die eerste keer verskyn het op die “Rooi Lys” van die internasionale waghond-organisasie wat die verdwyning van die aarde se plant- en diersoorte monitor. Al lyk hulle so baie nes varke en word hulle by dié en ander ewetonige hoefdiere soos die pekari’s ingedeel, reken sekere geleerdes deesdae dat die seekoeie se naaste neefs in werklikheid seelewende soogdiere soos die dolfyne en walvisse is. Dit en ander feite maak ons “rivierperd”, soos hy soms ook genoem word, ’n bra uitsonderlike en unieke tipe dier. Ook die feit dat hy so log en lomp lyk, maar glo oor kort afstande byna 50 km/h kan hardloop, laat ’n mens nogmaals besef dat die seekoei—soos iemand dit al so stuitig gestel het—“sommer ’n bul van ’n ‘koei’ is!” As só ’n kolos van ’n dier in die afsienbare toekoms tot ’n lewelose opstoppel in die museum gedegradeer sou word, sal dit darem ’n geweldige klad op die naam van die mensdom as die bewaarder van hierdie planeet wees. Maar hoeveel seekoeie is daar nog op aarde? Darem nog nie te min nie, dog wat die bewaringsbewustes verontrus, is dat hul getalle in die jongste tyd so dramaties afgeneem het. In 2006 is geskat dat daar wel sowat 125.000 tot 150.000 seekoeie in hul leefgebied oor is, te wete in Afrika besuide die Sahara. Maar dit verteenwoordig ’n afname van tussen sewe en ’n sorgwekkende twintig persent sedert ’n vorige berekening tien jaar vroeër in 1996. Die redes vir die krimpende getalle is dat hulle steeds vir hul vleis en ivoortande gejag word en dat hul habitat aan die verklein is. MAAR dit is nog baie lank nie al nie. Ook die ysbeer van die Noordelike Yssee word as bedreig aangedui deur Internasionale Bewaringsunie (International Union for Conservation of Nature, afgekort as IUCN), wat duisende spesies lys wat mettertyd dalk heeltemal van die aangesig van ons planeet kan verdwyn. In 2006 is die getal bedreigde spesies as 16.118 aangedui (7725 diere, 8390 plante en drie korsmosse en sampioene) en in 2007 is die totaal tot 16.306 opgedateer. In 2008 het ’n studie deur die IUCN getoon dat minstens 1141 van die 5487 soogdiere op aarde, sover bekend, gevaar loop om uit te sterf. Hierdie organisasie se sogenaamde Rooi Datalys is die mees omvattende inventaris van die stand van natuurbewaring op ons planeet. Wat ons eie vasteland aanbetref, lyk dit of die groot gevaar vir Afrika se wilde diere politieke
onstabilteit en onbeheerste jag is. Verskeie
seekoeispesies wat in die verlede gelewe het, het lankal uitgesterf,
waaronder etlike dwergsoorte van Madagaskar, Afrika se grootste eiland.
Geen diereliefhebber sal wil sien dat
Hippopotamus amphibius en
Choeropsis liberiensis dieselfde pad as hulle loop nie.
BO: Ysbeerwelpies in ’n ysgrot, waarin die kleintjies grootgemaak word.
Daar word tans gereken dat
aardverwarming die oorsaak is dat sulke grotte ontydig smelt. In die see is dit weer die bevolkings van haaie en rôe, waaronder die mantarog, wat
onrusbarend aan die afneem is.
|
|||||||||||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |
|||||||||||