Teks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie
deur Mieliestronk.com
BEELDHOUWERKE
kan van feitlik enige plooibare of kerfbare materiaal gemaak word,
anorganies (byvoorbeeld graniet) of organies (byvoorbeeld hout of
ivoor).
Die
drie klassieke prosesse van beeldskepping (skulptuur) is uitsnyding,
modellering en gieting. In ons tyd het moderne tegnieke soos sweising
en tegnologiese ontwikkelings soos neonbuise bykomende dimensies aan
skulptuur verleen.
Uitsnyding
is ’n pynlik tydrowende proses. Skerp voorwerpe soos beitels en
ander gereedskap word gebruik om byvoorbeeld hout of marmer in die
verlangde vorms om te skep.
Modellering
is vinniger. Die kunstenaar maak van klei of kleiagtige materiaal
gebruik en kan vlietende uitdrukkings vasvang, baie soos ’n skilder
doen wanneer hy ’n vinnige skets maak. Sy werke kan gebak word om
hulle hard en meer blywend te maak.
Maar
omtrent die enigste manier om ’n kleiwerk werklik permanent te maak
is deur dit in brons of ’n ander duursame materiaal te giet. ’n
Vorm word van die beeld gemaak, waarna ’n gesmelte stof in die vorm
ingegooi word, sodat daar ná stolling ’n presiese weergawe van die
oorspronklike kleibeeld sal wees.
Volgens
geleerdes is die oudste beeldwerke, wat uit ivoor, horing, been of
klip gekerf is, 27 000 tot 32 000 jaar oud. Deur die eeue het ’n
ontelbare menigte ander beelde onder bedrewe (maar baiemaal ook minder
vaardige) mensehande tot stand gekom.
Maar
daar is sekere beelde wat vandag as toonbeelde kan dien van die
verbeeldingryke skulptuur wat oor millenniums in die kulture van die
mensdom tot stand gebring is—al is dit plek-plek net vanweë die
sigbare grootheid van die gestaltes.
Hier
is ’n aantal van die wêreld se imposantste
beeldreuse...
|
Watter
standbeeld is die wêreld se hoogste?
Foto
deur Ghirlandajo, wat
die kopiëring daarvan vergun in die Engelse weergawe van die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web,
ingevolge die GNU
Free Documentation License, weergawe 1.2 of enige latere weergawe, soos deur die
Free Software Foundation
gepubliseer.
DIE
Moederland Roep-standbeeld, op die Mamajef-heuwel buite
Wolgagrad in Rusland, staan 82,3 meter hoog, gemeet van die basis
af tot by die punt van die swaard in die standbeeld se
regterhand. Die vrouefiguur, van spanbeton, is opgerig om die
oorwinning te gedenk in die Slag by Stalingrad (1942-1943).
Jewgeni Woetsjetitsj het die beeld in 1967 ontwerp.
|
|
Wie
se gesigte is aan die krans van Mount Rushmore in die VSA?
(Kyk
ook artikel oor bekende
klipwerke van die wêreld)
Foto:
Aurbina-PD
DIE
gesigte van vier Amerikaanse presidente is gekerf uit die
graniet van Mount Rushmore in South Dakota, VSA. Hulle is, as ’n
mens hulle van links af bekyk, George Washington, Thomas
Jefferson, Theodore Roosevelt en Abraham Lincoln.
Ontwerp
deur die Amerikaanse beeldhouer Gutzon Borglum, is die 15 tot
21 meter hoë koppe met bore en dinamiet uit die rots gesny.
Modelle ’n twaalfde die grootte van die beelde is as
rigsnoere gebruik. Daar is in 1927 met die werk begin en die
beelde is kort ná Borglum se dood in 1941 voltooi.
|
|
Waar
is die Boeddha Wairokana in die grot?
Foto:
Alex Kwok,
wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web
tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het
DIE
nagenoeg 17 meter hoë beeld is tussen 672 en 675 n.C. gekerf
uit die wand van die Fengxian-grot naby die stad Loeojang in
die Henan-provinsie van China. Die beeld se rustige
uitdrukking weerspieël die Boeddhistiese ideaal om jou los te
maak van wêreldlike besittings en begeertes.
Verskeie
wesenstrekke dui daarop dat dit ’n Boeddha-beeld moet wees,
onder meer die gerekte oorlelle, drie voue vlees aan die nek
en die uitstaande voorkop—die beweerde setel van sy spesiale
kennis.
Aan
die kante van die beeld is daar agt kolossale beelde en
verskeie kleiner Boeddhas, maar party daarvan is deur vandale
vernietig.
|
|
Wie
het die reuse-beelde van die Paaseiland gemaak?
(Kyk
ook artikel oor bekende
klipwerke van
die wêreld)
Foto:
NOAA
DIE
beelde vsn die Paaseiland is ná 400 n.C. deur vroeë bewoners van hierdie eiland
in die suidelike Stille Oseaan geskep, maar niemand weet
presies wie dié mense was nie. Party kenners reken hulle was
Amerikaanse Indiane, ander glo hulle was Polinesiërs.
Argeologiese
en botaniese getuienis dui nietemin daarop dat die
oorspronklike bewoners van Suid-Amerikaanse herkoms was. Party
navorsers glo dat hulle die nedersetting nagenoeg agttien eeue
gelede gevestig het, maar ander meen weer dit was nie so lank
gelede nie.
Hoe ook al,
hierdie mense, wie hulle ook al was, het om die een of ander
rede—bes moontlik godsdienstig—honderde klipbeelde op die
eiland opgerig. Dit is van menslike figure van die middellyf
af boontoe, en hulle wissel in hoogte tussen 3 en 12 meter.
Met
pikke van klip is die beelde uit vulkaangesteente gekap en
daarna op rotsplatforms gehys om hulle hoër te laat uitstaan.
Partykeer is rooi klipblokke wat soos hoede lyk, op hul koppe
geplaas.
Die
eerste Europeër wat hulle gesien het, was ’n Nederlandse
admiraal, Jacob Roggeveen, wat op
Paassondag in
1722 op die eiland geland het. Teen hierdie tyd was die meeste
beelde egter reeds omgegooi en gebreek deur die eilandbewoners
wat in bloedige gevegte betrokke was. Verskeie is later op hul
platforms teruggeplaas.
|
|
Wat
is die terracotta-krygers van China?
Foto:
Robin Chen,
wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web
tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het
DIE
terracotta-krygers is beelde wat geskep is om wag te hou oor die siel van die
Chinese keiser, om bose geeste weg te hou en om in die
hiernamaals na die keiser om te sien.
Eeue
lank het die ou Chinese groot graftombes vir hul keisers gebou
en dit met skatte gevul. Buite die tombes, in ondergrondse
kelders en op pad soontoe het hulle rye lewensgroot modelle
van soldate en diere geplaas.
Onder
die beroemdste terracotta-modelle is dié wat wag hou oor die
grafmonument van keiser Kwi Sji Hoeang (259-209 vC), naby die
stad Xian. Hulle is in 1974 deur landvolk ontdek wat besig was
om ’n put te grawe. Daar is nie minder nie as 7000 krygers
en 600 perde, wat die keiserlike leër verteenwoordig.
Die
beelde is gemaak van vorms van die regte soldate wat in die
keiser se diens was, en elke gesig is dus uniek. Die
gemiddelde hoogte van die terracotta-beelde is 1,8 meter. Die arms
en bene is solied, maar die koppe en lywe is hol.
|
|
Wat
is ’n sfïnks?
(Kyk
ook artikel oor die Groot Sfinks by
Giza in die Laslappie-afdeling)
Foto:
USAID
ONS
WOORD sfinks kom uit die Grieks en beteken eintlik ’n
boosaardige monster. Die ou Egiptenare, Grieke en ander
volkere het stories oor hierdie dierasies versin. In baie van
die fabels is die sfinks voorgestel as iets met die kop van ’n
mens (of partykeer ’n ram of ’n valk) en die lyf van ’n
leeu.
Die
Egiptenare het verskeie beelde van sfinkse gemaak om hul farao’s
te vereer.
Die
grootste en beroemdste lê in die woestyn by Giza. Gebeeldhou
uit massiewe kalksteenblokke, het die Groot Sfinks die kop van
’n mens en die lyf van ’n leeu. Dit is sowat 20 meter hoog en
73 meter lank.
Die
Groot Sfinks, Egipte se oudste, hou reeds byna 4500 jaar die
wag oor die piramides by Giza.
|
|
Hoe
lank is ‘Liberty’ se neus?
Foto:
BACKGROUNDS ARCHIVE (PD)
DIE neus is 1,4 meter lank—min of meer so lank soos ’n
kind van tien. Die indrukwekkende Vryheidstandbeeld (Statue
of Liberty), wat oor Liberty Island in die New Yorkse hawe
troon, is in 1884 deur Frankryk aan Amerika geskenk om die
eeufees te gedenk van die Amerikaanse
onafhanklikheidsverklaring (in 1776).
Die
46 meter hoë Vryheidstandbeeld is ontwerp deur Gustave Eiffel
(van Eiffeltoring-faam), in Parys gebeeldhou deur die Franse
beeldhouer Auguste Bartholdi en in New York weer
aanmekaargesit. Die amptelike naam van die beeld is Liberty
Enlightening the World.
Dit
is ’n hol koperbeeld wat gesteun word deur ’n
sentrale
toring van ystersuile
met
’n geraamte van dwarsbalke. ’n Kronkeltrap loop van die
voetstuk na die kroon en nog een na die fakkel.
In
“Liberty” se
regterhand
is die vryheidsfakkel; in haar linkerhand ’n gedenkplaat met
die inskripsie “July 4 1776”. Gebreekte kettings lê
aan haar voete. |
|
Waar
is die reuse-Christusbeeld op die berg?
Foto
deur eienaar in die Wikipedia-ensiklopedie op die
wêreldwye web
tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar RIO DE JANEIRO in Brasilië word oorheers deur twee hoë
spitse, die Suikerbrood en die Corcovado. Op laasgenoemde
staan die 40 meter hoë betonbeeld van Christus die Verlosser. Dit
is deur die beeldhouer Paul Landowski ontwerp en binne vyf
jaar in 1931 voltooi. |
|
Het
jy geweet?
•
Die majestueuse goud-en-ivoorbeeld van Zeus by
Olimpië
in Griekeland, wat in 433 vC voltooi is, is in die Romeinse
tye erg verwaarloos. Dit is vermoedelik laat in die vierde eeu
na Konstantinopel gebring en deur ’n brand vernietig.
•
Die beroemde Kolos van
Rhodos, wat oor die hawe van
Lindos uitgetroon het, is deur ’n aardbewing vernietig 66
jaar nadat dit in 290 vC voltooi is. Dit was ’n hol
bronsbeeld met ’n ysterraamwerk aan die binnekant, maar geen
mens weet hoe dit rêrig gelyk het nie.
|
|