LKE dier byt soos hy gebek is, en baie se
tande staan eenvoudig vir niks verkeerd nie. Hiervan is byvoorbeeld die
brulpadda ’n taamlike goeie voorheeld.
Let maar net op hoe kranig só ’n kwaker te werk gaan met die
reeks skerp, gepunte tandjies aan sy kaak en twee ander tanderige
uitsteeksels aan sy verhemelte. Daarmee keer by
dat die prooi wat hy gevang het, uit sy bek spring.
|
REGS:
As hierdie anderlandse brulpadda net wou “aaaa” sê vir die
fotograaf, sou ons bes moontlik ’n hele aantal
tandjies
aan sy kaak gesien het, asook twee benerige punte of uitsteeksels in
sy bek.
Die twee soorte “padda-tande” lyk nie eens naastenby soos die gebit
waarmee die kalant op ons
LINKERKANTSE FOTO’TJIE
pronk nie. Dié stukkie stuitigheid kom van iemand wat wou sien
hoe ’n padda se glimlag sou lyk as hy so ’n bietjie nader aan ’n
mens was!
Foto van
brulpadda:
Chris Brown, U.S.
Geological Survey
|
LINKS:
Wat jy sal merk as jy rêrig ’n padda in die bek kyk... ’n string
maksillêre tandjies aan die kaak en daardie twee ander “benerighede”
wat deur geleerdes vomeriene tande genoem word.
Die krokodil se dolk-agtige tande is vir hom ewe nuttig om sy prooi te
kan
vasgryp voordat hy sy arme, weerlose slagoffer in groot hompe insluk. Krokkie
sou immers verniet probeer
om die vleis fyn te kou soos baie ander
roofdiere maak. Krokodille se tande is naamlik gevorm vir prooidiere vang en
nie vir kos fynmaal nie. Maar dit lyk beslis nie of hulle enige krokodiltrane sal
stort omdat hulle verplig word om hul voedsel byna heel af te wurg nie.
Seeleeus het weer gekromde tande om glibberige visse behoorlik te
kan vasvat. Daarteenoor het sekere haaie sulke formidabele tande dat
hulle met een hap selfs deur ’n krokodil se vel kan rits.
Tot roofkewers het hul eie spesiale soort
tande. Dié is weliswaar baie anders saamgestel as die bytgoed van die
gewerwelde diere, maar hul knippende, knypende chitien-bekkies is
op hul skaal gevaarlik genoeg.
Só is talle ander wesens in die groot natuur tot die tande toe gewapen.
Ook die mens is heel voldaan
met sy mondvol tande. Hy word nou wel nie daarmee gebore nie, maar
begin vroeg in sy lewe reeds tandjies sny, so op vyf tot agt
maande. (Partykeer gebeur dit selfs voor die geboorte en in die beste
families boonop, soos met koning Lodewyk XIV van Frankryk, wat op 3 September 1638
glo met twee tande in die wêreld gekom het.)
LINKS:
Baba Lodewyk XIV soos hy dalk met sy twee tandjies kon gelyk het!
Hoe ook al, baie van ons weet ook hoe ons tande ons teen die mure
kan uitdryf wanneer hulle bedorwe raak. Gelukkig vir ons is die
moderne tandheelkunde ’n besliste triomf oor duisende jare se
onkunde en lyding. Dis maar eers in die afgelope twee eeue dat
regte, rasionele geneeswyses vir tandpyn gevind is, al was die
vroegste tandchirurgie waarskynlik so eenvoudig soos om ’n seer tand
met ’n klip uit te moker.

BO:
Selfs klein orangoetangs is haasbekkies in ’n sekere stadium van hul
ontwikkeling.
Hulle het melktande net
soos
mense en die volwasse tande ontwikkel eers op vier-, vyfjarige
ouderdom. Eers as hulle tien is, het hulle hul
volledige stel grootmenstande... ekskuus, grootaap-tande!
Foto:
NOAA |
Die mens en baie soogdiere van die veld kry twee stelle tande in hul
lewe. Party soogdiere, soos die eendbekdier, moet egter maar tevrede
wees met slegs ’n enkele stel.
Dan is daar die tande van die
visse, amfibieë en reptiele: Elke keer wanneer hulle uitval, word
hulle meestal deur nuwes vervang, en dit gebeur regdeur die dier se
lewe. Anders as die gebitte van die meeste soogdiere waarvan die
tande verskillend lyk en verskillende funksies het, is die visse en
reptiele se onderskeie tande in die reël eenders gevorm.
Die giftande van slange, die ivoortande van olifante, die groot
uitsteeksels van walrusse en die “skopgrafie” van die duinemol—só
kom tande ook nog in heelparty ander vorms by diere voor.
En sekere gewerweldes, soos alle voëls, het glad geen tande nie. Maar
dan is voëlsnawels darem gewoonlik so skerp dat enige
tande daarby heeltemal oorbodig sou wees. Voëltjies aanskou wel die
eerste lewenslig met ’n “eiertandjie” waarmee hulle deur hul eiers
pik, dog dit val af kort nadat hulle uitgebroei het.
|
REGS: Die
snawelspel van twee seevoëls van die Kanadese provinsie Quebec.
Die voëls, Morus bassanus, word
in daardie wêrelddeel
“Northern Gannets” genoem. Hulle is tandeloos—soos alle
moderne voëls.
Foto
©
www.naturespicsonline.com,
wat gebruik vergun ingevolge
openbare
lisensie Attribution-ShareALike 3.0 Unported soos beskryf
deur
Creative Commons |
 |
Die knaagtande van knaagdiere
groei weer gedurig—soos vingernaels. Interessant genoeg is tande,
net soos naels, ’n soort verharding van die vel. By soogdiere
bestaan dit uit ’n baie harde buitelagie van emalje, met ’n lagie
sagter dentien daaronder, en dan bloedvate en vesels in die
binnekant. Emalje is die hardste stof in die liggaam, selfs harder
as die hardste been. Dentien, iets wat baie nes been is, is sagter.
By die meeste gewerweldes, soogdiere uitgesluit, is daar nie emalje
op die tande nie, maar wel vitrodentien, ’n stof wat byna net so
hard is.
Van tandhigiëne (en die waarde van fluoried in drinkwater) word ons
van kleins af geleer, want wie wil nou rêrig met ’n mondvol
kunstande loop as jy dit kan verhelp?
REGS:
Gesonde tande... pas joune op soos goud.
Foto:
U.S. National Institutes of Health
Die maak van sulke kunsgebitte
is weliswaar al vandag tot ’n blink kuns verfyn, dit weet ons oupas
en oumas dankbaar. Maar die kuns van kunstandvervaardiging kom ’n
baie lang en pynlike pad.
Die Etruriers van ou Italië, en later die Romeine, was waarskynlik
die eerstes wat die kuns beoefen het, hoewel baie van die prosteses
waarskynlik nie veel meer as ’n beenderige gedoente was nie. Daarin
het die lang “tande” soos ingerygte orrelpypies gesit.
Vandag se vals tande is gewoonlik ’n mengsel van porselein en
akrielhars—die porselein om sy mooiheid vir die voortande; die
akriel vir die agtertande, om beter te kan kou.
Maar op hul beste bly kunstande nog ’n bytende probleem, en wie met
’n kunsgebit probeer regkom, sê dié wat weet, moet dikwels hare op
die tande hê. Dus: bewaar maar gerus die natuurlike byters waarmee
jy geseën is eerder as om eendag harde bene met ’n stuk akriel te
moet sit en kou!
Terug by regte, egte tande: Ons het in hierdie vertelling gesien hoe
verskillende diere se tande verskil, en hoe ons baie te wete kan kom
van ’n dier se gewoontes deur eenvoudig sy tande te bestudeer.
’n Mens sou immers nie verwag dat ’n leeu dieselfde soort tande as
’n koei moet hê nie. Die leeu het die tande van ’n vleisvreter, en
dis hoofsaaklik instrumente om mee te steek, te sny en te skeur.
Die tande van ’n grasvreter, soos ’n bees, is hoofsaaklik maalklippe
waarop veselagtige plantmateriaal fyngemaak word. Mense eet sowel
vleis as groente, en hulle het dus tande wat al dié soorte
werksaamhede verrig.
Die bestudering van tande is van groot waarde as ons wil begryp hoe
lewende wesens in klasse ingedeel word. Alle mense het dieselfde
getal tande, om mee te begin, en die tande is van presies dieselfde
soort met presies dieselfde getal van elke soort.
Ons kry eers een melktandstel van twintig, wat rondom sesjarige
ouderdom
begin uitval, en met verdrag ’n nuwe stel totdat daar 32 permanente
tande in ons mond is. (Ook nie altyd nie: die sogenaamde
verstandtande in die agterkieste wat eers by jong mense uitkom, is
partymaal nie sterk genoeg om deur die tandvleis te beur
nie.)
Maar daar is mos ’n spreekwoord wat lui dat nie manierlik is om tande
te tel nie. Met lang tande neem ons dus nou afskeid van ’n
insiggewende artikel—waaroor jy hopelik ook plek-plek met wit tande
kon glimlag!
Lees ook:
• Kunstande: die bytende waarheid
•
Tandformules van herbivore, karnivore en
omnifore |