|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
IRENE LUBBE
(REGS), die skryfster van hierdie artikel, is ’n
verpleegkundige met twintig jaar ondervinding, ook as
universiteitsdosent. Haar kwalifikasies sluit in: B.Soc.Sc
(Verpleging), M.Soc.Sc (Kritiekesorg), Gevorderde
Universiteitsdiploma Verpleegonderwys, Gevorderde
Universiteitsdiploma Gesondheidsdiensbestuur, Assessor en Moderator.
Sy het drie jaar lank aan die Vrystaatse Universiteit gedoseer en
tot einde 2008 was sy vyf jaar lank prinsipaal by Medi-Clinic
Leersentrum, Sentraalstreek. Met die verplasing van haar man na
Pretoria, het sy bedank om hom te volg en is sy van die begin van
2009 af ’n “vryskut-dosent”, soos sy dit stel. |
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
|
ERPLEGING is ongetwyfeld een van die opwindendste en bevredigendste beroepe op hierdie planeet! Hier kan jy jou kreatiewe passie vir omgee uitleef en werklike werksbevrediging smaak. As verpleegkundige maak jy elke liewe dag ’n groot verskil in ’n ander se lewe en lewer jy ’n positiewe bydrae om sy pyn en lyding minder te maak en hom weer moed te gee.
Hospitale, klinieke en dokters se voortbestaan is afhanklik van bekwame verpleegkundiges wat 24 uur per dag ‘wonderwerke’ verrig. Gegewe die geweldige wêreldwye tekort aan verpleegkundiges, sal ’n opgeleide verpleegkundige nooit sonder verskeie opsies vir werk wees nie.
Dis ’n beroep wat vir seker die aanslae van die tyd oorleef het. Verpleging het ’n trotse tradisie en is een van die oudste beroepe ter wêreld. In die Bybel (Exodus 1:15,16) lees ons van die Farao wat beveel het dat die vroedvroue (daardie verpleegkundiges wat help tydens die geboorte van ’n babatjie) al die babaseuntjies van die Israeliete moes doodmaak – sekerlik geen maklike taak vir mense wat hul lewe gewy het aan die genesing en bevordering van gesondheid nie! Daar was ook ’n tydperk in die antieke tye toe verpleging deur slawe gedoen is en die arme slaaf dan sommer lewend saam met haar eienaar begrawe is wanneer hy die tydelike met die ewige verwissel het. Gelukkig het die moderne samelewing vir ons baie veranderinge en verbeteringe gebring en daarmee saam het die nuwe verpleegkundige van die 21ste eeu ook ‘gearriveer’.
Verpleging behels verskriklik baie en dit sit nie sommer in enigeen se broek om elke dag mense se lewens aan te raak en te red nie. Maar wees gewaarsku – as dit eers in jou hart en siel is, sal jy vir ewig ’n verpleegkundige wees – of jy nou in ’n hospitaal of kliniek of by ’n universiteit werk, of dalk selfs in die parlement sit – ja, daar is verpleegkundiges wat selfs daardie sport op die leer bereik het... Jy sal egter sien: eenmaal ’n verpleegkundige, altyd ’n verpleegkundige.
2. Wat behels die verpleegkundige beroep alles?
VERPLEEGKUNDIGES
is
kundige
mense met ’n hart vol omgee, ’n kop vol
feite en baie vaardige hande. Verpleegkunde word wêreldwyd as ’n kuns
Foto geleen by http://www.hunterdonhealthcare.org/nursing/nursing.asp
Afhangende van watter verpleegdissipline jy kies (kyk afdeling 3 hier onder), is verpleegkundiges in die hospitaalsale se hooftaak meestal pasiëntsorg. Dit behels die beraming van die pasiënt se siektetoestand, die beplanning rondom sy verpleegsorg, dan die uitvoer van die verpleegsorg en ook die evaluering en remediëring indien nodig. Verpleegkundiges is verder ook betrokke by die uitvoer van diagnostiese ondersoeke en die emosionele ondersteuning van die pasiënt en sy familie. Benewens al die behandelings en versorging wat hulle doen, moet pasiënte ook ingelig word oor hul siektetoestand en weer is dit die verpleegkundige se taak om die gesondheidsvoorligting en aanwysings aan die pasiënt en die familie te gee.
3. Verskillende verpleegdissiplines
SJOE, waar begin ’n mens – daar is so baie keuses? Tydens jou opleiding sal jy tussen die verskillende dissiplines roteer. Wanneer jy dan jou opleiding voltooi het, moet jy kies in watter dissipline jy wil werk. Teen daardie tyd sal jy al ’n taamlik goeie idee hê waar jou hart lê en waar jy glad nie wil werk nie. Moenie verras wees nie – dis baie selde dat ’n mens absoluut ‘mal’ is oor elke afdeling en dissipline waar jy gewerk het – en dit is goed so. Daarvoor het elkeen van ons mos ons unieke persoonlikheid gekry – ons kan tog nie almal wil gaan werk in die intensiewesorg-eenhede, of teaters, of waar ookal sommige mense oortuig is die “lekkerste” afdeling is nie.
Jy kan ook kies of jy met kritiek siek mense wil werk of met gesondes of dalk met mense wat net vir ’n operasie opgeneem word. Dalk is swanger mammas jou passie en word jy ’n vroedvrou wat self die geboortes behartig. Jy kan selfs soos Fébé van die Bybelse tyd (Romeine 16:1) ’n besoekende of tuisverpleegkundige word – in daardie tyd is hulle net diakonesse genoem. Of dalk het jy die slag om met mense te werk wat nog nie self die aanslae van die lewe kan hanteer nie en dan kan jy as psigiatriese verpleegkundige hulle help leer hoe om weer sin in hul lewe te vind.
Die verskillende dissiplines sluit die volgende in:
Met so baie keuses sal ’n mens sekerlik ’n veld kan kies waar jy jou gawes en talente ten volle kan uitleef.
4. Eienskappe van ’n verpleegkundige
DAAR is sekere ononderhandelbare voorvereistes om tot die professie toegelaat te word. Onthou dat vaardighede aangeleer kan word, maar persoonlikheidstrekke nie. Die voorvereistes vir verpleging as beroep sluit die volgende in:
Die foto’tjie regs is ’n miniatuur van veel groter foto deur Michael V Hayes, wat dit op hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die wêreldwye web uitgeplaas en kopiëring, verspreiding en / of wysiging vergun ingevolge die bepalings van die GNU Free Documentation-lisensie, Weergawe 1.2 of enige latere weergawe wat deur die Free Software Foundation gepubliseer word
Jy moet asseblief tog nie broos en liggeraak wees nie – pasiënte sê soms dinge wanneer hulle pyn het of deurmekaar en verward is. Mense wat hulle dit persoonlik aantrek, sukkel in hierdie beroep.
5. Nadele van die verpleegkundige beroep (oftewel die verskonings wat geopper word oor hoekom mense dit nie wil volg nie) EINTLIK is daar geen werklike nadele as dit by verpleging kom nie.
Goed, goed, miskien is daar so ’n ou paartjies waaraan ’n mens seker kan dink as jy regtig hard en lank daaroor besin – maar dit oortref nooit die voordele en genot van verpleging nie. Die algemeenste klagtes is:
Mmmm, kantoorwerkers werk elke week 5 dae per week, maar jy as verpleegkundige werk net 3 of 4 dae per week – dit klink vir seker BAIE lekker en positief!
Mmmm, maar hoe lyk dit dan nou of die persoon wat nagdiens werk elke tweede week sommer ’n hele week vry is – en sy het nie eens nodig om ’n verlofvorm in te vul nie. Dit beteken in ’n jaar met 52 weke, kry sy 4 weke verlof en van die oorblywende 48 weke, werk sy net 24 weke per jaar – kan jy glo, Utopia het gearriveer!
5. Voordele van die verpleegberoep
MIN beroepe bied die lede van die professie soveel beroepsopsies en voordele as verpleging. Enkele van die voordele is:
Gaan lees gerus “You know you’re a nurse when...” vir inspirerende en humoristiese woorde van verpleegkundiges wat tans in die beroep staan.
Johnson & Johnson het hul gewig ook ingegooi agter die bemarking van
die verpleegberoep. Loer ’n bietjie na hul kort video’s:
Sulke video’s laat sommer ’n warm gevoel om elke huidige en aspirant-verpleegkundige se hart. Dit is regtig die moeite werd om dit af te laai en daarna te kyk.
7. Vakke wat in matriek geslaag moet word om jou vir hierdie beroep te kan bekwaam
OM veilig te speel word die volgende matriekvakke sterk aanbeveel:
Baie instansies werk met M-tellings en hulle sal vir jou kan sê wat hul minimum-vereistes is. Sommige van die instansies se prospektusse is aanlyn beskikbaar, andersins kan jy by die instansies self gaan uitvind wat hul vereistes is – eintlik is dit die heel beste opsie. Kyk ook op SAQA se webtuiste vir die instansies se vereistes. Klik op “Search for qualification”, tik in “Nursing” by die “word search” en jy sal al 367 opsies kry. Wees net bewus daarvan dat AL die verpleegkwalifikasies hier gelys word – basiese en na-basiese (of gevorderde) kursusse.
Veilige ID’s om mee te soek is:
***Let daarop dat die diploma vir die Stafverpleegster die IV-sertifikaat gaan vervang.***
Daar is verskeie ander kursusse – kyk maar rond op SAQA se webtuiste.
8. Waar kan ek meer uitvind?
WIL jy jou baie geld, tyd en hartseer spaar? Lees dan eers hier: Heel eerste is dit geweldig belangrik om seker te maak dat die instansie (NEI) wat jy vir jou opleiding gekies het, wel deur die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV) goedgekeur is. Die SARV is die gehaltebeheerliggaam (ETQA) van verpleging in Suid-Afrika. Daar is verskeie opleidingsinstansies wat onwettig bestaan en in Suid-Afrika is die wette baie streng; indien jy nie jou opleiding by ’n goedgekeurde of geakkrediteerde NEI ontvang het nie, sal die SARV weier om jou opleiding te erken en dan het jy jou geld en tyd gemors, want jy sal NêRENS (nie in Suid-Afrika of in die buiteland) met daardie kwalifikasie kan werk nie – in elk geval nie as ’n verpleegkundige nie. Moenie hier om die bos gelei word nie. Loer ’n bietjie op SARV se web-tuiste by http://www.sanc.co.za/neis.htm na die verskillende geakkrediteerde NEIs en maak seker dat hulle wel geakkrediteer is vir die program waarin jy belang stel.
Jy sal ook op die SAQA-webtuiste die spesifieke kursusse kan sien wat deur die onderskeie opleidingsinstansies aangebied word.
Daar is verskeie private en staatsinstansies wat verpleegopleiding aanbied. Gewoonlik sal die hospitale jou in die regte rigting kan stuur of kontakbesonderhede van hul opleidingsdepartement gee. Die staatsinstansies sluit universiteite en kolleges in.
Die drie grootste privaathospitaalgroepe in Suid-Afrika is:
Maak gerus ook kontak met hul opleidingsdepartemente.
Loer op die verskillende webruimtes soos dié hier onder vir nog inligting oor die verpleegberoep:
9. Opleidingsinstansies se programme en kwalifikasies
SUID-AFRIKA se opleidingstruktuur is besig om te verander. Daar is tans verskeie programme vir verpleegopleiding wat binne die volgende paar jaar verval – daar word gepraat van “legacy”-kwalifikasies. Soos dit tans lyk, is dit:
o R 2176: Sertifikaatkursus - Ingeskrewe Verpleeghulp (IVH) o R 2175: Sertifikaatkursus - Ingeskrewe Verpleegkundige (IV) o R 683: Diploma - Oorbrugging na Professionele Geregistreerde Verpleegkundige (PGV) o Sommige van hulle bied ook die 4-jaar-diploma aan.
Die gesondheidsorgwerker (kyk direk hierbo) is nie deel van die verpleegpersoneel nie, maar sommige hospitale neem hulle in diens en wanneer hulle hulle bewys het, word hulle vir verdere opleiding gekeur. Neem asb. net daarvan kennis dat daar NIE so iets soos ’n “pre-nursing course” bestaan nie.
Die IVH is die laagste vlak van opleiding en is gelyk aan dié van ’n verpleegstudent wat die 1ste-jaar voltooi het. Die IVH mag net basiese verpleegsorg doen, soos bv. volwassenes se bloeddruk en pols meet en pasiënte help om te eet. Gaan loer ’n bietjie op SARV se webtuiste (IVH) vir haar bestek van praktyk (m.a.w. wat sy mag doen).
Die volgende vlak is die IV. Haar opleiding is gelyk aan dié van ’n verpleegstudent wat die 2de-jaar voltooi het. Sy werk met toerusting, gee medikasie (onder toesig) en doen wondsorg. Op SARV se webtuiste (IV) is haar bestek van praktyk. Sy dra wit epoulette op haar skouers. Met die nuwe kwalifikasies gaan die Stafverpleegster die IV vervang.
Die volgende is die Professionale Geregistreerde Verpleegkundige (PGV), beter bekend as die ‘Suster’. Dit is die mens met die wynrooi epoulette op haar skouers. Sy mag alles doen!
Ná die basiese opleiding, kan die verpleegkundige verskeie
na-basiese kursusse gaan volg, soos byvoorbeeld Verpleegonderwys of
Teatertegniek. Namate jou opleiding vorder, sal jy besef waar jou
passie lê en jou dan in daardie rigting verder gaan bekwaam
(spesialiseer). 10. Bevorderingsgeleenthede
BEVORDERINGS geskied volgens ’n vaste struktuur of hiërargie en die bevorderingstyd wissel ook tussen staats- en private instansies. Die roete is egter gewoonlik van onder af boontoe op die leer:
Die meeste van die vlakke behels ook opleiding en eksaminering. Indien ’n student vir die 4-jaar-graad of -diploma ingeskryf is, slaan sy die Stafverpleegster-vlak oor en bly sy ’n student totdat sy haar opleiding as Professionele Geregistreerde Verpleegkundige (Suster) voltooi.
11. Beroepe wat verwant is aan die verpleegkunde
DIE moontlikhede is legio wat ’n mens binne en buite die hospitaal met ’n verpleegkwalifikasie kan doen! Maatskappye staan tou om die dienste van verpleegkundiges te bekom.
Enkele opsies sluit in:
Die opsies is eindeloos!
13. ’n Paar wenke vir wanneer jy aansoek gedoen het vir verpleegopleiding
BAIE instansies doen psigometriese toetsing vooraf om jou belangstelling en aanleg te hepaal. Die toetse is só ontwerp dat, indien jy dit probeer manipuleer en antwoord soos wat jy dink die regte antwoord is, jy uitgevang gaan word en jou geleentheid vir keuring verbeur – wees dus gewaarsku. Eerlikheid...
Omdat hierdie beroep veeleisend is, kyk die keurders definitief na iemand wat energie en lewenslus uitstraal – ’n mens wil tog nie iemand wat reeds lewensmoeg is deur ’n opleidingskursus laat worstel en dan nog die arme siek pasiënte aan só ’n lewensmoeë mens blootstel nie.
Saam met die energie gaan fisieke gesondheid. Daar word veralgemeen dat mense wat hul eie liggame versorg ook na dié van hul pasiënte sal omsien. Die fisieke eise van die beroep is hoog en as jy reeds onder allerhande kwale gebuk gaan, moet jy dalk maar eerder iets minder arbeidsintensiefs oorweeg. (Net ’n brokkie waarskuwende advies: Moet dit nie verswyg as jy wel sieklik is en daarna gevra word nie, want dit word in ’n baie ernstige lig as oneerlikheid beskou en daar is nie plek vir oneerlike mense in hierdie beroep nie!)
Verpleging is ’n trotse professie en die fisieke beeld wat uitgestraal word, is net so belangrik. Dit beteken nie dat jy ’n rits skoonheidstitels moes gewen het nie, maar ’n netjiese voorkoms is deurslaggewend, want jy gaan die beeld van die opleidingsinstansie en dié van die professie uitdra. Voordat jy vir die onderhoud gaan, draai eers weer voor die spieël in die rondte en vra maar jou ma wat sy van jou uitrusting en klere dink – sy is waarskynlik min om meer net so oud as die keurders en haar lewenservaring kan nuttig te pas kom.
Akademiese punte is altyd belangrik – die keurders wil weet of jy die kognitiewe vermoë (breinkrag) het om die kursus te kan slaag. Sorg dus by voorbaat dat jy op jou allerbeste sal wees in jou graad-12-eksamen. Verpleegkundiges moet krities, analities kan dink en daarvoor het die beroep mense nodig wat belang stel en goed vaar in die wiskundige en natuurwetenskaplike vakke.
Belangstelling in verpleging is ’n logiese voorvereiste. Al is daar ’n verskriklike verpleegtekort, sal min instansies mense keur net om hul getalle te vul – in hierdie geval is ’n halwe eier nie regtig beter as ’n leë dop nie. Die dosente belê ongelooflik baie van hul tyd en moeite in elke student en niemand wil tyd mors met iemand wat verpleging maar as ’n tydelike opsie gekies het omdat niks anders beskikbaar was nie. Dink ’n bietjie aan dinge wat jy vooraf kan doen om te bewys dat hierdie beroep jou belangstelling en passie is. Waar het jy vakansies en naweke vrywillige werk gedoen...? Indien jy nie weet waar of hoe om betrokke te raak nie, vra jou voorligting-onderwyser of predikant – hulle sal jou vir seker in die regte rigting kan stuur.
In die algemeen: Ontspan en antwoord eerlik en opreg. Die keurders het reeds gedink jy is ’n goeie kandidaat, anders sou hulle jou nie vir die keuringsonderhoud genooi het nie – al wat jy nou moet doen, is om hulle NIE verkeerd te bewys nie!
Ten slotte – voordat jy die lokaal binnestap vir die onderhoud: Skakel jou selfoon af en SPOEG DAAI KOUGOM UIT!
Sterkte en geniet die uitdagings.
Datum van artikel: 2009-03-26
Rapporteer asb. enige dooie skakels aan my sodat ek dit kan ressusiteer en weer lewe daarin kan blaas. Maak kontak met my op: lubbejc1@unisa.ac.za
|
|||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||