|
OOS mens en
dier het alle plante water nodig om te kan bestaan—party soorte net
’n skamele lekseltjie af en toe, ander weer baie daarvan. Een rede
is dat plante hul voedingstowwe in ’n opgeloste vorm uit die grond
moet kry. Boonop het plante ook water nodig om hul weefsel te bou.
Plante
verloor gedurig besonder baie water deurdat hulle waterdamp afgee in
die proses van transpirasie. Indien hulle nie water kry om die
verlies aan te vul nie, sal veral die dorstiges onder hulle spoedig
verlep. Alle plante sal egter die een of ander tyd vrek as daar niks
is wat hul wortels benat nie.
Elders op
die Mieliestronk-werf word vertel van verskillende soorte plante wat
na gelang van hul waterbehoeftes in ’n paar kategorieë ingedeel
word:
hidrofiete, mesofiete en xerofiete.
Dit spreek
vanself dat ook die landbougewasse wat deur die mens verbou word,
nie kan groei om vir ons kos te produseer as daar nie genoeg vog vir
hulle is nie. Plante is meestal van reën afhanklik, maar in ’n land
soos Suid-Afrika, waar die neerslag dikwels wisselvallig is en dit
op baie plekke bedroewend min reën, is boere baiemaal op besproeiing
aangewese. Verskeie groot besproeiingsdamme, soos die Vaaldam en die
Gariepdam, is dus van owerheidsweë gebou, terwyl baie boere ook
klein plaasdamme het wat help keer dat kosbare water onbenut in
riviere wegvloei. Kyk ook ons artikels
Riviere en damme van Suid-Afrika en
Die verhaal van dambou en die opgaar van water.
Besproeiingswater kan afkomstig wees van ondergrondse bronne
(boorgate of fonteine), opgaardamme en plaasdamme, asook van strome
of riviere.
DIS
nie van onlangs af dat die mens hom tot besproeiing gewend het om op
verskillende maniere die gebrek aan reën te vergoed nie.
Argeologiese ondersoeke het aangetoon dat besproeiingswater reeds in
die sesde millennium v.C. in Egipte en Mesopotamië gebruik is om
gars te benat.
In die
Zanavallei van die Andesgebergte in Peru het geleerdes weer die
oorblysels van drie besproeiingskanale uit die vierde millennium
v.C. gevind.
Die
Indusbeskawing, in die teenswoordige Noordwes-Indië
en ’n deel van Pakistan, het in die derde millennium v.C. goed
ontwikkelde besproeiingstelsels gehad.
En vandag?
Teen die jongste eeuwisseling (omstreeks die jaar 2000) is bereken
dat 2 788 000 vierkante kilometer landbougrond wêreldwyd met
besproeiingsgeriewe toegerus was. Sowat 68 persent van die
besproeiingsgrond is in Asië, sewentien persent in Amerika, nege
persent in Europa, vyf persent in Afrika en een persent in Oseanië.
DAAR
is verskillende metodes van besproeiing, afhangende van die klimaat,
die soort plante wat water moet ontvang, die terreingesteldheid, die
kundigheid en geldelike vermoë van die besproeiingsboer en ander
faktore.
Tegnieke om
die water op die akker of veld te kry, is legio, maar daar is ’n
klompie basiese metodes. Die oogmerk is meestal om die hele veld
egalig te benat, sodat al die plante die water kan kry wat hulle
nodig het, nie te veel nie en ook nie te min nie. Die moderne
metodes is in die reël doeltreffend genoeg om in hierdie doel te
slaag.
Van die
totale landoppervlakte wat op aarde besproei word, word 94 persent
bogronds deur bevloeiing benat. Dit beteken dat die
besproeiingswater onder swaartekrag oor die landerye loop. Die orige ses
persent word meestal op veldvlak besproei deur middel van
energie-intensiewe en duur waterdrukbesproeiingstegnieke. Sulke
tegnieke is onder meer bereëning en drupbesproeiing.
Water word
byvoorbeeld met masjiene uit boorgate na die oppervlak of uit
riviere na die oewers gebring. Die uitgepompte grondwaters kan
daarna oor die plante gesproei, by die wortels gedrup of deur middel van swaartekrag-bevloeiing oor die
landerye gelei word.
Met
bereëning word ’n sproeier of waterkanon gebruik om
plante van bo af te benat, net soos dit gebeur wanneer dit reën.
Daarmee word boonop voorkom dat ryp in die nag die bloeisels van
vrugtebome beskadig.

BO: Nagemaakte reën!
Foto: U.S.
Geological Survey
Drupbesproeiing verg aanvanklik groot beplanning, aangesien pype,
slangetjies en druppelaars oor die hele besproeiingsarea aangebring
moet word om die water na die plante te bring—waar dit by die
wortels sal drup-drup-drup om die plante hul nodige vog te gee. Dit
is baie doeltreffend en waterbesparend. Op die koop toe kan
oplosbare kunsmisstowwe by die water gevoeg word om die plante
optimaal te voed.

BO en REGS: Drupbesproeiing.
Foto bo: ARS /
U.S. Departement of Agriculture
Foto regs:
Arizona Department of Water Resources
Dan is daar
natuurlik die eeue-oue metode om eenvoudig water met die een of
ander houer uit ’n dam of rivier te skep en dan die water oor plante
uit te giet. Hierdie metode verg weinig infrastruktuur en tegniese
toerusting, maar behels harde werk deur menslike arbeiders. Dit word
nog rondom sekere stede in Afrika-lande toegepas.
Dis
interessant dat die ou Egiptenare reeds ’n prakseersel
gehad het waarmee hulle water uit die Nyl kom lig om gesaaides aan
die oewers nat te lei. Dit is die
sjadoef genoem, en ’n ander Mieliestronk-artikel word meer
daarvan vertel.
In lande
waar vogtige lug snags oor die landskap voorkom, kan water verkry
word deur die vog op koue oppervlakke te laat kondenseer. Dit word
byvoorbeeld toegepas in die wingerde van die Spaanse eiland
Lanzarote in die Atlantiese Oseaan, waar tot klippe gebruik word om
water uit die lug “op te vang”.
Plaaslik
word selfs gereken dat nette hoeka reeds gebruik moes gewees het om
die wolke op Tafelberg in die Kaap vir water te “melk”. Tafelberg se
“tafelkleed” is byna net so bekend as die berg self. Dit is ’n
wolkebedekking eie aan die somermaande. Wanneer die Kaapse
suidooswind (die berugte “Kaapse Dokter”) teen die berge van
Skiereiland vaswaai, word die lug opwaarts gedwing. Sodra dit die
koeler omgewing van die bergtoppe bereik, vorm die waterdamp in die
lug dik, wit wolke. Daardie wolke bevat soveel water dat dit baie
nuttig aangewend sou kon word indien dit op nette teen die berg
gekondenseer kan word, word gesê.
HOEWEL
besproeiing die mens reeds baie gedien het en steeds dien, deur droë
streke in landbouparadyse te verander en selfs woestyne te laat
blom, is dit nie sonder nadelige effekte nie.
•
Riviere wat ter wille van besproeiingsboere opgedam word, het
dadelik ’n vermindere waterafvoer aan die onderkant van die dam.
• Te
veel grondwater wat uit putte en boorgatte onttrek word, kan ’n baie
nadelige uitwerking op ’n omgewing hê waar baie bome juis van
hierdie grondwater afhanklik is.
•
Reënwater is soutloos; bronwater is nie. Die herhaalde toevloei op
landerye van grondwater met baie opgeloste soute moet noodwending
mettertyd tot ’n verbrakking van die grond lei.
|