|
S ’n mens aan bessies dink, sien jy bes moontlik iets
soos aarbeie, brame of frambose voor jou geestesoog.
Maar verrassend genoeg is baie van die vruggies wat ons
as bessies beskou, nie ware bessies nie, in elk geval
nie volgens die plantkundige definisie daarvan nie.
Die botanici sê ’n bessie is ’n vrug met baie sade wat
regdeur die vlesige binneste van die vlug versprei is.
Die aarbei, braam en framboos beantwoord nie een aan
hierdie beskrywing nie, maar daar is ander bekende
vrugtesoorte wat dit wel doen, al dink ons selde só aan
hulle. Glo dit as jy wil, die druif, piesang, lemoen en
waatlemoen is almal bessies, asook die tamatie, wat
gewoonlik as ’n groente beskou word.
In hierdie artikel word twee tipiese bessies—die
tamatie en appelliefie—bespreek, asook twee ander
kamtige “bessies”, die aarbei en framboos.
Tamaties
TOE tamaties in die 1500’s die eerste keer uit
Suid-Amerika na Europa gebring is, is geglo dat hulle
giftig is. Dit was waarskynlik weens hul helderrooi
kleur wanneer hulle ryp is (in die natuur is rooi ’n
waarskuwingskleur) of straks omdat hulle aan etlike
ander giftige plante verwant is.
Foto:
Peggy Greb / ARS / U.S. Department of Agriculture
Die Spanjaarde wat die
tamaties ingevoer het, het hulle die bynaam
“liefdesappels” gegee en beweer dat hulle die wellus kan
prikkel. Maar dit was eers in die 1800’s dat hulle as
kos gewild geraak het.
Vandag is die tamatie
(Solanum lycopersicum)
een van ons
mees gekweekte en kommersieel belangrikste vrugte. Ryk
aan minerale en vitamiene, veral die vitamiene A en C,
en met duisende variëteite, word tamaties rou geëet,
dikwels in slaaie of toebroodjies.
Hulle is gewilde inmaakvrugte, terwyl hulle ook in
souse, soppe en ontelbare ander geregte gebruik word.
Songedroogde tamaties is vandag ’n moet in die
fynproewerskombuis.
Tamaties word van saad gekweek. Aan die plante met hul
harige stamme verskyn mettertyd geel trosse blommetjies.
Uit die blommetjies ontwikkel tamaties, wat eers groen
is, maar in die rypwordingsproses tot rooi, geel of
oranje verkleur.
Tamaties wat bestem is om rou geëet te word, word
dikwels met die hand gepluk wanneer hulle nog groen en
hard is, om beskadiging tydens die vervoer te voorkom.
Dié wat verwerk moet word, word egter baiemaal met
masjiene geoes wanneer hulle ryp is.
China was in 2005 die wêreld se grootste tamatieprodusent,
gevolg deur Amerika, Turkye, Indië en Egipte. Maar hierdie sogenaamde
''liefdesappels'' word regdeur die gemagtigde streke van
die wêreld gekweek, sowel deur boere as in huistuine.
Tamaties
aan ’n aartappelstoel?
DALK
het jy dit al gesien—’n aartappelstoel in jou tuin wat op ’n dag sommerso klein “tamatietjies” begin dra. Die
leek kan maklik dink dat só ’n aartappelplant se
blommetjies deur die stuifmeel van die een of
tamatieplant bestuif is. Tog nie.
Benewens hul ondergrondse knolle dra aartappels in der
waarheid ook bogrondse vruggies met sade daarin, net
soos tamaties. Trouens, die aartappel en tamatie behoort
albei tot die nagskade-plantfamilie (Solanaceae) en hul
blomme, manier van bestuiwing en vrugte kom eweneens
ooreen.
Ander lede van die familie is die nagskade, belladonna,
tabakplant en selfs petunia.
Mense vra soms waarom die wetenskaplikes dan nie vir ons
’n “tamtappel” of “aartatie” kan prakseer wat bogronds
tamaties dra en ondergronds aartappels nie. Baie
makliker gesê as gedaan. In die jare tagtig is só ’n
baster wel in Duitsland gekweek, maar ongelukkig was nóg
die knolle nóg die vrugte eetbaar.
Partykeer is kammakastige “tamtappels” tog te sien, maar
wat in werklikheid gebeur het, is dat ’n tamatiesaad in
’n aartappel geplaas en die twee saam geplant is
binne-in dieselfde hopie grond. Jy kan dit miskien self
probeer doen, maar moenie wafferse resultate verwag nie!
Appelliefies
DIE naam appelliefie herinner sterk aan die bynaam
''liefdesappel'' vir die tamatie, en die oorsprong is
bes moontlik dieselfde. Ander name vir die appelliefie
is appelderliefde en pompelmoertjie.
Daar is twee verskillende tipe appelliefies,
Physalis peruviana (die
bekende “Kaapse” appelliefie
* , soos dié op die foto LINKS) en
Ribes
grossularia. By albei
soorte is die
vruggies binne blaaragtige omhulsels verskuil. Die
vruggies groei aan kort, bosagtige plante in die
gemagtigde streke van die wêreld en wissel van wit of
geel tot groen. Die skil kan glad, harig of stekelrig
wees.
Appelliefies word vandag vars geëet of ingemaak, of tot
konfyte, terte en poedings verwerk. In die verlede is
gedink dat hulle besondere genesende eienskappe het. In
die sestiende eeu het slagoffers van die pes
appelliefies geëet om hul koors af te bring.
*
Die “Kaapse” appelliefie is vermoedelik
reeds voor die finale Britse oorname (1806) in die ou Kaapse
nedersetting gekweek, maar die plant is nie inheems in
Suid-Afrika nie. Hy kom uit Suid-Amerika en wel uit
Chili, Colombia en Peru.
Foto: U.S.
Centers for Disease Control and Prevention
Nie
werklik bessies nie...
Aarbeie
AS jy van tennis hou, weet jy waarskynlik dat die
jaarlikse groot toernooi op Wimbledon in Engeland
feitlik sinoniem is met die eet van aarbeie met room.
Hoewel dit dan winter in Suid-Afrika is, duur dit nie
lank voordat die kort maar soet aarbeiseisoen ook hier
begin nie.

Foto: Brian
Prechtel / ARS / U.S. Department of Agriculture
Aarbeie is die kort, sagte, hartvormige vrugte van die
aarbeiplant. Hulle smaak baie lekker en word dikwels rou
geëet saam met room, roomys of jogurt, in gesmelte
sjokolade gedoop, as versiering op koeke gebruik, tot
konfyt verwerk, ingemaak of bevries.
Die naam aarbei is stellig ’n vervorming van aardbei—bessie van die aarde. Aarbeiplante, wat wit blommetjies
dra, groei immers laag op die grond. Tog is die aarbei
(genus Fragaria in die familie Rosaceae) streng gesproke geen ware bessie nie,
want die saadjies sit buite aan die vleis van die vrug
pleks van binne-in. Om die waarheid te sê, die
saadagtige deeltjies wat ’n mens buite aan die aarbei
sien, is almal piepklein vruggies, elk met ’n saadjie
daarbinne.
Aarbeiplante versprei óf met saad óf met uitloopsels
waarvan die punte wortels kry. Uit elke wortelvorming
ontwikkel dan ’n nuwe plant. Vandag se gekweekte aarbeie
kom van wilde aarbeie wat regdeur die gemagtigde streke
van die wêreld voorgekom het. Amerika is vandag die
grootste produsent, hoewel die vrug in baie lande met ’n
gematigde klimaat gekweek word.
Aarbeie is ’n uitmuntende bron van vitamien C.
Kruiedokters het in die verlede die vrugte aanbeveel as
’n kuur vir talle kwale, van koliek tot sonbrand, en
selfs as ’n tandepasta wanneer dit met warm water en
koeksoda afgespoel is. Sekere artritislyers beweer dat aarbeie hul pyn help verlig.
Frambose
SOOS die aarbei is die framboos
(Rubus
idaeus)
geen ware bessie nie—selfs al dui die woordeboek hom aan as
“ ’n soort bessievrug soos ’n braam”. Die sappige
pitvrugte kom in trosse voor, elke vrug met sy eie saad.
Foto:
ARS / U.S. Department of Agriculture
Dié heerlike vroegsomerse vrugte (in Engels
“raspberries” genoem) groei aan lang stele; die blomme
is wit. Die vrugte is meestal rooi of pers, maar party
soorte kan swart, geel of selfs wit wees.
Hoewel hy inheems in die Noordelike Halfrond is, word
die framboos tans in baie ander wêreldstreke met ’n
gematigde klimaat verbou, ook in die Wes-Kaap. Die
vrugte is sag en delikaat en moet met die hand gepluk
word om te keer dat hulle gekneus raak. Hulle kan rou,
ingemaak of gevries geniet word, versap word of konfyt
kan daarvan gekook word.
• ’n Paar ander bessiesoorte is veenbessies
(Engels “cranberries”), braambessies (Engels
“blackberries”—nie ware bessies nie) en bloubessies
(Engels “blueberries”).
Het jy geweet?
•
Tieners het eenmaal aarbeisap gebruik om van puisies
ontslae te raak.
|