|
_____________________________________________________________________
Selfs
as jy dink, beweeg jou brein...
 Ons
wêreld van
ewige beweging
In
elke roering van ’n mier se voelspriet en ’n weerligstraal aan die
hemel sien ons die drukte en ongedurigheid van ’n veranderende wêreld.
Want beweging is orals...
______________________________________________________________________

REGS: Beweging, beweging op
’n kosmiese skaal... Hierdie skouspelagtige foto is van die kern van die
sterrestelsel M100, soos gesien deur die Amerikaanse ruimteagentskap
NASA se ruimteteleskoop Hubble.
Foto: NASA
ONS
lewe in ’n wêreld van onophoudelike beweging -- sonder jou oë se
beweging oor die rekenaarskerm voor jou sou jy nie eens hierdie woorde
kon lees nie!
Daar
is selfs die wildste bewegings in dinge wat nooit eens lyk of hulle
beweeg nie. Die stoel waarop jy nou sit, die skoolboek daar langs jou
rekenaar, die roerlose skuifspeld in sy ewe roerlose blikkie op jou
lessenaar: alle tasbare dinge bevat atome waarvan die deeltjies teen
duiselingwekkende snelhede beweeg.
Geleerdes
reken trouens dat ’n elektron so vinnig om die kern van ’n atoom
wentel dat hy so te sê tegelyk op verskillende plekke bestaan.
Ook
elektrisiteit is beweging, en die wêreld is propvol elektrisiteit. ’n
Elektriese stroom in ’n draad beteken inderdaad die beweging van ’n
ganse leër van biljoene der biljoene elektriese deeltjies, of dan wel
die einste elektrone.
Tot
jou denkprosesse word gereguleer deur dieselfde elektriese impulse. In
daardie sin is selfs jou gedagtes ’n magdom van bewegings in die
klein.
En
klank: As iemand met my praat, beweeg daar klankgolwe van sy stembande
af na my toe, klankgolwe wat moontlik gemaak word deur die gelyktydige
beweging van ’n onbegryplike menigte lugdeeltjies, wat lug-molekules
genoem word.
Die
warmte en lig van die son en die lig van die sterre is golfbewegings; en
die hele radiotegniek berus per slot van rekening op beweging. Dit is
omdat geleerdes beweging so oral teëkom dat hulle naderhand uitroep:
"Alles is beweging!"
Ook
in die winde en die reën, die waterstrome en golwe -- in elke roering
van ’n mier se voelspriet en ’n weerligstraal aan die hemel sien ons
die drukte en ongedurigheid van ’n veranderende wêreld.
Boonop
is ons almal bewegende reisigers op Ruimteskip Aarde. Ons planeet voer
verskillende bekende bewegings uit op sy tollinge deur die ruimte en
dalk nog hoeveel ander ook waarvan ons nie eens bewus is nie.
Vir
eers draai hy om sy denkbeeldige as teen nagenoeg 1600 kilometer per uur
by die ewenaar. (Dis terloops interessant dat die aarde darem ook stadig
briek aandraai en dat elke dag-en-nag wat verbygaan 0,00000002 sekonde
langer as die vorige dag-en-nag is. Die rede vir hierdie remming is
natuurlik die krag van die getye, wat boonop veroorsaak dat die maan
elke maand met sowat 10 cm van die aarde af weggly. Dit het
wetenskaplikes met die teorie vorendag laat kom dat die maan in die
verre toekoms veel kleiner kan lyk van die aarde af. Dit hoef egter nie
die finale toestand te wees nie, want die maan kan dalk weer nader kom
-- trouens, so naby, reken iemand, dat die aarde se getykragte hom in
miljoene brokstukke kan ruk. Dié kan dan in ringe om die aarde beweeg,
net soos die ringe van die planete Saturnus, Jupiter en Uranus.)
’n
Verdere beweging van die aarde is sy kringloop om die son, waarom hy
teen ’n vaart van sowat 30 kilometer per sekonde galoppeer.
Hoe
vind die aarde sy pad om die son? Die gewone voorstelling van sy
jaarbaan is ’n ellips, of ’n effens platgedrukte sirkel, maar dit
gee ’n mens eintlik ’n heeltemal verkeerde indruk van die kromming
of geboënheid van sy baan.
In
werklikheid is hierdie baan nie baie ver van ’n reguit lyn nie! Raar
maar waar: vir elke 30 km wat die aarde in ’n sekonde aflê, wyk hy
nie eens 3 millimeter na die binnekant van ’n reguit lyn af nie. Dié
klein afwyking is die gevolg van die son se aantrekkingskrag op die
aarde, want daarsonder sou die aarde wel in ’n reguit lyn beweeg het.
Die
aarde se beweging hou egter nie by sy jaarbaan op nie, want die enorme
son met sy groot gesin van planete, komete, mane en asteroïdes sleep
ons ook nog teen sowat 217 kilometer per sekonde saam op sy eie jaarbaan
om die middelpunt van ons sterrestelsel, die Melkweg. Om een keer om te
gaan verg ’n hele 225 miljoen jaar.
Beweeg
die Melkweg dalk self om ’n ander middelpunt? En dié om ’n ander?
En dié om ’n volgende? En dié...? Ons weet nie en om só te
bespiegel, bring ons eintlik nêrens nie, sodat ons moet volstaan met
die sterrekundige waarneming dat "sterre teen allerhande snelhede
in allerhande rigtings beweeg".
Voorstanders
van die teorie van die sogenaamde uitdyende heelal sê alles is besig om
van ’n oer-middelpunt af weg te spat en dat die verste sterre die
vinnigste beweeg. Maar baie geheimenisse bly nog vir ons verborge. Ook
hier ken ons net ten dele.
Tog
het snuffelvaartuie binne ons sonnestelsel al vir ons die interessantste
kennis besorg, soos dié oor ons buurplaneet Venus, wat vroegaand so
helder in die weste skitter.
Venus
draai stadiger om sy eie as as wat hy om die son wentel (in 243 teenoor
224-7 aardse dae), maar die digte wolke in sy bo-atmosfeer tol in net
vier dae om die planeet. Voorwaar ’n vreemde plek.
Terug
op aarde: beweging is energie, en waar kom die energie vandaan wat ons
in staat stel om te beweeg? Uiteindelik maar alles van die son af.
Sonenergie laat die plante groei, en ons eet die plante of ons eet die
diere wat daardie plante vreet.
Steenkool
en olie, die mees algemene brandstowwe in lande soos ons s’n, word
onder die grond gevind, maar ook hulle was eenmaal lewende dinge wat hul
krag uit die son geput het.
En
vandag ontgin ons hulle en haal weer die wonder van beweging uit hulle
uit -- in ons motors en die masjiene waarom die moderne lewe draai.
Maar
beslis die beweeglikste van al die geskape dinge van ons wêreld is die
menslike denke wat ons in ’n oogwenk deur oneindige sfere van die
skepping kan laat beweeg. En ons dan verbysterd laat stilstaan oor die
geweldige omvang van dit alles. In stille ootmoed in Sy heelal van
konstante beweging.
______________________________________________________________________
Klik
hier om terug te keer na die inhoudsblad
______________________________________________________________________
|