Biome
van die aarde — 1-en-2 (a): Toendra Met ’n sneeukol wat hier en daar die eentonigheid kan verbreek, strek die leë landskap van die toendra van horison tot horison. Dis ’n harde aarde, bitter koud en ongenaakbaar. In hierdie boomlose wêreld, met sy permanent bevrore ondergrond, loei die winde troosteloos onder ’n gedempte son. En tog het die toendra ook sy plante—min daarvan, maar hulle is ware meesters van oorlewing... Foto: Earthobservatory / NASA Poolwêrelde Aanliggend aan die toendra is die Noordelike Yssee in die verre noorde. In hierdie poolstreek—asook Antarktika rondom die Suidpool—kry ons die mees ongenaakbare bioom op ons planeet. Dis diep bevrore wêrelde van sneeu en ys, waar geen plantegroei kan bestaan nie en net die mees geharde diere kan oorleef, Yswinde huil hier oor troostelose landskappe en ysberge brokkel gereeld weg van ’n bevrore see. Ook in ander artikels op ons webwerf is baie leesstof oor die poolstreke van die aarde… Foto:
PD-FOTO BACKGROUNDS ARCHIVE Teks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld |
||||
IE bevrore grond van die myn het ’n verstommende vonds opgelewer: ’n reeks oeroue woonplekke van lemmings, die besondere knaagdiere van die noorderland. Daar was geraamtetjies en saad, en dit was duidelik dat die een of ander ramp, dalk ’n grondstorting, in die verre verlede hierdie knabbelaars en hul spens ingekerker het. Een van
die mynwerkers, in ’n deel van Kanada se Yukon-gebied, het ’n
skedeltjie en ’n klompie saad as aandenkings huis toe geneem. Sowat
twaalf jaar later het die Nasionale Museum van Kanada gevra of hulle die
saad kon ondersoek. Dit was saad van Arktiese lupien, ’n meerjarige
kruid met helderblou blomme. Wat dit so
interessant gemaak het, was dat dit minstens 10 000 jaar oud was. Die
wetenskaplikes, wat verstom was oor die varsheid van die saad, het dit
in die laboratorium op nat filtreerpapier neergesit. Twee dae later het
ses sade ontkiem. Toegerus om in ’n vyandige omgewing te oorleef, het
die sade getoon hoe ongelooflik gehard die plante van die toendra is.
Foto: NASA (detail) Die
Arktiese en Antarktiese streke verskil aanmerklik van mekaar. Antarktika
is ’n vasteland omring deur water. Dis weinig meer as ’n yswoestyn,
ewig in bevrore wit, met die wêreld se laagste temperature en sterkste
winde. Feitlik
geen toendra bestaan hier nie en waar dit wel voorkom, is dit naakte
rots of primitiewe korsmos of mosse. Arktika,
daarteenoor, is ’n see omring deur land. Die Noordelike Yssee vorm ook
op sy hoogste breedtegrade ’n yswoestyn, maar suid van die poolys-kap
ondersteun dit ’n toendra-sone waar plante, diere en mense lewe. Die plat
toendra-vlaktes bedek minder as 10 persent van die aarde se oppervlakte
in ’n strook tussen die Noordelike Yssee en die noordelike woude. Waar die
boomlose haaivlakte deur Alaska, Kanada, Groenland, Skandinawië en tot
in die Siberiese Rusland sny, maak dit geleidelik plek vir moerasse en
dan vir boslande van dwergbome met korsmos, om uiteindelik met die keëldraende
woude saam te smelt. DIE
woord toendra is Fins en beteken "vyandelike landskap". En ’n
ruwe woesteny is dit beslis. Elkeen wat al ooit dié wildernis in die
somer probeer oorsteek het, sal kan getuig van die ysmodder en die
menigte mere en poele oor die hele gebied. Vreemd
genoeg val minder reën oor die toendra as oor baie woestyne, en tog is
dit verbasend nat. Die rede is dat boonste lae grond en ys op ’n
strook permanent bevrore grond—ysgrond—Iê, wat beteken dat daar min
waterverlies weens afwaartse dreinering is. Dis ook so koud dat daar
omtrent geen verdamping is nie. Toendra-winters
duur nege maande. Slegs tussen Mei en Julie, wanneer dit heeltyd dag is,
begin dié yswildernis lewe. Die oppervlak ontvries dan en Arktiese
plante kom op. Die onherbergsame landskap word skielik groen en brose
blomme maak oral hul verskyning. Die
groeisiklus is kort en moet in ’n paar weke pleks van ’n jaar
ingepas word. Toendra-plante bestaan meestal uit grasse, waterbiesies,
heide, mosse, korsmos en bessiedraende struike. Dwergbome soos wilgers
en berkebome groei in die suide. Toendra-plante
het ’n hele paar eienskappe om die koue en wind te trotseer.
Meerjariges vergoed vir die kort somer deur die meeste van hul weefsel
veilig ondergronds te hou in die vorm van wortels, risome en bolle.
Wanneer die lente kom, gebruik hulle hul gebergde reserwes vinnig om
blomme te maak. Baie
spesies se vermoë om sowel geslagtelik as nie-geslagtelik voort te
plant, vergroot hul kans op oorlewing. Wanneer toestande te straf raak
vir die een, sal die ander gewoonlik voortplanting verseker. ’n
Aantal plante se blare is só gerangskik dat hulle die skuins sonstrale
maksimaal kan vang. Ander blare is besonder groot om soveel van die yl
sonlig as moontlik te benut. Uitdroging
deur wind word by sommige plante gekeer deur ’n wasagtige of
leeragtige oppervlak. Ander kan smeltwater deur hul blare opsuig.
Wanneer die dooie dele van plante afval, versamel hulle rondom die plant
om ’n skans teen die wind te vorm. Een van
die merkwaardigste eienskappe van toendra-plante is hul vermoë om hul
eie mikroklimaat te skep. Sommige spesies vorm dik polle wat die grond
daaronder isoleer en keer dat dit vries. Ander het weer ’n pelsagtige
bedekking of groei saam om ’n lae gewelf te vorm. Só word lug
vasgevang en isolering vir die plant verskaf. Party
spesies het hol stingels wat soos ’n kweekhuis werk—die lug binne-in
die plant is warmer as dié daarbuite. Selfs ’n
plant se kleur kan sy temperatuur verhoog. Hoe donkerder die blare, hoe
meer sonstrale kan hulle opneem. Verskeie spesies vervaardig ’n rooi
pigment wat amper swart vertoon wanneer dit met hul chlorofiel
kombineer. In sommige
dele van die wêreld, ver van Arktika, word dieselfde soort terrein bo
die boomgrens van hoë berge gevind, waar dit Alpynse toendra genoem
word. Hier is die toendra die gevolg van hoogte bo die seespieël eerder
as van die breedtegraad. DIE
ewige kringloop van die vriesing en ontvriesing van die terrein met die
afwisseling van winter en somer veroorsaak ’n aantal interessante
toendra-verskynsels. Die
uitsetting en inkrimping van rotsagtige grond dwing die rotse na die
oppervlak waar hulle, om redes wat nog nie heeltemal begryp word nie, in
groter en kleiner stukkies skei. In hierdie
proses word die groter stukke buitentoe gestoot en die kleineres kom in
die middel tot rus. Die gevolg is die vorming van ’n mosaïek van
sirkels, ook bekend as klipringe, wat oor etlike kilometers kan strek. Hulle is
dikwels so netjies gevorm dat hulle mensgemaak lyk. Op skuins
oppervlakke veroorsaak swaartekrag dat die rotse in ewewydige rye skei. Nog ’n
interessantheid van die toendra is sy onegaligheid. Wanneer water
binne-in of bokant ysgrond vasgevang word, en later vries, veroorsaak
die daaropvolgende uitsetting dat ’n druk opbou wat die ys na die
oppervlak dwing. Namate dit
opstyg, lig dit ’n laag plante saam op en dit vorm ’n bultjie wat ’n
pingo genoem word. Die grond en plantebedekking bars uiteindelik soos ’n
waterblaas oop en die ysige kern kan begin smelt. Mettertyd sak die
pingo inmekaar. Ook tipies
van die toendra-landskap is die uitgestrekte veelhoekige patrone op die
grond—groot barste in die grondoppervlak, wat veroorsaak word wanneer
die grond tot baie lae temperature afkoel en ineenkrimp. Dis
verkeerd om te aanvaar dat toendra altyd beperk was tot die nou strook
onder die noordelike poolys-kap. Baie klipsirkels en ewewydige rye is al
in lande soos Engeland gevind, en herinner ons daaraan dat baie plekke
wat tans in gematigde streke Iê, toeka in die Ystye deel was van die
sogenaamde "vyandelike land". |
||||
Inhoud:
Biome van die aarde |
||||