Biome
van die aarde — 1-en-2 (b):
|
||||||||
K en jy
sal stokstyf vries as ons in ons wêreld in die winternagte buite moet
slaap in die skraal luggie en knypende ryp van, sê maar, die Karoo. Dink ’n
oomblik aan die arme diere van die poolgebiede en toendra. Jy ys sommer
as jy hoor watter koue húlle moet verduur... Arme
diere? Verduur? Wie’t gesê hierdie diere kan die koue nie verdra nie?
Talle is immers so gepantser met dik bedekkings van pels of vere, of
isolerende vetlae, dat ’n mens rêrig kan wonder of hulle ooit weet
wat bibber beteken! Trouens,
baie van hierdie diere, soos poolvosse en muskusbeeste, het sommer ’n
dubbele laag hare. Die "onderbaadjie" bestaan uit sagte,
wollerige hare wat isolasie verskaf; die "bobaadjie" se
beskermhare is weer olierig en waterbestand. By diere
wat nie die onderste laag hare het nie, is die buitehare baie dikker
naby die punte as teenaan die vel, en hulle groei oormekaar om die
liggaamshitte vas te vang. Party soogdiere van die toendra het selfs
pels aan die voetsole. Vetlae, ook vir isolasie, word by robbe en
pikkewyne aangetref. Koud kry?
Wat wou! Sommmige
diere van die koue streke is ook lywige lummels. Dink maar aan die
ysbere en die kariboes. Hoe groter die dier hoe kleiner is sy
lyfoppervlakte mos in verhouding tot sy volume en hoe minder hitte
verloor hy dus, relatief gesproke. BO:
Ysbeerwelpies in ’n ysgrot. Die wit pels sal hulle hul lewe lank teen
die Arktiese koue beskerm. Kleiner
diere soos lemmings en poolhase verloor weer die minimum hitte deurdat
hulle klein stertjies en ore het (aanhangsels straal hitte uit). En
pikkewyne en rendiere het ’n aansienlik laer "normale"
temperatuur in die ledemate as in die res van die liggaam. Die weefsels
in hierdie ontblote dele kan met minder hitte funksioneer as die ander
weefsels. UIT
die sowat honderd voëlsoorte wat op die toendra nes maak, bly slegs ’n
handjievol die hele jaar daar. Onder hierdie bittereinders tel die
sneeu-uil, sneeuhoender en raaf, wat almal wonderlik toegerus is om die
snerpend-strawwe winters te oorleef. Rawe oorwinter deur die reste van
dooie diere te vreet, asook die afval en vullis by mense se
nedersettings. Sneeu-uile maak jag op verskeie diertjies, soos lemmings.
Foto: Ardo X. Meyer, NOAA (ret.) Die
sneeuhoender se pote is met vere bedek, wat ekstra beskerming teen die
koue bied. Met die koms van die herfs word sy gespikkelde bruin
somervere byna heeltemal wit—’n goeie kamoeflering in die sneeu. As
die weer buitengewoon guur is, grawe die sneeuhoender hom soms tot
binne-in sneeuwalle in vir beter beskerming. (Hy weet beslis nie wat dit
beteken om soos ’n verkluimde hoender te lyk nie!) Ondanks
wonderlik toereikende liggaamsbedekkings en metaboliese aanpassings is
baie toendra-diere tog nie toegerus om die kombinasie van strawwe koue
en min kos in die winter te weerstaan nie. Hulle migreer (trek) of
hiberneer (slaap deur die winter); party maak selfs ’n ligte
winterslaap deur, wat nie so diep soos die egte winterslaap is nie. Bere slyt
byvoorbeeld ’n deel van die lang winter onder die sneeu in ’n soort
wakker-slaap. Hulle teer in dié tyd op hul liggaamsvet en bring hul
kleintjies in die wêreld. Die
enigste ware hiberneerders van die toendra is die grondeekhorings, wat
in goed gedreineerde grond bly—in droë gate wat hulle vir hul nege
maande lange winterslaap grawe. Hulle grawe ook waar die sneeu
uiteindelik die diepste sal saampak, om die slaapgate verder te isoleer.
Met hul liggaamshitte binne vasgevang, bly die winterwonings knus en
warm.
Foto: National Park Service / U.S. Department of the Interior Lemmings,
veldmuise en wesels verwyl die grootste deel van die winter onder die
sneeu, waar hulle die betreklike warm en egalige temperature benut en
die uitloopsels van waterbiesies en grasse vreet. Lemmings
en veldmuise is ’n uitstekende voedselbron vir roofdiere. Sou daar vir
eersgenoemdes baie kos wees sodat hul getalle toeneem, het roofdiere
soos poolvosse, wolwe, wesels en sneeu-uile ’n geil seisoen en teel
hulle ook vinnig aan. As die veldmuise en lemmings in die somertyd al
die bessies opvreet, ly diere soos sneeuhoenders en kariboes daaronder
en kan hulle van hongerte vrek, wat weer kos verskaf vir aasvretende
wolwe, bere en rawe. Wanneer
daar egter te veel veldmuise en lemmings is, word die plantegroei
vernietig en neem hul getalle af. Die roofdiere moet dan wegtrek. MET
die koms van die somer raak die toendra vol lewe. Hordes insekte broei
uit in die poele gesmelte sneeuwater wat oral kol-kol op die landskap
voorkom, en hulle word die prooi van visse in groter damme. Die
insekte, vis en waterplante is weer wonderlike feesmaaltye vir die baie
trekvoëls wat die toendra besoek. Trekvoëls begin in die vroeë lente
aankom. Eerste op die toneel is die watervoëls, gevolg deur kusvoëls
en uiteindelik landvoëls. Wanneer
die voëls só op die toendra versamel om nes te maak, te vreet en te
verveer, groei die plante ook welig. Die gevleueldes lê weg aan die
plante—hulle vreet die wortelstokke en styselagtige knolle op die
wortels inkluis, sowel as die blare en uitloopsels. Die uitdunning van
die plante bring mee dat meer lig die grond bereik, sodat dit warm word
en die ysgrond smelt. Op die koop toe bemes die voëls die grond. Die
kuikens van die meeste groter voëls wat op die toendra nes maak—ganse,
swane en eende—kan self kos soek pas nadat hulle uitgebroei het. Die
rol van die ouer is slegs om die kleintjies te beskerm en hulle snags
warm te hou. ’n
Paar Arktiese voëlsoorte se kuikens kom egter totaal hulpeloos uit die
eier. Die swerms insekte in die kort somer stel die voëlouers in staat
om hul kroos honderde kere in die loop van die lang dag te voed. Die
toendra-landskap bied ook ideale wegsteekplekke vir hul neste. Benewens die voëls is daar talle groot soogdiere wat die toendra met die wisseling van die seisoene binnetrek en weer verlaat. Die suidwaartse migrasie van die kariboe van die Kanadese vlaktes, wat in die winter meer as 1 000 km ver van die toendra na die gebied noord van die groot woudgordel trek, is wel bekend. Hierdie groot troppe word gewoonlik deur troppe wolwe gevolg. Swakker diere word gevang en gevreet. In die lente trek hulle weer noord, en word hulle nogmaals deur die wolwe agtervolg. Deur van een plek na ’n ander te trek, word die gevaar van oorbeweiding verminder. Hoewel
daar nie so ’n groot verskeidenheid van diere soos in die meer
herbergsame natuurstreke is nie, is daar nog verbasend baie in die koue
wêreld anderkant die boomgrens. Dis diere wat hulle as ’t ware op
gladde ys gewaag—en gewen het! Die geharde Eskimo’s van diereland.
LINKS BO: Die gryswolf, wat reeds byna deur jagters uitgeroei is, het die onbillike reputasie van ’n gulsigaard verwerf. Dit is omdat hy ekstra vleis wegbêre vir die maer tye—belangrik om op die toendra te oorleef. REGS BO: ’n Kariboebul. Foto van gryswolf: USFWS; foto van kariboe: National Park Service / U.S. Department of the Interior BO: Die poolvos (“Arctic fox”, Alopex lagopus) in sy twee monderings—sy donker pels vir die somer en sy wit pels vir die winter, wanneer hy met sy bruin en swart hare te opmerklik in die sneeu sou wees. Bere en wolwe beskou hom immers as ’n smaaklike happie. Hy is egter self ’n roofdiertjie, wat klein diertjies soos lemmings en toendra-vleirotte vreet, asook seevoëls as sy leefwêreld naby die kus is. Poolvosse is boonop aasdiere, wat die oorblyfsels vreet van diere wat deur ander roofdiere gedood is. Foto
van donker poolvos: Bureau of Land Management,
|
||||||||