Biome
van die aarde — 3(a): Die
koninkryk van
Foto:
Earthobservatory / NASA |
|||||
ULLE gee
ons die hout vir ons plafonne, vir ons dakke se timmerasies, vir deure,
vensters, rakke en kaste—hoeveel is ons nie verskuldig aan die
ingevoerde naaldbome van die Noordelike Halfrond nie? Van hulle kry ons
ook papier. Asook kunssy, terpentyn, harpuis en ander waardevolle dinge.
Selfs Kersbome.
Maar waar
kom hierdie uitheemse naaldbome eintlik vandaan? Sowat 3
000 km van die Noordpool maak die laagliggende mosse en korsmosse van
die toendra plek vir kolle dwergagtige denne, berkebome en wilgers. Die
opslagplekke van hierdie gewasse is die buiteposte van een van die wêreld
se omvangrykste boomsones: die enorme gordel van die naaldbos of die keëldraende
woude. Dit strek ál langs die noordelike dele van die vastelande van
Noord-Amerika en Eurasië, buiten waar dit deur die Noord-Atlantiese
Oseaan en die Stille Noordsee onderbreek word—
oor ’n stuk of 4 800 km, met ’n noord-suidelike breedte van
sowat 1 000 km. Soos in die toendra-sone verder noord, is die klimaat in die naaldbos besonder straf.
Uiterste
temperature kom hier voor, met lang, droë winters en kort, gematigde
somers. Die groeityd strek dus net oor drie of vier maande—op sommige
plekke slegs een—en ses maande van die jaar kan daar feitlik geen
sonskyn wees nie. Die
winters is snerpend koud. Trouens, die laagste bekende temperature op
aarde word in Noordoos-Siberië aangeteken. Neerslag,
in die vorm van reën en sneeu, is gering en eweredig oor die hele
streek versprei. Water word
vir die grootste deel van die jaar as ys in die grond vasgevang, en die
landskap Iê onder ’n dik sneeukombers. Om dié
strawwe toestande te kan verduur—die wind, die koue, die droogte, die
kort groeiseisoen—moet die bome van die naaldbos gehard wees. Slegs
naaldbome (konifere) en ’n handvol hardehoute soos berkebome en
wilgers kan oorleef. NAALDBOME—wat
sparre en dennebome insluit—is keëlvormig, met breë basisse en spits
punte om die mins moontlike weerstand teen sterk winde en sneeu te bied. Die
geharde, naaldvormige blare is bedek met ’n wasagtige nerf en
deurdrenk met harpuis wat, tesame met die klein oppervlakte, uitwaseming
verminder en die blare teen die koue beskerm. Wanneer wintertemperature
besonder laag daal, sluit die stomata (openings op die oppervlak van die
blare) sodat skade deur koue en waterverlies tot die minimum beperk
word. Die meeste
naaldbome is immergroen. Met dié dat hulle hul blare deur die winter
behou, verloor hulle nie voedselstowwe nie en kan onmiddellik hul groei
hervat wanneer die lente aanbreek. Een
uitsondering is die bladwisselende lorkeboom wat in die verre noorde van
die naaldbos-gordel in Siberië groei. Hier is die water feitlik die
hele jaar deur bevrore en immergroen naaldbome sou nie die water wat
hulle deur verdamping verloor, kon vervang nie. Hoewel
lorkebome ook naaldbome is, oorleef hulle deur hul blare af te gooi as
die temperatuur daal, en dan rustend te bly deur die lang, bitter koue
winter. Spardenne
kan besondere koue oorleef vanweë ’n gekonsentreerde sap wat hulle
teen uitdroging beskerm. Die keëls
wat die naaldbome dra, is geharder voortplantingsorgane as die tere
bloeisels en die delikate vrugte van bladwisselende bome. ’n
Belangrike eienskap van naaldbos is die massa onontbinde blare, takkies
en keëls wat oor die woudvloer gesaai Iê. Dit is omdat daar min
erdwurms is en die bakteriese aksie stadig is in die koue, nat
toestande. Die harpuis in die plante voorkom ook ontbinding. Die dooie
plantemateriaal ontbind eintlik uiters stadig en dit vorm swak sure wat
stadig affiltreer en lewensbelangrike minerale wegloog, sodat ’n
steriele bogrond genaamd podzol (van die Russiese woord vir as)
gevorm word. Hierdie
grond is hard en vol water en keer dat boomwortels diep afskiet vir hul
voedselstowwe. Om te
vergoed het naaldbome ’n simbiotiese verhouding met ’n fungus-groep
genaamd skimmelwortel, wat die boom van voedselstowwe voorsien in ruil
vir koolhidrate. Weens die
swak bogrond en gebrek aan lig by grondvlak (veroorsaak deur die
bedekking van plantreste) is daar min of geen struikgewasse tussen die
naaldbome in dié woude nie. DIE
miljoene immergroen bome wat in die naaldbos saamgepak is, vorm werklik ’n
groen gordel om die noordelike deel van die aardbol. Tog is daar ook
variasies binne hierdie natuurstreek, soos in elke ander vername
landpatroon. Die
noordelikste sone word dikwels die boreale woud genoem (van Boreas, ’n
mitologiese god van die noordewind). Hier is volop dennesoorte en
spardenne. Ontelbare
mere en damme, geskep deur die yslaag wat die streek eens bedek het, lê
oor die gebied versprei. Die streek staan bekend as die taiga, ’n
Russiese woord wat moeraswoud beteken. Mos en ander plante groei om dié
mere en skep vleigrond. Hier groei
gewoonlik ook van die raarste plante op aarde—die bekerplant en die
sonnedou, wat insekte vang om die gebrek aan nitrate in die grond te
vergoed. Verder
suidwaarts smelt die boreale woud met lorke, denne, seders en sparbome
saam, asook met bladwisselende hardehoutbome soos else, wilgers en
berke, wat dikwels so dig groei dat die son byna nie daardeur kan dring
nie. Hoe verder
suid bome in dié sone groei, hoe hoër is hulle gewoonlik. Dié op die
grens van die toendra is verpot, dun en kwasterig en met mos en korsmos
behang. Aan die suidelike grense van die streek kan die bome egter
geweldig groot wees. Die
skeiding tussen die naaldbos en die toendra in die noorde is taamlik
skerp omlyn, maar in die suide is daar ’n vermenging van die
naaldboomsoorte met bladwisselende breëblaarbome van die volgende
natuurstreek. Dit vorm ’n oorgangsone van gemengde woudland. |
|||||
|
|||||