Biome
van die aarde — 5(a):
|
|||||
Teks uit
Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
IE lug is
vaal van die stof, die grasse dor en geel, die verwronge akasias van die
Afrika-veld is bros van die dors. Dit blits teen die horison. Die
temperatuur styg. Wolke begin saampak en die lug verswart met die
belofte van reën. Weer blits
dit. Meteens bars die donderweer in al sy bulderende ongenade los en die
sluise van die hemel gaan oop om die dorstige land te deurdrenk. Strome
vloei waar daar voorheen geen waterlope was nie. Droë rivierbeddings
word deur bruisende vloedwaters oorval. Die
Afrika-savanne! Op ’n derde van Afrika strek die gras oënskynlik
eindeloos oor vlaktes en heuwels heen. Dit lê in ’n gordel van 4 800
km tussen Guinee in die weste en die Soedan en Oeganda in die ooste, en
reik plek-plek wes- en suidwaarts oorkant die ewenaar. Die wêreld se grasvlaktes is oor ontsaglike gebiede in sowel die tropiese as die gematigde streke versprei en skei die groot woude van die woestyne.
Tropiese
grasvlaktes, ook bekend as savannes, bedek sowat 15 miljoen vk. km van die
aarde se oppervlakte. Hier is dit die hele jaar lank warm, met
afwisselende reëns en droë tye. Die
Afrika-savanne kan as ’n model-voorbeeld van ’n grasveld met
tropiese reënval beskou word, hoewel daar ook uitgestrekte gebiede in
die vlaktes van Suid-Amerika (noord en suid van die Amasone) is. Noord-Australië
en dele van Sentraal-Amerika, Indië en Suidoos-Asië word ook deur
savannes gekenmerk.
Foto: Earthobservatory / NASA Hoewel
’n groot verskeidenheid van klimate in die Afrika-savanne voorkom
vanweë die uitgestrektheid oor verskeie breedtegrade, is die somers
altyd warm en word dit deur donderstorms gekenmerk. Die winters is lank,
droog en wolkloos. Die
oorheersende plantegroei is ’n groot verskeidenheid van geharde, wilde
grasse, waarvan die verspreiding deur die terrein bepaal word: Lang
grasse groei onder in die leegtes waarheen water van die heuwels af
dreineer, terwyl kort grasse op die droër heuwels groei. Savanne-gras
is geneig om in polle te groei en nie egalig oor die grond te versprei
nie. Tussen die polle is gewoonlik kleiner meerjarige grassoorte. In die
droë tye gaan die dele van die grasplante dood wat bo die grond
uitsteek, terwyl die growwe massa veselagtige wortels bly lewe. Ná die
reën skiet nuwe gras op wat vinnig groei. Op die
meeste savannes word bome ook kol-kol gevind. Op sommige plekke is daar
digte bosse en selfs woude kan langs riviere voorkom. Party bome
verloor hul blare in die winter. Ander het besonder harde hout om
verdroging te voorkom, terwyl party weer ’n sambreelvorm het om die
boom teen die wind te beskerm. GEMATIGDE
grasvlaktes kom voor in die binnelande van vastelande waar die somers warm
en winters koud is. Dit reën meestal in die lente en somer, dikwels in
die vorm van donderstorms. Winters gaan gewoonlik met ryp en selfs sneeu
gepaard. Sulke
toestande kom voor in die hoëveld van Suid-Afrika, die Eurasiese
steppes, Noord-Amerikaanse prêries, Argentynse pampas en die
Australiese "downlands". Kleiner gematigde grasvlaktes word ook
in lande soos Nieu-Seeland, Turkye, Iran en Wes-Duitsland gevind. Gematigde grasvlaktes word gekenmerk deur enorme gebiede van plat aarde met gras en ’n verskeidenheid van droogtebestande bome en struike.
Foto: USGS Ook
die grasse van die gematigde grasvlaktes is
goed toegerus om die uiterstes van hitte en koue te kan oorleef. Hul
wortelstelsels is merkwaardig uitgebrei, dikwels dermate dat hulle saam
met die ondergrondse risome (ondergrondse stam van ’n plant wat in
wortels ontwikkel) meer as 80 persent van die totale plantemassa
uitmaak. Die doel
van dié wortelstelsel, buiten dat dit as anker dien, is om alle
beskikbare water te gebruik. Gematigde
grasse vrek gewoonlik in die winter tot op die grond. Die wortels en
nuwe uitloopsels vir die volgende jaar se groei lê dormant en veilig
deur die koue winter, beskerm teen sneeu en ryp deur hul grondkomberse. Sodra die
eerste reëns in die lente en vroeë somer val, begin die grasse weer
spruit en die land word mooi groen. ’n
Belangrike element in alle grasvelde is brande. Elke jaar tydens die droë
seisoen word groot gebiede deur natuurlike en mensgestigte brande
afgebrand. Hierdie brande speel ’n noodsaaklike rol in die
instandhouding en vergroting van die savanne. Die
ondergrondse wortelstelsel van grasse stel hulle in staat om die
verwoestende hitte van die vuur te weerstaan—op dieselfde manier as
wat hulle koue trotseer. Die meeste
van die wêreld se gematigde grasvlaktes is egter reeds omskep tot
landbougrond of weivelde vir beeste en skape, en het nie meer die ryk
verskeidenheid van plante- en dierelewe van voorheen nie. Nogtans is
hier genoeg van die oorspronklike plantegroei oor sodat ’n mens nog
’n denkbeeld kan vorm van hoe hierdie wêreld gelyk het voordat dit
getem is. |
|||||
|
|||||