Biome van die aarde — 6(a):
 
 Woestyne en halfwoestyne

Wonderplante onder die son

HalfmensREGS: Halfmens, noem hulle hierdie soort rare plante.  Penregop staan hulle, soos ’n mens, maar vasgewortel soos plante in die harde klip van die dorsland-wêrelde van die Noord-Kaap. Lees verder oor nog sonderlike plante van die dorre streke...

Foto: © Kopiereg SA Tourism / SA Toerisme (foto ietwat gewysig)

  

 




D

IE ergste plek op aarde waar jou motor kan breek, sê hulle, is die gedugte Death Valley in Kalifornië, VSA. Die Guinness Book of Records het dit al die warmste plek ter wêreld genoem.

Duine van Death Valley in Kalifornië REGS: Duine van Death Valley.

Foto: Paul Stone / US Geographical Survey

Die Atacama-woestyn in Chili hou weer die onbenydenswaardige rekord as die plek waar die langste opgetekende droogte geheers het. in 1971 is die droogte ná vierhonderd jaar gebreek.

Woestyne... bedags versengend, snags soms bitter koud. Bar en verdorde vlaktes sonder eens ’n lekseltjie water vir die dors. Vir mense is dit haas ondenkbaar om in sulke toestande te leef.

Nietemin sal elkeen wat al ooit ’n woestyn ná swaar reën oorgesteek het, kan getuig van die verstommende weelde van veldblomme wat die dorsland-bodem soos ’n tapyt oordek het—bewys van die natuur se vasberadenheid om in elke bioom te oorleef.

Woestynflora is dan ook op werklik merkwaardige maniere toegerus om te kan bestaan.

KaktusblomREGS en ONDER:
Selfs op die vaal, grimmige en spigtige kaktusse ontluik die blomme met ’n kleurespel.


Foto REGS: U.S. National Park Service

Foto ONDER: U.S. Fish & Wildlife Service

DIE grootste faktor wat plantegroei in woestyne beïnvloed, is vanselfsprekend die gebrek aan water. Afhangende van hoe hulle in droë tye oorleef, kan woestynplante in twee kategorieë ingedeel word: die droogte-ontwykers en die droogtebestande plante

Ontwykers is dié wat die tekort aan water op ’n vernuftige manier te bowe kom. Hulle oorleef in ’n rustende toestand in die vorm van sade, wat slegs ontkiem wanneer dit reën, waarna die plante vinnig groei en blom om nuwe sade te maak. Binne ’n paar weke is hulle dood, maar in hul erflating skuil die seker belofte van nuwe lewe later.

Die rekordhouer onder die droogte-ontwykers is glo een van die lede van die vieruur-familie wat in Noord-Afrika voorkom. Binne net meer as een week tot tien dae nadat hy opgekom het, het die plant sy siklus voltooi.

Vinnig blommende plante word ephemera genoem en sorg vir een van die ongelooflikste skouspele in die natuur: die gedaantewisseling van die gewoonlik barre woestynlandskap tot ’n blommeglorie ná swaar reën.

Droogte-ontwykers se besondere meganismes verseker hul oorlewing in feitlik alle omstandighede. Baie het sade met ’n omhulsel wat slegs reageer wanneer dit genoeg gereën het; water moet ook in die vorm van reën wees, anders sal die sade nie ontkiem nie; en die plante "weet" op die een of ander manier watter seisoen dit is en sal nie groei as dit buitentyds reën nie.

Droogte-ontwykers is eenjarige plante en aangesien hulle slegs groei wanneer toestande gunstig is, hoef hulle nie droogtebestand te wees nie. Dus het hulle nie die fisiologiese toerustings van die tweede groep woestynplante nie: dié wat hulle teen droogte verset.

DIE droogtebestande plante is meerjarig en oorleef van een reëntyd tot die volgende vanweë spesiale toerusting om water te kry en op te gaar, of die behoefte daaraan te verminder.

Baie sulke plante het ondergrondse organe vir die verkryging en berging van water, byvoorbeeld verdikte wortels, knolle, risome en bolle.

Penwortels is algemeen by woestynbome. Dit kan meer as 30 m lank wees en dring diep in die grond in om ondergrondse water te soek. Omdat penwortels nie om oppervlakwater meeding nie, groei die plante meestal naby mekaar.

Vlak maar uitgespreide wortels kom onder woestynplante soos kaktusse voor. Dit absorbeer die grootste moontlike hoeveelheid reënwater uit die boonste lae van die grond en die plante groei dus ver uitmekaar.

Baie woestynplante oorleef deur hul waterverlies te beperk. Sommige het klein blaartjies wat vogverlies deur transpirasie tot die minimum verminder. Party verloor hul blare wanneer daar ’n kwaai droogte is.

Waterverlies word ook vertraag in blare met ’n wasagtige bedekking of wat styf gerol is om winddroging te voorkom.

TolbosLINKS: ’n Tolbos wat in sy verdorde toestand deur die winde rondgewaai word en sy sade in dié proses wyd en syd versprei. Sodra dit reën, ontkiem die verspreide sade en ontwikkel tot nuwe tolbosse—wat op hul beurt weer later saam met die huilende winde sal rondomtalie.

Foto: NASA

Sommige plante bestry waterverlies deur glad geen blare te hê nie. Mikroskopiese openinge op die oppervlak van blare laat waterdamp ontsnap; op ’n warm somerdag in die woestyn kan dit dodelik wees vir ’n plant. Kaktusse en baie ander woestynbome en -struike het egter doringpenne, wat geen openinge het nie, pleks van blare. Fotosintese, wat gewoonlik in die blare plaasvind, geskied in die groen stam van die kaktus.

Op die koop toe is die penne ’n vanselfsprekende afskrikmiddel vir plantvreters. Daar is groot hoefdiere wat meerjarige plante vreet in al die woestyne buiten dié van Australië, maar plante met stekels kan hulle op ’n goeie afstand hou.

REGS: Die aalwyne met hul bitter sap (waarvan Suid-Afrika talle soorte het) is allereers droogtebestande plante, maar die verskillende tipes is goed toegerus vir uiters uiteenlopende omstandighede.

Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture

’n Aantal woestynplante begin snags eers lewe. Namate die temperatuur in die nag daal, styg die relatiewe vogtigheid in die lug en doudruppels kondenseer op plante, wat dan die vog kan benut. Bedags sluit hul blaaropeninge om waterverlies te keer.

Benewens dorings het sommige woestynplante ’n bytende sap in hul blare of stamme, of hulle gee ’n onaangename visagtige reuk af.

Sulke verdedigingsmeganismes slaag natuurlik net gedeeltelik, anders sou geen dier in die woestyn kon oorleef nie. Dog die uitwerking is om blaarvreters tot ’n happie dan en wan te beperk sodat die plant nie doodgaan nie, maar die dier nogtans kan vreet. Dis nog ’n voorbeeld van die wonderlike ewewig in die natuur.

Een van die merkwaardigste verskynsels in die woestynlewe is te sien in die kreosootbos van Noord-Amerika. Plantkundiges word geboei deur die feit dat dié bosse so gelykmatig gespasieer is dat dit lyk asof mense hulle geplant het—en dat weinig ander plante rondom hulle groei.

Navorsing het getoon dat die wortels van dié plant ’n afskeiding genereer wat buurplante—wat water sal "steel"—doodmaak. Die kreosootbos-familie word in Suid-Afrika verteenwoordig deur die bobbejaansjieling, wat wyd voorkom.

KreosootbosREGS: ’n Kreosootbos.

Foto: Earth Observatory / NASA

Chemiese oorlogvoering kom ook voor in twee Amerikaanse struike: die sogenaamde brittle-bush en guayule. Ná swaar reën, wanneer die woestyn blom, bly die sand onder hierdie plante kaal.

Dis nog ’n voorbeeld van oorlewing in die woestyn, en ’n verskynsel wat ons dikwels in die diereryk teenkom: die oues en sterkes wat die jonges en swakkes van die gras af maak. 

In hierdie geval gaan dit om die allesoorheersende stryd van die plante van die woestyn om die een kosbare stof te bekom waarsonder geen lewe moontlik is nie: water.

Inhoud: Biome van die aarde
Klik hieronder om te beweeg na die afdeling van jou keuse:

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad