RA-A-A-A-K!
Krits-krits-krits! Ie-e-e-e-k! Hoog in die
takke slinger ’n neusaap met die neus in die lug. Heel bo in die
blaredak krys ’n kolonie papegaaie. Op die woudvloer vroetel ’n
armadil (gordeldier) gulsig in die grond. Hy soek na sy stapelkos:
miere, wurms, termiete en ander goggas.
Die groot
gesnater, geskater en gesketter is nimmereindigend.
Ook nie
verbasend nie—die tropiese woude is die tuiste van meer as die helfte
van die wêreld se diere. Jy kan vrywel sê hierdie soort wêreld is
’n dier se droom!
Vir eers
is daar baie skuilplekke omdat die woud van bo na onder uit verskillende
lae bestaan, soos in die vorige aflewering beskryf is; daarby beteken
die afwesigheid van seisoene dat daar altyd ’n paar bome of struike is
wat vrugte, blomme of blare as kos aan te bied het; en die egalige
klimaat verg min aanpassings van die vergenoegde diere.
Benewens
in die bome se lae bied tropiese woude ook nog ander habitatte vir
diere, soos dié by riviere.
Daar is
werklik ’n magdom eksotiese toevlugte. Die gekrulde blare van
epifitiese plante vang byvoorbeeld water op, wat klein dammetjies vorm
waarin amfibiese diertjies en waterinsekte kan lewe. Die vermolmde hout
van omgevalle bome is weer die tuiste van talle ongewerweldes.
Kenners
reken dat tot 85 persent van die wêreld se inseksoorte in die trope
woon. En omdat die klimaat so gunstig is, is ongewerwelde diere hier
veel groter as hul neefs in ander natuurstreke.
Baie
skoenlappers, naaldekokers, spinnekoppe, duisendpote, slakke en erdwurms
is enorm.
REGS:
Wonderlike veelkleurige vlinders... Dié op ons foto is nie
noodwendig reënwoudsoorte nie, maar dien as illustrasie van die
hordes insekte wat in sulke woude wemel.
Foto:
USGS
|
|
LINKS:
Ons dink aan stokinsekte as vlerklose goggas, maar Michael
Whiting en Taylor Maxwell, geleerdes aan die Brigham Young-universiteit
in Provo, Utah, het in ’n tyd gelede die biologiese wêreld
verstom met ’n vonds van gevleuelde stokinsekte. Die
stokinsekte met vlerke kom voor in Papoea-Nieu-Guinee, ’n land
met welige reënwoude.
Foto:
Allison Whiting / Insect Molecular Genomics Lab, Brigham Young
University / Vergunning U.S. National Science Foundation
|
Die meeste
van die wêreld se reuse soorte paddas, platannas, akkedisse en slange,
insluitende die grootste slang, die anakonda, is ook tropebewoners.
SELFS hier, in soveel oorvloed, is sekere spesiale toerustings
tog ook nodig vir oorlewing.
Hoewel kos
volop is, groei dit baiemaal so hoog in die bome dat nie-vlieënde diere
dit nie kan bykom nie. Daarby het elke plantsoort sy eie produksieritme
en word hy dikwels omring deur onverwante spesies wat nie noodwending
dieselfde tyd vrugte dra nie. Plantkos is dus wydversprei.
Plantvreters
se liggaamsgrootte en -vorm moet daarom só wees dat hulle vry deur die
bome kan beweeg, en hulle doen dit op verskillende maniere. Party spring
van tak tot tak en klou aan die takke en stamme vas. Hulle kan selfs
grypsterte en suigkussings hê om hulle te help vashou.
Duime en
groottone buig in ander rigtings as die ander vingers en tone sodat dié
diere hul hande en voete om takke kan vou.
Sommige
diere kan selfs "vlieg". Darem nie rêrig soos voëls nie,
maar hulle het sweef-membrane sodat hulle van boom tot boom kan duik om
kos te soek of roofvyande te ontduik.
"Vlieënde"
soogdiere sluit die swewende Australiese buidelrot, die vlieënde
akkedisse en kolugo’s van Suidoos-Asië en die vlieënde eekhorings van
Afrika in. Die enigste soogdier wat werklik kan vlieg, is die
vlermuis—en hulle is volop in tropiese woude.
Grootte is
van groot belang in die oerwoud. Hoewel ongewerweldes en akkedisse
groter as dieselfde diere in ander sones is, is groter landdiere soos
seekoeie, antelope en buffels weer kleiner.
Dis
gewoonlik te wyte aan die gebrek aan gras, maar om kleiner te wees, is
belangrik aangesien ’n groter liggaam beweging deur die woud sal
bemoeilik, veral as die dier groot horings het.
Die meeste
hoefdiere van die reënwoude het ’n spits gesig wat hulle help om deur
die ruigte te beweeg. En die slange in die bome is dunner as dié wat op
die grond voorkom.
Die
kleurryke vrugtevretende toekan het weer ’n enorme snawel om in die
digte gebladerte te steek en vrugte te pik van dun takke wat onder sy
gewig sal breek.
Kolibri’s,
sekere motte, suikerbekkies en langneus-vlermuise kan in die lug voor
blomme bly hang deur hul vlerke blitsvinnig vorentoe en agtertoe te
beweeg.
Diere wat
in bome woon, moet goeie sig hê. Hoër aapsoorte se oë sit voor aan
hul gesigte sodat hulle binokulêre sig het en presies die afstand
tussen bome en takke kan meet.
REGS:
Benewens ’n groot aantal bekende soorte, word die eienaardigste diere
in die oerwoude aangetref, soos hierdie langneusaap (Nasalis
larvatus) van Broenei, Indonesië en Maleisië.
Foto:
© J. Jern & Susan Clark /
CITES
Photo Gallery
http://www.cites.org/gallery
Selfs
boomslange en -reptiele het smal snoete wat beteken dat hul gesigsvelde
oormekaarskuif en hulle dus ook binokulêre sig het.
Op die
woudvloer is sig minder belangrik, aangesien boomstompe en plante dit
belemmer. Gehoor is hier nuttiger en die gronddiere het dikwels groot
ore.
Verskillende
diere het verskillende sosiale gedragspatrone om hulle te help om kos te
vind. Sommige is nomadies en beweeg vrylik van een vrugtedraende boom na
’n ander. Ander lewe weer in gesete gemeenskappe wat so klein is dat
die kosvoorraad nooit bedreig word nie.
LINKS:
Ewe vreemd as die neusaap is die luidiere van die tropiese woude
van Suid- en Sentraal-Amerika. Die paaiboelie op hierdie foto is
natuurlik buite sy gewone lewensruim—in die bome waar hy taks
onderstebo hang (sodat die reënwater kan afdrup). |
Foto met verguning
van
http://www. freejunglepictures. com |
DIE tropiese oerwoude is van wesenlike belang vir die natuurlike
ewewig op ons planeet. Maar, selfs terwyl jy hierdie artikel lees, word
groot dele van die oerwoude platgestoot en vir kommersiële gebruik
skoongemaak. Diere word geskiet, verbrand, uitgehonger.
In elke
natuurstreek van die wêreld het die mens se gierigheid of swak bestuur
op die een of ander manier gesorg dat sekere diere en plante vir ewig
verdwyn het. Kenners meen dat een derde van alle lewende wesens op ons
planeet teen die jaar 2050 nie meer sal bestaan nie.
Dis ’n
tragiese verwyt teen die manier waarop die mens oor die aarde heers.
Miskien moet ons weer ’n keer ag slaan op die woorde van die beroemde
Duitse sendeling-dokter Albert Schweitzer (1875-1965):
"Totdat
die mens die kring van sy deernis verbreed om alle lewende dinge in te
sluit, sal hy self geen vrede vind nie."
|