|
NS
WONDERLIKE WÊRELD is feitlik oral bedeel met lewe. Maar die plante en
diere in die ysige poolstreke verskil hemelsbreed van dié by die stomende
ewenaar. Dis die temperatuur en beskikbaarheid van water wat bepaal wát wáár
kan bestaan. Hoe warmer en vogtiger dit is, binne perke, hoe rykliker is
die plante- en dierelewe en hoe groter is die verskeidenheid.
Tog is baie
van die lewensvorms rondom die wêreld uitmuntend toegerus vir die
moeilikste omstandighede—ysbere van die Noordelike Yssee het byvoorbeeld
ekstra vetlae om die koue te kan verduur.
Namate ’n
mens suid- of noordwaarts van die ewenaar af wegbeweeg, daal die
hittegraad geleidelik, omdat die sonstrale verswak word deurdat hulle deur
meer van die atmosfeer moet dring. By die ewenaar is die temperatuur elke
dag sowat 25 tot 30 grade C. Naby die Suidpool, weer, kan die kwik in die
hartjie van die somer tot bokant die vriespunt styg, maar die gemiddelde
temperatuur is -50 grade—baie kouer as jou yskas.
Hierdie
temperatuur-"stroke" rondom die aarde sorg vir verskillende
soorte plante en diere na gelang van die besondere toestande. Dit word
biome genoem. Omdat
seestrome en winde die temperatuur beïnvloed, en omdat die reënval
verskil, is die stroke aan weerskante van die ewenaar nie identies nie.
Elke streek
het sy eie klimaat en besondere diere wat daarvoor toegerus is.
•
Poolstreke:
Aan die eindes van die aarde is die lewegewende vars
water hard bevrore. Daar is dus geen landplante nie. Selfs die oppervlak
van die see raak bevries en onder die ys is piepklein drywende plankton of
visse, wat kos verskaf vir ’n paar groot diere wat op of naby die water
kan lewe. Dit sluit in ysbere (van die Noordelike Yssee-gebied) en
pikkewyne (van Antarktika).
•
Toendra:
Om die bevrore Arktika is boomlose landstreke wat toendra
genoem word. Dié is in die winter met ys bedek, maar gedurende die kort
somer skiet mosse en blomme op, wat kos vir rendiere, lemmings en ander
diere verskaf.
•
Naaldwoude:
Suid van die toendra is wyd uitgestrekte gebiede van
immergroen, keëldraende bome wat naaldbome genoem word. Hul naaldvormige
blare weerstaan die vrieswinters.
•
Gematigde streke:
Dié omspan ’n breë spektrum van gebiede—in
Suid-Afrika byvoorbeeld sowel die Wes-Kaap met sy Middellandse See-klimaat
as die subtropiese Natalse kus. Ons weet goed hoe lyk ons eie natuurlewe.
Dit verskil egter in belangrike opsigte van dié in die Noordelike
Halfrond, waar bome soos eike hul blare in die winter verloor (ons het
natuurlik ook bladwisselende bome, maar hulle is uit die noorde hierheen
gebring). Die diere in die Noordelike Halfrond is onder meer Europese
dasse, vosse, eekhorings en herte—wat nogal dramaties verskil van ons
springbokke, koedoes en wat nog alles.
•
Grasvlaktes:
Na “die
Hoëveld, waar dit oop is”, het die ou Afrikaanse digter Toon van den
Heever destyds gehunker. Die Noord-Vrystaat en gewese Suid-Transvaal is
“oop” en dis tipiese grasveld. Uitgestrekte grasvlaktes kom voor
in die wêreld se gematigde en tropiese streke, in gebiede waar daar nie
genoeg reën vir woude is nie. Dit sluit in die savannes van Afrika, die
steppes van Asië, die prêries van Noord-Amerika en die pampas van
Suid-Amerika.
•
Woestyne:
Die Namib en die Kalahari is woestyne van ons eie wêrelddeel.
Daar is egter ook talle ander. Trouens, sowat ’n derde van die aarde se
landoppervlak is woestyne of halfwoestyne. ’n Woestyn ontstaan wanneer
meer water weens verdamping verlore gaan as die reën wat uitsak. Die
plantegroei is yl, want net geharde grasse, kaktusse en doringbosse kan
oorleef. Diere sluit akkedisse, woestynmuise en kamele in.
•
Tropiese woude:
Die warm, vogtige gebiede naby die ewenaar—die
tropiese woude—het die rykste natuurlewe van al die streke. In hierdie
"Tarzan"-oerwoude kan tien keer soveel plantsoorte wees, en
honderd maal soveel diersoorte, as op ’n ewe groot gebied in die
gematigde streek. Trouens, die tropiese woude het twee vyfdes van alle
plant- en diersoorte.
•
Bergwêrelde:
Groot
bergwêrelde van die aarde is byvoorbeeld dié van die Himalaja en
Andesgebergte, hoewel daar natuurlik ook talle kleiner
bergomgewings is. Berge is eintlik samevoegings van verskillende
biome, wat kan begin by woude in die voetheuwels en eindig by
toendra- en poolomstandighede naby en op die bergkruine.
Die
natuur onder die ploeg
AS ’n mens ons planeet vandag vergelyk met hoe dit 5000 jaar
gelede was, is die veranderings enorm. Uitstrekte landstreke wat eenmaal
"wild" was, word nou deur boere bewerk of is deur nywerhede
oorgeneem.
En oor die
groot- en kleinwild wat eenmaal op die Suid-Afrikaanse grasvelde gewemel
maar verdwyn het, kan die natuurliefhebber net baie treurig raak...
In ’n
reuse-land soos Amerika is die gevolge van die "beskawing"
soveel opmerkliker. Weg is die buffeltroppe op die ontsaglike prêries, en
in die plek van die wilde grasse staan enorme lappieskomberse van landerye
besaai met koring en ander gewasse.
Ook
gematigde sone se woude, wat vroeër groot dele van Europa bedek het, is
afgekap vir hout om skepe en huise te bou en meubels te maak. Boere het
oorgeneem met landerye waarop rys, gort, beet, aartappels en ander
kosplante gekweek word.
Die tropiese
woude, die natuur se rykste spense, word eweneens in ’n ontstellende
tempo afgekap vir timmerhout, nywerhede soos papierfabrieke, en om vir
landerye en fabrieke plek te maak.
Selfs die
poolstreke spring nie die mens se oorname vry nie. Radioaktiewe afval,
word vertel, het reeds in die toendra op korsmosse versamel, waarop
rendiere wei wat op hul beurt deur die Eskimo’s en Laplanders geëet word.
Wat die gevolge hiervan sal wees, sal ons nog moet sien.
Maar presies
hoeveel biome het die aarde? Geleerdes verskil oor die getal,
hoewel die meeste tussen ses en tien erken (die see word ook as ’n bioom
beskou, asook die vars waters van die aarde). In hierdie reeks word sewe
biome beskryf, waarna ons uiteindelik ook kyk na die verskillende biome
wat op hoë berge kan bestaan.
As ’n mens
na kaarte van hierdie natuurstreke sou kyk, kan jy verkeerdelik dink dat
elkeen duidelike grense soos landsgrense het. In werklikheid gaan die een
streek geleidelik in die ander een oor.
|