|
Mieliestronk-argief: + Esias Bosch (1923-2010)
•
Ons artikel word vanweë sy
inligtingswaarde net so behou. Heel onderaan het ons egter enkele
paragrawe bygevoeg soos dit verskyn het in ’n berig in Die Burger van 26
April 2010. Die onlangse foto’tjie regs bo van Bosch is ook aan die
koerant verskaf. |
|
ESIAS
BOSCH– vader van Suid-Afrikaanse keramiek |
|
|
Hoofbron
vir artikel: ESIAS BOSCH; teks deur Andrée
Bosch en Johann de Waal. Uitgegee 1988 deur Struik Winchester,
Kaapstad. ISBN: 0-947-43006-7.
Y
het niks daarvan gedink om as jong dosent sy potte op ’n kruiwa deur
die strate van Durban te karwei nie. En toe sy departementshoof hom oor
sy "onwaardige gedrag" aanspreek, het hy hom goed laat
verstaan dat dit mos nie ’n skande is om te werk nie.
Hierdie
staaltjies vertel iets van die kleurryke lewe van Esias Bosch, maar ook
van die diepe menslikheid van hierdie groot kunstenaar wat as vader van
skeppende keramiek in Suid-Afrika beskou word. Die
doyen? Inderdaad. Hoewel daar van die tyd van die Kompanjie reeds
pottebakkers was wat uitstekende funksionele artikels gelewer het, was
niemand nog ooit so uitmuntend soos Esias Bosch nie en het niemand nog
werklik só ’n erfenis agtergelaat wat ná hul lewe voortgesit kon
word nie. Hy
is trouens al as ’n "meester van klei en kleur en een van die min
baaspottebakkers ter wêreld" beskryf. Soos
een kunskenner dit stel: "As ’n kunstenaar van geweldige
integriteit en iemand wie se werk nooit pretensieus is nie, vertoon sy
potte ’n integrasie van funksionele en estetiese kwaliteite, waarvan
geen aspek ten koste van die ander oorheers nie." Self
sou Bosch erken dat pottebakkers soos Cardew en Raymond Finch hom vroeg
in sy loopbaan baie beïnvloed het, maar mettertyd is hy deur plaaslike
toestande en materiale genoop om sy eie unieke styl te ontwikkel. Hier
het hy sy eie weg gevind om die potensialiteite van sy klei ten volle in
sy potte en teëls te ontgin. Bosch
het al in Amerika, Engeland, Italië, Duitsland en België uitgestal. Sy
werke pryk in die meeste van die belangrike Suid-Afrikaanse kunsmuseums,
asook in oorsese versamelings. Maar
wie is hierdie merkwaardige mens eintlik? ESIAS
BOSCH is op 11 Julie 1923 as plaasseun by die Vrystaatse dorp Winburg
gebore -- en kon as kind in sy landelike omgewing nie veel meer uiting
aan sy kunstenaarstalent gee as om besonder mooi klei-osse te maak en
die vorms van wolke te bewonder nie. Omdat hy ure lank na die wolke
gestaar het, het die plaaslike swartmense hom selfs "Dokter van die
wolke" genoem. Esias
was ses toe sy gesin na ’n plaas in die Waterberg-distrik van die
destydse Noord-Transvaal verhuis het. Die droogte van 1933 het die gesin
gedwing om elders ’n heenkome te soek, eers in Heidelberg en toe in
Potchefstroom, waar sy pa in ’n myn gewerk het. Hy
het aan die Hoër Volkskool skoolgegaan, en in sy hoërskooljare het hy
vir seker geweet dat teken sy eerste liefde is, hoewel hy nie formele
kunsopleiding by die skool kon ontvang nie. Ná ’n onderbreking in sy
skoolloopbaan waartydens hy ’n paar maande lank los werkies in
Pretoria gedoen het, is hy weer terug Potch toe, waar hy in 1942
gematrikuleer het. Sy
ouers het hul hart daarop gesit dat hy ’n tandarts moes word, maar
Esias het spoedig aan die Universiteit van die Witswatersrand besef dat
die tandheelkunde nie sy roeping is nie en hom ná ’n week vir die
graad B.A. in die skone kunste ingeskryf. Omdat dit toe nog ’n nuwe
kursus was, is daar bra baie op teorie gekonsentreer en die praktiese
Esias het ná ’n jaar besluit dat dit baie meer stimulerend sou wees
om aan te beweeg na die Johannesburgse Kunsskool. Onder sy tydgenote
daar was baie talentvolle studente, soos Zakkie Eloff en andere.
Hy
het ook sy toekomstige vrou, ’n medestudent Valerie Verster, hier
ontmoet. Bosch sou later vertel hoe hy en die einste Zakkie Eloff in die
skool se kafeteria koffie gedrink het toe die mooi jong meisie daar
opdaag en sy asem wegslaan. "Kyk, daar loop my vrou," het
Esias aan Zakkie gesê. Die liefde het spoedig geblom, maar die lewe sou
nog ’n paar draaie met hom loop voordat hy die ring aan haar vinger
sou steek -- nogal in Londen. NADAT
hy sy kursus in 1946 voltooi het, is Bosch na Kimberley waar hy kuns aan
die Diskobolos-skool vir gestremdes doseer het, nie omdat hy regtig wou
nie, maar ’n man moet tog geld verdien om te lewe. Veral die rompslomp
in die onderwys en dinge soos dat hy verantwoording moes doen vir elke
liewe potlood in die klaskamer, was vir hom ’n pyn. Dit
was toe dat Valerie, wat in Johannesburg gewoon en gewerk het,’n
koerantadvertensie sien oor ’n beurs om in keramiek aan die Central
School of Art and Design in Londen te studeer. Esias het aansoek gedoen,
die beurs gekry en is teen die einde van 1949 per skip Engeland toe. In
Londen het dit aanvanklik maar broekskeur gegaan. Al wat hy kon
bekostig, was ’n klein, klam kamertjie reg bokant ’n besige
ondergrondse spoorlyn. Elke drie minute, bedags en snags, het ’n
moltrein die vensters van die kamertjie laat tril. Aan
die Central School of Art and Design, waar Dora Billington destyds die
hoof van die keramiekdepartment was, sou Esias leer om werklik intens na
potte in museums te kyk en nie net vlugtig nie. Hy het honderde
tekeninge van potte in die Britse Museum en die Victoria and Albert
Museum gemaak en baie ure en die meeste naweke daaraan bestee. Ná
nege maande in die kunsskool het hy aan ’n simpatieke Dora Billington
gesê dat hy eintlik ’n pottebakker wou word wees en nie ’n leerkrag
nie. Sy het hom in verbinding gebring met Raymond Finch, wat die
Winchcombe-pottebakkery van Michael Cardew oorgeneem het. Esias het
aansoek gedoen om daar te werk en is aanvaar. Hy het ook die mense wat
sy beurs hanteer het, van sy besluit verwittig en hulle het sy nuwe
planne aanvaar. Nou
kon Valerie haar uiteindelik by Esias in Londen voeg, al het hy
uiteindelik net twee pond en vyf sjielings per week verdien en al moes
hy soggens in die bitter koue op ’n ou fiets werk toe ry. Hulle het
getrou en in Winchcombe gaan woon, en hul oudste kind, die dogter Esra,
is ook in Engeland gebore. By
die pottebakkery het hy lang ure gesloof om die dissipline en die
basiese vaardighede van die kuns te bemeester -- en geweet dat hy een
van die eerste ateljee-pottebakkers in Suid-Afrika sou wees wanneer hy
terugkeer. Dit het vir hom baie duidelik geword dat sy toekoms in
keramiek lê. Ná
’n jaar by Winchcombe het Esias besluit om verdere ondervinding op
te doen en het hy vir ’n tyd by Michael Cardew se Wenford
Bridge-pottebakkery in Cornwall gaan werk. Hier het hy tydens die groot
internasionale oplewing in pottebakkery met groot name in die bedryf
kennis gemaak. Valerie en hul baba is intussen terug Suid-Afrika toe
waar hulle op Esias se tuiskoms gewag het. Hy
het ook een dag sommer skielik besluit hy het genoeg van die vreemde
gehad -- toe die stoel waarop hy gesit het, onder hom breek. Die
volgende dag was hy op ’n boot onderweg na Suid-Afrika, met groot
drome oor hoe hy sy kennis in sy eie land sou kon benut. Esias
het in September 1952 in Suid-Afrika aangekom, net ’n paar maande
voordat hy in Januarie 1953 as hoof van die keramiekdepartement van die
Durbanse Kunsskool moes begin. Ingevolge die bepalings van sy beurs moes
hy dié pos twee jaar lank beklee. Hy
sou Durban onthou as die plek waar hy baie hard gewerk het --
en waar hy self pottebakkery beoefen het, maar ongelukkig moes ervaar
dat die Durbaniete min belangstelling in sy potte toon. Die mense het
naamlik nog op plaaslik vervaardigde produkte neergesien en die
ingevoerde Engelse keramiek verkies. Handelaars in Pretoria en
Johannesburg het egter meer in sy potte belang gestel en, omdat hy nie
anders kon nie, het hy niks vreemds daarin gesien om die potte per
kruiwa na die spoorwegstasie te karwei nie. ’n
Departementshoof by die kunsskool het hom egter na sy kantoor ontbied en
gesê dit is ongehoord dat ’n dosent van die skool ’n kruiwa vol
potte stoot. Esias het hom laat verstaan dat dit nooit ’n skande is om
te werk nie en, buitendien, hoe kan ’n mens pottebakkery doseer as jy
dit nie self beoefen nie? Hy het toe maar net die voorval geïgnoreer
en, nadat hy sy verpligtinge ingevolge die beurs nagekom het, met sy
gesin na Pretoria verhuis. Toe
hy in Durban gewerk het, het hy ’n klein aalwyntjie op sy potte
aangebring. Dit is die enigste identifikasiemerk wat Bosch nog ooit op
sy werke geplaas het. MAAR
nou het hy ’n pos as deeltydse keramiekdosent by die Pretoriase
Kunsskool aanvaar, terwyl hy ook in sy vrye tyd pottebakkery op ’n
perseel in Hatfield beoefen het. Die omstandinghede was egter hier
allesbehalwe na wense, en op ’n keer het ’n haelstorm al sy
ongebakte potte verwoes. Haelstene het op die dak van sy krotterige
werkwinkel versamel en begin smelt, en spoedig het water in die plek
ingestroom.
’n
Ander keer het hy ’n swaar vrag klei agter op sy bromponie vervoer toe
’n motor hom in spitsverkeer van agter stamp. Hy het in die straat
geval en die sak klei het oopgebars en langs hom beland. Wit van die
stof en erg gekneus, moes hy huis toe ryloop. Ondanks
al sulke terugslae kon Bosch op 33-jarige leeftyd uit sy pos as dosent
bedank en sy droom verwesenlik om net vir homself te werk. En toe hy in
1956 sy eerste uitstalling hou, was dit reeds duidelik dat hy ’n
lojale ondersteunerskorps gehad het, al was dié nog klein. Benewens
’n paar individuele items soos vase, vrugtebakke en ’n aantal geteëlde
panele, het Esias meestal huishoudelike ware in Pretoria vervaardig.
Maar sy bewonderaars het sy teepotte, koppies en pierings ook om hul
skoonheid gekoop, en hy glo steeds dat huishoudelike ware sowel die oog
moet streel as funksioneel moet wees. Dog
sy elektriese oond was klein en hy kon dus nie baie groot items maak
nie. Hy sou later ook onthou dat erdeware vir hom "te maklik"
geraak en hoe hy aangelok is tot die maak van steengoed. Vir steengoed
word die kleimassa en glasuur saam by ’n baie hoë temperatuur gebak
sodat ineensmelting plaasvind. MET
sy gesin het hy in 1961 na die natuurskone Laeveld verhuis. Hier sou
Bosch en sy Valerie -- sy "grootste kritikus" -- met ’n
kunsateljee, Die Randjie, op Witrivier begin en hulle op dié
skilderagtige dorpie vestig. Dit was ’n uitmuntende skuif, want die
plante- en dierelewe en serene kalmte van die streek spreek duidelik uit
sy werk. Bosch sou dan hom ook hier op verskillende maniere met groot
geesdrif uitleef, sodat
daar selfs van verskillende periodes in sy kunsloopbaan gepraat word. Van
1961 tot 1975 het hy hom op steengoed toegelê, en daarna tot 1979 op
porselein. Van 1980 af het hy op groot teëls gekonsentreer. Sy
geliefde Valerie het hom in in
1992 ontval.
Die
Bosch-kinders volg in die kuns-voetspore van hul pa. Die seun Anton is
eweneens bekend vir sy keramiekwerk, onder meer die groot muurteëls wat
hy maak, terwyl sy suster Esra se keramiek-eetware goed bekend is. Nog
'n suster, Andrée, is ’n skrywer, soos haar man, Johann de Waal. Dié
is ook bekende meubelmaker. Die
familie ondersteun mekaar, maar laat genoeg ruimte vir elkeen se
individualiteit. Soos pa Esias sê: "Ons werk saam, maar ons kan
nie saam bly nie, want ons sal mekaar verrinneweer en verteer!'' As
blyk van waardering vir sy bydrae tot die kuns en kultuur, veral as
keramiekkunstenaar, het die Universiteit van Pretoria in 1990 sy
Kanseliersmedalje aan Esias Bosch toegeken. Dit
is gepas om af te sluit met die volgende uitspraak van ’n kunskenner: In
hierdie stadium is dit nog moeilik om Bosch se bydrae tot die
Suid-Afrikaanse keramiek werklik na waarde te skat en latere kenners van
die kunsgeskiedenis sal dit allig veel beter kan doen. Maar hy het
beslis ’n standaard daargestel waaraan alle toekomstige
keramiekkunswerke in die land voortaan gemeet moet word. |
|
|
Byvoeging op 26 April 2010 (uit ’n
berig in Die Burger van dieselfde datum oor Esias Bosch se lewe en
sterfte): “Sy loopbaan is gekenmerk deur verskeie kunsfases wat hy kon bemeester. Hy het erdewerk, steenwerk en porseleinkuns beoefen, voor hy met teëlsierkuns begin het. “Op 80 het hy teruggekeer na verf- en tekensketse. Hy was veral bekend vir sy vermoë om natuurlike clemente akkuraat vas te vang en het in sy laaste jare reusagtige bome geteken. Sy werke is plaaslik en internasionaal versamel.
“Sy muurteëls is onder
meer te sien op die O.R. Tambo-lughawe, in die voorportaal van die
Vinyard-hotel in Nuweland en die hoofkantoor van die Suid-Afrikaanse
Akademie vir Wetenskap en Kuns in Pretoria.” |
|