|
Tot
lof van die
boom ’n Boom kan eindig as ’n meubelstuk of ’n deel van ’n huis. Of as plastiekstowwe, papier, karton, selfs fotografiese film. Maar die aarde se woude is onrusbarend aan die krimp...
Foto bo: NRCS / U.S. Departement of Agriculture |
|||||||||
|
“BOME
en woude,” het die Engelse skrywer John Evelyn gemymer, “het twee
keer die wêreld gered: eers met die ark, toe met die kruis...” Vandag
sit bome en woude hul goeie werk voort. Van bome kry ons hout vir
meubels en die boubedryf, vir die maak van papier en ander produkte.
Dit beskut ons teen die son, verfraai ons wêreld, skep habitatte vir
wilde diere en gee suurstof aan die lug. Maar
noudat die aarde se woude vinnig besig is om te verdwyn, is geköordineerde
stappe dringend nodig om ons plantasies te bewaar. Niemand kan immers,
om dit so te stel, ons hout op eie houtjie red nie. Ons
Suid-Afrikaners is ewe skuldig. Daar was ’n tyd, lank gelede, toe
groot inheemse woude met geelhout, stinkhout, ysterhout en assegaai
met die kusplato langs van Suid-Kaapland af regdeur tot in die noorde
van KwaZulu-Natal en al langs die oostelike platorand gestrek het.
Vandag is slegs oorblyfsels daarvan te sien in ’n gebied van 40 000
hektaar rondom Knysna en Tsitsikama en kol-kol elders. Nog
’n sombere vingerwysing na die mensdom en sy wanbesturing van sy
omgewing. BosbouPRESIES
hoe word bome—hierdie uiters waardevolle hulpbron—vir hul hout
gekweek? Kommersiële
hout word in twee soorte verdeel: naaldhout en loofhout. Naaldhout kom
van keëldraers soos denne, seders en sipresse; loofhout van breëblaarbome,
onder meer die bloekom, beuke, eike en stinkhout. Bosbouers
plant óf die boomsaad regstreeks in die plantasie óf hulle kweek
saailinge onder beheerde toestande in ’n kwekery en verplant later
die jong boompies in die bos. Enting,
waar die loot van een boom in ’n spleet van ’n ander bevestig
word, word onder meer
gebruik om bome te kweek wat teen siektes en peste bestand is. ’n
Helikopter kan ’n land voorberei vir ’n plantasie deur dit te
bespuit om ontslae te raak van indringerplante wat nadelig vir die
bome kan wees wat daar geplant gaan word. Wanneer
die bome eers geplant is, moet bosbouers maar gedurig siektes en peste
in die plantasies bestry. Dit word gewoonlik gedoen deur die
natuurlike vyande van die peste in te voer of deur ou, swak bome te
verwyder waar die swamme en insekte kan gedy. Partykeer het bosbouers
egter geen keuse as om gifstowwe te gebruik nie. In
die Suid-Afrikaanse bosbedryf word ’n hele klompie miljoene kubieke
meter hout tans jaarliks uit plantasies geoes.
Die
oesmetodes wissel in verskillende wêrelddele afhangende
van
die soort bome en hul grootte, die terrein waar hulle groei en
hoe
hul hout benut gaan word. In
Suid-Afrika kom feitlik al die hout
van
plantasies en nie van natuurlike woude nie. Denne byvoorbeeld,
ofskoon
uitheems, groei hier baie vinniger as in die Noordelike Halfrond. Terloops, wanneer so ’n denneboom afgesaag is, is dit interessant om na die groeiringe te kyk. Daar is afwisselende lae van lentehout (wat in die begin van die groeityd gevorm is) en somerhout (van later gedurende die groeityd). Die ruimte tussen die ringe dui die groei in ’n spesifieke seisoen aan en die getal ringe die ouderdom van die boom.
Die
val van die boom word beheer deur dit op ’n sekere manier te saag.
Om groot bome of dié in bergagtige gebiede te vel, word ’n
wigvormige snee eers aan dieselfde kant van die boom gemaak waar dit
moet val. Dan word ’n snee aan die ander kant van die stam ietwat
bokant die wigvormige een gemaak, waarna die boom afgesaag word. Nadat
die boom gevel is, word die takke verwyder sodat dit makliker vervoer
kan word. Spesiaal ontwerpte trekkers sleep die onttakte
stamme
in smal paadjies weg sonder om die bome te beskadig wat langsaan
staan. Die hout word daarna tot gerieflike stompe gesaag om per vragmotor na die saagmeule of verpulpingsaanleg vervoer te word. In
Indië word olifante geleer om hout van die woude te verskuif. Dié
praktyk het in die laaste paar eeue nie veel verander nie.
En
in baie dele van Noord-Amerika en Skandinawië is water weer steeds
een van die goedkoopste en gerieflikste vervoermiddels. Die hout word
in riviere gedompel en deur spesiale bote gemaneuvreer om vlotte te
vorm wat dan deur sleepbote gesleep word.
By die saagmeuleDIT
is interessant om in ’n saagmeule te gaan inloer wat van die hout
word wat soontoe gebring is. Timmerhout
word immers ál meer wêreldwyd gebruik. Net in Suid-Afrika is daar
tientalle saagmeulens wat denne- of bloekomhoutstompe tot planke,
balke of kleinhout verwerk. Hierdie
meulens wissel van groot ondernemings wat deur toonaangewende finansiële
instellings beheer word, en jaarliks meer as 200 000 kubieke meter
ru-hout hanteer, tot klein familiesake wat minder as 10 persent van dié
volume verwerk. Moderne
saagmeultegnieke, tesame met voortreflike hout en streng
graderingsreëls, verseker dat ons werkhout vir al ons bou- en
ander behoeftes kan lewer. Nadat
die houtstompe by die meul gelewer is, word die bas gewoonlik
verwyder. Die stompe word dan volgens hul breedte (en soms volgens hul
lengte) gesorteer en in die meul ingevoer. Die
verwerking van stompe tot werkhout geskied in drie fases: die
natmeulproses, die drogingsproses en die droogmeulproses. Tydens die
natmeulproses word pas afgesaagde stompe in ruwe planke of balke
omskep. Stompe word in die raamsaag ingevoer, wat vir die aanvanklike
opbreek van die ru-hout sorg. Tydens
die drogingsproses word die oormaat vog só verwyder dat die hout so
min moontlik benadeel word. Dit moet gedroog word tot op ’n punt
waar die voginhoud en die omringende lugvogtigheid mekaar balanseer.
Nadat die hout gedroog is,
word
dit dikwels met preserveermiddels behandel om dit teen swamme en
insekte te beskerm. Die
droogmeulproses behels die verdere verwerking van die gedroogde hout. Die
gedroogde planke word gegradeer. Timmerhout word volgens SABS-grade
geklassifiseer; bouhout, gegrond op sterkte en voorkoms; en
nywerheidshout, gegrond op voorkoms. Nog
verwerkings behels skawing en afwerking. Die hout is dan reg om bemark
te word. Nie alle houtstompe wat by ’n saagmeul aankom, is bestem vir die saagmeulproses nie. Party kan na die aanleg vir die vervaardiging van laaghout gestuur word waar fineer van die stompe geskil word. Dié word dan gedroog, gegom en tot laaghout of ander samegestelde bordprodukte saamgepers.
Allerhande houtprodukteTIMMERASIES
met hout is so oud soos die ark. Reeds
in die voortyd is skuiltes van onder meer takke gebou en het die mense
houthandvatsels vir gereedskap en wapens gemaak. Daarbenewens het
houtvure hitte verskaf en kos gaargemaak, terwyl deurgesnyde
houtstompe die eerste wiele opgelewer het. Met verloop van tyd is hout vir waens, skepe en baie ander voorwerpe gebruik. Vandag word dit steeds in allerhande produkte benut. Hout, die voortbrengsel van lewende bome, bly een van ons belangrikste grondstowwe. Hout
is selfs in baie wêrelddele die vernaamste boustof van wonings. In
Noord-Amerika en Skandinawië is houtraamkonstruksies dikwels die norm.
Danksy verbeterde bosbou- en saagmeultegnieke en die lonendheid van
houtkonstruksies, word hout ook in ons land ál gewilder as ’n
boustof. Die vernaamste bouhoute in Suid-Afrika is Pinus radiata
en ’n soort bloekom. Daarbenewens
is hout natuurlik ook ’n gewilde grondstof vir meubels omdat dit
maklik met gereedskap gevorm en met spykers, skroewe, kramme en
kleefstof geheg kan word. Dit kan ook maklik geverf of andersins
afgewerk word. En behalwe dat hout baie gebruike in sy natuurlike vorm het, word dit verwerk tot duisende produkte soos plastiekstowwe, papier, karton, fotografiese film, sellofaan en rayon.
Papier
uit bome
DIE
vervaardiging van papier verdien om van naderby bekyk te word. (As jy
meer wil weet omtrent die geskiedenis van papier,
klik hier.) Voordat
hout papier kan word, moet die sellulosevesels daaruit gewin word deur
die verwydering van lignien—’n bestanddeel wat hulle aanmekaar hou.
Dié word by ’n pulpmeul gedoen. Hout
kan óf meganies óf chemies óf met ’n kombinasie van albei hierdie
metodes verpulp word. Die meeste moderne pulpmeulens maak van die
Kraft-metode gebruik, ’n chemiese proses waarvolgens versnipperde hout
in ’n sekere oplossing gekook word. Die woord Kraft kom van ’n
Duitse en Sweedse woord wat krag beteken. By
die Mondi-pulpmeul by Richardsbaai is onder meer ’n houtwerf,
verwerkingsaanleg, wassery, bleikeenheid en papiermeul. Bykomende
aanlegte het te doen met chemiese herwinning, krag- en stoomopwekking en
afval. Die
verpulpingroges begin by die houtwerf waar die boomstompe ontvang,
gesorteer en vir versnippering opgestapel word. Hout word blitsvinnig
ontbas en opgekerf, en die houtskerfies word in groot hope geberg
waarvandaan hulle per voerband na die verwerkingsaanleg vervoer word. In
die verwerkingsaanleg
word die
lignien wat
die houtvesels
saambind,
chemies
opgelos. In
die wassery word die sellulosevesels (pulp) in
vakuumtromfilters
van die oorblywende lignien geskei en terselfdertyd met vars water
gewas. Die
pulp wat uit die wasaanleg kom, is bruin en word net so vir bruin papier
of die maak van bord gebruik of chemies gebleik vir wit papier. Sowel
gebleikte
as ongebleikte
pulp word
dan na die droër
gestuur
waar dit gedroog
word tot ’n
voginhoud van
10
persent. Dit is
nou
reg om na die
papier-
of bordmeul
gestuur te
word. Die
Mondi-papiermeul by Merebank, Durban, is een van die grootste
papiermeulens ter wêreld. Die
bruin of gebleikte wit pulp wat by só ’n meul aankom, word saam met
afvalpapier wat vir herwinning behandel is in ’n massiewe masjien
gevoer. Die
pulp, behandelde afvalpapier en bymiddels vloei deur siwwe wat
onsuiwerhede uitkeer. Die vesels vloei uit die stofkas op ’n voerband
van draadmaas. Die water word deur die maas gedreineer. ’n
Veselryke mat vorm op die maas en dié word dan gepers en gedroog. Die
oppervlak word voorts geplaneer en verder afgewerk deurdat die papierweb
deur ’n kalander gevoer word. Daarna
word dit op ’n yslike tol gedraai. Die gehalte van die papieroppervlak
kan nog verder verhoog word met die aanwending van ’n sekere
bedekking. Dan kry die papier ’n glansafwerking—die
superkalanderproses. Ons
het nou die verhaal gevolg van die boom in die plantasie tot by die boek
wat dalk nou langs jou rekenaar op die lessenaar lê. Nie alle hout is
timmerhout nie, lui die spreekwoord. En hoe waar is dit nie! |
|||||||||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |
|||||||||